Sendingnuus uit Oekraïne

Liewe vriende en familie

Ek is so dankbaar. Dankie dat julle bid en die pad saam met ons loop. 

Dankie vir elke boodskap, gebed en bydrae. Ons waardeer dit oneindig baie. 

Die dae en weke vlieg verby en so vinnig is dit al reeds Middel Februarie! Dit is al drie maande gelede wat Mari-Alena die eerste keer in die hospitaal opgeneem is. 

Elke dag ry ek hospitaal toe, 45 minute tot daar en dan wag ek tot aand besoek en neem elke dag vir haar gesonde kos, want dit wat sy in die staats hospitaal kry is gewoonlik nie vars of gesonde vars vrugte of groente nie. 

Wanneer Mari-Alena by die huis is spandeer ek tyd saam met haar. Ek help haar bad en aantrek soos toe sy klein was. Kam haar hare wat bosse vol uitval. Sy hou aan die Here vas. Die dae in die hospitaal word soms te lank en te veel vir haar. Bid asseblief vir haar! Sy sê gister dat die afgelope paar jaar, na Ockert se dood vir haar baie moeilik was, Sy sê dat sy net voel sy kry nie ‘n “break” nie. Soms voel sy depressief. Dit is ‘n baie moeilike pad waarvoor niemand gereed kan wees nie. 

Die naweek is Mari-Alena by die huis en Maandag begin sy weer met vier dae van chemoterapie. Die dokters het besluit om slegs twee weke van herstel te gee tussen chemo sessies aangesien die gewas in haar maag baie vinnig weer groei tussen sessies.  

Sy het ook ‘n chemo inspuiting in haar rug gekry om te voorkom dat die kanker na haar brein versprei. Na die inspuiting kon sy vir twee weke nie haar kop lig nie. Sodra sy bietjie regop kom het sy behoorlik naar geword van die pyn. Die dokter wat dit toegedien het het vergeet om vir haar te sê dat sy na die inpuiting vir drie ure plat moet le. 

So leer ons maar elke keer. 

Na hierdie chemo het sy haar tweede rondte voltooi en gaan hulle moontlik weer ‘n CT scan doen en vir ons sê hoe lank die hele behandeling gaan wees. 

Vir nou is ek in Suid-Afrika solank sy my nodig het. 

In Suid Oekraine gaan dit goed met die gemeente. Verlede Vrydag het die leiers vir die sesde jaar Night to Shine aangebied. Daar was meer gestremde mense as al die vorige jare. Daar was 200 gaste van Suid Oekraine en ander dorpe. Dit was ‘n pragtige aand en almal het dit baie geniet! Elke Sondag bring ‘n ander leier woord. Raduga het nog nuwe kindertjies ingekry. Baie dankie aan elkeen wat steeds ‘n kindjie borg. Bid asseblief vir nuwe borge aangesien die helfde van die kindertjies nie borge het nie. 

Suid Oekraine is twee dae gelede weer deur meer as 20 drones aangeval. Elke drone dra 50kg plofstof. Daar was meer as 20 ontploffings in die dorp en veral die hawe. Daar is ‘n video op die nuus waar ‘n mens die drones oor die dorp en woonstelle kan sien en hoe hulle dit probeer afskiet. Die video is vanaf die bruggie geneem direk langs Raduga kleuterskool. Mens sien die woonstelle en links van die woonstelle is ons huis. 

Ek het van die volgende dag van die leiers gevra hoe dit gaan en hul reaksie was, We are doing well, We were a little scared by the night shelling, but praise God we are all alive”

’n Russiese drone het die beskermende struktuur oor Tsjernobil se kernreaktor getref.
Die aanval op die terrein van die wêreld se ergste kernongeluk het ‘n brand veroorsaak wat sedertdien geblus is. Die VN se kernwaghond (die IAEA) het gesê bestralingsvlakke binne en buite Tsjernobil normaal en stabiel is – maar later het die aanleg se hoofingenieur, Oleksandr Titarchuk, gesê die moontlikheid dat radioaktiewe stowwe kan lek “bestaan nou”.

Ons bly bid vir vrede in Oekraine en dat die oorlog tot ‘n einde sal kom.

Ons lewens en tye is in die Here se hande. 

Hy is in beheer en ons sal Sy naam verheerlik want Hy is altyd so getrou en goed. 

Baie liefde en seën 

Michele Potgieter

Suid Oekraine