Nuusbrief vanaf Oekraïne: Maart Gebedsbrief uit die suide

Liewe vriende en familie

Baie dankie dat julle die pad so saam met ons stap. Dankie dat julle bid en ondersteun. Dankie vir elke bemoedigende boodskap.

Ek waardeer dit meer as wat woorde kan sê.

Ek is terug in suid Oekraïne.

Die Here het die deure oopgemaak. Al het my verblyfspermit reeds verval het ek die vinnigste grens-oorgang ooit gehad.  Die Here is só getrou. 

Dit is so goed om almal weer te sien en weer by die huis te wees, al weet ek nie regtig meer waar “huis” is nie. Al bly daar nou ’n Oekraïense paartjie en June van Engeland, in die huis, voel dit steeds leeg. Dit is die huis waar ons kinders groot geword het, en hier is soveel herinneringe. Die seuns se kaste het nog van hul klere in, en selfs van hul speelgoed van toe hulle klein was. Sedert ek terug is, was ek nog nie weer in haar kamer nie. Haar spieëlkas en die rakke met haar boeke en goedjies en alles staan nog net so. Haar kas is nog vol klere.

Eendag sal ek dit uitsorteer, maar ek is nog nie daar nie.

Ek dink aan haar en hom in alles wat ek doen—selfs in die kleinste dingetjies. As ek ’n botteltjie oopdraai, dink ek daaraan dat die laaste keer wat ek dit gebruik het, sy nog by ons was. 

Toe ek laas in Suid-Oekraïne was het sy my elke dag ‘n paar keer gebel. Wanneer sy na skool na haar tweede werk toe ry, het sy my gebel en dan weer wanneer sy huistoe ry. Ek weet nog nie hoe om sonder haar te leef nie. Saterdae was ons twee heeldag in mekaar se geselskap, al was sy duisende kilometers weg. 

Party dae is makliker. Ek dink dit is maar hoe ’n mens deur die rouproses gaan. Die Here is met my en baie naby, maar dit bly ondraaglik moeilik. Dit bly seer, en ek voel soms so alleen, al is die huis vol mense.

Ek is dankbaar dat ek nie alleen oor die grens en ferry gekom het nie, en dat ’n groep van vier mans van Jubilee-gemeente in Maidstone, Engeland, saam met my gekom het. Willie en sy vrou Bekkie, stap al 30 jaar saam met ons pad en het reeds in 1996 saam met ’n groep studente hier kom bedien. Hy was baie bly om ná sy laaste besoek 15 jaar gelede weer hier te wees. Hulle was baie ondersteunend en het ook tyd saam met ons leierskap deurgebring, wat die afgelope tyd so getrou met die bediening aangegaan het. Die mans het vir vier dae gekuier en is weer terug in Maidstone. 

Die dag nadat ons in Suid-Oekraïne aangekom het, het ons Nag om te skyn aangebied vir mense met gestremdhede in ons streek, so ver as die ooste. Die aand word deur die Tim Tebow-stigting geborg. Dit was ’n groot sukses, en elke glimlag en elke drukkie van dankbaarheid maak dit alles die moeite werd.

Ek het ook vir ons gaste die basaar/mark in Suid-Oekraïne gaan wys. Soveel mense het na my toe gekom—soms vreemdelinge—om hul medelye te betoon en vir my ’n drukkie te gee. Een vrou, wie se naam ek nie eens ken nie, het my hande vasgehou en gesê: “Dankie dat jy terug is. Ons het jou so nodig. Jy is soos lig wat skyn.” Ek weet dit is net Jesus, en alle eer kom Hom toe. In my eie krag kan ek dit nie doen nie. So baie mense hier het kinders, mans of ouers verloor in hierdie oorlog! 

Dit is weer ’n ander wêreld waaraan ’n mens moet gewoond raak. Raak mens ooit regtig gewoond aan die sirenes? Ek kan sien dat die Here Suid-Oekraïne beskerm. Verlede week is die ooste erg deur die nag aangeval. Die hospitaal se vensters is uitgeblaas en die dak is deur ’n drone beskadig. ’n Ander hospitaal het ook groot skade opgedoen.

Die hoofdokter van die hospitaal het ons gevra om verbande en mediese toerusting, wat ons vroeër die week ontvang het, te bring. Geen mans in die gemeente kan ry nie. Die wat nie in die oorlog veg nie, bly in hul huise, uit vrees dat hulle opgeroep en weggestuur sal word om te veg. Die kanse op oorlewing op die veg frond is baie klein.

So ek, Valeria en July het die motor vol bokse gelaai en deurgery. Die dokters was baie dankbaar, en die bokse is dadelik oopgemaak en begin gebruik—veral die verbande. Elke dag kry hulle soveel mense in wat beseer is tydens drone aanvalle in ons hele streek. Julle weet nie hoe erg dit hier gaan nie. Vroër die week is ‘n kraam hospitaal in Odessa vernietig. Hulle het al die mammas en babas na die ondergrondse bunker geneem. Die werkers van die Odessa administrasie kantore se blyplek is heeltemal vernietig, verbrand en mense sit plastiek voor hul vensters en bly daar omdat hulle geen ander plek het nie. 

In een dag was daar meer as 900 drones en ook missiele oor Oekraïne. Ek word baie keer in die nag wakker van die sirenes. Ons hou dit op ons selfone dop, en as die drones in ons rigting beweeg, gaan ons na die kelder.

My familie en vriende is bekommerd. Valerina, het ernstig met my gepraat toe ek in Suid-Afrika was, en ook Willie en die leiers van Jubilee-gemeente het my gevra om ’n sabbatsverlof te neem. Hulle het met die leiers hier in Suid-Oekraïne gepraat, en almal het my met soveel liefde gevra of “toestemming” gegee om ’n tyd van rus te neem. Soos Valerina sê: nadat die Here vir my man kom haal het, is ek dadelik terug na Oekraïne—toe die oorlog, en toe sy. Hulle is ook bekommerd oor my gesondheid. Ek het soveel liefde en ondersteuning van ons kerk leiers hier in Valerina ontvang en hulle is in soveel eenheid dat ek moet gaan rus. Waar dit gaan wees en vir hoe lank weet ons nog nie. 

Ek sal dus vir ’n paar weke in Oekraïne wees om alles reg te kry en oor te gee aan ons leiers, en ook om die probleme met ons gebou se aandele te probeer uit sorteer. Daarna sal ek, DV, teruggaan na Suid-Afrika vir ‘n ruk, waar ek dadelik sal moet aandag gee aan ‘n mediese uitdaging wat ek het en die tyd sal neem om fisies en geestelik te herstel. Alles is in die Here se hande. My toekomsplanne is om (gehoorsaam te wees om mooi te hoor wat die Here sê)  en om DV, weer terug te kom na Valerina , ná ’n tyd van genesing, en voort te gaan met die werk. Valerina is in my hart. Ek verlaat nie die sendingveld of Valerina nie.

Ek moet belei. ’n Groot bron van kommer vir my is die finansies vir die kleuterskool. Ons het dit oorweeg om die kleuterskool toe te maak, maar ná ’n besoek het ons weer besef watter groot werk die Here in elke kind se lewe doen. Ons vertrou Hom vir die voorsiening vir dit en vir elke bediening om voort te gaan.

Ons het wel besluit om die daaglikse etes vir die vlugtelinge te stop, sodat ons op die kleuterskool kan fokus. Daar is nou minder vlugteling as in die begin en ‘n ander gemeente het ook begin om etes te gee. 

Môre oggend kom ons Juris  al die pad uit Odessa om saam met Attie, (ons jarelange vriend en sakeman van Izmail), om met my en Valeria oor die aandele van Univermag te praat. Ons hoop dat hulle ook met Gryna sal kan praat, wie se vrou vir ons 18% van die aandele aangebied het. Ons bid dat Gryna steeds bereid sal wees om die aandele teen die oorspronklike prys te verkoop. Bid ook asseblief vir Katja en Alina wat 30% van ons aandele jare gelede net vir hulself “gevat” het.  Bid dat hulle net weer ‘n ontmoeting met die Here sal hê en sal terug draai. 

Bid asseblief saam met ons hieroor.

Die Here is so goed en altyd getrou, en ek glo met my hele hart dat Hy in beheer is en voor ons uitgaan.

Terwyl ek hierdie gebedsbrief geskryf het, het daar 62 lugaanval waarskuwings op my telefoon se app opgekom, vir lugaanvalle waarskuwings in ons streek en Odessa. Ek weet dat ek in die holte van Sy hand is. 

💌    Vir meer gereelde gebedsversoeke op Whatsapp, stuur asseblief jou nommer na +380938126060 op Whatsapp. 

Baie dankie dat julle bid.

📌 Projekte rekening vir Raduga:

Standardbank,

Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),

rekeningnommer 014330067 

in die naam Nuwe Dag

📌 My persoonlike

besonderhede:

Capitec

Savings Account Number: 1554335599

Branch: 470010

 SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)

 International Sort/Routing/Clearing Code: 470010

Account number/IBAN: 1554335599