Liewe vriende en familie
Met my hele hart wil ek vir julle dankie sê.
Dankie vir elke brief van bemoediging, vir elke gebed vir elke bydrae. Ek waardeer dit oneindig baie!
Dit is vir my so kosbaar terwyl ek in Suid-Afrika is om mense wat die gebedsbrief ontvang raak te loop en te hoor hoe daar gebid word en ingetree word vir ons as gesin en vir die gemeente in Suid Oekraine. Die Here hoor elke gebed en Hy beskerm ons, Hy voorsien en sorg en gee ons Sy leiding.
Die tyd hier in Suid-Afrika is werklik ‘n tyd van rus en ‘n tyd om weer opgebou te word. Ek ontvang soveel woord van bemoediging en versterking. Ek is so dankbaar teenoor Johan en Mariette van Highway gemeente by wie ek nou bly, vir hul gasvryheid en liefde. Ek is so dankbaar vir Anneke en haar ma tannie Flippie, wie se motor ek kan leen. Die Here is so goed en getrou. Ek sien elke dag hoe Hy voorsien en sorg.
Ek geniet Suid-Afrika so baie. Die mense hier is so vriendelik! Oral, in die winkels op straat. Ek beleef mense as warm en oop. Elke karwag en persoon in ‘n winkel. Dit is vir my so lekker om hier te wees! Ek weet nie of julle dit besef nie, maar hierdie is so ‘n vriendelike land. Dit is so wonderlik om deur die nag te slaap sonder sirenis wat afgaan, om nie in die nag af te hardloop in die bunker nie. Wanneer ‘n motorfiets vinnig en hard verby my skiet, skrik ek bietjie. Dit klink so bietjie na ‘n serene en die bromponies klink nogal baie dieselfde as die drones met hul 50 kg plofstof. Dan is dit so wonderlik om te weet dat ek maar kan ontspan. Ek geniet die groen en die reën wat af en toe val. In Oekraine kruip die winter nader en alles is reeds vaal en grys, nou dat die bome hul blare verloor het.
Dit gaan goed met die gemeente in Suid Oekraine. Die leiers is so getrou, elkeen in sy bediening. Ek prys die Here en is so dankbaar so so ‘n getroue span. Ek het vanmore met van die leiers gesels. Alga vra dat ons asseblief sal bid vir genoeg vuurmaak hout vir die winter. Daar is min hout oor van verlede jaar. Dit is nog nie baie koud nie, maar diep in die winter is dit gewoonlik enige iets van tussen – 10 en – 24 grade.
Bid asseblief steeds vir die kleuterskool vir borge vir elke kindjie. Ons wil graag vir elke onderwyseres en elke assistent ‘n salaris gee wat meer is as die minimum salaris in Oekraine. Bid asseblief saam dat die Here die kleuterskool sal seen.
Dit is al amper 1000 dae van oorlog in Oekraine! ‘n Duisend dae wat mense sterf in hierdie sinnelose oorlog. Dit is gewone mense soos ek en jy wat hul lewens verloor. Kindertjies wat in vrees lewe. Ons bid vir vrede in Oekraine. Ons bid vir ‘n wonderwerk. As die Here nie ingryp nie, kan dit net erger word met Noord Korea wat nou Rusland ondersteun. Bid asseblief.
Sonneblomme en Sneeu is die week weer op die top 20 Afrikaanse boeke wat in Suid-Afrika verkoop is. Ek is so dankbaar dat die Here die boek gebruik in mense se lewens. Bid asseblief saam vir boek nommer twee. Dat die Here sal lei. Ek het verlede week met die uitgewer gesels. Die Here lê dit sterk op my hart om ‘n boek uit te bring oor Psalm 91 vir mense wat in vrees leef, met getuienisse van die Here se beskerming oor 28 jaar. Bid asseblief dat die Heilige Gees dit sal lei en dat mense se geloof vertrek sal word deur elke getuienis van die Here se getrouheid. Ek wil niks uit my eie doen nie.
Bid asseblief vir my kinders. Bid asseblief vir H-J se beskerming. Hy is elke dag baie ure op die pad vir sy werk. Bid asseblief vir hom en An, dat die Here hulle sal seën. More, word verjaar H-J en word 28. Die geboorte van ons oudste seun, was vir my en O so kosbaar.
Bid asseblief vir C en T wat in New Zealand is.
C en T sal graag eerder in Santa Rosa in Amerika naby sy broers en O se ouers wil bly. Bid asseblief vir C vir ‘n pos wat hy as Bedryfs Ingeneur kan werk in of naby Santa Rosa. T, C se Oekraniese vroutjie se ouers woon ook as vlugtelinge nie ver van Santa Rosa af nie.
Bid asseblief vir B C wat op die oomblik by Santa Rosa Christian Church is as jeugwerker. Hy het steeds ‘n hart vir Oekraine en bid dat die Here hom ook sal lei in sy toekoms.
Bid asseblief vir M-A terwyl sy nou na ander moontlikhede en poste by skole begin kyk in Stellenbosch omgewing. Die kleuterskooltjie waar sy nou is, se salaris is so klein. Ons bid vir ‘n laerskool pos of vir ‘n kleuterskool waar sy kan groei en waar sy haarself kan uitleef.
Bid asseblief vir I, dat die Here hom ook sal lei en sal wys waar hy volgende jaar moet wees. Hy wil steeds graag by sy broers in Amerika wees, maar as die deure nie vir hom oopgaan nie, sal hy moontlik saam met my na Oekraine terug keer. Bid asseblief dat die Here hom sal vertroos, versterk en hoop en Sy visie sal gee. I is nou 18 en maak skool klaar.
Bid asseblief vir ons jongmanne van die gemeente wat in die oorlog veg. D se man, hulle het ‘n babadogtertjie. Bid vir D en S. S was vir die eerste paar jaar van sy lewe in ‘n weeshuis totdat S en T hom aangeneem het. Bid vir K wat as ‘n kind saam met sy boeties en sussies in ons huis gebly het. Hy is ook getroud en het ‘n klein seuntjie. Bid ook vir L se seun, wat in die voorste loopgrawe veg. Die winter is oppad en ek kan my net indink hoe koud en nat dit moet wees en om dag en nag blootgestel te wees aan die sneeu en reen.
Bid vir die mans van Oekraine. Soms word hulle letterlik op die straat aangekeer, daar word ‘n sak oor hul koppe gesit, hulle word geboei en in ‘n wa gegooi om in die oorlog te gaan veg. Dit is hoe drasties daar na soldate gesoek word. Mens sien omtrent nie mans op die strate nie.
Ons het die Here so nodig. Elke dag en elke oomblik. Hy is so naby en so goed en getrou. Hy is naby en niks kan ons van Sy liefde skei nie. Hy sê in Sy woord dat Hy ons dag na dag versterk. Die Here praat die week met my deur Efesiërs 4 en ek lees dit oor en oor. Ek lees dit in die Amplified Bible en ek sien in elke vers hoe die Here besig is om ons te vernuwe en te vul, dag na dag, hoe Sy krag in ons werk. Alle lof en eer aan ons Vader wat so lief is vir ons.
Baie liefde en seen
Dienswerker
Suid Ukraine
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike besonderhede:
Capitec
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599


