Hallo
U kan trots voel oor u kranige span van die Sending aan die Melaatse wat die afgelope klompie dae betrokke was om mense te red uit die kloue van melaatsheid.
Elena van den Berg het haastig uit Durban vertrek om meer as 150 km af te lê na Empangeni waar sy “Bheka” moes opspoor, wie op 21-jarige ouderdom, uiteindelik met melaatsheid gediagnoseer is. Ek sê uiteindelik, want hy het reeds op skool simptome van melaatsheid gehad.
Hy was skaam oor sy gesig wat erg deur die siekte geskaad is, en het ophou skoolgaan. Dis hartseer, maar dit het al hierdie jare geneem voordat hy met behandeling begin het. Hy sal genees van melaatsheid en met verloop van tyd sal sy voorkoms verbeter. Ek is ontsteld oor sy vormingsjare wat hy aan die wrede siekte moes afstaan.
In Richmond, wes van Durban, help Elena ook vir “Hlengiwe” om haar voet te versorg wat ‘n aaklige seerplek het – melaatsheid lei dikwels tot die verlies aan beskermende gevoel in die voete. Melaatse pasiënte ontwikkel dan diep wonde in hul voetsole, wat maande neem om te genees. Elena het besondere ervaring met hierdie toestand en het oor die jare al talle voete van katastrofiese gevolge gered.
Gelukkig het daar ‘n informele eiehulpgroep in die Durban omgewing ontstaan, waar melaatse lyers mekaar bemoedig en help om na hul hande, voete en oë om te sien. Hul gemeenskaplike entoesiasme doen baie om mekaar op te beur en hul lewens te verbeter.
Melaatse medikasie is effektief, maar om medisyne in afgeleë gemeenskappe te besorg, is dikwels moeilik. “Nelisiwe” moes ‘n paar dae gelede haar medikasie in Durban gaan haal. Sy wou haar seun stuur om dit te doen, maar hy het onverwags by ‘n nuwe werk begin. Haar buurman het haar te hulp gekom en aangebied om Nelisiwe se medikasie te gaan haal. Dis bemoedigend om te sien hoe mense hulle bure bystaan.
Melaatsheid veroorsaak soveel skade, aangesien dit dikwels eers lank ná die simptome begin het, gediagnoseer word, soos in die voorbeeld van Bheka.
Soos ‘n pasiënt vroeër vandag aan my gesê het:
” … ongelukkig is die verpleegsters en personeel verantwoordelik vir melaatse sorg, nie bekend met die siekte nie. Hulle vra my gereeld hoe dit begin het – hulle hou aan om my verskeie goed te vra, wat dit moeilik maak om behoorlike sorg te kry.”
Dit is die rede waarom my knap veldpersoneel gereeld omvattende opleiding aanbied vir gesondheidspersoneel, sodat melaatsheid betyds uitgeken en behandel kan word. Ons gaan uit ons pad om daarop te wys dat melaatsheid nie sommer maklik van een persoon na ‘n ander oordra nie. Gesondheidswerkers is dikwels beangs oor melaatsheid, en ons spanlede werk onvermoeid om daardie ongegronde vrese te besweer.
In die Oos-Kaap doen Goodman Qhosholo opleiding by omtrent vyftien klinieke per maand. Die mooi bakkie wat u verlede jaar help voorsien het, maak dit soveel makliker vir hom om klinieke in afgeleë gemeenskappe te bereik.
Aan die begin van Augustus het Gundula Koethnig ‘n groepie gesondheidswerkers van Raleigh Fitkin Gedenkhospitaal in Manzini opgelei om melaatsheid uit te ken. Die voorkoms van melaatsheid het tot ‘n lae vlak gedaal in eSwatini, maar daar is ‘n behoefte om ‘n diens te verskaf aan pasiënte wat aan lewenslange gevolge van die siekte ly, naamlik die verlies aan beskermende gevoel in hul hande, voete en oë.
‘n Paar dae gelede het Gundula en Lucky Kunene in Durban opleiding gegee aan ‘n nasionale span van gesondheidswerkers, saam met sommige van die land se leidende dermatoloë. Hierdie opleidingsprogram het aan die aanwesiges ‘n diepgaande begrip verskaf van melaatsheid en gevolglike komplikasies. Ek hoop van harte dat dit sal lei tot beter en vinniger hulp aan melaatse lyers regoor die land.
Oor ‘n paar dae kom ons talentvolle span bymekaar om aktiwiteite vir die laaste deel van 2025 te beplan, asook vir die eerste deel van 2026, insluitend die geleenthede tydens die viering van Wêreld Leprosedag aan die einde van Januarie 2026.
Die vergadering bied ook ‘n geleentheid om van die insigte wat ek bekom het tydens die Internasonale Leprosekongres in Bali, in oënskou te neem en maniere te ondersoek waarop ons pasiënte in Suid-Afrika daarby kan baat.
Daarna reis ek na Manzini om te sien hoe die nuwe melaatse kliniek by Raleigh Fitkin Gedenkhospitaal vorder. Aan die einde van die maand vergader ek saam met verskeie wêreld sendingleiers in Kaapstad om maniere te ondersoek waarop ons kan saamwerk om ons roeping te vervul.
Baie dankie vir u ruimhartige bystand.
Telkens wanneer u ons help om opleiding te gee of om ‘n gevoellose voet te versorg, bring u ons nader aan die dag waarop melaatsheid nie meer mense kan beroof van hulle hande, voete en oë nie.
Tot September, oorvloedige seën.
Pieter Laubscher
Uitvoerende Direkteur
Sending aan die Melaatse Suidelike Afrika
073 470 3185
NS: Volg ons asseblief op ons nuwe Facebook blad deur op die ikoon hieronder te kliek of besoek ons Facebook blad deur hier te kliek vir al ons jongste nuus en bywerkings.
Bank: Eerste Nasionale Bank, Balfour Park
Takkode: 212217,
Rekeningnommer: 51471056974,
Rekeningnaam: Die Sending aan die Melaatse SA No 2 Rekening,
Rekeningtipe: Lopend.
Verwysing van begunstigde: gebruik asseblief jou kontaknommer sodat ek jou kan bedank.
Maak jou veilige skenking op ons webwerf deur hier te kliek.




