Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 34

VISIO DIVINA #34

Deel 1

Hierdie skildery van Jorge Cocco (sien ook #32) en die ikoon van Jesus, die Pantokrator (#31) loop hand-aan-hand. Jesus het herhááldelik sy volgelinge daarop voorberei dat Hy gaan sterf, maar hulle moes nie ontsteld wees nie – vir ‘n kort rukkie sal Hy weggaan, en dan sal Hy weer terugkeer, “sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh 14:5). Die Pantokrator kom beslis terug!

Maar wanneer kom U? Die dissipels wou dit weet; óns ook. Elke nou en dan maak iemand ‘n voorspelling, asof hulle “inside info” het. Tog sê Jesus, “(niemand) weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie” (Matt 24:36; 25:13). Dit is waaroor hierdie gelykenis (en die skildery van Jorge Cocco) gaan: Hou julself gereed – want, sowaar, daar gaan ‘n dag kom waar ons uitoep, “Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!” (Matt 25:6).

Is jou lampie vol olie?

Deel 2

TEKSVERS:

Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor … om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe” (2 Pet 3:12-14).

Dit is vanselfsprekend dat iemand wat die vraag hoor (“Is jou lampie vol olie?”) hulself sou afvra, maar hoe weet ek of my lamp vol olie is? Wie sê ek is nie dalk een van die onverstandige meisies oor wie die gelykenis van Jesus vertel nie? Is dit nie ‘n vraag waaroor ons almal wonder nie?

Die wonderlike is dat Jesus direk na die gelykenis van die 10 jong meisies wat wag op die koms van die Bruidegom (Matt 25:1-13); dadelik oorgaan en vertel wat God se verwagtinge is (Matt 25:14-46). Nes die dissipels is ons ook die tussentydse mense, en van súlke mense verwag God net één ding: soos Jesus die gebrokenes om Hom versorg het, wees julle nou, in die tussentyd, die versorgers. Wees met ander woorde wie Jesus was. Soek die plekke op wat Jesus sou opsoek. Doen die dinge wat Jesus sou doen. Of eenvoudig gestel: volg die voorbeeld wat Hy vir julle nagelaat het. Net dit. Niks meer nie. Niks minder nie.

Daarom het Jesus – heel aan die begin van sy prediking –vertel hoe leef mense wat die koninkryk van God dien: die barmhartiges; die vredemakers; die wat opstaan vir reg en regverdigheid; die wat van God afhanklik is (Matt 5:3-12). Dit is die geseëndes. Hulle is gevul met die Heilige Gees. Hulle lampe is altyd vol. Dit is hulle wat bid, “laat U koninkryk kom.”

GEBED:

Maak my ‘n getroue medewerker, my Here, tot U koninkryk kom.


Russiese “Otche Nash” (Onse Vader) – uitgevoer deur die kwintet , “Olga Vocal Ensemble”.

Op Dag 34 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons (net soos op Dag 32 met Jorge Cocco se kunswerk) na die Onse Vader. Maar, in plaas van ‘n Afrikaanse weergawe, luister ons na ‘n Russiese “Otche Nash”; uitgevoer deur die kwintet , “Olga Vocal Ensemble”.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun