Gebedsgids Februarie 2023

“Waar 2 of 3 bymekaar is, daar is U.”

Woensdag, 1 Februarie – Here se getrouheid en wil
Ons bid dat die gemeente sal sien dat die Here getrou is in Sy handeling en dat hulle volgens Sy wil sal bid.
Donderdag, 2 Februarie – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.

Vrydag, 3 Februarie – Gevangenes
Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as hul Heer en Meester.
Saterdag, 4 Februarie – Leraars
Ons bid vir ons Leraars om die boodskap wat God wil oordra aan die gemeente aan hulle te openbaar en om hulle getrou te maak om die boodskap uit te dra soos God dit wil.
Sondag, 5 Februarie – Mȏreson Kinderhuis
Ons bid vandag dat die gemeente hul harte en hande sal oopmaak vir die kinderhuise wat altyd fondse benodig om hierdie liefdestaak te verrig.
Maandag, 6 Februarie – Beskerming
In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.
Dinsdag, 7 Februarie – Huwelike
Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu. Bid dat die huweliksmaats dit sal besef en raaksien en daadwerklik sal optree om mekaar te eerbiedig en eer en sal saambid om hul huwelik te beskerm.
Woensdag, 8 Februarie – Skoliere
Kom ons raak stil en tree in vir al ons skoliere dat hulle hul kant sal bring en sal besef dat hulle nie leer vir hulself nie, maar om God se naam te verheerlik.
Donderdag, 9 Februarie– God se Liefde
God het die mens so lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Bid en dank God dat Hy ons so lief het en dat Hy sal gee dat ons dit ook aan ander sal vertel.
Vrydag, 10 Februarie – Afhanklikheid van alkohol en dwelms
Alkohol en dwelms is deesdae vrylik beskikbaar en bid ons vir die mense wat afhanklik is dat hulle die besef sal kry dat hulle hulp nodig het vir hulle seer en dat hulle hulp op die regte plek sal gaan soek.
Saterdag, 11 Februarie – Politiek
Ons vra vandag dat U aan ons leiers van ons land dink en bid dat hulle korrupsie sal uitroei en weer ons land sal ophef tot die pragland wat hy eens was en dat ander lande by Suid Afrika sal wil kom kers opsteek.
Sondag, 12 Februarie – Ons gemeente
Ons wil die gemeente van Grootbrak aan die Here opdra en vra dat hule sal leiding ontvang om dit ‘n liefdevolle gemeente te maak wat vir mekaar sal omgee en ook mense sal innooi om saam met ons te kom aanbid.
Maandag, 13 Februarie – Radio Feba
Ons dink vandag aan wat Radio Feba alles doen en bid vir hulle beskerming met hulle uitreike en die werk om die boodskap te versprei.
Dinsdag, 14 Februarie – Huwelike
Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu. Bid dat die huweliksmaats dit sal besef en raaksien en daadwerklik sal optree om mekaar te eerbiedig en eer en sal saambid om hul huwelik te beskerm.
Woensdag, 15 Februarie – Geloof
Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.
Donderdag, 16 Februarie – Sosiale Media
“Jesus, ons bid vandag vir mense wat op sosiale media besigheid doen of heeldag op dit is en wat in die donker web vasgevang word en so nie by die Here uitkom nie.”
Vrydag, 17 Februarie – Toegewyd
Buig jul knieӫ en bid dat die mensdom weer toegewyd aan God sal wees en so sal besef dat hulle niks is sonder Hom nie en dat hul getrou elke dag Sy Woord sal opsoek en oordink.
Saterdag, 18 Februarie – Prostitusie
Bid asseblief sonder ophou dat die gene wat in hierdie web vasgevang is, bevry sal word en bid dat huisgesinne nie deur hierdie optredes onherstelbaar vernietig nie.
Sondag, 19 Februarie – Lydensweek
Vandag begin die Lydingstyd en wil ons vra dat persone vir die volgende 40 dae sal vas en selfondersoek sal doen in die tyd wat oploop na die kruisiging.
Maandag, 20 Februarie – Verpleegsters
Verpleegsters werk onbaatsugtig en lang ure en wil ons vandag aan hulle harde werk dink en vra dat hulle die krag en lus sal hê om pasiënte te behandel.
Dinsdag, 21 Februarie – Kerkraad
Ons dra die kerkraad en hul besluite aan die Here op. U voorbidding vir die Bestuurspanvergadering van 21 Februarie en die Kerkraads-vergadering van 28 Februarie word gevra.
Woensdag, 22 Februarie – As-Woensdag
Op As-Woensdag dink ons aan die dag wat Jesus op die donkie gery het en mense palmtakke op die grond gegooi het. Hulle verbrand die takke en sprinkel die as die daaropvolgende jaar. Kom ons loof ons Koning en dink aan die tyd wat voorlȇ.
Donderdag, 23 Februarie – Gesondheid
God is ons Geneser. Sy helende hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.
Vrydag, 24 Februarie – Polisiemag
Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.
Saterdag, 25 Februarie – Roeping
Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping van Jesus sal ontvang, sal uitleef en jou drome sal los vir Jesus se groot droom en roeping vir jou lewe.
Sondag, 26 Februarie – Hartenbos Aftreeoord
Ons bydrae gaan aan Hartenbos Aftreeoord en ons wil vandag spesiaal vir hulle bid met die goeie werk wat hulle in ons area doen. Ons bid dat die fondse wat hulle ontvang goed aangewend sal word.
Maandag, 27 Februarie – Gesondheidsdienste
Vra Jesus se direkte leiding vir die ambulansmense, doktors, verpleegsters asook die personeel in hospitale en bid ook vir hulle families om hulle die nodige ondersteuning te gee.
Dinsdag, 28 Februarie – Sending
Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal voortleef en die Woord van God sal versprei aan die ongelowiges.