GEBEDSGIDS – NOVEMBER 2023
Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. (Luk 18:1)
Woensdag, 1 November Eksamentyd
Ons kinders is reeds besig met eksamen. Bid vir elkeen, maar in besonder vir ons matrieks, dat hulle ook kan sê: “Dit is goed om elke môre van God se liefde te getuig.” (Ps 92:3)
Donderdag, 2 November Oorstromings
Baie dorpe sukkel nog om paaie en geboue te herstel na die onlangse vloede. Kom ons bid dat hulle nie moedeloos en ongelowig word nie. Dank die Here vir elkeen wat kos en warm klere voorsien het.
Vrydag, 3 November Veldbrande
Dit is met hartseer dat ons hoor en sien hoe groot dele van ons land deur veldbrande verwoes is. Bid vir ons boere wat nie net veld nie, maar ook baie diere verloor het. Bid vir plaaswerkers wat moontlik afgedank moet word omdat daar nie nou vir hulle werk op die plase is nie.
Saterdag, 4 November Omgeebediening
Kom ons dank die Here vir die groot werk wat ons Omgeebediening in ons gemeente doen. Ons bid vir Corrie Pieters en haar span vir wysheid met die werk en dat die Here vir hulle duidelik sal wys waar hulp nodig is.
Sondag, 5 November Geopende Deure
Afrika suid van die Sahara was vroeër ‘n uitstekende toeriste bestemming. Met die agteruitgang van die veiligheidsituasie word godsdiensvryheid drasties ondermyn. Bid ernstig vir Evangelieverspreiding in die hele Afrika, deur Geopende Deure se voltydse lede.
Maandag, 6 November Afsluiting van Bybelstudie
Dank die Here vir Bybelstudieleiers wat die afgelope maande getrou in Sy diens gestaan het. “Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof Sy heilige Naam!” (Ps 30:5)
Dinsdag, 7 November Kerkraad
Bid vir ons leiers in die gemeente vir wysheid met die beroep van ‘n tweede leraar: dat dit die regte persoon sal wees tot eer van die Here.
Woensdag, 8 November Dankbaarheid
Ons dank die Here vir elke gemeentelid wat uitreik na mense in nood en wie se harte oop is vir die sending en ander instansies. Mag ons gemeente met wysheid gelei word waar om te help.
Donderdag, 9 November Getuienisbediening
Kom ons dra ons Getuienisbediening aan die Here op. Dankie vir die goeie werk wat hulle in Wolwedans en ook op ander plekke doen. Ons bid vir Emile Hurter en sy span vir leiding.
Vrydag, 10 November Werkloses
Kom ons bid vir duisende mense in ons land wat werkloos is. Bid dat die Vader die situasie in ons land sal verander – dat werk geskep sal word en dat mense wat werk kry, dit sal oppas.
Saterdag, 11 November Naasteliefde
Ons vra vandag vir ‘n gesindheid van liefde en rustigheid in ons mooi land. Gee dat politieke- en gemeenskapsleiers asook verskillende rassegroepe die wysheid sal ontvang om mekaar beter te verstaan en lief te hê.
Sondag, 12 November Kinderdankoffer
Vandag bid ons spesiaal vir ons kinders in die gemeente. Mag dit vir elkeen van hulle ‘n voorreg wees om hul dankoffers vir die Here te gee.
Maandag, 13 November Polisie
Bid dat daar oplossings gevind word vir die deeglike opleiding en beskerming van ons polisie. Hulle word ingestuur om vrede en orde te herstel, maar boet dikwels met hul lewe daarvoor.
Dinsdag, 14 November Nooddienste
Terwyl die vakansietyd nader kom, bid ons vir alle nooddienste, mediese dienste en ook geestelike dienste wat daarvoor gereed maak. Gee dat hierdie tyd ook tot eer van U Naam sal wees.
Woensdag, 15 November Kerkraadsvergadering
Dank die Here vir ons leraar, vir elke kerkraadslid, en vir elkeen wat in ons gemeente ‘n bydrae lewer om die Woord te verkondig en uit te leef.
Donderdag, 16 November Godsdiensvryheid
Dankie Vader dat ons in hierdie land nog vryelik en onbevrees kan aanbid. Ons bid baie ernstig vir mede-gelowiges in geslote lande waar Christene vervolg, gemartel en vermoor word. Gee U aan hulle vertroue en vertroosting.
Vrydag, 17 November Getuienis
Vader, wil U ons gedurig daaraan herinner dat ons volkome van U afhanklik is. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Mat 5:3) Gee dat ons so sal lewe dat ander vir Jesus in ons sal sien.
Saterdag, 18 November Kanker
Elkeen van ons ken iemand, of is verwant, aan iemand met kanker. Mense wat aan hierdie gevreesde siekte (of ander ernstige siekte) ly, het ons voorbidding baie nodig. Dra hulle aan die Here op.
Sondag, 19 November Biddag vir Beskermingsdienste
Dank God vir ons polisie en weermag wat mense beskerm. Bid dat ons sal onthou “God is vir ons ‘n toevlug en beskerming. Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” (Ps 46:2)
Maandag, 20 November Lewenskoste
Vader, ons bid vir ons land en sy mense aangesien lewenskoste al hoe hoër word. Baie mense word moedeloos omdat hulle hul werk verloor en nie hul gesinne kan onderhou nie. Ons bid vir hulp en vertroosting.
Dinsdag, 21 November Boere-gemeenskap
Ons bid vir ons boere wat met uiterste weersomstandighede te doen kry. Verder ondervind hulle dikwels veediefstal asook veldbrande. Dankie, Here, vir elke boer wat volhard om voedsel te produseer.
Woensdag, 22 November Kerk in Buiteland
Baie van ons gekwalifiseerde jonger mense gaan in die buiteland werk. Bid dat die Here hulle sal gebruik om ook Sy getuies te wees.
Donderdag, 23 November Geweld
Min of meer elke nuusuitsending begin met geweldsverslag. Op die Kaapse Vlakte word heen-en-weer-skietery duidelik vertoon. Kinders word raak geskiet. Baie mense is bevrees om op straat te stap. Bid dat die Here ons polisiemag sal bewaar en sal lei om daar veiligheid te skep.
Vrydag, 24 November Televisie en Rekenaars
Dit is vir ouers moeilik om te kontroleer waarmee hul kinders op televisie en rekenaars besig is. Bid dat ouers ook hierin vir hul kinders duidelik sal lei. “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.” (Kol 3:20)
Saterdag, 25 November Eredienste
Bid vandag ernstig dat die Here mense na geestelike byeenkomste sal stuuren dat elkeen wat DV môre die Woord verkondig, biddend sal voorberei.
Sondag, 26 November Kerssangdiens
Kom ons loof Jesus met ons hart en verstand. Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U! Laat ons met eng’le ‘n loflied sing Nie meer verlore; U is gebore; Ontvang die dank wat ons U bring!
Maandag, 27 November Leiers
Kom ons bid vandag vir al ons leiers: staatsleiers, maar ook geestelike leiers, dat hulle die Here as hul Leier sal dien. “Moenie van mekaar kwaadpraat nie. Hy wat van sy broer kwaadpraat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet… (Jak 4:11)
Dinsdag, 28 November Veiligheid
Gedurende vakansietye gebeur meer padongelukke. Bid dat die Here sy kinders sal bewaar: dat ons geduldig sal wees op die pad, nie onder die invloed van drank bestuur nie en spoedbeperkings sal gehoorsaam. “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.” (Ps 121:5)
Woensdag, 29 November Eensames
Here, dis so wonderlik om ons familie naby ons te hê. Maar ons bid vandag vir so baie gemeentelede wat alleen in hul huisie of kamer woon. Laat ons Ps 25:16 vir hulle bid: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote.”
Donderdag, 30 November Waak en Bid
Gedurende vakansietyd is baie mense geneig om minder na eredienste te gaan. Bid dat ouers vir hul kinders ‘n voorbeeld sal wees. “Omdat julle kinders van God is…, moet julle sy voorbeeld volg. (Efes 5:1)


