“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.”
Joh. 3: 16-17
Almal van ons wat Christene is ken Joh. 3: 16 uit ons koppe uit. Dit is waaraan ons vashou! Soms wonder mens of elkeen van ons besef wat die omvang van God se liefde vir ons is. Elkeen van ons het ‘n eie unieke pad gestap tot waar ons God ontmoet het, maar besef ons werklik wat hierdie liefde van God behels?
Dwarsdeur die Ou Testament word God se troue liefde genoem, en hou al die skrywers, profete en gelowige konings vas aan hierdie troue liefde van God ((“Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, …” (Eks. 34: 6-7); (“Loof die Here, alle nasies, roem Hom, alle volke, want magtig oor ons is sy troue liefde, ja, die trou van die Here is vir ewig. Halleluja!”(Ps. 117: 1-2); (“Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond in troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom;…” (Deur. 7: 9); (“Die Here is geduldig en oorvloedig in troue liefde. Hy skeld sondeskuld en oortreding kwyt,…” (Num. 14: 18)).
In die boek “In Jesus se Voetspore” wat deur die Christen akteur, Bruce Machiano, in die negentigerjare geskryf is, nadat hy Jesus moes speel in die film Mathew, kom hy te staan voor hierdie vraag. Hy wou die rol so getrou as moontlik vertolk, en het van God gebid om hom insig te gee in hoe Hy gevoel het, wanneer hy die massas mense moes toespreek, of ongelowiges op markpleine gesien het. Vir hom was dit ‘n openbaring dat hy gevul was met ‘n matelose hartseer en meegevoel met die mense om hom. Dit was ‘n fisieke onoorkomelike hartseer wat hom gevul het en hy het besef dat God en Christus se liefde een van totale begrip in die pyn en leiding van mense was. Dat dit hulle fisiek pynig met die verlies van elke mens wat nie tot inkeer sal kom nie.
Kan ons regtig ten volle verstaan hoe lief God ons het? Besef ons regtig wat Jesus Christus in daardie laaste dae voor die kruisiging moes deurgaan? Om verraai en verloën te word deur geliefdes, onskuldig aangekla te word, geskop, geslaan, misvorm en verag te word deur hierdie mense vir wie hy so lief was, dat Hy bereid was om deur sulke pyniging te gaan? Hierdie almagtige, drie-enige God wat ‘n intense meegevoel teenoor ons mense het (“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. ” (Eff. 2: 4), (“Ag Here, is dit nie wat ek gesê het toe ek nog in my land was nie? Daarom het ek vroegtydig na Tarsis gevlug, want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, ‘n God wat berou het oor die onheil.” (Jona 4: 2);(“In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare, van lank gelede af.” (Jes. 63: 9)).
Dit is ‘n liefde wat ons nie maklik kan nadoen in intensiteit nie, maar tog vra God van ons dat ons medelye met mekaar moet hê (“Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” (Joh. 13: 35); (“Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde.” (Joh. 15: 9); (“Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (Rom. 13: 10);(“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.” (1 Joh. 4: 7-10)).
Met hierdie wete dat dit God self is wat die liefde in ons wek deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees, kan ons ook die Vader loof vir Sy liefde en meelewing in ons alledaagse bestaan (“Prys die Here, want Hy is goed; ja vir ewig duur sy troue liefde.” (1 Kron. 16: 34); (“’n Goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom.” (Ps. 32: 10); (“U, Here moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou,…” (Ps. 40: 12); (“Here, U troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte.” (Ps. 119: 64); (“Wie ook al bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God in hom. Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom:…” (1 Joh. 4: 15-17)).


