Bybelstudie Rut – Kruispaaie: Self Kaart lees – Dr. Gerrie van Deventer

Inleidend

As jy op nuwe paaie moet ry – paaie waar jy nog nooit voorheen gereis het nie, dan is ‘n goeie kaart en die regte lees van die kaart belangrik! Deesdae is daar gewone padkaarte, internet kaarte en veral die GPS waarmee jy rigting wys kan word. Maar ek het ‘n verantwoordelikheid – ek moet die leeswerk doen, my pad beplan en in my kar klim en ry, anders gaan ek nooit by die regte bestemming uitkom nie.

So is dit ook in ‘n geestelike sin. God dui vir jou rigting aan, maar jy het ook die verantwoordelikheid om die padkaart te lees, paaie te soek en om te ry!

Mense is soms soos ‘n kar wat op ‘n kruispad gevrek het, en nie wil vat nie – geïmmobiliseer, onaktief, staties, gestagneer. Byna als in Rut staan onder die beskikkende hand van God, maar kyk net hoe die drie hoofkarakters self ook verantwoordelikheid neem.

Kaartlees in Rut

Naomi

Sy’s na die dood van haar man en seuns in Moab as vreemdeling – vasgekeer in armoede, hartseer en bitterheid. Maar as sy hoor van God se uitkoms, staan sy op en gaan terug na Bethlehem. Daar bedink en beplan sy die lossingsproses en maak slim planne ten opsigte van Boas en Rut.

(“1Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2Nou, ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons.” (Rut 3: 1-2)

Rut

Sy neem verantwoordelikheid om God te dien en vir Naomi te volg. Sy gaan werk op die lande en dan kom die seë van God.

Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel

(Rut 2: 2)

Sy neem inisiatief in die verhouding met Boas, gaan kruip by sy voete in en vra hom om haar losser te wees. Sy hoor die regte geluide, sien hoe die wind waai en neem dan inisiatief!

Boas

Hy neem inisiatief en verantwoordelikheid in die regsproses, gaan na die stadspoort, praat met die leiers en met Agas en tree op volgens die vereiste lossingsprosedure en Leviraatshuwelik.

Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gesit.

(Rut 4: 1)

Hoe neem ons verantwoordelikheid

Die boodskap is duidelik! Doen iets aan jou hartseer (Naomi), jou armoede (Rut) en aan jou liefdeslewe (Boas).

God skep ons as verantwoordelike wesens in elke opsig (“God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.” (Gen. 1: 27)). Daarom moet ons as gelowiges nie net sit en wag op die kruispaaie van die lewe nie. Nee, ons moet verantwoordelik ons werk doen, werk aan aan ons verhoudinge en selfs aan ons toewyding aan God en ‘n lewe van integriteit. Ons moet besluite en inisiatief neem en dan kyk hoe God in en deur dit alles beskik. Iemand het gesê:

Werk asof alles van jou afhang en bid asof alles van God afhang.