Liewe vriende en familie
Baie dankie aan elkeen van julle.
Dankie dat julle bid en dankie vir elkeen wat gee, elke bemoedigende woord, elke skrif.
Ek en die gemeente hier in Suid Oekraïne, die kleuterskool en elke persoon in Lig vir die Wêreld gemeente waardeer julle so baie.
Die Here sorg en voorsien. Hy bemoedig ons dag na dag en Hy beskerm ons.
Oorlog. Dit is so ‘n verskriklike woord. ‘n Woord wat jy in films hoor of in die geskiedenis van lees of plekke ver van ons. Hier in Suid Oekraïne is dit die woord wat jy heeltyd, die meeste hoor. Ek onthou, September 2021 op ‘n sorgelose somers dag het ek en my man saam met sy ouers Lviv besoek. ‘n Filmspan was besig om ‘n toneel in die pragtige ou dorp af te neem en die plein was in ‘n oorlogs toneel van die tweede wêreld oorlog omskep. Soldate, gewere, sandsakke, groot yster versperrings om tanks te keer. Ons het in verwondering deur gestap. Soos kinders deur ‘n toneel wat niks met ons te doen het nie.
Min het ek geweet dat my hele lewe binne ‘n paar dae heeltemal sou verander. Ek, sonder my man en my pa in ‘n oorlog. Gister was dit drie jaar wat my pa oorlede is. Net ‘n paar dae voor my man.
Net ‘n paar weke gelede was weer ek in Lviv. Verlede week sien ek op die nuus hoe die pragtige ou stad brand en sien foto’s van mense wat onder die puin uitgegrawe word. Die aanval op Poltava alleen is daar meer as 50 mense oorlede en meer as 200 mense beseer. Met beseer dink mens partykeer net ‘n skrapie, maar dit is mense wat ledemate verloor of erg gebrand is. Ons harte is seer. Vanmiddag lui die klokke in Suid Oekraïne. Nog ‘n soldaat word vandag begrawe. Die pad van die kerk staan mense met Oekraniese vlae in hul hande. Party mense staan op hul knieë langs die pad terwyl die lykswa met die oop kis stadig verby ry. Niemand sê ‘n woord nie. Almal in die dorp praat sag asof hulle ‘n groot las dra. Mense se harte is seer. Hoe lank gaan dit nog aanhou is die vraag op elkeen se lippe. Dit is asof die oorlog net erger word. Mans probeer die land verlaat om nie te gaan veg nie. Mans word van die straat af geneem en weggestuur om te gaan veg. ‘n Jongman wat ons ken het deur die Donau rivier geswem om Oekraine te vlug. Elke jaar verdrink daar soveel mense in die rivier as gevolg van die strome wat mense intrek. Ek weet nie hoe hy dit reggekry het nie, maar hy was glo vir ‘n maand in Moldavie onwettig. Hy wou weer terug kom Oekraine toe, weer swem, maar is vanmore oorlede. Hulle sê dat hy van spanning oorlede is.
Dit is die realiteit van die van Oekraine. Ons het ‘n wonderwerk nodig.
Die geveg oor Univermag, ons gebou gaan ook voort.
Bid asseblief vir uitkoms om die hele gebou te onderhou, elektrisiteit en salarisse.
Ek kom D.V in Oktober/November in Suid-Afrika kuier en sien so baie uit daarna. As daar enige iemand is wat dalk asseblief vir my ‘n karretjie het in Pretoria of in die Kaap om te leen in daardie tyd sal ek dit so waardeer. Dit voel asof ek net op die regte tyd kom, en asof ek op my einde is. Oktober 11 is dit al drie jaar wat die Here vir my man kom haal het. Ek het weer finaal deur die Engelse weergawe vir Sonneblomme en Sneeu gewerk saam met Juliet en dit voel asof ek alles net weer so naby beleef het. Al die projekte vir die jaar is afgehandel. Die leiers gaan goed aan terwyl ek nie hier is nie. Ek voel rou seer binne. September maand voel altyd soos afsluit. Soos die laaste kuier saam met my man in Lviv voor ons Suid-Afrika toe gaan.
1 September het die nuwe skooljaar in Oekraine begin. Ons het 9 nuwe kindertjies in die 2 tot 3 jariges se klassie. Bid asseblief Vir Raduga se finansies. Elke maand staan ons in geloof en verwondering oor hoe die Here voorsien. Elke maand uit ‘n ander oord, en mens lê in die aande wakker en wonder en wanneer jy somme maak, kan jy die hele nag wakker lê. Ons sukkel om aan die einde van elke maand almal se salarisse te gee. Hierdie volunteers van ons kry minder as die minimum salarisse in Oekraïne. Van hulle is enkel mammas en het heen ander inkomste nie. Ons wil so graag vir hulle ‘n behoorlike salaris gee.
A is deur sy ma so mishandel toe hy klein was, daarom is hy nou blind. Hy is baie musikaal en het homself geleer om trekklavier te speel. Ons het vir hom ‘n elektriese klavier geneem en hy was baie bly. D was in Raduga toe sy klein was. Sy het so swaar gekry in soveel armoede en ouers wat drink. D is nou getroud en het ‘n baba van so 6 maande oud.
Haar man is nou vir opleiding om in die oorlog te gaan veg. Sy huil, want elke dag sterf daar soveel mense. Ek verstaan dit nie, maar elkeen wat gaan veg moet sy eie helmet en borsharnas koop. ‘n Goeie kwaliteit een is verskriklik duur. Sy vra vir ons vir hulp. Sy stuur ‘n foto van haar man met die beskermende klere wat hy sal moet aankoop. Bid asseblief saam vir hom en ook vir T, die coffee shop se vorige kok. Sy is ook besig om vir haar seun geld in te samel. Hy veg ook in die voorste loopgrawe.
Mens sien min mans in die strate. Die weermag stop enige iemand en stuur hulle om te gaan veg.
Bid asseblief vir Suid Oekraïne. Bid vir Oekraine. Dit voel asof die dae donkerder word, asof daar geen einde aan die oorlog is nie. Maar die Here kan in een dag alles verander.
Dankie dat julle bid
Baie liefde en seën
Medewerker vir Christus – Suid Oekraïne


