Liewe vriende en familie
Ek sit hier in dir hospitaal kamer en gebruik die tyd om te skryf terwyl Mari-Alena bietjie slaap. Vanmore het sy my gebel en gesê dat sy soveel pyn het en dit nie meer kan uithou nie. Sy is moeg vir die chemo en wil huis toe kom.
Ek jaag hospitaal toe met ‘n stukkende hart. My dogter krul van die pyn. Sy kan nie sit of staan of lê nie.
Al moes die gewas in haar maag reeds volkome verdwyn het, het dit baie vinnig weer terug gegroei. Dit voel asof ons terug na ‘square one’ toe is. Alles van die afgelope 2 maande het nie gehelp nie en nou is ons besig met sterker chemo.
Mari-Alena het Donderdag haar PET/CT scan gekry om die vordering na twee volledige chemo-siklusse te monitor.
Sedert verlede Saterdag sukkel sy weer met maagpyn en die scan het bevesig dat die kanker nie op die 1ste lyn chemo (Hyper-CVD) gereageer het nie.
Teen hierdie stadium het die dokters gehoop om aansienlike remissie te sien. As gevolg hiervan het die dokters nou na 2 de lyn chemo geskuif wat meer aggresief is en met erger newe-effekte. Sy het ook ‘n beenmurg toets onder gaan maar die uitslae sal eers volgende week beskikbaar wees. Daar sal later moontlik stamsel oorplanting nodig wees.
Dit alles gesê hoor ons wat so baie mense vir ons sê, om die chemo te stop en die Here te vertrou of na alternatiewe behandelings te kyk. Elke geval is anders. In Mari-Alena se geval groei hierdie kanker baie vinnig binne ‘n paar dae. Die dokters sê indien ons nie betyds met chemo begin het nie, sou sy nie meer gelewe het nie. Ons kan dit ook nie nou net stop nie. Die ding reageer baie goed op chemo en krimp vinnig. Op die oomblik is haar magie so gewel en het sy baie erg pyn. Elke dag tel. Bid asseblief dat haar niere, lewer en hart die behandeling sal kan hanteer. Bid asseblief vir die pyn. Sy kry morfine om die pyn te probeer draaglik maak.
Ek weet dat die Here haar op ‘n oomblik kan genees. Ek bid dag en nag by Sy voete en vetrou Hom met my hele hart en alles in my. Ek huil in Sy teenwoordigheid tot ek nie meer asem in my het nie. Ons salf haar, spreek lewe oor haar, bestraf kanker, sny elke vloek oor ons gesin af, belei alles wat ons kan en bid vir die Here se leiding. Ons gebruik nagmaal. Ons vas en bid. Vandag het ek haar weer gesalf en vir haar gebid en ek kon sien hoe sy in ‘n minuut rusig word en hoe die pyn verdwyn, vir ‘n rukkie.
Ek bid vandag ure lank hier by haar bed en vra die Here om haar te genees. Soveel mense bid en dan vra ek vir die Here om elke gebed te onthou. Ek sien in geloof hoe die Here haar optel en vashou en genees.
Dan skryf mense in baie liefde vir my dat ek haar huistoe moet neem en dalk vrede daarmee moet maak dat die Here haar dalk kom haal. Ek veg op my knieë vir my kind se lewe. Ek gee nie op nie! Ek offer haar op en gee haar soos Abraham vir Isak geoffer het en gee haar volkome in die Here se hande. Wat ook al gebeur sal ek die Here loof en prys, maar ek gee nie op nie! Ek glo in die genesing van die Here al sien ek dit nog nie en ek staan op Sy woord. Deur die wonde van Jesus is daar genesing!
Ek hou vas aan elke belofte van die Here oor haar lewe.
Nou lê sy uiteindelik rustig in ‘n hospitaal stoel en slaap. Toegepak met kussings sodat sy regop kan slaap.
Ek weet nie hoekom die Here haar nie nou en hier gesond maak nie, maar ons sal steeds die Here loof en prys want Hy is altyd goed en getrou en Hy is genoeg om ons hier deur te dra.
Faith is being SURE of what we hope for. It is being certain of what we do not see.
In Suid-Oekraïne … bid asseblief vir een van die jong manne in ons gemeente. Hy veg op die voorfront en was in ‘n ontploffing betrokke. Sy bene en een oog het seer gekry en kan nie sien nie.
Bid asseblief vir die gemeente om sterk te staan en vir die oorlog om te stop.
Bid ook asseblief saam vir die nodige finansies op alle bedienings.
Baie liefde en seën
Michele Potgieter
Suid, Ukraine
• Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
• My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599



