Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 28 Maart 2023

VISIO DIVINA #35

28 Maart – Deel 1

Teen die muur van ‘n kerk, die St Clement in Tahull, Spanje, is ‘n ikoon uit 1123 nC. Die hand binne ‘n sirkel word die “Dexteria Dei” (Latyn vir die “Regterhand van God”) genoem. Soos Psalm 118:16 sê, “Die regterhand van die HERE is hoog gelig; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.”

Dit is nie ‘n vuis nie; nie ‘n afwysende, veroordelende hand nie. Dit is ‘n uitnodigende hand. “Kom na My toe”, nooi die hand. ‘n Eenvoudige ikoon, maar met soveel betekenis! Die hand kom vanuit ‘n “Groot Wit Niks” – ‘n onbekend, misterieuse ruimte. Tog is wit die kleur van reinheid en lig. Om die wit sirkel is ‘n band van koninklike purper; asof dit ons teen die helder lig moet beskerm. Dan volg die blou sirkel – die kleur van die hemel; gevolg deur ‘n sirkel van rooi: die kleur van bloed. Die kleur van liefde.

VISIO DIVINA #35

28 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” (Hand 10:29-30).

Ons Lydensreis raak al hoe korter; tree vir tree kom ons nader aan Palmsondag; die begin van die Heilige Week; die week wat uitloop op die “dag van chaos” en die “dag sonder woorde.”

Deesdae voel dit vir my asof ons in die “Tyd van Chaos” leef. (Was dit al ooit anders?) Terwyl ek hierdie dagstuk skryf, is die nuusblaaie vol van politici se dreigemente om die land tot stilstand te bring. Gaan daar geweld uitbreek, of sal alles vreedsaam verloop? As die chaos nie hierdie keer uitbreek nie; wanneer gaan dit? Is dit nie onvermydelik gegewe die chaos van armoede en magsmisbruik nie? Soos wat die chaos daardie week in Jerusalem ook moes uitbreek nie. Jesus het dit geweet – hy het drie maal sy dood met die dissipels bespreek. Maar sou hulle ooit die impak van die chaos kon begryp?

Waaraan die “Dexteria Dei”-ikoon ons herinner is dat – midde hierdie chaos (wat die wêreld nog nooit ontsien het nie) – word ‘n hand uitgesteek. ‘n Hand wat jou intrek na ‘n plek van rus. ‘n Hand wat jou moeë en (soms) beangsde siel aanraak. ‘n Hand wat troos en versterk. Dit is dieselfde hand tot wie Jesus gesê het, “Vader, in U hande gee ek My gees.” (Luk 23:46). Ons mag dit ook doen.

GEBED: Maak my ‘n getroue medewerker, my Here, tot U koninkryk kom.

———–

Op Dag 35 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n verwerking van die Britse komponis, John Rutter n.a.v. Numeri 6:22-24. Wat my veral bygeval het, is die kunswerk op die video – so gepas as ‘n hand wat na ons uitgesteek word.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun