Gebedsgids vir Maart 2023

Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat ons ons vreugde in U kan vind nie?(Psalm85:7)

Woensdag, 1 Maart Bid vir Blokbyeenkomste

Ons begin die maand met Blokbyeenkomste. Ons dra elke byeenkoms aan die Here op. Bid dat Hy ons sal lief maak om met gelowiges saam te kom en saam te bid.

Donderdag, 2 Maart Ons Leiers

In plaas van hulle te kritiseer, moet ons vir ons leiers bid. ”Here,ons bidvirons

leiers:dathulleUsalleer ken enookvir onslandsakenaUwilsalvra.” “Moenie lasterlik teen God optree nie. Moenie die leiers van die volk vloek nie.” (Eks 22:28)

Vrydag, 3 Maart Wêreldbiddag vir Vroue

“As sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word.” (Spr 31:30b)

Bid vir ons vroue dat hulle die Here sal dien sodat haar huisgenote ook vir Hom sal lief wees.

Saterdag, 4 Maart Gesonde Oordeel

Na watter televisieprogramme kyk ons? Waarna laat ons ons kinders kyk? Besluit as kind van God, en bid daaroor, na watter televisieprogram ons met ‘n skoon gewete kan kyk. Bid vir die TV-program vervaardigers.

Sondag, 5 Maart Hospitaalbearbeiding

Baie keer is mense, wanneer hulle siek is, meer ontvanklik vir die Evangelie. Bid vir hospitaalwerkers dat hulle deur die Heilige Gees die boodskap van redding duidelik sal oordra.

Maandag, 6 Maart Alleen | Eensaam

Ons woon in ‘n wonderlike gemeenskap. Kom ons besoek en bid vir mense wat alleen en eensaam is. “Respekteer en versorg dié weduwees (ook ander) wat niemand anders het om na hulle om te sien nie.” (1 Tim 5:3)

Dinsdag, 7 Maart Die Skepping |See-getye

Verdrinkings gedurende hierdie somer het gereeld voorgekom. Bid vir dierbares wat oor ‘n geliefde treur. Kom ons bid dat mense respek vir God se skepping sal hê en die see, riviere en berge ook met ontsag sal geniet.

Woensdag, 8 Maart Munisipaliteite

Mense en instansies ly dikwels geweldig baie onder munisipaliteite wat swak- of wanbestuur word. Bid dat sulke munisipaliteite leiding sal aanvaar sodat mense weer ‘n beter en rustige lewe kan leef en dat instansies weer kan floreer.

Donderdag, 9 Maart Godsdiensvryheid

In soveel lande waar Christene vervolg word, is daar gelowiges wat in tronke opgesluit is en baie wat met die dood gestraf word. Bid dat kanale voortdurend geskep sal word om die Evangelie met geheime gelowiges te deel.

Vrydag, 10 Maart Werkloosheid

Werkloosheid is ‘n baie groot probleem in ons land, en veral ook in sommige van ons buurlande. As mense geen inkomste het nie, sal diefstal toeneem. Kom ons vra die Vader dat dinge in ons land so sal verbeter dat elkeen wat wil werk, ‘n werk kan kry.

Saterdag, 11 Maart Uitsaai-dienste

Dankie Here, dat ons hier in ons land nog na U Woord oor die radio en televisiemag kyk en luister.”Bid vir hulle wat “… verkondig dat die mense tot inkeer moet kom.” (Markus 6:12)

Sondag, 12 Maart Arbeidsbediening

Baie werkers, wat dikwels ook Sondae moet werk, kry nie geleentheid om na ‘n geestelike byeenkoms (kerk) te gaan nie. Dank die Here vir sy kinders wat die Woord na mense by hulle werkplek neem.

Maandag, 13 Maart Ondersteuning: Vervolgde gelowiges

Bid vir alle organisasies, soos Geopende Deure, SAT-7, Radiokansel, en ander wat hulle beywer om vervolgde gelowiges te bemoedig en ondersteun. Bid dat die Here hulle met wysheid sal seën om hul werk te doen.

Dinsdag, 14 Maart Opleiding van Predikante

Bid vir die Kweekskool op Stellenbosch en ander sentra waar predikante opgelei word: dat dit sal gaan om persoonlike verlossing en om getrou die Skrif oor te dra. Bid baie ernstig vir geestelike leiers wat begin twyfel en nie meer die Woord verkondig nie.

Woensdag, 15 Maart ESKOM | Kragvoorsiening

Elke Suid-Afrikaner is bewus van die probleem met kragvoorsiening. Kom ons bid dat ESKOM-leiers die Here sal leer ken en by Hom hul leiding sal afsmeek.

Donderdag, 16 Maart Sendelinge

As kinders van die Here, het ons nie ‘n keuse nie: elkeen wat Jesus as Verlosser ken, is ‘n sendeling. In Joël 1:3 kry ons die opdrag: “Vertel dit (Woord van God) aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan hulle kinders vertel.” Mat 9:38: “Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Vrydag, 17 Maart Geweldmisdaad

Ons bely dat geweldmisdaad so baie voorkom dat ons nie eens meer elke keer geskok is nie. . . . tot dit aan my en my mense raak! Kom ons bid dat God ook die misdadiger se hart sal verander en dié vertroos wat daardeur aangeraak is.

Saterdag, 18 Maart Gevangenis

Ons gevangenis is oorvol en baie keer moet ‘n gevangene lank wag voor hy/sy verhoor kan word. Dit gee onnodige blootstelling aan ander misdadigers. Bid dat ons owerhede daarvan sal werk maak om sake nie so baie keer uit te stel nie.

Sondag, 19 Maart Gestremdes

“’n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, na Jesus gekom

en hulle voor Hom neergesit.” (Mat 15:30) Kom ons neem kennis van gestremdes, help waar ons kan, en bid gereeld vir hulle.

Maandag, 20 Maart Kerkraad

“Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer . . . .” (Mat 20:28) Baie dankie aan elkeen wat bereid is om op ons Kerkraad te dien. Mag die werk vir u ‘n vreugde wees want u doen dit vir ons Here.

Dinsdag, 21 Maart Menseregtedag

Ons bid vir immigrante, vlugtelinge, slagoffers van geweld, weerlose kinders, haweloses, minderheidsgroepe en ander wat voel hulle word nie beskerm nie. “Here, help ons om te luister, mense raak te sien en vir hulle ‘n stem te wees.”

Woensdag, 22 Maart Hulpmiddels

Ons sien dikwels mense in rolstoele. Dank die Here vir mense wat planne uitvoer om dit vir blindes en ander gestremdes makliker te maak. Bid dat blindes in besit sal wees van Audio-Bybels sodat hulle eerstehands die Here se Woord kan lees.

Donderdag, 23 Maart Dankbaarheid

Ons dank die Vader dat ons deel van Groot-Brakrivier gemeente kan wees. Dankie vir ons leraars, kerkraad, kerkkantoor, koster, orrelis, kategese en al die ander wat op een of ander manier by ons kerk se werksaamhede betrokke is.

Vrydag, 24 Maart Geloof

Mense, selfs predikante, verloor soms hul geloof. Ons sê dankie vir elkeen van ons

wat ‘n lewende geloof het. Ons bid ernstig vir elkeen wat worstel om te bly glo.

Saterdag, 25 Maart Sport

Dank die Here vir geleenthede om aan sport te kan deelneem – al hou ons dit net op televisie dop. Dis ontspannend en ook ‘n heerlike herinnering aan Paulus se opdrag: “Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê.” (Heb 12:1b)

Sondag, 26 Maart Jeug en Jong Gelowiges

Bid vir wysheid en leiding vir die jeug en vir jong gelowiges wêreldwyd terwyl hulle uitdagings langs die pad ervaar. Bid dat hulle sal volhard en groei in hul geloof.

Maandag, 27 Maart Polisie

Druk op ons polisie neem daagliks toe. Hulle word aan wrede tonele blootgestel. Bid dat ons polisie getrou hul werk sal doen en nie in versoekings sal val nie. Ons dank die Here vir elke polisieman/-vrou wat na ons veiligheid omsien.

Dinsdag, 28 Maart Bybel Beskikbaarheid

Prys God vir die aaneenlopende vertaling en publikasie van Bybels. Dank Hom dat Sy Woord aan diegene sonder ‘n Bybel versprei kan word. Bid dat die Woord baie mense sal bereik.

Woensdag, 29 Maart Oorloë | Gevegte

Ons hoor daagliks van gevegte tussen verskillende stamme asook van oorloë (bv Oekraïne en Rusland) wat voortduur. Bid dat daar spoedig ‘n einde aan die konflik sal kom.

Donderdag, 30 Maart Lughawens

Bid vir die Christen-groepie wat op OR Tambo-lughawe, waar baie passasiers beweeg om by ander vlugte aan te sluit, die Here se Woord uitdra.

Vrydag, 31 Maart Skole Sluit

Kom ons bid vandag baie spesiaal vir ons kinders, maar ook vir hul ouers: dat hulle die vakansie sal geniet, maar dat Goeie Vrydag en Paasfees nie as gewone dag in die vakansie sal verbygaan nie.