Stof tot nadenke: Waardering en Oordeel…

“Verder, laat die vrede van Christus in julle harte reegeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader dank. ”
Kol. 3: 15-17

Waardering is ‘n eerlike vorm van dank betoon, vir dit wat jou werklik intens roer. Menige van ons het al die ervaring van vreugde beleef wanneer iemand met ‘n opregte hart waardering toon vir iets wat jy gedoen het. Dit maak enige moeite wat moontlik gepaard gegaan het met waarvoor jy bedank word, dubbel en dwars die moeite werd. Dit moet natuurlik nie die motief wees om enigiets te doen nie. Die begeerte om iets te doen vir ander, moet ‘n intense drang binne-in jou wees, wat jy nie kan erkentlikheid verwag nie, selfs al vind mens plesier daarin wanneer daar waardering is, vir enige nietige en geringe of groot en sigbare daad wat jy gedoen het. Wanneer ‘n mens in die Christelike geloof leef, weet ons dat dit die Heilige Gees is wat ons dring om die regte en goeie dinge te doen, soos Johannes die Doper wat reeds van voor sy geboorte met die Heilige Gees gevul was (“Inderdaad, hy sal groot wees in die oog van die Here. Hy sal glad nie wyn drink nie, en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees verul wees.” (Luk. 1: 15)). Ons kan dus geen erkentlikheid vir dit wat ons doen, goeds moeds, net vir onsself toe-eien nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Waardering en Oordeel…”

Bybelstudie RUT – Kruispaaie: Rut se kruispaaie – Dr. Gerrie van Deventer

Bybelstudie RUT - Rut se Kruispaaie Dr. Gerrie van Deventer

    Inleiding

    Vandag kuier ons by die hoofkarakter van die Rut verhaal – by Rut self. Haar naam het betekenisse soos ‘vriendin’, ‘verkwikking’, ‘om te sien/ om te lewe’ of selfs ‘tortelduif’!!!

    Kruispaaie wat lei na hoofpaaie van geluk!

    Die kruispad

    Wanneer ons haar ontmoet, dan is dit daar waar die groot kruis op haar pad geplant is, by die ramp op die kruising in haar lewe. Haar man sterf en sy is kinderloos! Sy’t by die gesin uit Betlehem iets geleer van geluk, ‘n nuwe lewenstyl en van ‘n God wat sy nie geken het nie. En nou dreig die ramp om ‘n stopteken daar te plaas! Die een logiese pad vir haar is om om te draai en terug te gaan na haar eie land, familie en gode!

    Die snelweg na Betlehem = pad na God (1: 6-19a)

    Haar bekende woorde is seker wanneer sy dan hierdie groot kruising in haar lewe, die snelweg na Betlehem kies, met die woorde (1: 16)

    “…want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly;
    u volk is my volk en u God is my God”

    Wat ‘n keuse! ‘n Keuse vir lojaliteit en liefdestrou teenoor haar skoonma. Sy kies ‘n ander land en volk en dus ‘n ander kultuur, maar bo alles kies sy vir die god “wat uitkoms gee”

    Later erken Boas die betekenis van die keuse wanneer hy bid om God se seën (2: 12)

    “Mag jy ‘n welverdiende beloning ontvang van die Here, die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het”

    Die stofpad na die lande = die pad na sekuriteit (2: 1-4)

    Sy kies die stofpad na die lande vgl 2: 1-4 wanneer sy vra:

    “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat…
    (…agter dié een in wie se oë ek genade vind – OV)”

    Dit dui op haar nederigheid en gewilligheid om hard te werk.

    Die liefdespad na geluk en ‘n nuwe toekoms – die pad na liefde

    Vanaf die 2de hoofstuk ontvou hier een van die mooiste ‘love-stories’ wat jy jou kan voorstel! En Boas sien al meer die karakter, troue liefde, hardwerkendheid en inisiatief van Rut raak. Sy sien sy genade, ontferming en vriendelikheid. En so ontluik ‘n liefde wat groot betekenis in die God se planne sou hê.

    Ons Oscar-wenner, Charlize Theron, was ook by ‘n groot kruispad díe nag toe haar pa dronk en dreigend in die huis inkom en haar ma hom doodskiet. Maar daarna kies sy ook die pad na harde werk, van risiko’s neem en ideale najaag. ‘n Verhaal van hoe ‘n eenvoudige meisie van Springs die lugweë neem om beste aktrise te word! Haar boodskap is: Hoop is alles! Ons sou dalk sê: God se genade gee ons in alles hoop!

    Stof tot nadenke: Seëninge…

    Stof tot nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.”
    Eff. 1: 3

    Elkeen van ons se persepsie van seëninge is verskillend. Volgens die Supertaal internet tuisblad, beteken dit ‘dit is God wat Sy guns oor iets uitspreek; Goddelike bystand, ‘n heilswens’. Hulle reken ook dat dit is tot mens se voordeel en bring voorspoed en geluk. Elkeen van ons is uniek, soos ons deur God reeds in die moederskoot bestem is om te wees. Ons idees oor wat ‘geluk’ en ‘voorspoed’ bring verskil, na aanleiding van ons uiteenlopende persoonlikhede, waartoe ons gevorm is. Geluk en voorspoed word dikwels gemeet aan die hier en nou. Die oombliklike genieting, aanvaarding en alles word so dikwels gekoppel aan rykdom en aansien.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Seëninge…”

    Bybelstudie RUT – Kruispaaie: Naomi se kruispaaie – Dr. Gerrie van Deventer

    Bybelstudie RUT - Kruispaaie: Naomi se kruispaaie- Dr. Gerrie van Deventer

    Inleiding

    Vandag kyk ons na die kruispaaie in die lewe van Naomi. Naomi is eintlik ‘n naam met ‘n mooi betekenis: Dit beteken iets soos lieflik, mooi, aangenaam of die lieflike een. Die kruispaaie van haar lewe laat haar egter haar naam verloor.

    Afdraande pad na bitterheid (Rut 1: 1-14, 19-22)

    Drie kruispaaie

    Die kruispaaie op haar pad voel eintlik meer soos doodloopstrate. Die droogte in Betlehem (wat huis van brood beteken) maak dat hulle brood in Moab gaan soek. Daar sterf eers haar man dat ons lees:“sy en haar twee seuns het alleen agtergebly” As die seuns sterf lees ons: “sy het alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man” Dis ‘n hopelose situasie ; ‘n vrou hulpeloos, alleen, eensaam, in doodloopstraat!

    Haar aanvanklike reaksies by die kruispaaie

    Sy sê vir haar skoondogters:
    “My lot is swaarder as julle s’n. Die Here het teen my gedraai” (1: 13b)

    En wanneer sy in Betlehem aankom, dan sê sy vir haar vriende; (1: 21)
    “Noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak.
    Die Here het teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”

    Opdraande pad na geluk (Rut 4: 14-17)

    Gelukkig kies Naomi tog die opdraande pad na geluk by hierdie kruispaaie. Sy keer nie net terug Betlehem toe nie, maar ten diepste vind sy uiteindelik rus, geluk en vrede by God. Op hierdie opdraande pad was daar medereisigers wat haar kon ophelp.

    • Rut: se lojaliteit, ondersteuning en getroue liefde
    • Vrouens: se skouers waarop sy kon huil, ore waarin sy haar lot kon bekla
    • Boas: die familielid wat haar onselfsugtig te hulp kom

    Wanneer sy die kruin bereik sing die vroue: (4: 14)

    “Aan die Here kom die lof toe”

    Bertha Cronje, weduwee van Hansie Cronje, sê dat sy lank aan die verlede vasgehou het en dat haar reis na aanvaarding van sy dood soms ‘n bitter donker pad was. Daar was dae dat sy wou omdraai, terug na die seer en verlede. Maar dan sê sy dat ander se liefde haar help vorentoe kyk het. En sê sy:

    “Deur die genade het ek die lewe gekies
    Ek het weer hoop, verwagtinge, ‘n toekoms”

    By die T-aansluitings en doodloopstrate van die lewenspad, sê Naomi vir ons:

    Kies die opdraande pad na geluk!

    Stof tot nadenke: Elke dag dankbaar…

    Stof tot nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.”
    1 Tess. 5: 16-18

    Deur ons lewens, met al die helder wonder dae , maar ook met al die donker en pyn gevulde dae, moet ons elke dag dankbaar wees, volgens 1 Tess. 5: 16-18. Dit is iets wat nie altyd maklik vir ons mense kom nie. Ons kyk so dikwels vas teen die negatiewe omstandighede van ons eie situasies. Of dit persoonlike insidente, familie moeilikhede, regerings onmoontlike praktyke of internasionale oorlogswolke is. Ons word so malik weggedryf van hierdie dankbaarheids-lewensuitkyk deur al die aardse probleme. Die donkerwole verdring so maklik die son wat helder skyn daaragter.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Elke dag dankbaar…”

    Bybelstudie Rut – Kruispaaie: Self Kaart lees – Dr. Gerrie van Deventer

    Boas en Rut - Bybelstudie NG Kerk Groot-Brakrivier

    Inleidend

    As jy op nuwe paaie moet ry – paaie waar jy nog nooit voorheen gereis het nie, dan is ‘n goeie kaart en die regte lees van die kaart belangrik! Deesdae is daar gewone padkaarte, internet kaarte en veral die GPS waarmee jy rigting wys kan word. Maar ek het ‘n verantwoordelikheid – ek moet die leeswerk doen, my pad beplan en in my kar klim en ry, anders gaan ek nooit by die regte bestemming uitkom nie.

    So is dit ook in ‘n geestelike sin. God dui vir jou rigting aan, maar jy het ook die verantwoordelikheid om die padkaart te lees, paaie te soek en om te ry!

    Mense is soms soos ‘n kar wat op ‘n kruispad gevrek het, en nie wil vat nie – geïmmobiliseer, onaktief, staties, gestagneer. Byna als in Rut staan onder die beskikkende hand van God, maar kyk net hoe die drie hoofkarakters self ook verantwoordelikheid neem.

    Kaartlees in Rut

    Naomi

    Sy’s na die dood van haar man en seuns in Moab as vreemdeling – vasgekeer in armoede, hartseer en bitterheid. Maar as sy hoor van God se uitkoms, staan sy op en gaan terug na Bethlehem. Daar bedink en beplan sy die lossingsproses en maak slim planne ten opsigte van Boas en Rut.

    (“1Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2Nou, ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons.” (Rut 3: 1-2)

    Rut

    Sy neem verantwoordelikheid om God te dien en vir Naomi te volg. Sy gaan werk op die lande en dan kom die seë van God.

    “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel ”

    (Rut 2: 2)

    Sy neem inisiatief in die verhouding met Boas, gaan kruip by sy voete in en vra hom om haar losser te wees. Sy hoor die regte geluide, sien hoe die wind waai en neem dan inisiatief!

    Boas

    Hy neem inisiatief en verantwoordelikheid in die regsproses, gaan na die stadspoort, praat met die leiers en met Agas en tree op volgens die vereiste lossingsprosedure en Leviraatshuwelik.

    “Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gesit.”

    (Rut 4: 1)

    Hoe neem ons verantwoordelikheid

    Die boodskap is duidelik! Doen iets aan jou hartseer (Naomi), jou armoede (Rut) en aan jou liefdeslewe (Boas).

    God skep ons as verantwoordelike wesens in elke opsig (“God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.” (Gen. 1: 27)). Daarom moet ons as gelowiges nie net sit en wag op die kruispaaie van die lewe nie. Nee, ons moet verantwoordelik ons werk doen, werk aan aan ons verhoudinge en selfs aan ons toewyding aan God en ‘n lewe van integriteit. Ons moet besluite en inisiatief neem en dan kyk hoe God in en deur dit alles beskik. Iemand het gesê:

    “Werk asof alles van jou afhang en bid asof alles van God afhang.”

    Stof tot nadenke: Die omvang van God se Liefde

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
    Joh. 3: 16-17

    Almal van ons wat Christene is ken Joh. 3: 16 uit ons koppe uit. Dit is waaraan ons vashou! Soms wonder mens of elkeen van ons besef wat die omvang van God se liefde vir ons is. Elkeen van ons het ‘n eie unieke pad gestap tot waar ons God ontmoet het, maar besef ons werklik wat hierdie liefde van God behels?

    Lees meer “Stof tot nadenke: Die omvang van God se Liefde”

    Bybelstudie RUT – Kruispaaie: God se rigtingwysers – Dr. Gerrie van Deventer

    Naomi en Rut Bybelstudie RUT - Kruispaaie Dr. Gerrie van Deventer

    Kruispaaie

    ‘n Kruispad is daardie plek in ‘n pad waar twee of meer paaie bymekaarkom en kruis. Gewoonlik is daar ‘n verkeerslig of 4-rigting stop, wat ‘n mens die geleentheid gee om stadiger te ry of te stop. Dan kan jy die rigtingwysers en tekens lees en besluit of jy hier regs of links wil draai en of jy reguit aan ry.

    Die lewe het vir elkeen van ons ook baie kruispaaie. Dis kruispaaie waar ek moet stilhou, tekens en rigtingwysers lees, besluite neem voor ek verder gaan. Soms is ‘n kruispad by ‘n lewensfase soos na skool, huwelik, kinders uit die huis of pensioen. Soms bring gebeure soos siekte, dood van ‘n geliefde, verlies van werk, ‘n egskeiding of ‘n verplasing ‘n mens by kruispaaie.

    Ons gaan die volgende 6 episodes kyk na verskillende karakters by die kruispaaie in die Bybelse verhaal van Rut. ‘n Mens voel soms baie alleen by kruispaaie en jy het raad en hulp nodig. Daarom is een vraag: Waar is God wanneer ek by ‘n kruispad is?

    God se rigtingwysers in Rut (Lees Rut 1: 1-5)

    Veral Naomi, met haar man, Elimelek (wat beteken ‘God regeer’) kom sommer dadelik by verskillende kruispaaie. Daar is droogte, hulle trek na ‘n vreemde land, en dan sterf Elimelek en dan ook Naomi se twee seuns. En sy bly as weduwee alleen agter in ‘n vreemde land met geen ander familie nie. Dan vra mens saam met Eks. 22: 21-24 (“21’n Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. 22Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. 23As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. 24My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos.”) en (“17’Die HERE is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God wat onpartydig is en geen omkoopgeskenk aanvaar nie, 18wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee. 19Julle moet vreemdelinge liefhê, want julle was self vreemdelinge in Egipteland.”) Deut. 10: 17-19

    Hoe sal God by hierdie kruispad sorg en nuwe rigting aanwys?

    As mens die verhaal deurlees, sien jy hoe God tog vir Naomi telkens rigting wys en hoe Hy lei en regeer – o.a. op die volgende 5 maniere:

    Die leed in Moab

    Moab is ‘n buurland van Israel, oos van die dooie see, met hoë reënval, maar dis ‘n heidense land. Miskien wou God vir Naomi by die kruispaaie die rigting terug wys na Israel toe, en ten diepste terug na Hom toe.

    “die Here het vir Sy volk uitkoms gegee”

    Die tweede teken wat God vir Naomi gee, kry ons in Rut 1: 6 (“6Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee.”), in die tegniese term “die Here het vir sy volk uitkoms gegee”. Dis ‘n term waarmee Goddelike ingrype beskryf is – of om te straf of om te seën. In hierdie geval het God seën in Israel gebring. Nogmaals ‘n wyser terug Israel toe!

    Seëngroete

    Ons kry nege maal in die verhaal seëngroete op baie strategiese punte. Telkens word iets van die seënende hand van God dan so op kruispunte in die verhaal bely. Dis groenligte van God.

    Toevallige verloop van gebeure

    Naomi hoor toevallig van die uitkoms in Israel (Rut 1: 6) en Rut land toevallig by Boas se lande om are op te tel (Rut 2: 3) Maar dit word duidelik dat die toeval eintlik Goddelike beskikking is en dat ‘n mens kan sê dat toeval eintlik beteken: ‘Toe val die lig’.

    Die slotsom

    Daarom is die slotsom van die Rut-verhaal: “Aan die Here kom die lof toe” (“14Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder ‘n losser gelaat nie. Mag dié losser beroemd wees in Israel.” (Rut 4: 14))

    Hoe wys God vir ons rigting aan?

    Jy mag nou by ‘n kruispad in jou lewe wees, of daar mag in die loop van die nuwe jaar nog verskeie sulke kruispaaie kom. Kyk dan uit vir God daar, en vir Sy rigtingwysers! Ook vir rigtingwysers uit Sy Woord. Die woorde van medegelowiges en veral van Sy Gees. Onthou God is teenwoordig op die kruispad van die lewe!

    Stof tot nadenke: Wie is in beheer?

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!”
    Ps. 139: 16-17

    Ons is deur ons lewe gedurig bewus dat iemand in beheer is. Dit is egter so dikwels mense wat in beheer is, op hierdie aarde. Wanneer ons gebore is en ons kom in hierdie vreemde wêreld in, raak ons as klein kindertjies bewus daarvan dat ons ouers in beheer is. Wanneer ons heel klein is, is dit wonderlik om so totaal te kan vertrou op die ouers aan wie ons toe vertrou is. Almal is egter nie in hierdie kleinmens wêreld, so bevoorreg om deur liefdevolle ouers groot gemaak te word nie. En word in ontnugterende toestand groot. Wanneer ons tieners en naskoolse jongmense is, raak ons bewus van onderwysers, skoolhoofde, dosente, en werkgewers, wat in beheer is van ons lewens. Dikwels met relatief goeie gevolge, maar ook dikwels word ons teleurgestel deur die persone in beheer. Veral wanneer ons meer van hulle verwag het. Wanneer mens dink dat die mense in beheer dieselfde waardestelsel as mens het, wat na beide kante toe kan werk, goed of sleg, raak mens teleurgestel met dit waarmee jy gekonfronteer word. Selfs wêreldwye regeringsmagte kan mens so teleurstel, dat jy wonder of daar nog iemand in hierdie wêreld onder die son vertrou kan word.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Wie is in beheer?”

    Stof tot nadenke: Hardloop en wegkruip…

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Niemand kan in ‘n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here. ”
    Jer. 23: 24

    So dikwels in die Bybel lees ons van mense en volke wat wegvlug, soos bv. in die verhaal van Lot uit Sodom en Gomorra (“Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.” (Gen. 19: 17)), of Moses wat gevlug het uit Egipteland as gevolg van ‘n moord wat hy gepleeg het (“Toe dit by die farao uitkom wou hy vir Moses doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon.” (Eks. 2: 15)). Van mense kan daar weggevlug word, soos dit duidelik uit die verhale van Jakob en Dawid blyk. Jakob wat gevlug het na sy bedrog teen sy broer (Gen. 27 en 28), en Dawid wat moes vlug vir sy lewe (“Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.” (1 Sam. 19: 11); (“Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn.” (1 Sam. 23: 14-15)).

    Lees meer “Stof tot nadenke: Hardloop en wegkruip…”

    Stof tot nadenke: Goed en sleg…

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Maar Josef het hulle geantwoord” “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.””
    Gen. 50: 19-21

    Deur die lewe ervaar elkeen van ons goeie en slegte dinge. Dinge wat soms ‘n blywende indruk, en dikwels ‘n traumatiese effek nalaat. Besef ons hoekom hierdie dinge met ons gebeur? Hoe verwerk ons die wanneer die goeie en die slegte dinge in ons lewens gebeur? Wat maak ons met die vreugdes? Wat maak ons wanneer mense se aksies ons vertroue tot op die been stroop? Voel ons dan soos Jeremia wat voel of daar geen uitkoms is nie? (“Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op ‘n pad sonder lig. Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek.” (Kla. 3: 1-4)). Of bely ons soos dieselfde Jeremia dat ons volkome vertrou op God? (“…deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra;” (Kla. 3: 22-26))

    Lees meer “Stof tot nadenke: Goed en sleg…”

    Stof tot nadenke: Seisoen van Skepping…

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewase wat saad gee, bome wat op land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.”
    Gen. 1: 11

    Die Suid Afrikaanse Raad van Kerke het in 2007 besluit om die Seisoen van Skepping permanent deel van die kerklike kalender te maak. Dit is ‘n jaarlikse viering wat van 1 September tot 4 Oktober strek. Dit het dus so pas tot ‘n einde gekom. Daardie wonderlike seisoen, waar die nuwe lewe wat orals te siene is en deur die natuur amper uitgeskreeu word, deur die voëlgesang en nuwe blare aan bladwisselende bome. Dit was een van God se skeppingsdade en dit is so gepas om dit met dankbaarheid te vier en raak te sien. Nuwe nessies wat gebou word. Die nuwe lewe van jong voëls en klein diertjies wat oral te sien is. Dit is ‘n baie gepaste herinneringe aan God se Skepping wat elke dag vir ons ten toon gestel word net soos in die visoene van Johannes (“En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep: “Aan Hom wat op die troons sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” (Open. 5: 13)).

    Lees meer “Stof tot nadenke: Seisoen van Skepping…”

    Stof tot nadenke: Hoe deursigtig is ons?

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.”
    1 Pet. 3: 8-9

    Wat verstaan ons onder deursigtigheid? Is dit iemand wat nie raakgesien word nie, omdat hy te gering is om as belangrik geag te word? Is dit die nastreef na eerlikheid en opregtheid, deur te streef om nie dinge agter ‘n ander se rug te doen of te bespreek nie? Wat een mens as vernuftige beplanning beskou, kan dalk deur ‘n ander as ‘n gekonkel agter die rug van ander beskou word, omdat daar geen deursigtigheid ter sprake is nie? Ons word so menigmaal gemaan om eensgesind te wees, maar hoe bereik ons dit as daar ‘n gebrek aan deursigtigheid is? (“Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.” (Rom. 12: 16); (“Immers, wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie dinge doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” (1 Pet. 3: 10-12)).

    Lees meer “Stof tot nadenke: Hoe deursigtig is ons?”

    Stof tot nadenke: Die Hemelse Koninkryk

    Stof tot Nadenke NG Kerk Groot-Brakrivier

    “Toe Jesus op ‘n keer deur die Farisieërs gevra is wanneer die koninkryk van God kom, het Hy geantwoord: “Die koninkryk van God kom nie met duidelike waarneembare tekens nie. Mense sal nie sê, ‘Kyk, hier is dit!’ of ‘Daar is dit !’ nie, want kyk, die koninkryk van God is in julle midde.”
    Luk. 17: 20-21

    Van die vroegste tye was ons as mense saamgesleur met die konsep van ‘n koninkryk. Die idee van ‘n aardse koninkryk. Dit kom uit in bybelverhale en kinderverhale, en daar is min mense wat nie een of ander tyd in hulle jongmens lewe graag ‘n prins of prinses wou wees nie. Die prag, praal en wysheid wat deur Salomo versinnebeeld is, het ons as mense tot ‘n groot mate laat glo dat dit is hoe die lewe moet wees. (“Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak, met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel goud het hy elke skild oortrek. Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak, met geplette goud daarop. Elkeenvan hierdie skilde het hy met drie mina goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, bos van Libanon, geplaas. Die koning het ‘n groot troon van ivoor gemaak en dit met bladgoud oorgetrek. Daar was ses trappe vir die troon, en die sitplek het ‘n rug met ‘n ronde bokant en armleunings aan elke kant gehad. Twee leeus het langs die armleunings gestaan. Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant.” & “So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie; So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde.” (1 Kon. 10: 16-20 & 23)).

    Lees meer “Stof tot nadenke: Die Hemelse Koninkryk”

    Stof tot nadenke: Laat almal tuis voel.

    “Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur geloof gereinig.”
    Hand. 15: 9

    Hoe laat ons mense tuis voel in die gemeenskap van gelowiges? Ons is tog deur die geloof een familie in Jesus Christus. (“Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.” (Gal. 3: 26-27)). Doen ons moeite om ander gelowiges, wat dalk nuut of vreemd is in die gemeente, te laat tuis voel? Of is dit maar effens moeilik omdat ons dalk self nie heeltemal tuis voel nie? Of is ons al so ingeburger, dat ons voel dis elkeen vir homself, daardie persoon kan maar sy eie plekkie oop stoei in hierdie geloofs-familie?

    Lees meer “Stof tot nadenke: Laat almal tuis voel.”

    Stof tot nadenke: Is geloof ‘n besitting?

    “Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie, dit is ‘n gawe van God.”
    Eff. 2: 8

    Die vraag vandag is, of ons geloof kan besit? Kan ons dit besit soos wat ons ‘n selfoon besit? Iets waarvoor ons gewerk het, iets wat ons kan verlê, verloor, of van ons gesteel word. Kan ons dit laat val, sodat dit onherstelbaar is? Volgens Eff. 2: 8, is dit duidelik dat dit nie uit ons self kom nie, want dit is ‘n gawe van God. Hoe is dit dan dat mens dikwels hoor van mense wat nou skielik nie meer glo nie? Mense wat dink dat hulle hulle lewens gemors het in die werk van die Here?

    Lees meer “Stof tot nadenke: Is geloof ‘n besitting?”

    Stof tot nadenke: Menslike perspektiewe…

    “Toe Jesus opkyk en sien dat daar ‘n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Fillipus “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet? Hy het dit egter gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Fillipus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen ‘n stukkie te laat kry nie. Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Hom: “Hier is ‘n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense. ”
    Joh. 6: 5-8

    Vanuit ons menslike perspektiewe is dit so dikwels om geen uitkoms te sien nie. Wie van ons sou kon sien wat Christus beplan het? Wie van ons se geloof sou sterk genoeg wees om te dink dat soveel mense gevoed kan word met die bietjie wat daar beskikbaar is, en dat mens nie ‘n groot klomp geld nodig het nie? Wie van ons sou gedink het om die bietjie wat ons het aan te bied in die versameling, en voed van die skare mense? Dit het na ‘n totale onmoontlikheid gelyk vanuit die menslike perspektief. Jesus Christus het geweet dat dit deel van God se plan was om Sy almag te toon, en Hy het uit die vyf garsbrode en die twee visse genoeg kos vis die skare voorsien, sodat daar nog oor gebly het (“Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen.” (Joh. 6: 14-15)). Ons reageer so dikwels vanuit ons menslike perspektiewe op die totaal verkeerde manier. Ons verstaan nie altyd die doel van enige gebeure nie. Jesus moes letterlik vlug van hierdie menslike perspektiewe en van dit wat mense geken het in aardse koninkryke.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Menslike perspektiewe…”

    Stof tot nadenke: Die ‘Achilles heel’ van die mens

    “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28 As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!“
    Luk 12: 27-28

    Die mens se Achilles heel, van die vroegste tye af, was hul oorskatting van eie belangrikheid. Daardie gedagte dat jy onmisbaar is, dat niemand anders kan doen wat jy doen nie. Die oomblik dat mens roem en bekendheid verwerf, begin jy glo dat dit jou toekom. Dat dit al jou harde werk is; dat dit jou hoë intelligensie is; dat dit jy is wat maak dat jy goed is in elke ding wat jy regkry met sukses; dat jou vermoë uit jouself kom. Dit is hierdie persepsie van mense wat hulle telkemale tot ‘n val laat kom, want hoogmoed sal val, waarsku die Bybel ons, telkemale (“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val. Liewer eenvoud saam met nederiges as om saam met hoogmoediges van roof te lewe.” (Spr. 16: 18-19); “Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer.” (Spr. 29: 23)).

    Lees meer “Stof tot nadenke: Die ‘Achilles heel’ van die mens”

    Stof tot nadenke: Hoe volg ons?

    “Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg.”
    Pet. 2: 21

    Hoe volg ons in Jesus Christus se voetspore. Dit is nie altyd maklik nie, want daar is vele struikelblokke op mens se pad. Die wêreld lyk soms so aanloklik dat ons struikel. Wanneer ‘n mens tot bekering kom dink jy dat jy oombliklik alles gaan reg doen, maar dit is nie die geval nie. Een van my broers het erg gehakkel, en het op ‘n relatiewe laat stadium besluit om vir behandeling te gaan. Toe hy by die terapeut opdaag, het dié vir hom voor ‘n groterige groot gehoor laat praat. Met wankelmoedige gevolge vir my broer. Hy was kwaad vir die terapeut omdat hy dit aan hom gedoen het. Dié het egter vir hom gevra: “Hoeveel foute dink jy het jy gemaak?” Sy antwoord was: “Ek kon niks reg kry nie, en het oor al die woorde gestruikel.” Maar die terapeut het hom daarop gewys dat hy uit die 1000 woorde wat hy gepraat het, slegs omtrent met 70 gesukkel het. Die terapeut het hom bemoedig deur hom daarop te wys dat mens moet fokus op dit wat jy reg doen! Ek dink met bekering gaan dit dieselfde. Ons dink ons maak aanhoudend foute, omdat ons fokus op alles wat ons verkeerd doen, wat nie noodwendig heeltemal verkeerd is nie, maar daar is ook baie dinge wat ons reg doen. Ons moet net aanhou reg doen, en verbeter daarop.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Hoe volg ons?”

    Stof tot nadenke: Versoekings…

    “Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinnaarskrans van die lewe ontvang,wat God beloof het aan hulle wat hom lief het. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek nie” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer sy eie begeerte meegevoer en verlei word.”
    Jak. 1: 12-14

    Versoeking, daardie onding waarvoor ons so dikwels swig, en dan altyd iemand anders wil beskuldig. Jakobus stel dit baie duidelik dat dit ons eie menslike begeertes is wat die oorhand kry. Self so vroeg as in die tuin van Eden, daar waar die mens alles gehad het wat sy hart kon begeer, het die mens geswig voor die versoeking om van die vrugte te eet wat God hom belet het. Die bekende verhaal van Adam en Eva, wat dadelik uit skaamte vir hulle naaktheid vir God weggekruip het. Eva beskuldig die slang en Adam beskuldig vir Eva (“Die mens het geantwoord: “ Die vrou wat U gegee het om aan my sy te wees, sy is die een wat vir my van die boom gegee het, en ek het geëet. Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy gedoen?” Die vrou het geantwoord: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.” (Gen. 3: 12-13)). Tot vandag toe word daar nog die vinger na die vrou gewys. Dit is so maklik om altyd die vinger na ‘n ander te wys, om jou eie onskuld te probeer bevestig, maar elke mens het die verantwoordelikheid om so ‘n versoeking teen te staan of daarvoor te val.

    Lees meer “Stof tot nadenke: Versoekings…”