(Nuusbrief ge-anomiseer ter beskerming van ons dienswerkers)
Liewe vriende en familie
Partykeer op ‘n dag soos vandag het ek die Here so nodig. Dan kyk ek op na die berge en ek weet waar my hulp vandaan gaan kom. Hy kom en Hy tel elke stukkende potskerf op en maak my heel. Hy gee vir my in hierdie vreeslike stilte die mooiste sonsondergang. Jesus.
Verlede Maandag het ons die derde Gebedsontbyt geleentheid gehad. Al die pastore en kerkleiers van ons streek is na die spesiale geleentheid genooi. Die Adjunk raad leiers van die streek asook die burgemeesters van twee dorpe was teenwoordig. Die Amerikaanse ambassadeur van NAVU Kurt Volker was ook daar asook die spesiale teenwoordiger van die Amerikaanse staatsdepartement vir Oekraine was teenwoordig. Dit was vir my so groot voorreg toe hulle my gevra het om die dag af te sluit en in Afrikaans te bid vir Oekraine en vir vrede in Oekraine.
Bid asseblief saam vir vrede in Oekraine en vir die Here se beskerming. Die nuwe koring oes is gereed en die hawe gaan weer bedrywig raak, wat die suide weer ‘n teiken maak. Dankie dat julle intree vir my en die mense van die suide. Die Here is so getrou.
Ons bussie en my kar gee weer probleme. Die bussie moet die week ingaan om reg gemaak te word, voor die jeugkamp begin.
Ek het nie ‘n sent om daarvoor te betaal nie en ek weet nie hoe ons dit gaan doen nie. Ek is baie dankbaar vir die bussie, maar hy is al so oud. Ons het hom tweedehands gekoop meer as 20 jaar gelede. Elke jaar moet ons so baie op hom spandeer om te laat regmaak aangesien hierdie paaie so sleg is. Bid asseblief saam met my vir ‘n voertuig vir die kerk. Al die kos vir die bejaardes in die gemeente word met hom rondgery asook en alle bedienings.
Die manne ouer as 25 gaan omtrent nie uit hul huise nie, want mans word van die straat af geneem om oorlog toe gestuur te word. Niemand wil vrywillig gaan nie. Hulle noem die oorlog die vleismeule en alle planne wat ons probeer maak het deur die kerk het in duie gestort. Die weermag lag dit af. Indien die mans in Oekraine nie hulself gaan aangee om vrywillig in die oorlog te veg nie, moet hulle ‘n boete van 19 000 grivno betaal en die volgende maand 80 000 en indien hulle dit nie betaal nie, kan hul motors of huise afgeneem word en verkoop word om hul skuld te vereffen. Ons bid dat hierdie oorlog tot ‘n einde sal kon. Ons hoor van gevalle wat ‘n pa van die oorlogsfront bel en vra dat iemand sal gaan kyk wat by sy huis aangaan. Sy vrou het begin drink, omdat sy nie die spanning kan hanteer dat haar man se lewe elke dag in gevaar is nie en dat hulle klein kindertjies het.
Drank is ‘n groot probleem in Oekraine. Natasia het ook weer vir maande aan mekaar begin drink. Haar seun, Artiom van 18 het vir hulp kom vra. Natasia het opgehou eet en net gedrink en begin halusineer. Ek is na haar huis toe met ‘n verpleegster en ‘n sak met medikasie en ‘n drup. In die donker kamertjie, sonder elektrisieteit, het die verpleegster probeer om ‘n naald vir die drup in haar arm te druk onder my selfoon se liggie. Natasia was kwaad en het met die verpleegster baklei, tog was sy dankbaar dat ek daar is en begin huil en gesê hoeveel keer hy haar gehelp het, nou is dit ek wat haar kom help. Ek is net so dankbaar om hier te wees, juis in ‘n tyd soos nou.
Ek, Madeleine en Juliette het saam met die veterane organisasie die maand soveel mense by hulle huise besoek. Daar is net soveel mense wat alleen is, wat honger is vir gesels en versorging. Ons het onder andere ‘n ouma van in die 90 gaan besoek wat alleen bly, sy kan skaars loop. Ons het vir haar ‘n groot sak kos geneem asook ‘n audio Bybel wat met sonkrag werk. Al vyf haar kleinseuns veg in die oorlog. Sy huil wanneer sy praat. My hart breek elke dag vir die mense van Oekraïne. Julle verstaan net nie hoe erg dit gaan nie. Elke dag gaan daar mense dood en die wêreld het vergeet. Dit kom nie eers meer in die nuus nie. Elke dag is daar woonstelblokke wat uitmekaar geskiet word. Vandag is daar net in Kharkiv 8 mense dood en so baie beseer.
Hoe lank kan dit so aangaan? Bid asseblief vir hierdie bejaardes in ons dorp vir bekering. Ons het lekker gekuier by die Kaptein. Hy is 84 en was skeepskaptein baie jare gelede. Hy woon alleen op die vyfde vloer van ‘n woonstel en kom oor die weg met ‘n rolstoel as hy die dag wil uitgaan. Ons het ook vir hom ‘n audio Bybel gegee en hy is baie opgewonde en sien reeds uit na ons volgende besoek. Hy het geen Bybelkennis nie en ons neem baba stappies met hom. Moesia het gister weer die evangelie met hom gedeel en ons bid vir hom. Op ons lysie is 60 bejaardes en sover het ons by 26 uitgekom. Amal in hul 80’s. Party kan nie beweeg na beroertes nie en is so dankbaar en meeste van hierdie mense huil sommer net en sê: Dankie dat julle nie van my vergeet nie.
Ons het die maand op internationale Kinderbeskermings Dag ook die sentrum vir kinders met spesiale behoeftes besoek met Mickey mouse en roomys! Ons het vir hulle ‘n spesiale program aangebied en dit is so wonderlik hoe ons jong mense verhouding bou met hulle “Night To Shine” vriende. Ons prys die Here vir elke oop deur.
De oesveld is so gereed en die arbeiders min.
Bid asseblief vir die kleuterskool. Ons het meer kindertjies ingekry en moet dringend nog ‘n onderwyseres aanstel. Daar was Vrydag ‘n baie oulike onderwyseres vir ‘n onderhoud, maar sy sien nie kans om vir so klein salaris te werk nie. Die minimum salaris in Oekraine is 8000 grivna en ons kan nie meer as 7000 aanbied nie. Ek weet nie wat om te doen nie. Bid asseblief vir uitkoms vir die kleuterskool, vir ‘n borg vir elke kindjie. Ek weet nie wat om te doen nie.
Bid asseblief vir die jeugkamp wat 1 Julie begin.
88 jongmense en meeste van hulle ken nie die Here nie. Ons leiers is so min en ons spanne gaan groot wees omdat die mans bo 25 nie uit die suide kan gaan nie. Bid asseblief vir hierdie jong leiers. Ek voel soos Gideon wat met so min mense so groot geveg moet gaan veg, maar ek weet wie veg vir ons. Die Here is altyd getrou en ons kan dit net in Sy krag doen.
Bid asseblief vir voldoende finansies vir die kamp. Die onkostes is baie meer as wat ons in die begin uitgewerk het, aangesien die kamp die jaar ‘n dag langer gaan wees. Ons is 110 mense wat gaan. As ek daaraan dink, raak en benoud, maar die Here sal voorsien. Ons loop weer op water en in geloof. Ons moet ook ‘n projektor kry vir die kamp aankoop. Daar is soveel goed, te veel vir my. Maar ek gee dit alles net in die Here se hande en ek vra julle om asseblief saam met my te bid.
Bid asseblief vir die twee voertuie se herstel. Laas jaar was elke voertuig meer as R40 000
Bid asseblief vir ‘n nuwe bussie.
Bid asseblief vir voldoende finansies vir die Jeugkamp.
Bid asseblief vir Natasia en Artiom haar seun.
Bid vir die oorlog om te stop. Bid vir die vroue en kindertjies in die oorlog.
Bid asseblief vir my, vir krag, wysheid en ook vir finansies.
Bid ook asseblief vir die Kleuterskool vir finansies.
Ek kyk na die Here en sal nie oorweldig word nie. Hy is my hulp en Hy is my man en ek vertrou net op Hom.
Baie liefde en seen uit die Suide van Ukraine
Dienswerker in Oekraïne


