Stof tot nadenke: Eiesinnige Weerstand…

Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly.

(Eff. 6: 13)

Hoe dikwels is ons in eiesinnige weerstand teen wat die Heilige Gees van ons vra om te doen? Hoe dikwels vlug ons weg van die verantwoordelikheid wat op ons gelê word, net omdat ons nie van die moontlike uitkomste hou nie? Daar is verskeie voorbeelde in die Bybel wat ons vertel van die effekte van teenstand, eiesinnige weerstand en ongeloof in God se almag.

Die Israeliete by die eerste aankoms by Kanaän is die eerste voorbeeld. Die Here het hulle die land belowe, en hulle verseker van die oorwinning. Maar nadat die verspieders na die land gaan kyk het, was slegs twee van hulle oortuig dat hulle die land sal kan inneem. Die hele volk, het in angs en beweing geluister na die ander tien verspieders wat net swarigheid raakgesien het. Dit alles nadat die Here hulle veilig deur die woestyn laat trek het, en hulle van kos voorsien het. Die gevolge was uitmergelend. Nog veertig jaar se trek deur die woestyn, en slegs die wat geglo het dat God hulle sou inlei in Kanaän, het dit uiteindelik beleef.

Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in die woestyn gesterf! Waarom bring die Here ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys ‘n leier aan en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israelite, Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié ‘ wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: ”Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die Here moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is ‘n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” (Num. 14: 1-9);
Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Gee die Israelite opdrag en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land Kanaän aankom, is dit die grondgebied wat aan julle as erfenis toeval – die land Kanaän, met sy grense:…”” (Num. 34: 1-2)

Ook Jona is ‘n baie goeie voorbeeld van eiesinnige weerstand teen God se opdrag. Die Here het hom uitdruklik na Nineve gestuur. Wat doen hy egter? Hy vlug op die eerste beste skip in die hawe, met ernstige gevolge vir die bemanning van daardie skip! Ons besef so dikwels nie die impak van ons eiesinnige besluite nie. Hy was eerder bereid om te sterf, as om God se opdrag uit te voer, want hy het vir die bemanning gesê dat hulle hom oorboord moes gooi. God se planne kan egter nie omvergewerp word deur ons onwillighede nie. Eers nadat hy deur die vis op die strand uitgespoeg is, het hy besef dat God hom terugstuur, en dat hy nie daarvan kan ontvlug nie. Daar wys die Here hom daarop dat hy kortsigtig is om te kla oor ‘n plant wat doodgegaan het, maar dat hy nie empatie met die hele klomp mense in Nineve het nie.

‘’Die woord van die Here het tot Jona, die seun van Amittai, gekom: “Staan op, gaan na die groot stad Nineve en spreek hulle aan, want die kwaad wat hulle doen, het opgestyg voor My. Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van die teenwoordigheid van die Here af.” (Jona 1);
Toe sê die HERE: “ Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die versil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere?”” (Jona 4: 10-11)

Ook koning Saul is daarop gewys dat opstandigheid teen die wil van die Here soos waarsêery is en eiesinnigheid so goed soos husgode. Ons kan nie verskonings vir ons eiesinnige weerstand teen opdragte voor ander mense se voete neersit nie, want ons moet elkeen self verantwoordelikheid neem vir wat ons verkeerd doen.

Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. Toe sê Saul vir Samuel: “Ek het gesondig, ja ek het die bevel van die Here en u opdragte oortree, omdat ek bang was vir die manskappe en na hulle geluister het. Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug, sodat ek voor die Here in aanbidding kan buig.”” (1 Sam. 15: 23-25)

Dan is daar ook die voorbeeld van Saulus (Paulus) wat die Christene met mag en mening vervolg het. Hy is in sy spore tot stilstand geruk deur God, wat hom opdrag gee om die evangelie te gaan verkondig.

Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis na huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi.” (Hand. 8: 3);
Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ‘n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”” (Hand. 9: 3-4)

Mag ons elkeen die opdrag van God, deur die Heilige Gees se leiding in ons lewe, hoor, en nie met weerbarstige, eiesinnige weerstand daarteen optree nie. Laat ons soos Job ook geen fout vind of ongeruimdheid probeer vind aan wat God oor ons pad bring nie. Laat ons ondanks enige swaarkry, steeds die Here loof en prys soos Job, omdat ons besef dat Hy almagtig en goed is. Hy wat ons liefhet, en dit vir ons moontlik gemaak het om die ewige lewe te kan beërf, deur die genade-gawe van Jesus Christus.

Job het toe opgestaan, sy mantel geskeur, sy kop kaal geskeer, op die grond neergeval en in aanbidding gebuig. Hy het gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word! Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.”” (Job 1: 20-22);
Hy sal elkeen beloon volgens sy dade: die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid, maar toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Verdrukking en benoudheid wag vir elke mens wat aanhou kwaad doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek.” (Rom. 2: 6-9)