Stof tot nadenke: Die Nuwe gebod

Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.

Joh. 13: 34-35

Die persepsie van die liefde, in vandag se tyd, word so verdraai, dat dit soms moeilik is om by die ware bedoeling van die Liefde, soos wat dit in die Woord bedoel word, uit te kom. Ons as mense is sulke fisiese wesens, dat ons so maklik weggevoer word na die aardse liefdes begrip. Vrouens dink as hulle mans nie ‘Vatentynsdag’ onthou nie of gereeld blomme aangedra word, ontbreek die nodige liefde! As die vrou nie altyd die kos kook waarvoor die man lus is nie, of nie dadelik regstaan wanneer die man moeg by die huis aankom, word daar maklik verwyte van liefdeloosheid rond geslinger. Ons verloor so maklik die realiteit van wat die Liefde van Christus vir ons kom wys het.

Daar is geen twyfel dat die Liefde van die vroegste tye af vasgevang was in die gebooie, en ook so deur Jesus Christus na ons as voorbeeld gebring is van God se liefde vir ons.

(“…, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom.” (Eks. 20: 6 & Deut. 5: 10))(“”Meester , wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete.” (Matt. 22: 36-40))

Hoe kan ons dan verseker weet of hierdie liefde, wat Jesus Christus so duidelik vir ons gedemonstreer het, wel deel van ons lewe is? Christus het vir die dissipels die Nuwe Gebod gegee, nadat Hy Judas uit die vertrek gestuur het op die pad wat hy gekies het, en wat noodsaaklik was in die kruisigings en die verheerliking van Christus. Julle moet mekaar liefhê, sodat almal kan sien. Ook Paulus beskryf die eienskappe van die liefde so mooi in 1 Kor. Waar ons verseker word dat die Liefde, in ooreenstemming met Christus se nuwe gebod, die heel belangrikste komponent van die uitleef van ons geloof is.

(“Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou is die Seun van die Mans verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik. My kinders, Ek is nog net ‘n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie.“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” (Joh. 13: 34-33))(“Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.” (1 Kor. 12: 31))(“Liefde bly geguldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eie belang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot ‘n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan.” (1 Kor. 13: 4-8))

Hoe maak ons dit deel van ons lewe, sonder om dit op die aardse verwronge manier uit te leef? Ons moet besef dat dit God is wat ons nader trek. Dit is God wat ons so lief het dat Hy bereid was om Jesus Christus vir ons sondes te laat sterf. Ons kan nie uit ons eie al hierdie eienskappe van die liefde self bereik of uitleef nie. Dit is die Heilige Gees wat ons lewend maak, in ons leef en ons leiding gee; Want die Gees is lewe! Ons moet dus net die deur oopmaak vir Jesus Christus in ons lewens, want Hy gee dit aan ons, verniet!

(“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. ” (Joh. 3: 16))(“Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie,…” (Joh. 6: 44))(“Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe.” (Joh. 6: 63))(“Hy wat in my glo, soos wat die Skrif sê, “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei”” (Joh. 7: 38))(“Hy wat op die troon sit, het gesë: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” Verder het Hy gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewendegewende water – verniet! Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.” (Open. 21: 5-6))

Laat ons dan die liefde inoefen in ons lewens. Laat ons mekaar liehê soos wat Paulus dit so mooi beskryf. Laat ons toelaat dat die lewende water deur ons vloei, tot verheerliking van God. Laat ons, as gemeente van Christus, elke dag ons liefde vir mekaar uitleef teenoor die ander, sodat die wêreld daar buite in verwondering kan staan! Laat ons nie, soos in die woorde van Paulus, mense wat droefheid of ontsteltenis veroorsaak het, aanhou verwyt nie. Hy maan ons om ons liefde aan elke gemeentelid, wat dalk droefheid veroorsaak het, te herbevestig, met ander woorde laat ‘bygones be bygones’. Paulus maan ons ook om sterk te staan in die geloof; en om alles wat ons doen, in liefde te doen. Daardie eienskappe van die liefde, nl. geguld, omgee, sonder jaloesie, nederigheid, behoorlike optredes, soek die ander se belang, en is nie liggeraak nie. Laat ons nie boek hou van die kwaad nie. Laat ons geen plek toelaat vir onreg nie, maar laat ons saam bly wees oor die waarheid. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie. Laat ons so Jesus Christus se offer, en gee van die nuwe gebod, eerbiedig. Laat ons die wêreld verstom!

(“Maar as iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy bedroef het nie, nie, maar, sonder om te oordryf, in ‘n mate julle almal. Vir so iemand is hierdie teeregwysing deur die meerderheid genoeg. Gevolgelik moet julle hom in plaas daarvan eerder vergewe en bemoedig, sodat iemand soos hy nie dalk deur oormatige droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle ernstig om julle liefde aan hom te herbevestig.” (2 Kor. 2: 5-8))(“Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk. Laat alles wat julle doen, in liefde geskied.” (1 Kor. 16: 13-14))