“So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en hitte,
somer en winter
dag en nag nie.” (Genesis 8:22)
Dinsdag, 1 Nov Elektrisiteit en EVKOM
Kom ons bid ernstig dat die elektrisiteit-krisis in ons land opgelos kan word. Dit raak sake-ondernemings, die boere, hospitale en elkeen van ons.
Woensdag, 2 Nov Bemoedig/ondersteun mekaar
Paulus skryf aan die Filippense: “Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word… en dat julle ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.” Bid dat die Heilige Gees ons tonge so sal beheer dat ons in hierdie moeilike tye mense sal bemoedig en ondersteun.
Donderdag, 3 Nov God se wil
In Jeremia 29:30 sê die Here: “Julle sal vra na My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” Kom ons bid vir ‘n dieper honger na God en ‘n begeerte om Sy wil te ken en te doen.
Vrydag, 4 Nov Swaarmoedigheid
Elke oomblik is ‘n keuse. Ons kies blymoedigheid of swaarmoedigheid. “Here, soms voel dit of ek saam met die Psalmis kan uitroep: …hoor tog my hulpgeroep!” Kom ons bid dat God verligting sal bring waar nodig, en dank Hom vir beskikbare mediese hulp.
Saterdag, 5 Nov Sending
Bid baie ernstig vir die veiligheid van sendelinge wat na lande gaan waar Christene vervolg word, want Jesus het gesê: “Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. “(Matteus 10:16)
Sondag, 6 Nov Ons kerkpersoneel
Bid vir ons leraars en kerkraad, die kerkkantoor-personeel en koster met haar helpers. Ons sê dankie vir elkeen wat bereid is om ons gemeente te dien.
Maandag, 7 Nov Werkskepping
Ons bid dat ons land se ekonomie so sal verbeter dat meer werk geskep word sodat die oorweldigende werkloosheidsprobleem opgelos kan word.
Dinsdag, 8 Nov Bestuurspanvergadering
Ons bid vir ons kerk se Bestuurspan wat vandag vergader. “Here, gee asseblief vir hulle U leiding sodat elke besluit wat geneem word, volgens U wil sal wees.”
Woensdag, 9 Nov Gee om vir mekaar
Kom ons bid vir meer vergiffenis tussen mense – dat ons mekaar met sagte oë sal aankyk. Kom ons gee belangstelling en liefde waar ons dit nie terug verwag nie. Wanneer ons van ‘n minderbevoorregte kennis neem, kan ons saam met John Bradford sê: “There, but for the grace of God, goes John Bradford”.
Donderdag, 10 Nov Ons Natuur
Kom ons bid dat elke landsburger ons land met die nodige respek sal behandel en nie die natuur sal plunder nie. Hier is nog dele in die binneland wat baie droog is. Pleit om God se genade en dat ons sal saamwerk om ons land op te bou.
Vrydag, 11 Nov Hospitale en Versorgingsoorde
Bid vandag vir ons hospitale en hul personeellede wat dikwels onder groot druk werk. Bid ook vir dié wat weens verskeie redes in ‘n eensame kamertjie, soms onder haglike omstandighede, die laaste entjie moet gaan.
Saterdag, 12 Nov Gestremdes en Bejaardes
Ook in ons gemeenskap is gestremdes en bejaardes wat versorging nodig het. Dank die Here vir elke versorger wat hierdie mense met liefde versorg. “Ons bid dat hulle U sal verheerlik deur die mooi manier waarop hulle hul werk doen.”
Sondag, 13 Nov Beskermingsdienste/Polisie
Ons bid dat elke lid van ons Beskermingsdienste die Here sal ken en hul roeping tot eer van Hom sal uitvoer. Bid ook vir die veiligheid van elkeen wat soms in lewensgevaar verkeer om ons veiligheid te verseker.
Maandag, 14 Nov Namibië
‘n Groot deel van Namibië ly as gevolg van droogte, asook die baie groot brande wat hulle gehad het. Bid vir Namibië dat die Here hulle in genade sal aansien.
Dinsdag, 15 Nov Dankbaarheid
“Dank aan God pas by julle. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus.” (Efes 5:4,20)
Woensdag, 16 Nov Gebed
- Hou aan met bid. Wees dankbaar dat God se antwoord wyser is as ons gebede.
- Bid eerder met ‘n hart sonder woorde as woorde sonder ‘n hart.
- Gebed is ‘n skild vir die siel, ‘n offer aan God en ‘n roede vir die duiwel.
Donderdag, 17 Nov Eensaamheid
“Draai U gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen (eensaam) en in diep nood.” (Ps 25:16) “Dankie, Here, dat U altyd by my is wanneer ek eensaam is.”
Vrydag, 18 Nov God se liefde
God se liefde is baie breër as die omvang van ‘n mens se begrip.Kom ons bid daagliks dat God se liefde in ons lewens meer en meer sigbaar sal word.
Saterdag, 19 Nov Kankernavorsing
Ons is baie bewus van kanker omdat dit in so baie families of by bekendes voorkom. “Baie dankie, Here, dat U ons soms deur siektes en soms deur genesing na U toe trek. Ons bid vir elkeen wat besig is met kankernavorsing.”
Sondag, 20 Nov Kies reg!!
“Vermy die pad van slegte mense. … draai daarvan weg en kies ‘n ander koers.” (Spr 4:15) Elke dag maak ons keuses. Bid dat ons God se wil sal kies.
Maandag, 21 Nov Blomme
As ‘n mens maar een van God se volmaakte blomme moes maak, sou dit ‘n leeftyd geneem het. “Dankie, Here, vir al die mooi blomme en bome wat U vir ons gee.”
Dinsdag, 22 Nov Japansending
Bid vir elke sendingaksie wat deur ons gemeente ondersteun word. Dankie vir volgehoue (ook finansiële) steun. Bid ook vir Stephan en Carine van der Watt wat geestelike opleiding in Japanees doen.
Woensdag, 23 Nov Elektroniese Media
Bid vir effektiwiteit van webruimtes, selfone, SAT7 , Feba-radio en televisieprogramme sodat die Woord van God ook in onbereikbare lande gehoor kan word.
Donderdag, 24 Nov Positiewe gesindheid
Vra die Vader om ons elkeen ‘n positiewe gesindheid te gee: teenoor ons medemens, maar ook teenoor ons leiers, en dat ons vir hulle sal bid en nie net hul foute sal beklemtoon nie.
Vrydag, 25 Nov Pyn en lyding
IL de Villiers het gesê: Om vrede te maak met pyn beteken om die God van vrede te sien in jou pyn. God het jou baie lief. Moenie vra dat Hy in die eerste plek pyn moet wegneem nie. Ons moet tot Hom bid om in die pyn by ons te wees.
Saterdag, 26 Nov Somer
CL Leipoldt: “‘n Mens se lewe is baie kort, net soos ‘n wintersdag. Bou op, maak glad die land totdat ons somer kry. “Here, baie dankie vir hierdie pragtige somersdae.”
Sondag, 27 Nov Kerssangdiens
“Redder van ons lewe, Jesus, troue Heer,
uit liefde vir die mense kom daal U neer.”
Laat ons sing en vrolik wees want ons Verlosser leef!
Maandag, 28 Nov Verkeer
Ons paaie is baie besiger gedurende somervakansies. Bid dat motorbestuurders nie onder invloed van drank sal bestuur nie en versigtig en bedagsaam teenoor ander motoriste en voetgangers sal wees.
Dinsdag, 29 Nov Ouerlose kinders
Ons sien dikwels kinders op straat. Baie van hulle bedel op parkeerterreine. Bid vir persone en instansies wat die roeping het om hierdie verwaarloosde kinders op te hef. Selfs ’n glimlag kan vir só ‘n kind iets beteken.
Woensdag, 30 Nov Vakansies
Oor twee weke sluit die skole amptelik, maar kinders wat klaar is met hul eksamens, is reeds besig om te ontspan. Bid asseblief ernstig vir ons kinders dat die Here se hand oor hulle sal wees en dat hulle nie in versoekings sal val nie.
Joël 1:3 – Vertel dit (Woord van die Here) aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan hulle kinders vertel, en dié weer aan hulle nageslag.”