Gebedsgids Julie 2023

GEBEDSGIDS – JULIE 2023
“Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan [..]
miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra.”
(Lukas 13:8b en 9a)
Saterdag, 1 Julie Getuienisgeleenthede “Here, dankie dat U met ons geduld het, en soos vir die vyeboom nog geleenthede gee om te getuig.” Kom ons word bewus van ander se nood om Jesus te ken.

Sondag, 2 Julie – Winter
Dit is veral snags koud en baie mense het nie genoeg komberse en warm klere nie. Kom ons bid vir mense wat swaarkry in die winter en as daar klere en komberse in u kas lê wat nie gebruik word nie… baie sal dankbaar wees om daarvan te gebruik!
Maandag, 3 Julie – Ons Leiers
Ons verloor daagliks meer en meer vertroue in ons leiers. Bid asseblief ernstig dat die Here ook onder ons leiers Sy kinders sal laat leiding neem. Vra dat die Here vir Mnr Ramaphosa lig en leiding sal gee.

Dinsdag, 4 Julie – Werklose Persone
Tydens en na die Covid-tydperk en veral die afgelope tyd met die tekort aan elektrisiteit het duisende mense hulle werke verloor. Die getal werkloses is skrikwekkend. Bid vir elkeen wat tot diefstal gedryf word by gebrek aan inkomste.
Woensdag, 5 Julie – EVKOM
Elektrisiteitsvoorsiening in ons land is in ‘n ernstige krisis. Kom ons bid vir die bestuur van EVKOM vir wysheid sodat daar weer die broodnodige krag voorsien kan word en dat korrupsie uitgeroei sal word.
Donderdag, 6 Julie – Munisipaliteite en ander bestuur
‘n Mens word hartseer as jy die verval in baie van ons eens pragtige dorpies en omgewing raaksien. Bid vir ‘n gesindheidsverandering in terme van bewaring en waardering van al ons dorpies. Bid dat elke leier van God afhanklik sal wees.
Vrydag, 7 Julie – Gebed
“…. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” (Mat. 6:12) “Here, hoe maklik bid ons van kleintyd af die Onse Vader-gebed. Gee vir ons asseblief genade dat ons werklik sal vergewe en vergeet, sonder om te verwyt.”
Saterdag, 8 Julie – Cholera
Ons hoor daagliks van cholera gevalle wat rampspoedig kan raak. Kom ons pleit by die Vader dat die owerhede drasties daaraan aandag sal gee en veral dat water voldoende gesuiwer sal word.
Sondag, 9 Julie – Versorgingsoorde
Bid vandag vir alle versorgingsoorde: weeshuise, huise vir gestremdes, vir bejaardes, asook vir privaat persone wat individue versorg. “Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, …”
(Ps. 82:3)
Maandag, 10 Julie – Verkondig
Vra die Here om vir jou duidelik te wys waar, wanneer en hoe om Sy woord te verkondig:
“Preach the gospel at all times, if necessary use words.”
Dinsdag, 11 Julie – My voorbeeld
“Is dít wat ek sê, dít wat ek doen, dít wat ek is;
Is dít ‘n uitnodiging wat vir mense sê: jy is welkom in die koninkryk van God?”
(Aanhaling Dr Frans Hancke)
“Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op [..] uit toegewydheid [..] deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees.” (1 Pet. 5:3)
Woensdag, 12 Julie – Kerkraad
Dank die Vader vir ons kerkraadslede en hulle bereidheid om te dien. Bid vir wysheid om die wil van die Vader in ons gemeente uit te voer.
Donderdag, 13 Julie – Wêreldvrede
Ons moet gereeld bid vir vrede in hierdie wêreld, en ook vir die vrede en die inwoning van Jesus in elkeen van ons. “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle.” (Joh. 14:27)
Vrydag, 14 Julie – Polisie
Dank die Here vir elke polisieman en ander sekuriteitsbeamptes. Dis ‘n moeilike werk want jou “kliënte” is gewoonlik wetsoortreders. Bid vir geloof, geduld en verantwoordelikheid vir elkeen wat help om orde te handhaaf.

Saterdag, 15 Julie – Geloof
“Vader, help ons as U kinders, om U vreugde uit te straal, dat ander kan sien dit is ‘n vreugde om U te dien.”
Kom ons streef daarna om so te leef dat ander ook sal lus kry om God te dien.
Sondag, 16 Julie – Sendelinge
Dank die Here vir elkeen wat bereid is om in vreemde lande die Woord te gaan verkondig. Bid vir ons sendelinge o.a. vir die Van der Walt-gesin in Japan.
Maandag, 17 Julie – Ons Gemeente
Kom ons bid vir ons gemeente in alle vertakkings: finansies, uitdra van die Evangelie, gebed, sorg vir behoeftiges, oues van dae en eensames. Dank die Here vir elkeen wat U saak in ons gemeente bevorder.
Dinsdag, 18 Julie – Skoliere
Ons kinders is vir ons so kosbaar! Die skole heropen vandag. Bid vir die kinders en ook vir ouers sodat hulle gebede die kinders sal dra. “Hy wat opreg en eerlik leef, se kinders is baie gelukkig.” (Spr. 20:7)
Woensdag, 19 Julie – Televisieprogramme
Is u bereid om saam met Jesus na die televisie-program wat u geniet, te kyk, veral as daar kinders saam kyk?
“Hy wat ontsag het vir die Here, geniet sekuriteit; sy kinders vind vastigheid by hom.” (Spr. 14:26)
Donderdag, 20 Julie – Ekonomie
Die ekonomie in ons land is besig om so te verswak dat al hoe meer mense nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie. Gevolglik wend baie hulle tot onwettige praktyke. Kom ons dra almal en alles aan die Here op.
Vrydag, 21 Julie – Veiligheid op paaie
“Here, ons bid dat U elke voertuigbestuurder bewus sal maak van die gevare waaraan alle padgebruikers blootgestel is.” Kom ons vra dat God padgebruikers met geduld en inagneming van ander sal seën.
Saterdag, 22 Julie – Sport
Wintersport is seker een van die gewildste gesels onderwerpe. Ons sien hoe spelers mekaar omhels maar ander kere sien ons hoe hulle mekaar bydam! Kom ons geniet die sport en sê dankie dat dit ook op televisie vir ons soveel vreugde en meelewing gee, en vra God se seën en invloed op almal betrokke as rolmodelle vir soveel ander.
Sondag, 23 Julie – Studente-bearbeiding
Ons deurkollekte gaan vandag vir studente-bearbeiding. By opleidingsinrigtings is ons kinders aan baie invloede blootgestel. Bid dat jongmense wat die Here ken, nie in versoeking sal kom nie, maar met vrymoedigheid sal getuig.
Maandag, 24 Julie – Kategeseleiers
Dank die Here vir elke leier wat bereid is om ons kinders in die Kategeseklasse te onderrig. Bid dat hul voorbeelde ook ons kinders nader aan die Here sal trek.
Dinsdag, 25 Julie – Getuienisbediening
Kom ons sê dankie vir elke lid wat bereid is om op die Getuienis-kommissie te dien. “Here, help ons om te onthou dat elke kind van U se lewe ‘n getuienis vir U is.”
Woensdag, 26 Julie – Dankbaarheid
Dank die Vader vir so baie seëninge: vir ‘n suksesvolle Weskaap-sinode; vir huisvesting; kos en klere; gesondheid en vir die voorreg om U kinders te kan wees.
Donderdag, 27 Julie – Vrug van die Gees
Bid dat ons as gemeente die Vrug van die Gees al hoe meer sigbaar sal uitleef dat ander mense dit sal raaksien en daardeur na Jesus getrek word.
Vrydag, 28 Julie – Bybelstudie
“Dankie Here vir elke Bybelstudie-groepie in ons gemeente. Bind ons asseblief saam deur U Woord te lees en uit te leef.” Nooi asseblief meer mense om deel te neem aan die Bybelstudie.
Saterdag, 29 Julie – God se liefde
“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” (Rom. 13:10). Bid dat ons elkeen met ons hele hart sal glo en sal strewe om ons naasteliefde uit te leef.
Sondag, 30 Julie – Gemeentebediening
Ons gee vandag ‘n finansiële bydrae vir Gemeentebediening. Ook in óns gemeente is mense wat Sondae moet werk en selde of ooit ‘n erediens kan bywoon. Dank die Here vir die uitdra van die Evangelie deur ons Kommissie vir Gemeentebediening.
Maandag, 31 Julie – Bid gedurig
“Baie dankie, Here Jesus, dat ons as gemeente hierdie maand weer kon saam bid. Ons eer U as die Hoorder van Gebed.” Wat ‘n wonderlike voorreg om aan die Lewende God te behoort.