“Maar nou sê ek vir julle: “Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!””
(Hand. 5: 38-39)
Kritiek veroorsaak so dikwels ‘n verlammende effek op die mens wat dit moet aanhoor. Mag ons kritiseer? Mag ons ander beoordeel, as ons nie weet waar hulle is met hulle pad saam met God nie? Wat maak ons in krisis situasies? Wanneer kritiek en krisisse gelyktydig in ons lewe plaasvind, hoe hanteer ons dit? Wie van ons het nie al in ons harte kritiek teenoor ander se dade uitgespreek nie?
Daar is ‘n paar interessante sieninge in verband met Kritiek. Deur ‘n anonieme aanhaling: ‘Kritiek moet nooit ligtelik beskou word nie, maar as ‘n mens oortuig is van jou saak, moet jy jou ook nie daardeur laat ontmoedig nie. Vir mense wat weet wat hulle wil wees en wat hulle wil doen, is kritiek bloot ‘n aansporing om harder te werk en die wêreld van hulle droom te oortuig.‘ en Johan Smit se aanhaling: ‘Kritiek is die beitel waarmee vriende aan jou lewe mooier vorm kan gee en vyande letsels kan laat. Laat jou vriende dus meer dikwels toe om te kritiseer, sodat jy dit nie van jou vyande hoef te hoor nie.‘ Daar is ook die voorbeeld van die Fariseër wat Jesus stilweg gekritiseer het nadat Hy die sondige vrou toegelaat het om sy voete te was en met haar hare af te droog.
“Toe die Fariseër wat Hom uitgenooi het, dit sien, het hy in sy hart gedink, as hierdie man ‘n profeet was, sou hy tog geweet het wie dit is wat hom aanraak en watter soort vrou sy is. ” (Luk. 7: 39)
Jesus het ons ook gewys dat kritiek selfs gebruik kan word. Ons lees dikwels in die Bybel waar Hy self mense kritiseer. Hy wys hulle op hulle verkeerde persepsies en aksies. Hy wys ook uit waarom hulle hierdie verkeerde gebruike en handelinge as deel van hulle lewe toepas. Dit gaan so dikwels om eie gewin en om aansien. Hulle wat deur hulle aksies en gebruike mense uitsluit uit die hemel! Mense wat graag gesien wil word en deur titels aangespreek wil word.
“Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: “Die skrifkenners en Fariseërs sit op die stoel van Moses. Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om ‘n vinger aan die vrag te raak nie. Al hulle dade is bedoel om deur mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges, om op die markpleine begroet en om deur die mense as rabbi aangespreek te word. ” (Matt. 23: 1-7);
“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle sluit die mense uit die koninkryk van die hemele uit. ” (Matt. 23: 13-14)
Kritiek en krisisse gaan dikwels saam; of kritiek lei ook dikwels tot die krisis. Hoe hanteer ons wat oor ons lewenspad kom? Wat maak ons met kritiek wat van vriende en vyande in ons rigting geslinger word? Ferdinand Deist het dit baie mooi gestel: ‘Krisisse in ‘n mens se lewe kan rampe of geleenthede wees. Geloof in die nabyheid van God kan die verskil tussen dié twee moontlikehede maak.‘ Ons moet dus die nabyheid van God soek in tye van kritiek en krisis. Want ‘God kon nog nooit iemand gebruik vir groot take as hy nie in ‘n krisis vertrou kon word nie.‘ (Anonieme aanhaling). Krisisse gaan dus ook nie verby voordat God nie seker is dat jy daaruit geleer het, wat Hy wou hê dat jy daaruit moes leer nie. Ons moet dus krisisse sien as geleenthede, vir nuwe moontlikhede in ons lewe, want soos Phil Bosman dit so goed stel: kan daar ‘Uit elke krisis ‘n nuwe tyd gebore word. Die sin van elke krisis is om opnuut gebore te word uit die sinloosheid van ‘n dwase verlede.‘
Ons moet leer uit ons verlede en uit die kritiek en krisisse wat oor ons pad kom, want ‘n ‘positiewe houding’ maak alle dinge reg. Voor mens se vasberadenheid kan elke vyand vlug wanneer ons God naby het. Wanneer ons weet dat Hy vir ons leiding sal gee in moeilike en wat soms na onmoontlike omstandighede lyk. Dan sal ons ook soos Paulus kan sê dat alles in hierdie lewe is verlies ter wille van die uitnemendheid van Jesus Christus, want ons burgerskap is nie van hierdie aarde nie, maar in die hemel.
“Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – …” (Fil. 3: 7-9);
“Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser, die Here Jesus verwag. Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Hom te onderwerp.” (Fil. 3: 20-21)
Daar is dus positiewe en negatiewe kritiek. Dit is stormwaters wat ons moet bevaar. Ons kan as Christene hulp en leiding vra in hierdie moeilike tye, maar ons moet egter altyd in ootmoed voor God staan en besef dat dit nie onsself is wat ons red in tye van krisisse nie, maar dat dit altyd God is wat ons red. Dit is God wat ons die oorwinning gee en ons werk hier op aarde is nie vergeefs; wanneer dit tot eer en verheerliking is van Hom wat ons liefhet en help in tye van beproewing. Want ons kan verseker weet God is getrou en Sy beloftes staan vas. ‘In krisisse is dit nie ons geloof wat ons red nie, dit is steeds God. Ons geloof is maar iets wat wankel. Twyfel is deel van ons almal se lewe. God bly egter God en sy beloftes en trou staan vas, ook deur ons twyfel heen.'(aanhaling deur Braam Hanekom); “Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broers, wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie.” (1 Kor. 15: 57-58)


