Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 32

VISIO DIVINA #32

Deel 1

Jorge Cocco, die kunstenaar uit Argentinië, het ‘n hele reeks kunswerke oor Jesus se gelykenisse geskilder, o.a. die onbarmhartige skuldeiser. Daar is net drie mense in hierdie kunswerk; die middelste figuur is ‘n duplikaat van mekaar. Eers is hy knielend voor die heerser (in blou); en dan is hy weer die een wat ‘n trappie hoër sit as die een wat voor hom pleit.

Daagliks maak ons ook keuses of ons met genade wil optree, en of ons iemand van genade gaan weerhou. Ons maak almal daagliks die keuse of ons iemand gaan vergewe al dan nie. Soms vra dit dat jy jouself in die spieël van ‘n kunswerk soos hierdie sal raaksien om uit te pluis aan watter kant jy jouself bevind.

Deel 2

TEKSVERS:

“Moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” (Matt 18:33).

Jesus het al ‘n tweede keer sy dood aangekondig (Matt 17:22-23), maar hoe min het die dissipels regtig verstaan. (Hulle stry dan selfs oor wie die belangrikste in die koninkryk sal wees – 18:1). Hoe min het selfs Petrus verstaan as hy later vir Jesus vra: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe” (18:21). Die Wet van Moses het gesê, drie keer. Ek wonder of Petrus gedink het dat Jesus hom sal komplimenteer dat hy self antwoord, “sewe maal?” Is sewe dan nie die volmaakte getal nie; wat meer is nodig?

En dan verduidelik Jesus: Die koninkryk van die hemele kan vergelyk word met ‘n amptenaar wat sy koning miljoene rand skuld, en omdat hy dit nie kan terugbetaal nie, sê die koning die amptenaar en sy ganse gesin moet verkoop word om die skuld te betaal. So hartstogtelik pleit die man dat die koning se hart versag en hy al die skuld afskryf (v23-27). ‘n Mens sou verwag dat die amptenaar dan net so goedhartig teenoor ‘n kollega sou wees wat hom weer (‘n bietjie) geld skuld. Die doel van die gelykenis: Vergewe soos julle vergewe is.

Maar dit is met daardie gebeure die Vrydag by Kopbeenkoppie dat die dissipels eers die werklike betekenis van hierdie gelykenis sou begryp. Daar aan die kruis het Jesus uitgeroep: “Vader, vergeef hulle.” Vergewe hulle hul miljoeneaan skuld. Vergewe hulle álles. Vergewe hulle sewe-en-sewentig maal sewe keer.

Hoe kan ons dan wil boekhou van ander se kwaad?

GEBED:

Ons Vader in die hemel, vergeef my, soos ek hulle vergewe wat teen my sondig.


Rina Hugo: Onse Vader,

Op Dag 32 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Rna Hugo se weergawe van die Onse Vader,

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun