Kom luister / kyk na hierdie liedjies spesiaal verwerk in gebare taal vir die gene wat doof is of gehoorverlies het. Beleef ook saam met ons liedjies sonder klank met slegs gebaretaal.
Lees meer “Liedjies van die Nasionale instituut vir Dowes”Musiek van die Wêreld Biddag vir Vroue 2025 – U het my volmaak geskape
Liedjies
Hierdie liedjies is spesiaal geskryf vir die Wereld biddag vir vroue 2025 deur Ruru Maeva
Ruru Maeva – Wonderfully made
Ruru Maeva – God who knows us
Ruru Maeva – God who knows us
Ruru Maeva – Wonderfully made
Te Pure Ā Te ‘Atu
Cook Islands Māori Lord’s Prayer
By Rev. Ta Upu Pere
Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025, Nasionale Instituut vir Dowes
Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025 Op hierdie Biddag vir Dowes eer ons die taal van die hande, die krag van stille geloof, en die skoonheid van gebede wat verder strek as woorde. Ons bid vir Dowes en persone met gehoorverlies. Mag vrede, liefde, hoop en begrip die dowe gemeenskap vandag en altyd omring.
On this Prayer Day for the Deaf, we honor the language of hands, the power of quiet faith, and the beauty of prayers heard beyond words. We pray for the Deaf and persons with hearing loss. May peace, love, hope and understanding surround the Deaf community today and always.
Lees meer “Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025, Nasionale Instituut vir Dowes”Skep asem vir vandag: 1 September 2025
1 September
Liewe…
My wens en gebed is dat jy vandag die ondersteuning en hulp van die Here sal ervaar wanneer jy dit die meeste nodig het. Hier is God se Boodskap net vir jou vir vandag.
Tema: Die Here ondersteun jou altyd
Teks: “Bring vir my sewentig van Israel se leiers… Ek sal dan afkom en daar met jou praat” (Num 11:16-17)
- God is die Alwyse en weet alles (Jes. 55:8-9).
- Hy verstaan jou uitdagings en bied praktiese ondersteuning deur ander mense in jou lewe te plaas.
- Wanneer jy oorweldig voel, maak God nuwe deure en geleenthede oop wat jy nie verwag het nie
- Jy hoef nie jou hartseer, probleme, laste en uitdagings alleen te dra nie – Hy voorsien op die regte tyd helpers wat jou ondersteun.
- Vertrou dat die Here vandag deure sal oopmaak wat tot groot troos, sukses en deurbrake sal lei
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U ondersteuning in my lewe voorsien wanneer ek dit nodig het.
In die Naam van Jesus Christus die Here
Amen
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Stof tot nadenke: Eiesinnige Weerstand…
“Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly.”
(Eff. 6: 13)
Hoe dikwels is ons in eiesinnige weerstand teen wat die Heilige Gees van ons vra om te doen? Hoe dikwels vlug ons weg van die verantwoordelikheid wat op ons gelê word, net omdat ons nie van die moontlike uitkomste hou nie? Daar is verskeie voorbeelde in die Bybel wat ons vertel van die effekte van teenstand, eiesinnige weerstand en ongeloof in God se almag.
Lees meer “Stof tot nadenke: Eiesinnige Weerstand…”Erediens: By watter tafel gaan sit ek? Sondag 31 Augustus 2025 Ds. Charné Viljoen. Luk 14:1, 7-14 NG Kerk Groot-Brakrivier
Detail
Prediker: Ds. Charné Viljoen
Skriflesing: Lukas 14:1, 7-14
Tema: By watter tafel gaan sit ek?
Orrelis: Marida Bridges
Datum: 31 Augustus 2025
YouTube
Lees meer “Erediens: By watter tafel gaan sit ek? Sondag 31 Augustus 2025 Ds. Charné Viljoen. Luk 14:1, 7-14 NG Kerk Groot-Brakrivier”Skep asem vir vandag: 31 Augustus 2025
31 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is vir die tye wanneer jy ongelukkig is oor jou verantwoordelikhede. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Ongelukkig oor jou verantwoordelikhede
Teks: ” Waarom behandel U my so sleg …. dat U die verantwoordelikheid van hierdie volk op my gelaai het” (Num 11:11)
- Jy kom dikwels in situasies waar jy voel asof die verantwoordelikhede te groot is. Jy wil dan nie meer daarmee aanhou nie.
- Die Here sal jou nooit alleen los nie – byt vas!
- Hy sal jou vandag en in die toekoms hierdeur dra.
- Dit sal weer beter gaan.
- Wees positief. Wees opgewekte en leef met hoop!
Gebed
Liewe Vader, baie dankie dat U my vashou en help om ‘n sukses van my opdrag te maak. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Lief en Leed Week 35 van 2025
Verjaarsdae

Nuusflitse Week 35+ van 2025
Sondag 31 Augustus 2025 : Erediens 10:00 Kategese (kerksaal) & Kleuterkerk (konsistorie).
Woensdag 3 September 2025: Kooroefening 16:45
Saterdag 6 September 2025 – Brandwag Boerebasaar
Wolwedans boodskap, sop en brood: 3 & 17 September
Sondag 7 September 2025: Erediens 09:00 Kategese & Kleuterkerk 09:00 Groenkloof Erediens 10:00
10 September 2025 – 18-49 jariges samekoms
17 September 2025 – 60+ bymekaarkoms
20 – 21 September 2025 – Getuienis Toerustingsgeleentheid
24 Oktober 2025 SS- Gemeentekonsert
25 Oktober 2025 Basaar
Afkondigings 31 Augustus tot 7 Julie 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier
Sondag 31 Augustus 2025 :
- Baie welkom by die erediens gelei deur ds Charné Viljoen.
- Ons skriflesing kom vanoggend uit Lukas 14:1;7-14 (2020-vertaling).
- Die tema van die prediking is: By watter tafel gaan sit ek?
- Bybelsondag.
- Kategese (kerksaal) & Kleuterkerk (konsistorie).
- Spesiale offer vir Bybelverspreidingsfonds by die deure.
- Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.
- Groenkloof preek om 10:00 – Digitaal.

Woensdag 3 September 2025 :
- Kooroefening by die orrel om 16:45. Marida –Kontak Ons . Alle belangstellendes welkom.
Saterdag, 6 September 2025 – Brandwag Boerebasaar
Almal is welkom om saam te kom kuier op Brandwag vir ‘n feestelike boerebasaar op die kerkgronde.
Vanaf 09:00 is alle buite stalletjies oop. Om 10:00 open die gebak en om 11:00 die vleistafels. Bring u vriende saam en kom deel in ons dankbaarheid en kom geniet ‘n heerlike kuiertjie op Brandwag
Sondag 7 September 2025 :
- Erediens om 09:00 – Ds Charné Viljoen.
- Nasionale Biddag vir Dowes.
- Kategese (kerksaal) & Kleuterkerk (konsistorie).
- Sinodale offer vir Instituut vir Dowes by die deure.
- Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal welkom.
- Groenkloof preek om 10:00 – Ds Charné Viljoen.
Kerkraadsverkiesing
Tydens die kerkraadsvergadering gehou op 19 Augustus 2025 is die volgende persoon as diaken verkies:
Voorsitter Ondersteuningsbediening: Riana Briers.
Gebedsgidse :
Gebedsgidse vir September 2025 is beskikbaar in die voorportaal.
Die gebedsgidse, dankofferkoeverte, Kerkbode en Gemeentebriewe is ook by die traliehek van die kerkkantoor beskikbaar.

Bybelblokraai :
Bybelblokraai & Bybelwoordsoek nommer 27, asook die antwoorde vir nommer 26, is beskikbaar in die voorportaal en by die traliehek van die kerkkantoor.
17 September 2025

25 Oktober 2025 Basaar:
Daar is ’n lys by die tee na die erediens waar enigeen wie graag by die basaar as vrywilliger wil help, jou naam kan opgee. Alternatiewelik kan julle vir Ruan kontak –Kontak Ons .
Ons het vrywilligers nodig wie ‘n handjie kan by sit by onderskeie tafels/stalletjies.
24 Oktober 2025 SS- Gemeentekonsert!
Dit beloof om, soos in die verlede, ‘n aand vol pret, stories en lekker lag te wees. Indien jy belangstel om deel te neem, kan jy die kerkkantoor kontak. Sien jou daar
Verjaarsdae

Bedieninge
Getuienisbediening :
Wolwedans boodskap, sop en brood
Ons nooi die gemeente om weer deel te neem aan ons projek om ‘n bemoedigende boodskap, 2 liter sop en ‘n brood te voorsien aan 105 gesinne elke tweede week. Die uitreikdatums vir die derde kwartaal is 3 & 17 September.

Behoeftes vir Getuienisprojekte
Daar is tans ’n behoefte aan ‘n tweedehandse yskas in ‘n goeie werkende toestand, ‘n tweedehandse boekrak vir geestelike boeke, sopbakkies, kleinbordjies, koppies & pierings, eetlepels, bottermesse, teelepels (so 15 van elk), 4-5 tafeldoeke, handdoeke, waslappe, seep, wol, hekelgare en speletjies.
Ons benodig ook asseblief 3 tweedehandse selfone in ‘n werkende toestand vir ons Wolwedans uitreik werkers. Indien u het om te skenk kan u dit asb tydens kantoorure by die kerkkantoor afgee of kontak vir Aletia – Kontak Ons om dit by u af te haal.

Kinderkrans / Kleuterkerk

Jeug

Ondersteuningsgroep :
Ons groep bestaan uit ’n klompie toegewyde lidmate wat een keer ’n maand bymekaar kom en by mekaar leer en vir mekaar ondersteuning bied.
Die doel is om dan uit te gaan as geroepenes om mense in ons gemeente en gemeenskap by te staan. Dit doen ons deur:
- Rygeleenthede vir dokterafsprake, hospitaal besoeke en dies meer.
- Hulp met inkopies.
- Ondersteuning deur dààr te wees in moeilike omstandighede.
- Uit te reik na die mense om die toenemende probleem van alleen wees en eensaamheid te verlig.
Vir meer inligting kontak:
Riana Briers – Kontak Ons / Riëtte Jansen van Rensburg – Kontak Ons .
Omgeebediening :
- Indien u bewus is van iemand met nood, siekte of wat eensaam is en hulp benodig kontak u kerkraadslid of die kerkkantoor.
- Ons wil gemeentelede kans gee om prakties betrokke te raak! By die deure is houers om enige nie-bederfbare kosprodukte in te plaas soos suiker, pasta, rys, konfyte, blikkieskos, seep, tandepasta, koffie, tee, ensovoorts. Enige bydraes help om nood te verlig.
- Enige persoon wat graag by die Omgeebediening betrokke wil raak skakel asseblief vir Corrie Pieters – Kontak Ons .
FEBA RADIO SA: Ons bid vir FEBA Afrika
FEBA saai uit in Mosambiek, Malawi, Tsjad, Mali, Niger en Soedan, waar geweld en armoede algemene verskynsels is. Die spanne in hierdie lande deel die Goeie Nuus deur radio-uitsendings en op praktiese wyse, deur na gehuggies te reis om radio’s en oudio-Bybels uit te deel, nuwe gelowiges te doop, en luisteraars te bemoedig.
Ons gebed vir die week: Bid dat FEBA Afrika se spanne nooit moeg sal word om góéd te doen nie. Vra ook dat luisteraars hul geloof in God sal plaas en daardie geloof met ander sal deel.
Die webwerf (nggrootbrak.co.za)
Erediensbediening:
- Die skakel na die YouTube Erediens van 31 Augustus, gelei deur Ds Charné Viljoen, is beskikbaar.
Getuienisbediening
Sending aan die Melaatse : Nuus om u trots te maak.
Bybelstudiereeks:
- Die ‘Skep asem vir vandag’, ‘n wonderlike begin vir elke dag.
- Vind die Weeklikse: “Stof tot nadenke: Eiesinnige weerstand…”
Gemeentenuus:
- Die skakel na die Kerkbode met Ds Nadia Marais se “Geseënd is die geborenes” artikel, is beskikbaar.
- Daar is ‘n kort artikel oor die ‘Praise and Worship’ aand van 22 Augustus.
- Al die advertensies vir die aktiwiteite van September is op die webtuiste.
- Bybelblokkiesraaisel 27 is beskikbaar vir aanlyn speel.
- Die weeklikse Afkondigings is op die webtuiste, indien u wil seker maak van enigiets.
Ons dank u vir u volgehoue bydrae en ondersteuning van die werk van die Here.
Leraars:
Danie Goosen
Charné Viljoen
Langstraat 10,
Groot-Brakrivier, 6525 ‘
044 620 2205
e-pos: Kontak Ons
Webwerf adres: https://www.nggrootbrak.co.za
Bankbesonderhede:
FNB tjekrekening
Rek Nr. 530 831 865 11
Takkode 210314

Skep asem vir vandag: 30 Augustus 2025
30 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat jy saam met God die pad sal stap. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Stap saam met God die pad…
Teks: “Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt…” (Num 11:1)
- God beskerm jou, versorg jou en hou jou altyd veilig – Hy laat dit met jou goed gaan.
- Wanneer jou optrede tot ‘n slegte gevolg lei, waarom is jy dan vir Hom kwaad – Hy is dan net goed vir jou.
- Vandag, wanneer jy probleme ondervind, soek eerder by die Here hulp.
- Hy sal jou daaruit help en die pad saam met jou stap.
Gebed
Liewe Vader, help my om U te vertrou dat U my uit al my nood sal help. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Gemeentebrief 29 Augustus 2025 – Standplaasverwisseling
Liewe Gemeente,
Die kerkraad het besluit om geloofsonderskeidend die moontlikheid van ’n standplaasverwisseling tussen ds. Danie Goosen (NG Kerk Groot-Brakrivier) en ds. Leon Cronjé (NG Kerk Stellenbosch Welgelegen) te begin ondersoek. Ons wil die gemeente vra om saam met ons te bid en te onderskei wat die Here se stem is vir die pad vorentoe.
Wat is ’n standplaasverwisseling?
’n Standplaasverwisseling is ’n beroepingsproses waar die uiteinde sou kon wees dat twee spesifieke predikante standplase (bedieningsgemeentes) verwissel (in hierdie geval Leon Cronjé na Groot Brakrivier en Danie Goosen na Stellenbosch-Welgelegen).
Hoe het dit gebeur? (Danie se storie)
Danie het die Bestuurspan tydens ‘n strategiese sessie verlede jaar ingelig dat hy die moontlikheid ondersoek om nader aan Stellenbosch te probeer vestig, aangesien sy persoonlike omstandighede verander het. Hy het egter onderneem om ‘n paar strategiese sake af te handel en vir voorbidding gevra. Rondom die einde van die eerste kwartaal het Danie vir Leon Cronje geskakel om te hoor of hy nie bewus is van ‘n persoon of self dalk standplaasverwisseling ondersoek nie.
Leon het gesê dat hy die hand van die Here in die proses ervaar en ongeveer 9 maande gelede al gevoel het om Danie te kontak. Hy het egter gewag en vertrou Danie sou met hom praat as die saak ook op sy hart gelê is deur die Here.
Danie is gelukkig in die gemeente van Groot-Brakrivier en die proses is nie maklik vir hom nie. Hy leef in afhanklikheid voor die Here, en glo dat na ongeveer 14 jaar in die gemeente, sy gawes ook ‘n dienende bydrae in Stellenbosch Welgelegen kon beteken. Hy dink ook dat standplaasverwisseling die moontlikheid oopmaak vir leraars en gemeentes om vernuwend voor die Here te bly leef. Hy vertrou alle partye sal dit as ‘n geskenk uit God se hand kan beleef. Vernuwende denke en roepingsbewustheid is die sleutels vir die pad waar God ons ookal mag lei. Danie vertrou saam met elkeen dat ons duidelikheid sal hê.
Hoe werk die proses nou verder?
Die proses wat nou voorlê is dat die onderskeie kerkrade van die moontlike nuwe standplase van die predikante onderhoude met hulle het om meer oor hulle unieke gawes en persoonlikhede te leer ken om te bepaal of hulle ’n vrugbare bedieningspad saam met die nuwe gemeentes sal kan loop.
Hierna, sal beide gemeentes se kerkrade ’n beroepingsvergadering hê om biddend te besluit of hulle die ander predikant wil beroep.
Vir ’n standplaasverwisseling om suksesvol te gebeur, moet beide gemeentes oortuig wees hulle hoor by die Here dat die nuwe predikant beroep moet word. Enige kerkraad kan op enige punt besluit dat hulle die proses wil beëindig.
Dit is hoekom dit so belangrik is om geloofsonderskeidend oor die saak te dink sodat ons besluite neem wat ons oortuig is die Here lei ons in. Ons vra daarom dat julle as gemeente asseblief in gebed sal intree in die volgende tyd wat ons besig is met hierdie proses as kerkraad. Bid vir:
- die onderskeie gemeentes se kerkrade dat ons na die Here se stem en leiding sal soek en
- slegs treë sal neem waarheen ons voel God self ons lei;
- bid ook vir die onderskeie leraars betrokke en hulle gesinne;
- en bid ook vir die twee gemeentes wat hierdie pad loop en dat die Here die grond binne hierdie geloofsgemeenskappe sal voorberei vir die uiteinde van die proses wat Hy wil hê, wat dit ook al mag wees.
Navrae
Kontak my gerus met enige vrae in die verband.
Danie is bereid om met enige lidmaat oor die saak te gesels en onderneem om die pad met integriteit te loop.
Die Sinode en onderskeie ringe ondersteun en begelei die kerkrade in die proses.
Mag die Here ons almal hierin lei!
Die uwe,

Willem du Preez
Voorsitter van die Kerkraad
Skep asem vir vandag: 29 Augustus 2025
29 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat die Here jou vrede sal gee. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Die Here sal jou vrede gee
Teks: “Die Here sal… aan julle vrede gee!” (Num 6:26)
Die Here gee jou vrede.
Wanneer jy die Here dien, kom jy vry van onvrede, onrus en gevegte.
Dan word jy ‘n vredemaker. Leef in vrede en soek vrede.
Dink twee keer voordat jy praat of iets doen. Kies vir vrede.
Gebed
Liewe Vader, baie dankie dat met U aan my kant, ek die magtigste vyand vandag en môre kan oorwin. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier
1 Johannes 3:16 Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
1 Sep – Maandag – Jesus se nuwe seisoen begin met ‘n wildernis tyd
Nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water uitgeklim en die Hemele het meteens vir Hom oopgegaan. Dit is Sy nuwe seisoen en Hy verwag ook dat ons elke seisoen van ons lewe vreugdevol sal ervaar tot ere van Sy naam.
2 Sep – Dinsdag – ‘n Fondasie vir ewige lewe
Jesus, dankie dat U die ewige en onwrikbare rots in my lewe is waarop ek my fondasie kan bou. Met U kan ek die storms en aanslae teëstaan sonder om te val.
3 Sep – Woensdag – God se genade is baie meer
Die dorings van ons lewe is baie, maar God se genade is baie meer. En daar waar jy die seerste kry, is waar God se genade op sy grootste is.
4 Sep – Donderdag – Wie het ek buiten U in die hemel?
Buiten U in die hemel, begeer ek niks op aarde nie. Dankie Vader vir U teenwoordigheid in my lewe. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, aan U behoort ek vir altyd.
5 Sep – Vrydag – God se beloftes
Jesus, versterk ons geloof sodat ons op U alleen sal vertrou. Verlos ons van die kleingeloof wat ons verhinder om U wonderwerke te sien en te ervaar.
6 Sep – Saterdag – Brandende Bos
Here, help ons om bewus te wees van die brandende bosse in ons lewens. Gee ons die vermoë om U stem duidelik te hoor en ons harte oop te maak vir U leiding.
7 Sep – Sondag – Nasionale Biddag vir Dowes
Hou my vas Here Jesus te midde van stormagtige weer. Wanneer vrese en twyfel ontstaan wil ek U liefde en vrede ervaar. Hou my naby U Jesus, daar voel ek veilig.
8 Sep – Maandag – Is jy gereed?
Vader, ek wil elke dag gereed wees om U te verheerlik. Ons vertoon U beeld en moet U koningskap en liefde weerspieël. Sonder U is ons geestelik swak.
9 Sep – Dinsdag – Geestelike Fiksheid
Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Dankie Here vir geleenthede om geestelik fiks te bly, om vir die gemeenskap te bid en iemand na die Here toe te lei.
10 Sep – Woensdag – Waak en bid
Dankie Vader dat U ons toerus met sintuie om waaksaam te wees. Ons sal aanhou waak en bid om oorwinning oor die wêreld, die vlees en die vyand te behaal.
11 Sep – Donderdag – Dankbaarheid van kind van God
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat hulle Hom nie ken nie.
12 Sep – Vrydag – Wees soos ‘n arend
Vader, ons wil gevul wees tot volheid van U. Ons wil uitstyg soos ‘n arend, want saam met U is daar geen beperking van U liefde en genade vir ons nie.
13 Sep – Saterdag – U liefde is oneindig groot
Vader, ons begryp hoe oneindig diep die liefde van Christus strek. Mag ons U liefde ken wat ons verstand te bowe gaan en vervul word met die volheid van God.
14 Sep – Sondag – Sending aan Melaatses
Vader, ons bid dat elkeen wat geaffekteer is met die siekte, U net kan aanraak. U het nie gekom om ons liggame te genees nie, maar om ons verhouding met God te herstel.
15 Sep – Maandag – Koninkrykswerk
Laat God toe om jou toe te rus vir Sy werk. Kom ons reik uit en raak betrokke by die kerk se sendingwerk, gemeenskapswerk of by die ontferming oor die kwesbares.
16 Sep – Dinsdag – As die lewenstrome woedend om jou slaan
My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil. Ek dank U vir U beskerming, leiding, wysheid en liefde.
17 Sep – Woensdag – Gee jy soms oor
Dankie Hemelse Vader dat U die duurste prys vir ons betaal het. U is my rots by wie ek skuil. U is die stuurman van my lewe en my veilige hawe. Sonder U is ek niks.
18 Sep – Donderdag – Verwoesting in jou hart?
Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie en begeer nie om met hulle saam te wees nie. Hulle hart bedink verwoesting en hulle lippe spreek moeite.
19 Sep – Vrydag – God is my rigtingwyser
Here, ek erken dat ek nog te veel beheer oor my eie besluite het en vra vergifnis vir my rebelsheid. Onderrig my met wysheid in oorvloed. U leiding is konstant.
20 Sep – Saterdag – Die begeerte om te kan hoor
Jesus het gekom om ons te versoen met die Vader. Hy is die lewende weg na die troon – die voorhangsel is geskeur. Dit is ons geboorte-voorreg om Sy stem te kan hoor.
21 Sep – Sondag – Bediening aan die dowes
Here, ons buig nederig voor U en dank U vir genade so groot. Ons bid vir herstel in ons liggame wat gebreek en gekneus is. Vader, raak asb die gehoor aan van diegene wat nie al hulle sintuie kan geniet nie. By U is niks onmoontlik nie.
22 Sep – Maandag – Word ‘n visser van mense
Laat jou geloof sigbaar word in jou dade. Deel jou geloof en maak dissipels vir Jesus. Volhard sodat jy eendag alles wat Jesus vir jou in die hemel bewaar, in besit neem.
23 Sep – Dinsdag – Sy oneindige liefde vir jou
God ken ons lewe. Hy het die pad reeds voorberei. Hy ken die toekoms, vertrou Hom net. Hy ken jou bekommernis, gee dit oor en raak stil. Hy ken jou hartseer, teleurstellings en sien jou trane – Hy sal dit afdroog. Daar is geen einde aan Sy goedheid nie.
24 Sep – Woensdag – Erfenisdag
Vader, ons dra hierdie land met sy kulturele diversiteit op aan U. Seën asseblief ons land en mense en leer ons hoe om mekaar te kan aanvaar, te vergewe en lief te hê.
25 Sep – Donderdag – Alle eer aan U
Dankie Vader vir die wonderlike gawe om te kan kommunikeer. Lei ons om dit met oorgawe te gebruik om mekaar aan te moedig en te vertroos en om U te eer.
26 Sep – Vrydag – God laat alles ten goede werk
Here, ek weet dat U tot alles in staat is en alles kan uitvoer volgens U wil. Soms is ons ongeduldig as ons gebede nie dadelik verhoor word nie. Vergewe ons ongeduld Here – U is altyd op tyd.
27 Sep – Saterdag – Is die losprys te hoog?
Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar deur die genade van God en die genade van een mens, Jesus Christus, was Hy bereid om die losprys te betaal – vir jou.
28 Sep – Sondag – Bediening aan Jode
Johannes 8:31 – Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
29 Sep – Maandag – Jesus is jou skans
Jesus is die vrede in tye van moedeloosheid, siekte en hartseer. Jy is nie gemaak om hierdie storms te beleef en te beveg nie. Jy is gemaak om God te beleef en te sien hoe Hy jou storms stilmaak.
30 Sep – Dinsdag – Die uniekheid van Jesus
Hy is die enigste seun van God. Hy is ewig en die enigste weg na die Vader. Hy het die mag om lewe te gee en die enigste Regverdige wat vir ons sondes verruil het.
Skep asem vir vandag: 28 Augustus 2025
28 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat die Here jou sal hoor. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Die Here sal jou hoor
Teks: “… die Here sal julle gebede verhoor…” (Num 6:26)
- God is nie doof nie. Hy dra nie oorpluisies of gehoorstukke nie. Sy gehoor is fyn en uitstekend.
- Hy hoor en verhoor elke gebed – selfs joune ook.
- Neem vrymoedigheid en maak al jou begeertes aan Hom bekend.
- Wag op Hom. Sien raak hoe Hy verhoor. Jy sal sien dat Sy antwoord beter is as wat jy op gehoop het.
- Loof Hom en prys Hom.
Gebed
Liewe Vader, baie dankie dat ek van nou af weet dat U al my gebede ook verhoor. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Sending aan die Melaatse: Nuus om trots te maak!
Hallo
U kan trots voel oor u kranige span van die Sending aan die Melaatse wat die afgelope klompie dae betrokke was om mense te red uit die kloue van melaatsheid.
Elena van den Berg het haastig uit Durban vertrek om meer as 150 km af te lê na Empangeni waar sy “Bheka” moes opspoor, wie op 21-jarige ouderdom, uiteindelik met melaatsheid gediagnoseer is. Ek sê uiteindelik, want hy het reeds op skool simptome van melaatsheid gehad.
Skep asem vir vandag: 27 Augustus 2025
27 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat die Here nie jou foute teen jou sal hou nie. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Die Here sal jou genade gee
Teks: ” Die Here sal… julle genadig wees…” (Num 6:25)
- Soms dink jy dat jou foute en sonde te veel is. Soms voel dit asof die Here jou vergeet het.
- Die Here vergewe en gee genade. Dit is Sy besigheid. Hy doen dit oor en oor.
- Die Here hou nie boek van die kwaad nie. Daar is nie ‘n einde aan Sy liefde nie – alles net vir jou.
- Maak vandag jou hart oop vir God se liefde en genade.
- Aanvaar dit en wees vry! Leef vry!
Gebed
Liewe Vader, baie dankie dat ek in Christus volle vryspraak en genade van my sonde kry. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Skep asem vir vandag: 26 Augustus 2025
26 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat die Here jou sal help. Hier is God se Woord vandag spesiaal vir jou.
Tema: Die Here sal jou help
Teks: “Die Here sal tot jou redding verskyn…” (Num 6:25)
- Die Here sien jou.
- Hy waarborg dat Hy jou uit elke probleem sal red.
- Jy is nooit in doodloopstrate nie. Sy redding is by jou en wag ook om die draai.
- Maak jou oë oop vir die redding en uitkoms wat jy vandag gaan kry.
Gebed
Liewe Vader, gee my vertroue en geloof om te weet dat U my vandag sal red. In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Skep asem vir vandag: 25 Augustus 2025
25 Augustus
My wens en gebed vir jou vandag is dat die Here jou veilig sal hou. Hier is God se Woord vandag vir jou.
Tema: Die Here sal jou veilig hou.
Teks: “Die Here sal… julle beskerm…” (Num 6:24)
- Jy is baie keer blootgestel aan fisiese, emosionele en geestelike gevare.
- Moenie bang wees nie. Vandag hou die Here jou deur al hierdie dinge steeds veilig.
- Hy kyk met deernis na jou. Hy sien jou deur al hierdie gevare en probleme steeds raak.
- Maak vandag jou hart, gemoed en fisiese lewe oop vir Sy beskerming.
- Leef met blydskap en oorgawe.
Gebed
Liewe Vader, help my om te glo dat U my in alles sal beskerm.
In Jesus se Naam. Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Stof tot nadenke: Kritiek en krisisse
“Maar nou sê ek vir julle: “Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!””
(Hand. 5: 38-39)
Lees meer “Stof tot nadenke: Kritiek en krisisse”
