”’n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word.”
(Jes. 26: 320)
Die belofte van vrede van God?
Die vrede van God is uniek. Ons begryp dit nie. Dit is vreemd aan ons manier van dink en redeneer. Christus self noem dat sy vrede wat Hy ons gee, nie die vrede is wat deur mense verstaan word nie, of wat deur die wêreld vir ons aangebied word nie.
Paulus het dit ook herhaaldelik genoem dat die vrede van God deur Christus alleen bewerkstellig word. Hy bring vrede en die evangelie van Christus is ‘n verkondiging van vrede. Ons as mens is nie in staat om hierdie vrede self tussen ons en God te maak nie. Hierdie vrede is ver bo ons vermoë, grootste ideale en diepste begeertes.
Hierdie rykdom, die vrede van God, is oorweldigend. Hoe God ons, swak en dikwels afwykende sondige mense, so lief kon hê, gaan ons verstand te bowe, maar dit is werklik hoe lief God ons het.
Teksverse:
“En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4: 720);
“Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.” (Joh. 14: 2720);
“Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vadder van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan die regterhand in die hemele,….” (Ef. 1: 17-2020);
“Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande.” (Ef. 2: 1420);
“Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.”(Jos 1: 920)
Die voorwaardes van God se vrede
Daar is tog een hoof voorwaarde waaraan ons moet voldoen. Ons moet volkome, met ons hele hart, siel en gees, op God vertrou. Dit is die fondament waarop die vrede van God berus. J.B. Figgis het dit so mooi gestel: ‘God is die fondament waarop vrede gebou word en die geheim van vrede is vertroue op God’.
Dis wanneer ons ons volle vertroue in God stel, dat ons die vrede van God kan ervaar. Dan besef ons dat ons absoluut niks is, en sonder God se bystand niks kan wees nie. Net soos Hiskia moet ons aan God vashou en nie wegdraai van God nie. Ook Salomo en Jeremia dryf ons om vas te hou aan God met volle vertroue in sy Almag, omdat ons weet dat Hy die rots is wat nooit sal wankel nie.
Teksverse:
“Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees.” (Fil. 2: 520);
“Verder broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.” (Fil. 4: 8-920);
“Vertrou te alle tye op die Here, want die Here, die Here is ‘n ewige rots.” (Jes. 26: 420);
“Op die Here, die God van Israel het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom was nie. Hy het aan die Here vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die Here Moses beveel het, nagekom.” (2 Kon. 18: 5-620);
“Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie.” (Spr. 3: 520)