Gebedsgids Junie 2023

Gebed

1 Junie – Donderdag – Konflik

Bid vir oplossings in konflik situasies en vra dat vrede sal seëvier. Bid ook dat mense mekaar se siening sal insien en nie altyd “reg” moet wees nie, maar dalk die ander kant van die saak ook insien.

2 Junie – Vrydag – Eskom

Ons bid vandag vir ons leiers en die Eskom direksie om die regte besluite te neem en hul gelde reg aan te wend sodat die land se krag weer herstel sal word. Ons bid ook dat alternatiewe metodes van kragopwekking gevind sal word en meer werkskepping sal bevorder en krag sal vernuwe.

3 Junie – Saterdag – Vertroue

Ons bid vandag dat die gemeentelede sal leer om stil te raak en op God te vertrou vir versorging, leiding, wysheid en insig.

4 Junie – Sondag – Biddag vir Ekologie

Ons wêreld raak al hoe droӫr en daarom bid ons vandag dat die mense sal besef dat hul opdrag as mens uitgevoer moet word en dat hulle na die wêreld moet omsien en pro-aktief moet optree ter bewaring van ons bronne.

5 Junie – Maandag – Finansiӫle swaarkry

Ons bid vandag vir alle ouers wat finansieӫl swaarkry en nie altyd kan byhou vir alles wat hul kinders benodig nie. Ons bid ook vir die kinders se aanvaarding met hul ouers se situasie.

6 Junie – DinsdagSending

Ons bid dat die kanale waarop die sendelinge boodskappe kan uitdra soos radio en tv en ander sosiale media, oop sal wees en gebruik sal word om die mense wat in afgeleë plekke leef, te bereik.

7 Julie – Woensdag- Geestelike gesondheid

Bid dat mense wat in hierdie uitdagende tye sukkel met hul geestelike gesondheid die nodige leiding sal kry en ook by die regte plekke sal aanklop vir hulp.

8 Julie – Donderdag – Hulpverlening

Ons wil graag vandag stil raak voor God en die mense wat altyd hulp verleen aan Hom opdra en vra dat daar uit ander bronne baie skenkings sal kom vir behoeftige kinders en dat hul ook die behoefte sal raaksien van die wat hulp benodig.

9 Julie – Vrydag – Paulus se gebed

Ons bid vandag Paulus se gebed in Ef 3: 14-21 – Ons bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

10 Julie – Saterdag – Huis van God

Dank God met ‘n opregte hart en blymoedige gees dat ons in Sy huis kan aanbid sonder dat ons vervolg word en openlik tot Hom kan bid en gesange kan sing.

11 Julie – Sondag – Instandhoudingsfonds

Ons deurkollekte is vandag vir ons kerk se instandhouding en daarom vra ons vandag voorbidding dat gemeentelede met ‘n oop hart en hand sal skenk vir die instandhouding van die perseel.

12 Julie – Maandag – Hoop

Bid vir hulle wat hoop verloor het en wat elke dag net “oorleef” en wat nie meer kans sien om aan te gaan in ‘n wêreld wat geen hoop het in hulle oӫ nie.

13 Julie – Dinsdag – Geestelike gawes

Die Heilige Gees rig ons almal toe met sekere gawes wat in die kerk van God gebruik word. Bid dat die mense hul geestelike gawes sal raaksien en sal besef dat hul dit kan aanwend om God se koninkryk te bevorder.

14 Julie – Woensdag – Die Politiek

Ons bid vandag dat die korrupsie in die land en in die politiek uitgewys sal word en sal verminder en dat hulle die fondse wat tot hulle beskikking is sal aanwend tot opbou van ons land en sy mense en nie vir eie gewin nie.

15 Julie – Donderdag – Onsekerheid

Wag jy vir ‘n antwoord van God en is jy onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet 5: 7.

16 Junie – Vrydag – Jeugdag

Bid vandag vir ons jeug en hul geestelike en emosionele welstand in vandag se tye en dat hulle standvastig sal bly in ‘n wankelende wêreld.

17 Junie – Saterdag – Leraars

Ons bid dat ons leraars die nodige insig en kennis van U sal ontvang om met die gemeente te deel en dat hulle dit op so ‘n ontvanklike manier aan die gemeente kan meedeel dat hulle dit sal verstaan en ook kan uitleef.

18 Junie – Sondag – Vadersdag

“Vader, kom versterk ons Vaders dat hulle ons huishoudings weer as die Koning van die huis sal beharting en die nodige leiding en rigting aan die huisgenote gee en versterk hulle met die nodige insig en begrip om as ware leiers op te tree.”

19 Junie – Maandag- Buitelandse sending

Buitelandse sending vorm ‘n groot deel van ons insamelings en daarom vra ons vandag vir ekstra voorbidding vir die werk wat die sendelinge in die buiteland onder moeilike omstandighede moet doen.

20 Junie– Dinsdag- Siekes

Vader, ons bid vir alle siekes en die wat in pyn is asook mense wat bekommerd is oor die behandeling wat dalk nie die gewenste uitwerking het nie. Seën asb alle dokters en verpleegpersoneel met wysheid om die regte diagnose te maak en siekes met deernis te versorg.

21 Junie – Woensdag – Internet

Tegnologie speel deesdae ‘n groot rol in ons daaglikse lewe. Ons bid dat daar ontwikkelaars vir die internet sal wees sodat die Woord van die Here weer gehoor en gelees sal word en dat die internet ook tot die uitbreiding van die Koninkryk van die Here gebruik sal word.

22 Junie – Donderdag – Besparing

Ons wêreld gaan gebuk onder allerlei spandabelrigheid en daarom bid ons dat die mense ons hulpbronne in ag sal neem en sal kyk waar hulle kan bespaar eerder as verkwis.

23 Junie – Vrydag- Personeel van Kerk en nuwe Dominee

Bid vandag en ook gedurende die maand vir ons Kerk se personeel asook die proses om ‘n nuwe dominee te beroep en dat ons die regte besluit sal neem, maar dat die dominee ook die bevestiging sal kry om hiernatoe te kom.

24 Junie – Saterdag – Onderwysers en Dosente

Ons dra vandag alle onderwysers en dosente aan die Here op en vra dat die Here hulle leiding sal gee om te alle tye so te leef dat Jesus in hul lewe sigbaar is en dat hulle ‘n voorbeeld van ware Christene sal wees. Bid ook dat hulle sal rus in hierdie vakansietyd.

25 Junie – Sondag – Motoriste

Ons bid vandag vir almal op die paaie. Ons bid dat U met hulle sal wees en dat die bestuurders die nodige respek teenoor ander motoriste sal toon asook kalmte op die paaie sal ervaar.

26 Junie – Maandag – Boere

Bid vir ons boerderygemeenskap wat leef met onsekerheid oor grondhervorming en

arbeidsverhoudings. Bid dat die regering hierdie sake met wysheid sal hanteer en dat hul die nodige oplossings vir die vrae sal vind.

27 Junie– Dinsdag – Wil van God

1 Joh.5:14 sê dat as ons iets vra volgens God se Wil, ons dit sal ontvang. Ons bid dat die mense U Bybel sal lees, sal oordink en op hul lewe sal toepas en gereeld na U sal kom om U wil te ontdek en U Woord te bid.

28 Junie – Woensdag – Ongereddes

Ons bid vandag dat die gemeente die ongereddes wat nog nooit van Christus gehoor het nie, sal nader en dat hul nie sal skaam wees om die Woord van God aan hulle te bring nie. Ons bid ook vir ontvanklike harte en dat Christus die weg vir hulle sal voorberei.

29 Junie – Donderdag – Beskermingsdienste

“Jesus, ons bid vandag vir elke lid van die beskermingsdienste wat onbaatsugtige diens lewer in moeilike plekke en tye en bid dat hulle die nodige krag sal ontvang om hul werk met blymoedigheid te kan doen en ook deur hul optrede U woord verder te versprei. 

30 Junie– Vrydag – Roeping

Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping wat jy van Jesus ontvang het, sal uitleef en ook in die proses ander met jou houding na Jesus sal lei.

Gebedsgids Mei 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – MEI 2023

In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense” – 1 Timoteus 2:1

MAANDAG 1 MEI – Werkersdag

Bid vir groter hardwerkendheid, arbeidsvrede en versoening by almal wat werk het en arbeidspraktyke waar reg en geregtigheid seëvier.Vra vir uitkoms vir werkloses en armes en dat ons oor hulle besorgd sal wees. Mag mense vreugde in hul arbeid vind.

DINSDAG 2 MEI – Die dag van die Here

“Ditis die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24). Dit is elke dag die dag van die Here, kom ons loof en dank God vir elke dag wat Hy ons skenk en laat ons hierdie maand elke dag voluit vir Jesus leef.

WOENSDAG 3 MEI – Leef jou Christenskap

Vandag kom dank ons die Vader vir elkeen in die gemeente wat God se lig in ‘n donker wêreld laat skyn – deur voorbeeld, uitreik na hulle in nood, ‘n selfoon-oproep, ‘n handdruk, luisterende oor, glimlag en helpende hand. So leef ons Jesus se gesindheid en voorbeeld uit.

DONDERDAG 4 MEI – MES (Mould, Empower, Serve)

MES in Kaapstad se visie is om die haweloses, armes, hongeres, naaktes en behoeftiges te ondersteun. Bid vir meer vrywilligers om te help met die verskillende programme. Bid vir werksgeleenthede vir die gerehabiliteerdes. Dank die Here vir gelowiges wat selfloos, vrywillige diens lewer en hul tyd afstaan by hierdie bediening.

VRYDAG 5 MEI – Moslem Bediening

Bid asb vir Moslems in SA. Vra dat Christene se leefwyse en getuienisse hulle na Jesus sal lei, dat hulle liefde en nie verwerping sal ervaar nie. Dra almal wat by hierdie bediening betrokke is aan die Here op.

SATERDAG 6 MEI – Sosiale Geregtigheid

Bid dat die Gees vir elkeen van ons kreatiewe maniere sal gee om mense in nood te help en dat ons sal weet waar en hoe om betrokke te raak. Dat ons as Sy kerk sal verstaan dat ons hier is ter wille van ander.

SONDAG 7 MEI – Bid en Getuig

Ons prys U Naam dat ons as gemeente saam kan bid. Ons erken ons diepe afhanklikheid van U. Here Jesus, gee ons asb ‘n passie vir siele dat ons begaan sal wees oor hulle wat nog buite staan. Maak ons gehoorsaam en sensitief vir U stem sodat ons nie geleenthede by ons sal laat verbygaan om vir U te getuig nie”.

MAANDAG 8 MEI – Suid-Afrika se mense en leiers

Bid dat die probleme in ons land ons tot verootmoediging sal lei. Bid dat die lig van die Evangelie ons politieke, sake- en maatskaplike-leiers sal verlig en dat hulle voor Sy almag sal buig en erken dat die Bybel ons hoogste gesag is. Bid vir gelowiges om te erken en te bely dat ons God in beheer is, al lyk dit nie vir ons so nie.

DINSDAG 9 MEI – Ons Gemeente

Dra ons leraar, kerkraad, kommissies, amptenare, leiers en elke lidmaat aan die Here op. Bid vir afgedwaalde gemeentelede; gesinne met probleme, hartseer en pyn. Bid dat ons as gemeente waarlik die lewende liggaam van Christus sal wees en dit uitleef.

WOENSDAG 10 MEI – Verantwoordelike Burgers

Bid vir wysheid en insig sodat ons as gelowiges elkeen elekrtrisiteit, water en ander noodsaaklike hulpbronne met verantwoordelikheid sal gebruik. Dank die Here vir al die voorregte en seëninge wat ons geniet.

DONDERDAG 11 MEI – Verslaafdes

Bid vir so baie mense en jeudiges wat verslaaf is aan drank, dwelms en ander vorms van afhanklikheid. Bid vir gesinne wat geraak word en met die probleme worstel. Vra vir begrip, wysheid, geduld en bo-al vir Goddelike ingryping. Laat God ons toevlug wees.

VRYDAG 12 MEI – Vervolging in Turkye

Christene in Turkye ervaar groot druk van toenemende godsdienstige nasionalisme. Die regering teiken alle Christene en selfs buitelandse gelowiges. Bid dat die Turkse regering sal erken dat Christene ‘n waardevolle deel van die bevolking verteenwoordig.

SATERDAG 13 MEI – Christenskap in Skole

Baie skole wêreldwyd verbied Christenskap. Bid dat Christen onderwysers en kinders in ons land, hul geloof sal uitleef, nie skaam sal wees vir die Evangelie van Christus nie.

Dat hul maats hierdeur die liefde van God in hulle sal sien en ook vir Jesus sal leer ken.

SONDAG 14 MEI – Moedersdag

‘Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder’ is ‘n ou gesegde, maar tog so waar. Kom ons dank God vir die moeders in ons lewens, vir hul sorg en liefde en voorbeeld. Bid dat die Here hulle sal seën en Sy liefde altyd oor hierdie besondere mense, die wag sal hou.

MAANDAG 15 MEI – ‘n Stukkende Wêreld

Vader, ons bid opnuut vir lande wat die afgelope tyd deur oorloë en rampe geteister is – Rusland, Oekraïne, Turkye, Sirië en vele lande in Afrika. Ons dank U vir almal wat betrokke was met hulpverlening en bid dat lydendes hul troos en krag by U sal vind.”

Pray often, for prayer is a shield to the soul, a sacrifice to God, and a scourge for Satan.” John Bunyan

DINSDAG 16 MEI – Ongereddes op aarde

Miljoene “Christene” in die wêreld het geen persoonlike verhouding met die Here Jesus nie. Bid vir predikers om mense op te roep tot bekering. Bid dat God vir ons land evangeliste sal gee wat die evangelie kragtig sal verkondig, asook lidmate wat getuig.

WOENSDAG 17 MEI – Inbrake en Kapings

Huis-inbrake en voertuigkapings vermeerder. Bid asseblief vir die Here se bewaring in tye van inbrake en kapings. Mag die Here Jesus ook in die harte van kwaaddoeners werk om tot inkeer te kom en om van hulle planne af te sien.

DONDERDAG 18 MEI – Hemelvaart

Die Heer regeer, Hy’t opgevaar, Die dood kon Hom nie hou nie.

Sy almag sal ook ons bewaar – wie sal op Hom nie bou nie.

Kom sing dan nou ‘n loflied saam: Hy roep ons na Sy woning.

Kom prys die allergrootste Naam, ons Heer en Koning.” (Lied 429)

VRYDAG 19 MEI – Vervolgde vroue wêreldwyd

In Moslemlande word vroue geteiken om die Christengemeenskap te straf of skade te berokken. As Christene en vroue word hul as minderwaardig geag. Bid dat hulle as opvoeders van die volgende geslag hul waarde in God sal besef en Sy beskerming en seën sal ervaar.

SATERDAG 20 MEI – Voorbereiding vir Pinkster

Pinksterdienste begin more. Kom ons loof en dank God as Heilige Gees. Die Bybel sê in I Kor 12:3b: ‘niemand kan sê “Jesus is die Here” nie behalwe deur die Heilige Gees’. So weet ons dat die Heilige Gees in ons woon en ons Leidsman is. Bid dat ons elkeen dit opnuut sal beleef hierdie Pinkster.

SONDAG 21 MEI – Pinkster

O Heil’ge Gees,o God in ons, ons wil u krag besing:

Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.

Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.

O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly.” (Lied 439)

MAANDAG 22 MEI – God Regeer

Ons oë is op U gerig, ons prys U wat die hele wêreld in die holte van U hand vashou. Wil U ons Regering aanraak met U vuur, bring hulle asb tot die besef van hul verlorenheid sonder U. Ons bid dat U hul asb sal bevry van magshonger en korrupsie”.

DINSDAG 23 MEI – Bewaring van ons jeug

Bid vir ouers, om hulle doopbelofte na te kom en tyd aan hul kinders te bestee. Bid vir onderwysers, sportafrigters, kategete en almal wat met die jeug werk, dat hul leiding positief en volgens God se Woord sal wees. Vir getrouheid en standvastigheid by die jeug en dat hulle mekaar geestelik sal versterk en saam Jesus se naam sal eer.

WOENSDAG 24 MEI – Die aarde behoort aan die Here

Weeklaag by die Here oor baie mense se ongeërgde houding teenoor die verval van ons natuurlike omgewing. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping, vir insig, verantwoordelikheid en sorg vir die aarde waarop ons deur God se genade leef.

DONDERDAG 25 MEI – Heidense Gewoontes

Bid vir die mense wat betrokke is by die beoefening van toordery, voorvaderaanbidding en okkultiese rituele in landelike gebiede, wat baie arm en niksvermoedende mense lok. Vra die Here Jesus om Homself aan hulle te openbaar en dat hulle Hom sal leer ken en dien.

VRYDAG 26 MEI – Eritrea

Vandag vra ons gebede vir Eritrea, een van die gevaarlikste lande vir Christene om in te woon. ‘n Gelowige daar getuig dat Hy na Christus kyk en weet Hy het erger gely en vervolgers kan nie Hom of die Waarheid van hom wegneem nie.

SATERDAG 27 MEI – Mense in ons diens

Ons bid vandag vir ons huis- en tuinwerkers se welstand. Ons is dankbaar vir hulle getrouheid en bid ook vir hulle afhanklikes en behoeftes. Mag ons optrede teenoor hulle ‘n lewende getuienis wees en Jesus se liefde weerspieël.

SONDAG 28 MEI – Geopende Deure

Tans word meer Christene vir hul geloof dood gemaak as voorheen. Christene word ook vervolg en gemartel. Bid vir die werk van Geopende Deure, sterk hulle hande waar hulle hulp te verleen. Mag ons wat so bevoorreg is, ook mildelik bydra vir hulle werk.

MAANDAG 29 MEI – Die Evangelie aan seemanne

Bid vir hierdie bediening wat in ons land se hawens plaasvind. Dank die Here vir elke Bybel wat aan ‘n soekende siel gegee word en vir elke daad van liefde wat bewys word. Vra vir wysheid en die Gees se leiding wanneer bote besoek word, dat toegang verleen sal word aan die geestelike werkers en dat elke kontak vrugbaar sal wees.

DINSDAG 30 ME I – Werkloosheid

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste in die wêreld. Bid asseblief vir almal wat werkloos is en na werk soek, maar nie ‘n werkgeleentheid kry nie. Bid vir ekonomiese groei en entrepreneurs wat met kreatiewe maniere nuwe werksgeleenthede kan skep.Ons Hemelse Vader kan toestande verander.

WOENSDAG 31 ME I – Nog ‘n maand

Here baie dankie vir nog ‘n maand van U liefde en genade wat oor ons wag gehou het. Met ons gebede wil die gemeente, soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het, ook ons amptenare en mede-gelowiges se arms sterk vir hul lewens voor U aangesig.”

Gebedsgids Februarie 2023

Gebed

“Waar 2 of 3 bymekaar is, daar is U.”

Woensdag, 1 Februarie – Here se getrouheid en wil
Ons bid dat die gemeente sal sien dat die Here getrou is in Sy handeling en dat hulle volgens Sy wil sal bid.
Donderdag, 2 Februarie – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.

Lees meer “Gebedsgids Februarie 2023”

Gebedsgids Januarie 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – JANUARIE 2023

Here, stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my, sodat geen smart my tref nie. (1 Kron. 4 :10)

Sondag 1 Januarie – ‘n Nuwe Jaar

Mag dit deur ons gebede en optrede wees dat mense ervaar ons is van God. Mag die nuwe jaar die begin wees van alle dinge wat nuut is in Christus. Vra dat ons as bidders getrou sal wees om te bid vir die Koninkryk van God en dat Jesus Here van alle mense sal word.

Maandag 2 Januarie – Getuie wees

Lees meer “Gebedsgids Januarie 2023”

Gebedsgids Desember 2022

Gebed

1 Desember – Hartseer en vreugdes:

Gedurende die jaar het ons hartseer en vreugdes beleef. Kom ons dank God vir vertroosting en blydskap wat ons ervaar het.

2 Desember – Vakansiemaand:

Dit is vakansiemaand in Suid Afrika. Almal is in ‘n vrolike gees en dit is so maklik om van ons Skepper te vergeet. Kom ons bid vir die veiligheid van elke vakansieganger en dat die Heilige Gees met elke persoon sal wees en sodoende ‘n verantwoordelikheid in elke persoon sal vaslê.

3 Desember – Eensaamheid:

Desember is die laaste maand waarin ‘n persoon eensaam wil wees. Tog is daar vele bejaardes wat na kinders verlang wat miskien oorsee woonagtig is. Selfs kinders wat na ouers verlang. Kom ons vra vir Vader om al die eensames in Sy arms te neem en styf vas te hou sodat hulle van Sy teenwoordigheid bewus sal wees en troos daarin sal vind.

4 Desember – Sending:

Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. In sekere wêrelddele is dit ‘n lewensgevaarlike taak vir beide partye. Kom ons bid dat Vader hulle onder sy vleuels sal intrek, veral nou waar die geboorte van Christus binne dae herdenk sal word.

5 Desember – Oues van dae:

In ons gemeente is daar baie mense wat hier kom aftree het en hier kom oud word het. Kom ons dank Vader vir die voorreg wat ons het om hier in die pragtige Eden te kan woon en dit kan geniet. Dat ons heelwaarskynlik weer Sy geboorte in hierdie pragtige area sal kan vier met vreugde en dankbaarheid.

6 Desember – Mediese Wetenskap:

Ons bid en dank Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese Wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker. Maar ook vir voordeel wat ons hier in die Brak daaruit kan put.

7 Desember – Vroue en kinders:

In ons land word vroue en kinders elke dag deur ongenaakbare mans

aangerand en verkrag. Ons bid dat die Here hierdie haatlike kultuur

sal verander in ‘n liefdevolle gesindheid.

8 Desember – Skooldogters:

Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk. Duisende is swanger juis as gevolg van hulle weerloosheid. Kom ons dra hulle almal aan die Here op vir Sy beskerming.

9 Desember – Ons gemeente werkers:

Ons bid vir ds. Danie en ds. Frans en vir al die kantoorwerkers en ander helpers en hulle gesinne . Ons dra hulle aan Vader op met dank vir wat hulle in ons gemeente met soveel liefde doen.

10 Desember – Ons land:

Ons land word vandag regeer en geadministreer deur mense wat eerder na hul eie belange omsien aswat hulle na die land en sy mense se belang omsien. Ons bid dat die Here hierdie situasie sal omkeer en ons land weer vooruitstrewend sal maak.

11 Desember – U Skepping:

Soos Adam en Eva in ‘n pragtuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Here. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort in teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping teen ‘n ongehoorde tempo. Ons gebede is om Vader te vra om elke mens se gesindheid teenoor U Skepping positief te verander.

12 Desember – Misdaad:

In hierdie vakansietydperk skiet die misdaadsyfer die hoogte in. Dit is diefstal, rooftogte, aanrandings, moord, verkragtings, dronkenskapens ens. Ons vra Vader se dringende ingrype hier.

13 Desember – Diens aan oues van dae:

In ons gemeenskap is daar Dokters, Verpleegpersoneel, Verpleeg-assistente en omsien-peroneel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op.

14 Desember – Herlewing van gebede:

Baie van ons verwaarloos ons gebede. Behoed ons daarvan en help ons om ons gesprekke met U nooit na te laat nie.

15 Desember – Suid Afrika:

Ons land is by breekpunt.Daarom moet ons volhard in gebed en nie toegee aan wanhoop nie.Ons God is steeds op die troon en in beheer. Daarom moet ons bid en glo dat Hy redding sal bring.

16 Desember – Versoeningsdag:

Here, na baie jare wat baie van ons ‘n gelofte aan U nagekom het, bid ons nou vir versoening in ons land. Net U kan dit bewerkstellig Here en daarom smeek ons dit van U.

17 Desember – Oorvloedige reën:

Vader U het U hemelsluise oorvloedig oopgemaak oor dele van ons land. Baie dankie daarvoor, maar wees met die gedeeltes waar oorstromings dreig en mootlik reeds plaasgevind het en met ons boere wat skades gelei het.

18 Desember – Plaasmoorde:

Here ons boere gemeenskap is so uitgelewer aan die welluste van moordenaars. Ons bid dat U elke boer en sy gesin sal beskerm. Dat U hulle deurentyd in U veilige hande sal toevou en beskerm.

19 Desember – Bloedvergieting:

O Vader die bloedvergieting in ons land is erg. Daagliks word mense en kinders koeëlbloedig doodgeskiet deur bendes. Tree tog in Here en bring vrede.

20 Desember – Siektes:

Daar is so baie persone wat aan ernstige siektes ly. Ons dra almal, ook ons gemeentelede wat siek is, aan Vader op en ons vra vir genesing of verligting van pyn.

21 Desember : Omgeebediening

Ons dra almal aan Vader op wat na ander omsien. Van ons gemeentelede sien om na siekes, dan is daar die persone wat hulp nodig het, maar nie die moed het om te vra nie. O Vader gee hulle die vrymoedigheid om vir hulp aan te klop.

22 Desember – Blokbyeenkomste:

Ons vra dat U, Vader by elke blokbyeenkoms teenwoordig sal wees en deur die Heilige Gees in elkeen se hart sal werk.

23 Desember – Beskermingsdienste:

Ons vra Vader om met ons beskermingsdienste personeel te wees. Dat Hy hulle sal bystaan met hulle ontsaglike taak en om dit eerlik en opreg te doen.

24 Desember – Verslawing:

Ons bid dat Vader met elke verslaafde sal wees en hulle sal motiveer om “skoon” te kom.

25 Desember – Dis Kersfees !!!

Ons ewige koning, die onverganklike en enigste Seun van ons God is baie jare gelede op hierdie dag gebore. Ons herdenk dit met eerbiedige vreugde en dank Hom dat Hy nog steeds na Sy kinders omsien.

26 Desember – Welwillendheidsdag (Gesinsdag):

Kom ons vra Vader om hierdie dag ‘n dag van liefde te maak. Binne ons gesinne, families, vriendekringe en bowe al ook in ons land tussen ons burgers.

27 Desember – Ukraïne:

Die oorlog in die Ukraïne verwoes alles daar. Mense se lewens, hulle huise en dink aan die kindertjies wat alles moet beleef. Kom ons soebat Vader vir vrede daar en dat Hy die aanstigters van die oorlog tot orde sal roep.

28 Desember – Bybelgenootskap:

Ons weet wat die Bybelgenootskap doen. Kom ons vra Vader om in al hulle behoeftes te voorsien en hulle wonderlike werk te seën.

29 Desember – Gesindheid:

Ons vra Vader om ‘n positiewe gesindheid in ons gemeente, ons gemeenskap en in ons land te skep sodat ons die nuwe jaar met reikhalsende hoop sal ingaan met die wete dat ons God steeds regeer.

30 Desember – Ons neem Afskeid:

2022 Is bykans verby. Kom ons dank God vir ‘n jaar waarin ons kon staan en leef en waarin Hy ons beskerm het, onderskraag het en vertroos het.

31 Desember – Dankie:

Dankie Here vir ‘n jaar waarin ons die voorreg gehad het om in U wonderlike en enorme Skepping te kon staan en leef. Dankie dat U ons behoed en bewaar het. Met liefde, die NG gemeente Groot Brakrivier.

GEBEDSGIDS – NOVEMBER 2022

Gebed

“So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en hitte,
somer en winter
dag en nag nie.” (Genesis 8:22)

Dinsdag, 1 Nov Elektrisiteit en EVKOM

Kom ons bid ernstig dat die elektrisiteit-krisis in ons land opgelos kan word. Dit raak sake-ondernemings, die boere, hospitale en elkeen van ons.

Woensdag, 2 Nov Bemoedig/ondersteun mekaar

Paulus skryf aan die Filippense: “Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word… en dat julle ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.” Bid dat die Heilige Gees ons tonge so sal beheer dat ons in hierdie moeilike tye mense sal bemoedig en ondersteun.

Donderdag, 3 Nov God se wil

In Jeremia 29:30 sê die Here: “Julle sal vra na My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” Kom ons bid vir ‘n dieper honger na God en ‘n begeerte om Sy wil te ken en te doen.

Vrydag, 4 Nov Swaarmoedigheid

Elke oomblik is ‘n keuse. Ons kies blymoedigheid of swaarmoedigheid. “Here, soms voel dit of ek saam met die Psalmis kan uitroep: …hoor tog my hulpgeroep!” Kom ons bid dat God verligting sal bring waar nodig, en dank Hom vir beskikbare mediese hulp.

Saterdag, 5 Nov Sending

Bid baie ernstig vir die veiligheid van sendelinge wat na lande gaan waar Christene vervolg word, want Jesus het gesê: “Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. “(Matteus 10:16)

Sondag, 6 Nov Ons kerkpersoneel

Bid vir ons leraars en kerkraad, die kerkkantoor-personeel en koster met haar helpers. Ons sê dankie vir elkeen wat bereid is om ons gemeente te dien.

Maandag, 7 Nov Werkskepping

Ons bid dat ons land se ekonomie so sal verbeter dat meer werk geskep word sodat die oorweldigende werkloosheidsprobleem opgelos kan word.

Dinsdag, 8 Nov Bestuurspanvergadering

Ons bid vir ons kerk se Bestuurspan wat vandag vergader. “Here, gee asseblief vir hulle U leiding sodat elke besluit wat geneem word, volgens U wil sal wees.”

Woensdag, 9 Nov Gee om vir mekaar

Kom ons bid vir meer vergiffenis tussen mense – dat ons mekaar met sagte oë sal aankyk. Kom ons gee belangstelling en liefde waar ons dit nie terug verwag nie. Wanneer ons van ‘n minderbevoorregte kennis neem, kan ons saam met John Bradford sê: “There, but for the grace of God, goes John Bradford”.

Donderdag, 10 Nov Ons Natuur

Kom ons bid dat elke landsburger ons land met die nodige respek sal behandel en nie die natuur sal plunder nie. Hier is nog dele in die binneland wat baie droog is. Pleit om God se genade en dat ons sal saamwerk om ons land op te bou.

Vrydag, 11 Nov Hospitale en Versorgingsoorde

Bid vandag vir ons hospitale en hul personeellede wat dikwels onder groot druk werk. Bid ook vir dié wat weens verskeie redes in ‘n eensame kamertjie, soms onder haglike omstandighede, die laaste entjie moet gaan.

Saterdag, 12 Nov Gestremdes en Bejaardes

Ook in ons gemeenskap is gestremdes en bejaardes wat versorging nodig het. Dank die Here vir elke versorger wat hierdie mense met liefde versorg. “Ons bid dat hulle U sal verheerlik deur die mooi manier waarop hulle hul werk doen.”

Sondag, 13 Nov Beskermingsdienste/Polisie

Ons bid dat elke lid van ons Beskermingsdienste die Here sal ken en hul roeping tot eer van Hom sal uitvoer. Bid ook vir die veiligheid van elkeen wat soms in lewensgevaar verkeer om ons veiligheid te verseker.

Maandag, 14 Nov Namibië

‘n Groot deel van Namibië ly as gevolg van droogte, asook die baie groot brande wat hulle gehad het. Bid vir Namibië dat die Here hulle in genade sal aansien.

Dinsdag, 15 Nov Dankbaarheid

“Dank aan God pas by julle. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus.” (Efes 5:4,20)

Woensdag, 16 Nov Gebed

  • Hou aan met bid. Wees dankbaar dat God se antwoord wyser is as ons gebede.
  • Bid eerder met ‘n hart sonder woorde as woorde sonder ‘n hart.
  • Gebed is ‘n skild vir die siel, ‘n offer aan God en ‘n roede vir die duiwel.

Donderdag, 17 Nov Eensaamheid

“Draai U gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen (eensaam) en in diep nood.” (Ps 25:16) “Dankie, Here, dat U altyd by my is wanneer ek eensaam is.”

Vrydag, 18 Nov God se liefde

God se liefde is baie breër as die omvang van ‘n mens se begrip.Kom ons bid daagliks dat God se liefde in ons lewens meer en meer sigbaar sal word.

Saterdag, 19 Nov Kankernavorsing

Ons is baie bewus van kanker omdat dit in so baie families of by bekendes voorkom. “Baie dankie, Here, dat U ons soms deur siektes en soms deur genesing na U toe trek. Ons bid vir elkeen wat besig is met kankernavorsing.”

Sondag, 20 Nov Kies reg!!

“Vermy die pad van slegte mense. … draai daarvan weg en kies ‘n ander koers.” (Spr 4:15) Elke dag maak ons keuses. Bid dat ons God se wil sal kies.

Maandag, 21 Nov Blomme

As ‘n mens maar een van God se volmaakte blomme moes maak, sou dit ‘n leeftyd geneem het. “Dankie, Here, vir al die mooi blomme en bome wat U vir ons gee.”

Dinsdag, 22 Nov Japansending

Bid vir elke sendingaksie wat deur ons gemeente ondersteun word. Dankie vir volgehoue (ook finansiële) steun. Bid ook vir Stephan en Carine van der Watt wat geestelike opleiding in Japanees doen.

Woensdag, 23 Nov Elektroniese Media

Bid vir effektiwiteit van webruimtes, selfone, SAT7 , Feba-radio en televisieprogramme sodat die Woord van God ook in onbereikbare lande gehoor kan word.

Donderdag, 24 Nov Positiewe gesindheid

Vra die Vader om ons elkeen ‘n positiewe gesindheid te gee: teenoor ons medemens, maar ook teenoor ons leiers, en dat ons vir hulle sal bid en nie net hul foute sal beklemtoon nie.

Vrydag, 25 Nov Pyn en lyding

IL de Villiers het gesê: Om vrede te maak met pyn beteken om die God van vrede te sien in jou pyn. God het jou baie lief. Moenie vra dat Hy in die eerste plek pyn moet wegneem nie. Ons moet tot Hom bid om in die pyn by ons te wees.

Saterdag, 26 Nov Somer

CL Leipoldt: “‘n Mens se lewe is baie kort, net soos ‘n wintersdag. Bou op, maak glad die land totdat ons somer kry. “Here, baie dankie vir hierdie pragtige somersdae.”

Sondag, 27 Nov Kerssangdiens

“Redder van ons lewe, Jesus, troue Heer,

uit liefde vir die mense kom daal U neer.”

Laat ons sing en vrolik wees want ons Verlosser leef!

Maandag, 28 Nov Verkeer

Ons paaie is baie besiger gedurende somervakansies. Bid dat motorbestuurders nie onder invloed van drank sal bestuur nie en versigtig en bedagsaam teenoor ander motoriste en voetgangers sal wees.

Dinsdag, 29 Nov Ouerlose kinders

Ons sien dikwels kinders op straat. Baie van hulle bedel op parkeerterreine. Bid vir persone en instansies wat die roeping het om hierdie verwaarloosde kinders op te hef. Selfs ’n glimlag kan vir só ‘n kind iets beteken.

Woensdag, 30 Nov Vakansies

Oor twee weke sluit die skole amptelik, maar kinders wat klaar is met hul eksamens, is reeds besig om te ontspan. Bid asseblief ernstig vir ons kinders dat die Here se hand oor hulle sal wees en dat hulle nie in versoekings sal val nie.

Joël 1:3 – Vertel dit (Woord van die Here) aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan hulle kinders vertel, en dié weer aan hulle nageslag.”

Gebedsgids – September 2022

Gebed

Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Jer. 29:12
DONDERDAG 1 September Gebed
Bid asseblief vir elke lidmaat wat hierdie Gebedsgids gebruik. “Here seën hulle en hulle dierbares met die keur van U seëninge. Dankie dat U self die waarborg is vir gebede wat in U Naam gebid word (vgl. Joh 14:13-14). Mag meer lidmate van hierdie materiaal gebruik maak.
VRYDAG 2 September Ons vervolgde Familie
Bid vir ons vervolgde familie in lande wat nie aldag in die nuus is nie. Bid dat hulle U vrede sal beleef, U krag sal ervaar en sal volhard in gebed en getuienis. Mag hulle vas staan teen aanvalle en verwerping. Ons moet volhard om hulle aan die Skepper op te dra.
SATERDAG 3 September Voorbereiding
Ons bid dat lidmate tyd sal maak om stil te word en hulle geestelik sal instel om môre ‘n ontmoeting met U te hê. Seën asb. ook elke leraar wat môre die Woord moet verkondig. Gee vir hulle kalmte, insig Goddelike wysheid wanneer hulle voor die gemeentes staan.
SONDAG 4 September Dowes
Ons deuroffers gaan vandag vir die bediening van dowes. Kom ons bid vir instansies betrokke en dat die Here daar sy seën sal bied. Gee mildelik en dank God vir elkeen van ons sintuie.
MAANDAG 5 September Verhoudings
Egskeiding, konflik in gesinne en spanning by die werk, lei daartoe dat baie mense alleen, verlore, ongeliefd en wanhopig voel. Bid vandag dat elkeen wat worstel met ‘n diep verlange na liefde en versorging, vervulling sal vind in die liefde van Jesus Christus en sy verlossing. Bid vir versoening in verhoudings in ons land. (Johannes 14:1).
DINSDAG 6 September Enkellopendes
“Hemelse Vader, ons het vandag die behoefte om alle enkellopendes, weduwees, wewenaars en geskeide persone na U toe te bring. Oordek hulle met U liefde, sorg en genade en gee hulle die versekering dat U met hulle is tot aan die voleinding van die wêreld en dat U eensaam en verlate in Getsémané moes wees sodat ons nimmermeer deur U verlaat sal word nie. Mag lidmate in liefde uitreik na ons eensame ’’familielede’’.
WOENSDAG 7 September Landsburgers se veiligheid
Bid vir seën oor personeel van veiligheidsinstansies wat oor ons veiligheid waak: polisie-; brandweer-; noodhulp- en sekuriteitswerkers. Bid ook vir hulle gesinne wat dalk in vrees en angs verkeer wanneer lang en ongereelde ure hul van mekaar verwyder.
DONDERDAG 8 September Huwelike
“Vader, die aanslag van die duiwel is tans sterker as ooit op ons huwelike. Ons vra vir die nodige respek, geduld en getrouheid in die huwelik en dat egpare die leiding van ons God en Here eerste sal stel in hulle verhouding”. Egpare bid vir- en saam met mekaar!
VRYDAG 9 September Nigerië
Christene wat deur Fulani-militante ontwortel is, staar voor die algemene verkiesing in 2023 groter vervolging in die gesig. Bid dat hulle sal onthou dat God se Naam ‘n sterk vesting is tydens onsekerhede. (Spr. 18:10)
SATERDAG 10 September Bejaardes
“Dierbare Vader, vanoggend wil ons met liefde en deernis dink aan al die pensioenarisse wat swaar trek weens verskillende omstandighede – dikwels buite hulle beheer. Omvou hulle met U liefde en mag hulle nie moedeloos word nie, maar die oog op U gerig hou”
SONDAG 11 September Melaatses
Dit is ongelukkig waar dat daar nog melaatses in ons land te vinde is. Ons kerk het al baie jare lank ‘n bediening om Christus se liefde ook onder hulle te laat leef. Bid vir hierdie mense en vir gelowiges wat hulle op geestelike gebied versorg en bystaan.
Ons het vandag die geleentheid om hulle met ons bydraes te ondersteun.
MAANDAG 12 September Gesinsgeweld
Dit is moeilik om saam met ‘n gewelddadige (fisies of verbaal) persoon te leef. Bid dat die Here met Sy liefdevolle goedheid en genade verlossing van vernietigende gedrag en woorde in gesinne sal bewerk. “‘n Sagte woord laat woede bedaar” (Spreuke 15:1).
DINSDAG 13 September Kerkraadsvergadering
Dank die Here vir Kerkraadslede wat in ons gemeente dien. Bid vir vanaand se vergadering, dat dit in ‘n goeie gees, met wysheid en onder leiding van die Gees sal plaasvind. Dat die fokus op die Koninkryk van God en Christus se groot opdrag sal wees.
WOENSDAG 14 September Geestesgesondheid
Bid vandag vir hulle wat aan depressie, angs en ander sielkundige kwale ly. Vra dat hulle God se stem in hulle lewens sal hoor en dat hulle hul vertroue in Hom sal wees vir verlossing en genesing. Bid dat hulle hul skeppingsdoel en hoop in Jesus Christus sal vind. (Ps 42:6).
DONDERDAG 15 September Betrokkenheid
Loof vandag die Here dat Hy Hom verbind het om self Sy Kerk in stand te hou en dat Hy ons as lidmate juis daarvoor wil gebruik. Vra dat die Heilige Gees lidmate sal inspireer en motiveer om meer betrokke te raak by ons gemeente se verskeie bedieningsterreine, want iewers kan elke persoon se gawes en talente gebruik word.
VRYDAG 16 September Kenia
Bid vir vroue wat weens hul geloof in Christus slagoffers van mishandeling word. Bid dat hulle God se liefde en omhelsing van die Heilige Gees sal ervaar. Dat hulle Sy vrede beleef.
SATERDAG 17 September Teologiese Opleiding
Daar is baie kommentaar en standpunte in die media en dalk wanbegrip oor die lektore en opleiding van leraars by ons verskillende Universiteite. Kom ons bid ernstig dat saam met die suiwere Waarheid en Kennis, daar ook by elke student geroepenheid, passie, toewyding, erns en opregte gebed deel van hul vorming sal wees.
SONDAG 18 September Arbeidsbediening
Die hele arbeidswêreld behoort aan die Here. Mense se werk is vir Hom belangrik. Kom ons bid vir vrede, hardwerkendheid, geregtigheid en versoening by almal wat werk het. Bid ook vir mededeelsaamheid en sorg tussen werkloses en werkendes. Ons offers gaan vandag vir die werkers in hierdie sinodale bediening.
MAANDAG 19 September Huishulpe en Tuiniers
“Here, Laat ons wat in ‘n lewende verhouding met U staan, teenoor hulle wat so naby ons leef en werk, getuig van U Verlossing vir elkeen. Leer ons om U liefde teenoor hulle uit te leef, laat ons werklik dissipels vir U wees en hulle na U te lei.”
DINSDAG 20 September God se Skepping
Dank God vir die voorreg om ‘n nuwe dag te kan ervaar en om die pragtige natuurskoon te aanskou. Heer help ons, om as rentmeesters van u skepping, U handewerk te waardeer en ook met verantwoordelikheid te versorg. U is groot o Skepper-God. (Ps 8)
WOENSDAG 21 September Die Kerk van Jesus
Ons dank God vir Sy Kerk – die Heilige Algemene Christelike Kerk wat ons Sondae bely. Dankie dat Hyself Sy Kerk in stand hou en mag ons lewende stene wees wat tot Sy eer sal leef en getuig. Mag Jesus se gebed vir eenheid in Joh 17:21 in ons harte leef.
DONDERDAG 22 September Arbeiders in die oesland
Ons bid vir sendelinge wêreldwyd mag hul daagliks krag en wysheid ontvang om Jesus aan ‘n stukkende wêreld voor te stel. Dat God elke gesprek of preek sal seën en harde harte sal verander. Bid vir hul dierbares, gesondheid en volharding in hul roeping.
VRYDAG 23 September Indië
Bid vir die beskerming van die prokureurs wat vroeër vanjaar gedreig is omdat hulle probeer het om ses vervolgde Christene by te staan. Bid dat God meer mense sal oproep om ‘n stem vir ons vervolgde broers en susters in Indië te wees. “Here seën u kerk in Indië.”’
SATERDAG 24 September Erfenisdag
Hierdie dag word op vele maniere gevier, ons as gelowiges het egter ‘n ewige erfenis. Kom ons sê dankie vir die ewige hoop wat ons erfenis is: “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. (Kol 1:12)”
SONDAG 25 September Bediening aan Jode
Ons dink vandag aan ons Joodse Christene en dank God dat hulle hul Messias gevind het. Mag al meer Jode en mense van ander godsdienste deur ons getuienis en ons lewens die Weg, die Waarheid en die Lewe ontdek. Bid vir alle bedienings wat na vreemdes uitreik.
MAANDAG 26 September Geestelike Groei
Kom ons bid vandag vir geestelike groei en volwassenheid by al ons lidmate, oud en jonk
en dat geleenthede vir onderrig, Bybelstudie en gebed aangegryp sal word om ons geestelik te laat lewe en groei. (Kol. 4:12)
DINSDAG 27 September Christelike Televisie

Lees meer “Gebedsgids – September 2022”

Gebedsgids vir Augustus 2022

Gebed


Maandag 1 Augustus: Ons Kerk
Ons kerke is by ‘n kruispad. Baie mense verlaat die kerk of woon nie meer eredienste by nie. Kom ons dra dit aan die Here op en bid vir herbesinning en ‘n omkeer.
Dinsdag 2 Augustus: Eensaamheid
“My God My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alomteenwoordigheid en nabyheid.
Woensdag 3 Augustus: Misbruik van kinders (Markus 9:42)
Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwars oor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel en verniel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.
Donderdag 4 Augustus: Verwoesting van die aarde
Adam en Eva is uit Eden uitgegooi oor ongehoorsaamheid. Ons bly steeds in ‘n Eden en verwoes dit deur ons onverantwoordelike optrede mbt. besoedeling. Bid vir ‘n verandering in gesindheid wêreldwyd.
Vrydag 5 Augustus: Terneergedrukte mense
Vele mense om ons leef om een of ander rede as terneergedruktes. Kom ons dra hulle aan die Here op en vra vir vreugde in hulle lewens.
Saterdag 6 Augustus: Bekommerde mense
In ons gemeenskap kan vele bekommerde geliefdes wees. Bekommerd oor finansies, behuising, gesondheid, kinders, ouers ens. Kom ons dra hulle almal aan Vader op.
Sondag 7 Augustus: Stop van bendegeweld
Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.
Maandag 8 Augustus: Sending regoor die wêreld
Reg oor die wêreld is daar pragtige mense wat hierdie saak onderneem. In vele gevalle is hulle lewens en die wat hulle bedien in doodsgevaar. Kom ons dra hulle veiligheid en beskerming en sukses aan die Here op.
Dinsdag 9 Augustus: Nasionale Vrouedag
Ons rig ons gebede tot Vader om sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat vroue oor die wêreld, in die wêreld maak.
Woensdag 10 Augustus: Plaasmoorde
Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. Ons gaan Vader vra om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere, maar ook om die hele ingesteldheid van moordenaars en potensiële moordenaars en aanhitsers te verander.
Donderdag 11 Augustus: Hawelose mense
Dit is winter en snags bitter koud buite. Hawelose mense moet hierdie toestande op sypaadjies trotseer. Kom ons bid dat ons gemeente se program vrugte sal afwerp en dat ons sal help waar ons kan.
Vrydag 12 Augustus: Radelose mense
Vele mense in ons omgewing en in ons land is raadop met omstandighede wat hulle deel is. Dit mag hulle finansies wees, hulle kinders, hulle ouers, hulle vriende en dalk nog hulle kerk ook. Kom ons dra hulle aan die Here op vir verligting van hulle omstandighede.
Saterdag 13 Augustus: Ekonomiese oplewing
Miljoene mense in ons land is werkloos. Miljoene se huislike ekonomië is aan flarde. Miljoene kan niks meer bekostig nie en ly gebrek. Ons gaan Vader deur ons gebede vra om ons land se ekonomie sodanig te verbeter dat hierdie tragiese omstandighede die hoof gebied kan word.
Sondag 14 Augustus: Werkskepping
Die Staat en nywerhede kan nie al die werkloses akkommodeer nie. Laat ons in ons gebede die Here vra om die werkloses sodanig met kennis, insig, ywer en entoesiasme te bemagtig dat hulle hul eie werk kan skep en sodoende ook ‘n bydrae tot die land se ekonomie kan lewer
Maandag 15 Augustus: Ons skole
Dit is van groot belang dat ons jeug ‘n goeie skoolopleiding kry. Ongelukkig is dit nie oral die geval nie en is daar groot leemtes. Kom ons pleit ons Here om ons skolestelsel ter wille te wees en dit sodanig op te hef dat ons dankbaar trots sal wees op die kinders wat dit sal lewer en wat hierdie pragtige land van ons die toekoms sal kan inlei.
Dinsdag 16 Augustus: Ons Universiteite
Op ons universiteite is daar tans geweldig baie studente. Ons vra Vader om met elke jong mens daar te wees en ‘n verantwoordelikheid te kweek in die sin dat elkeen sal besef dat hy/sy een of ander toekomstige leier sal wees en so ‘n posisie met verantwoordelikheid sal moet beklee wat die Vader se naam ter ere sal wees.
Woensdag 17 Augustus: Ons plaaslike regerings
Met meeste plaaslike regerings gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde Rande word aan leweransiers geskuld en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree en ‘n verantwoordelikheid by amptenare te skep wat hierdie tragiek sal regstel.
Donderdag 18 Augustus: Vermiste mense
Gereeld word daar op sosiale media fotos van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar en selfs jonger gesirkuleer wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by families en gesinne, maar ook vir die ingesteldheid of vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.
Vrydag 19 Augustus: Dwelmverslawing
Baie volwassenes, jong mense en jong-jong kinders is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing, want dit vra Goddelike krag om van die verslaafdheid ontslae te raak. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.
Saterdag 20 Augustus: Bybelverspreiding
Die opdrag in Markus 16:15 is duidelik. Kom ons dra almal wat met hierdie taak besig is aan Vader op. Ons bid vir sukses maar ook vir hulle veiligheid.
Sondag 21 Augustus: Verdraagsaamheid
In ons pragtige land is daar ‘n groot mate van onverdraagsaamheid en veral tussen verskillende rasse. God het ons almal saam hier aan die Suidpunt van Afrika met ‘n doel geplaas. Bid God dat Hy deur Sy Heilige Gees ‘n gees van verdraagsaamheid tussen almal hier sal skep sodat ons nie Sy doel sal verydel nie.
Maandag 22 Augustus: Siekes en mense wat terminaal siek is
Jesus het vele siekes genees tydens Sy verblyf by ons. Ons vra Hom deur gebed om ook weer die siekes in ons midde te genees en hulle wat terminaal siek is, styf vas te hou en hulle te oorlaai met Sy liefde, krag en bemoediging, en as dit Sy wil is hulle ook met genesing te bevry van hulle bekommernis.
Dinsdag 23 Augustus: Beskermingsdienste
Die land se Beskermingsdienste verkeer onder groot druk. Ons dra hulle aan Vader op.
Woensdag 24 Augustus: Eerbiedwaardige optrede
Ons kan ons soms so skuldig maak aan ruwe en onbeskofte optrede teenoor ons medemens en naaste. Kom ons vra Vader deur gebed om Sy Heilige Gees in ons harte te vestig en dat ons gelei kan word tot eerbiedwaardige en vreugdevolle optrede.
Donderdag 25 Augustus: Gestremdes
Gestremdheid van watter aard ookal is nie maklik nie. Die gestremde asook hulle gesinne het ‘n swaar las om te dra. Ons smeek God in Sy almag om Sy genade oor gestemdes en hul gesinne in oormaat uit te stort
Vrydag 26 Augustus: Onrus en oorloë in die wêreld
Die wêreld word geteister deur onrus en oorloë. Miljoene onskuldige mense en kinders word daardeur dood of vreesbevange gelaat. Kom ons vra die Heer om vrede te bring en die wat daarteen stribbel soos in die dae van Israel uiteen te jaag en te verstrooi.
Saterdag 27 Augustus: Beskerming van gelowiges in die Middeooste
Ons broers en susters in die Here in die Middeooste het dit geweldig swaar. Word hulle geïdentifiseer, is dood hulle voorland. Ons bid God vir ‘n versoenende gees aldaar en dat Hy hulle sal beskerm om Hom vrylik te kan aanbid en dien.
Sondag 28 Augustus: Oues van dae
In ons omgewing is daar vele oues van dae. Hulle woon by kinders, of ouetehuise of sorgsentrums. Van hulle is ook enkellopend en woon alleen. Ons bid vir hulle en vir mekaar en vra ons Almagtige Vader vir Sy liefde en beskerming en dat die laaste jare met vreugde, lag en liefde gevul sal wees
Maandag 29 Augustus: Klimaatsverandering
Klimaatsverandering is stadig besig om God se Skepping te verwoes. Die mens is direk daarvoor verantwoordelik deur die die atmosfeer te besoedel. Kom ons bid vir kennis en ‘n ingesteldheid om dit te bekamp.
Dinsdag 30 Augustus: Ons land se jeug
U, Here het eenkeer gesê dat die een wat die kinders leed aandoen, dit vir hom beter sal wees om met ‘n meulsteen om die nek in die see gewerp te word. Kom ons bid vir hulle en dat God Sy vleuels van beskerming oor elkeen sal hou
Woensdag 31 Augustus: Werkende mense
Ons dank en gebede gaan uit na werkende mense wat ons land instand hou. Ons vra vir Vader om hulle te onderskraag, ook in so ‘n mate dat hulle Hom nooit sal vergeet nie.

Gebedsgids vir Julie 2022

Gebed Vroue

Vrydag, 1 Julie Bejaardes en minderbevoorregtes
In ons gemeente is baie bejaardes wat alleen woon. Here, dek asseblief ons bejaardes en ook almal wat swaarkry, met U liefdes hand. “U is ‘n toevlug vir die armes, ‘n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood ” (Jes 25:4)
Saterdag, 2 Julie Leraars / Hulppredikers
Ons bid vir ds Danie Goosen en alle hulp predikers asook vir die kerkraad,kantoorpersoneel, orrelis, die koster en haar hulp.
Sondag, 3 Julie Instandhouding van ons Gemeente
Baie dankie aan elke gemeentelid wat betrokke is by die instandhouding van ons gemeente: die Kerkraad, Bybelstudie-groepe, omgee- en getuienisbediening. Ons dank die Here vir elkeen se bydrae.
Maandag, 4 Julie NG Kerk
Ons bid vir ons NG Kerk, oral in ons land, in hierdie dae van groot onenigheid oor selfde-geslag verhoudinge. Here, gee asseblief U leiding aan elkeen wat in ons NG Kerke moet leiding neem.
Dinsdag, 5 Julie Polisiemag
Bid vir ons polisiemag wat heeltemal oorweldig word deur die groeiende misdaadgolf in ons land. Dank die Here dat daar baie polisielede is wat God ken en wat hulle kant ten volle bring.
Woensdag, 6 Julie Ekonomie
Met onlangse prysverhogings kry baie mense swaar om elke dag brood op die tafel te sit. Kom ons bid dat ons ons afhanklikheid van God sal besef en ons inkomste met oorleg tot Sy eer sal gebruik. Here, ons bid vir gesinne wat finansieel swaarkry. Bewaar ons van selfsug, korrupsie en diefstal.
Donderdag, 7 Julie Rusland / Oekraïne
Ons dra weereens die oorlog in die Oekraïne aan die Vader op. Bid vir wysheid en besinning vir almal wat daarby betrokke is. Bid ook vir hulp en vertroosting vir almal wat eiendom en veral ook dierbares verloor het.
Vrydag, 8 Julie Besoedeling
Ons aarde, die see en die lugruim is besig om oorweldig te word deur afval. Kom ons bid dat die Vader elkeen van ons verantwoordelik sal maak om ons deel te doen om dit beter te maak. “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie en aan Hom moet ons rekenskap gee.” (Heb 4:13)
Saterdag, 9 Julie Godsdiensvryheid
Dank die Here dat ons nog in ons kerke en huise in vryheid kan aanbid, sonder die vrees vir vervolging. Ons bid vir so baie lande wat nie daardie voorreg het nie. “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid.” (Gal 5:1)
Sondag, 10 Julie Versorgingsoorde
In ons omgewing is baie versorgingsoorde wat omsien na ons bejaardes en hulpeloses. Ons bid vir elke oord en sorgeenheid dat hulle waarlik sal voldoen aan die eise wat aan hulle gestel word.
Maandag, 11 Julie Munisipaliteite
Ons dank die Here vir amptenare wat pligsgetrou hul werk doen en na ons dorp omsien. In baie stede en dorpe kry belastingbetalers swaar as gevolg van korrupsie en ondoeltreffendheid van munisipaliteite. Dankie, Here, dat ons munisipale amptenare het wat vir U ken.
Dinsdag, 12 Julie Tegnologie
Dank die Here vir tegnologie wat die uitdra van Sy Woord vergemaklik en dit moontlik maak om meer mense op vroeër onbereikbare plekke te bereik.
Woensdag, 13 Julie Regering
Dit is hartseer om soms kennis te neem hoe onbeholpe leiers in die regering is om hul werk te doen. Bid dat parlementslede en ander leiers nie net vir die besoldiging aangestel word nie, maar dat hulle sal plek maak vir mense wat die werk kan doen en die verantwoordelikheid kan dra.
Donderdag, 14 Julie SAAWE
Bid vandag vir die Suid-Afrikaanse Aksie vir Wêreld-Evangelisasie. Hulle het ‘n tekort aan finansies en soek mense wat teen geringe vergoeding die Evangelie oor die wêreld sal uitdra.
Vrydag, 15 Julie Bendegeweld
Baie woonbuurtes word oorheers deur bendes. Bid die Vader dat daar ‘n einde sal kom aan bendegeweld.
Saterdag, 16 Julie Bekommernis
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil 4:6) Kom ons bid dat die Here ons oë sal oopmaak om positief na ons omstandighede te kyk en getuienis-geleenthede raak te sien.
Sondag, 17 Julie Sendelinge
Kom ons bid vir ons sendelinge wat hul land en dikwels hul familie verlaat om God se woord in ‘n ver land te gaan verkondig. Ons bid spesifiek vir die Van der Watt-gesin in Japan, wat deur ons ondersteun word.
Maandag, 18 Julie Omgeebediening
Het u al gesien hoe dit lyk wanneer die Omgeebediening kospakkies maak om vir honger mense te gaan wegbring? Bid vir daardie vroue wat dit getrou doen en dat ons lidmate hulle met bydraes sal help. Laat U seën rus op hulle werk.
Dinsdag, 19 Julie Skole heropen
Dank die Here vir elke skool waar Sy Woord nog vir leerders rigting kan gee.Kom ons bid vir leerders wat onder geweldige sosiale druk skoolgaan en dat hulle vir die eindeksamen met erns voorberei. Lukas 17:2 waarsku ons “om nie een van hierdie kleintjies te laat struikel nie.”
Woensdag, 20 Julie Televisie-uitsendings
Bid dat ouers sal kennis neem van die televisie-programme waarna hul kinders kyk. Vroeg aand word stories uitgesaai waar die huwelik iets van die verlede is en saamwoon as die normale aanvaar word. ”Vertel dit (Woord van die Here) aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan hulle kinders vertel.” (Joël 1:3)
Donderdag, 21 Julie Sport
Uitsending van sportbyeenkomste hou baie van ons voor ons televisies. Bid dat deelnemers wat God ken, vir Hom ‘n getuie sal wees en dat die groot somme geld wat daarby betrokke is, nie hulle sin vir waardes sal beïnvloed nie.
Vrydag, 22 Julie Sê “dankie”
Elke Sondag, of watter dag ons ook al pas, kan ons die eredienste op televisie kyk of oor die radio daarna luister. Kom ons sê vir die Here dankie vir hulle wat so onselfsugtig ure spandeer om dit vir ons moontlik te maak.
Saterdag, 23 Julie Familie-omstandighede
Baie van ons gemeentelede het kinders of ander familie wat baie ver van hulle woon. Dank die Here vir moderne kommunikasie-middele en bid dat ons kinders, veral in die buiteland, hulle geloof sal uitlewe.
Sondag, 24 Julie Kategese
Dank die Here vir elkeen wat met ons kinders se kategese help. Laat dit vir ons kinders en die leiers ‘n vreugde wees om na die vakansie weer met hul kategese te begin.
Maandag, 25 Julie Studente-bearbeiding
Baie van ons gemeente se kinders is met studies besig. Ons neem kennis van betogings en rasse-probleme by baie universiteite. Here, maak asseblief ons kinders doelgerig in hul studies en om vir U ‘n getuie te wees.
Dinsdag, 26 Julie Getuienisbediening
Ons Getuienisbediening vergader vandag. Bid dat God aan hulle getuienis- geleenthede sal openbaar. “Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart. En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.” (1 Joh 5:10,11)
Woensdag, 27 Julie Waterskaarste
Dank die Here dat ons in die grootste deel van die Wes-Kaap nie waterskaarste ondervind nie. Here, dankie vir al U seëninge. Ons bid vir areas waar mense daagliks kanne by watertenks moet vul. Gee asseblief U leiding aan owerhede wat waterbeplanning doen.
Donderdag, 28 Julie Covid
‘n Sendingwerker in Egipte vra dat ons bid vir Covid-gevalle. Baie bekerings vind plaas wanneer mense besef hulle is ernstig siek. Dan sê die sendeling ook by: Dank die Here vir Covid!! Dit het baie mense na God gedryf!
Vrydag, 29 Julie Bid
Baie dankie Here vir elke getroue bidder in ons gemeente. Leer ons hoe omte bid. Ons wil U loof en prys, ons diepe afhanklikheid van U bely.
Saterdag, 30 Julie Woordverkondiging
Here, seën en lei asseblief elkeen wat DV môre U Woord gaan verkondig.
Sondag, 31 Julie Belydenis en Geloof
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Habakuk 3:17,18)

Gebedsgids vir Junie 2022

Gebed

“Waar 2 of 3 bymekaar is, daar is U.”
Woensdag, 1 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
Ons bid vandag vir volgehoue opkoms by die pinksterbiduur en dat hulle sommer nog mense na die biduur toe nooi.
Donderdag, 2 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
“Here, mag u vandag die vlam in die harte van die mense wat die biduur bywoon, aanvuur om die wil van U uit te dra.”
Vrydag, 3 Junie – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.
Saterdag, 4 Junie – Leraars
Met die oog op die Pinksterfees in gemeentes bid ons vir ons Leraars om die boodskap wat God wil oordra aan die gemeente aan hulle sal openbaar en om hulle getrou te maak om die boodskap uit te dra soos God dit wil.
Sondag, 5 Junie – Pinksterfees
Ons hou vandag fees oor die feit dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar nou opgestaan het en sit aan die Regterhand van God en vir ons plek in die hemel regmaak.
Maandag, 6 Junie – Jeugwerk
Gister was die Sinodale Kollekte vir Jeugwerk en ons bid dat die offer op die regte plekke aangewend word.
Dinsdag, 7 Junie – Gevangenes
Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as hul Heer en Meester.
Woensdag, 8 Junie – Skoliere
Kom ons raak stil en tree in vir al ons skoliere dat hulle hul kant sal bring en sal besef dat hulle nie leer vir hulself nie, maar om God se Naam te verheerlik.
Donderdag, 9 Junie– God se Liefde
God het die mens so lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Bid en dank God dat Hy ons so lief het en dat Hy sal gee dat ons dit ook aan ander sal vertel.
Vrydag, 10 Junie – God se sorg
Ons bid vandag dat ons vir God sal vertrou vir Sy sorg vir al ons behoeftes en dat ons sal onthou Hy sorg vir die veld en so sal Hy ook vir die mens voorsien.
Saterdag, 11 Junie – Beskerming
In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.
Sondag, 12 Junie – Standvastigheid
Bid vandag dat ons God se standvastigheid in ‘n wankelrige wêreld sal raaksien en Hom sal dank en eer daarvoor.
Maandag, 13 Junie – Onsekerheid
Wag jy vir ‘n antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5:7.
Dinsdag, 14 Junie – Covid gevolge
Kom ons vat vandag hande en vra dat die Here vir ons wys waar is hartseer, hoop verlore mense wat net ‘n skouer nodig het of hulp om weer hoop te kry om aan te gaan met besighede wat nie inkomste deur die Covid tyd gehad het nie en wat net weer ‘n bietjie selfvertroue benodig.

Woensdag, 15 Junie – Jeugdag
More is dit Jeugdag en bid ons vir die jeug en dat hul Jesus sal ontmoet maar ook vir leiers, ouers, onderwysers en ander in die jeug se lewe om hulle op die regte pad te lei.
Donderdag, 16 Junie – Fasiliteringsgeleentheid
Bid vandag vir Dr Frans Hancke wat die geleentheid lei en vra die Here se leiding, sodat hy ook vir ons gemeente die pad wat Hy wil hê ons moet volg, sal uitwys.
Vrydag, 17 Junie – Polisiemag
Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.
Saterdag, 18 Junie – Prostitusie
Bid asseblief sonder ophou dat diegene wat in hierdie web vasgevang is, bevry sal word en bid dat huisgesinne nie deur hierdie optredes onherstelbaar vernietig word nie.
Sondag, 19 Junie – Vadersdag
“Vader, U is groot Vader wat vir ons sorg. U sorg ook vir ons vaders en wil ons vandag hulle aan U opdra sodat hulle die koningskap van hul huishouding sal opneem.”
Maandag, 20 Junie – Verpleegsters
Verpleegsters werk onbaatsugtig en wil ons vandag aan hulle harde werk dink en vra dat hulle die krag en lus sal hê om pasiënte te behandel.
Dinsdag, 21 Junie – Kerkraad
Ons dra die kerkraad en hul besluite aan die Here op en glo die fasiliteringsbesluite sal nou toegepas sal word en dat almal eensgesind sal wees oor hulle besluite.
Woensdag, 22 Junie – Eensames
Kom ons bid vandag aan alle mense wat alleen is en iemand aan die dood afgestaan het. Ons bid dat hulle God se teenwoordigheid en liefde sal aanvoel deur die optrede van ons ander lidmate.
Donderdag, 23 Junie – Gesondheid
God is ons Geneser. Sy helende Hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende Hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.
Vrydag, 24 Junie – Geloof
Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.
Saterdag, 25 Junie – Roeping
Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping van Jesus ontvang, sal uitleef en jou drome sal los vir Jesus se groot droom en roeping vir jou lewe.
Sondag, 26 Junie – Toegewyd
Buig jul knieӫ en bid dat die mensdom weer toegewyd aan God sal wees en so sal besef dat hulle niks is sonder Hom nie en dat hul getrou elke dag Sy Woord sal opsoek en oordink.
Maandag, 27 Junie – Covid
Daar is weer opnuut ‘n opvlam van Covid gevalle en met die naderende winter en koues bid ons dat almal sal gesond word en versigtig met omgaan van ander sal wees.
Dinsdag, 28 Junie – Sending
Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal voortleef en die Woord van God versprei aan die ongelowiges.
Woensdag, 29 Junie – Politici
“Here, ons wil vandag ons leiers van die land aan U opdra en vra dat hulle Suid-Afrika weer sal opbou tot ‘n wêreldleier en dat hulle sal kyk na ons bronne en dit uitbou tot die beste in die wêreld.
Donderdag, 30 Junie – Kinders
“Jesus, U was baie lief vir kinders. Beskerm asseblief hierdie vakansie ons kinders en omarm hulle met U liefde en gee dat U Gees elke dag met elkeen van ons geliefde kinders is”.

Gebedsgids Mei 2022

Gebed Vroue

Ef. 6 : 18.  Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.

Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Sondag 1 Mei                                                Arbeidsondag.

Dis arbeidsondag. Kom ons bid vir die werkloosheidskrisis waarin ons land verkeer. Dat
Ons owerhede met wysheid besluite sal neem wat werkskepping tot gevolg sal hê.
Ons offers gaan vandag  vir die Magdalena Huis; bid dat hul werk geseënd en tot heil van die Koninkryk van God sal wees. 

Lees meer “Gebedsgids Mei 2022”

Gebedsgids Maart 2022

Gebed

U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van U hand. (Psalm 74:17)

Geniet die natuur se kleureprag – dis herfs.

Dinsdag, 1 Maart Blokbyeenkomste
Dit is alweer 2022 se derde maand! Ons blokbyeenkomste word elke Woensdag gehou. Bid asseblief weekliks vir hierdie byeenkomste. Dankie, Here, dat dit weer moontlik is om so om U woord saam te kom en saam te bid.

Lees meer “Gebedsgids Maart 2022”