Gebedsgids Junie 2023

1 Junie – Donderdag – Konflik

Bid vir oplossings in konflik situasies en vra dat vrede sal seëvier. Bid ook dat mense mekaar se siening sal insien en nie altyd “reg” moet wees nie, maar dalk die ander kant van die saak ook insien.

2 Junie – Vrydag – Eskom

Ons bid vandag vir ons leiers en die Eskom direksie om die regte besluite te neem en hul gelde reg aan te wend sodat die land se krag weer herstel sal word. Ons bid ook dat alternatiewe metodes van kragopwekking gevind sal word en meer werkskepping sal bevorder en krag sal vernuwe.

3 Junie – Saterdag – Vertroue

Ons bid vandag dat die gemeentelede sal leer om stil te raak en op God te vertrou vir versorging, leiding, wysheid en insig.

4 Junie – Sondag – Biddag vir Ekologie

Ons wêreld raak al hoe droӫr en daarom bid ons vandag dat die mense sal besef dat hul opdrag as mens uitgevoer moet word en dat hulle na die wêreld moet omsien en pro-aktief moet optree ter bewaring van ons bronne.

5 Junie – Maandag – Finansiӫle swaarkry

Ons bid vandag vir alle ouers wat finansieӫl swaarkry en nie altyd kan byhou vir alles wat hul kinders benodig nie. Ons bid ook vir die kinders se aanvaarding met hul ouers se situasie.

6 Junie – DinsdagSending

Ons bid dat die kanale waarop die sendelinge boodskappe kan uitdra soos radio en tv en ander sosiale media, oop sal wees en gebruik sal word om die mense wat in afgeleë plekke leef, te bereik.

7 Julie – Woensdag- Geestelike gesondheid

Bid dat mense wat in hierdie uitdagende tye sukkel met hul geestelike gesondheid die nodige leiding sal kry en ook by die regte plekke sal aanklop vir hulp.

8 Julie – Donderdag – Hulpverlening

Ons wil graag vandag stil raak voor God en die mense wat altyd hulp verleen aan Hom opdra en vra dat daar uit ander bronne baie skenkings sal kom vir behoeftige kinders en dat hul ook die behoefte sal raaksien van die wat hulp benodig.

9 Julie – Vrydag – Paulus se gebed

Ons bid vandag Paulus se gebed in Ef 3: 14-21 – Ons bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

10 Julie – Saterdag – Huis van God

Dank God met ‘n opregte hart en blymoedige gees dat ons in Sy huis kan aanbid sonder dat ons vervolg word en openlik tot Hom kan bid en gesange kan sing.

11 Julie – Sondag – Instandhoudingsfonds

Ons deurkollekte is vandag vir ons kerk se instandhouding en daarom vra ons vandag voorbidding dat gemeentelede met ‘n oop hart en hand sal skenk vir die instandhouding van die perseel.

12 Julie – Maandag – Hoop

Bid vir hulle wat hoop verloor het en wat elke dag net “oorleef” en wat nie meer kans sien om aan te gaan in ‘n wêreld wat geen hoop het in hulle oӫ nie.

13 Julie – Dinsdag – Geestelike gawes

Die Heilige Gees rig ons almal toe met sekere gawes wat in die kerk van God gebruik word. Bid dat die mense hul geestelike gawes sal raaksien en sal besef dat hul dit kan aanwend om God se koninkryk te bevorder.

14 Julie – Woensdag – Die Politiek

Ons bid vandag dat die korrupsie in die land en in die politiek uitgewys sal word en sal verminder en dat hulle die fondse wat tot hulle beskikking is sal aanwend tot opbou van ons land en sy mense en nie vir eie gewin nie.

15 Julie – Donderdag – Onsekerheid

Wag jy vir ‘n antwoord van God en is jy onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet 5: 7.

16 Junie – Vrydag – Jeugdag

Bid vandag vir ons jeug en hul geestelike en emosionele welstand in vandag se tye en dat hulle standvastig sal bly in ‘n wankelende wêreld.

17 Junie – Saterdag – Leraars

Ons bid dat ons leraars die nodige insig en kennis van U sal ontvang om met die gemeente te deel en dat hulle dit op so ‘n ontvanklike manier aan die gemeente kan meedeel dat hulle dit sal verstaan en ook kan uitleef.

18 Junie – Sondag – Vadersdag

“Vader, kom versterk ons Vaders dat hulle ons huishoudings weer as die Koning van die huis sal beharting en die nodige leiding en rigting aan die huisgenote gee en versterk hulle met die nodige insig en begrip om as ware leiers op te tree.”

19 Junie – Maandag- Buitelandse sending

Buitelandse sending vorm ‘n groot deel van ons insamelings en daarom vra ons vandag vir ekstra voorbidding vir die werk wat die sendelinge in die buiteland onder moeilike omstandighede moet doen.

20 Junie– Dinsdag- Siekes

Vader, ons bid vir alle siekes en die wat in pyn is asook mense wat bekommerd is oor die behandeling wat dalk nie die gewenste uitwerking het nie. Seën asb alle dokters en verpleegpersoneel met wysheid om die regte diagnose te maak en siekes met deernis te versorg.

21 Junie – Woensdag – Internet

Tegnologie speel deesdae ‘n groot rol in ons daaglikse lewe. Ons bid dat daar ontwikkelaars vir die internet sal wees sodat die Woord van die Here weer gehoor en gelees sal word en dat die internet ook tot die uitbreiding van die Koninkryk van die Here gebruik sal word.

22 Junie – Donderdag – Besparing

Ons wêreld gaan gebuk onder allerlei spandabelrigheid en daarom bid ons dat die mense ons hulpbronne in ag sal neem en sal kyk waar hulle kan bespaar eerder as verkwis.

23 Junie – Vrydag- Personeel van Kerk en nuwe Dominee

Bid vandag en ook gedurende die maand vir ons Kerk se personeel asook die proses om ‘n nuwe dominee te beroep en dat ons die regte besluit sal neem, maar dat die dominee ook die bevestiging sal kry om hiernatoe te kom.

24 Junie – Saterdag – Onderwysers en Dosente

Ons dra vandag alle onderwysers en dosente aan die Here op en vra dat die Here hulle leiding sal gee om te alle tye so te leef dat Jesus in hul lewe sigbaar is en dat hulle ‘n voorbeeld van ware Christene sal wees. Bid ook dat hulle sal rus in hierdie vakansietyd.

25 Junie – Sondag – Motoriste

Ons bid vandag vir almal op die paaie. Ons bid dat U met hulle sal wees en dat die bestuurders die nodige respek teenoor ander motoriste sal toon asook kalmte op die paaie sal ervaar.

26 Junie – Maandag – Boere

Bid vir ons boerderygemeenskap wat leef met onsekerheid oor grondhervorming en

arbeidsverhoudings. Bid dat die regering hierdie sake met wysheid sal hanteer en dat hul die nodige oplossings vir die vrae sal vind.

27 Junie– Dinsdag – Wil van God

1 Joh.5:14 sê dat as ons iets vra volgens God se Wil, ons dit sal ontvang. Ons bid dat die mense U Bybel sal lees, sal oordink en op hul lewe sal toepas en gereeld na U sal kom om U wil te ontdek en U Woord te bid.

28 Junie – Woensdag – Ongereddes

Ons bid vandag dat die gemeente die ongereddes wat nog nooit van Christus gehoor het nie, sal nader en dat hul nie sal skaam wees om die Woord van God aan hulle te bring nie. Ons bid ook vir ontvanklike harte en dat Christus die weg vir hulle sal voorberei.

29 Junie – Donderdag – Beskermingsdienste

“Jesus, ons bid vandag vir elke lid van die beskermingsdienste wat onbaatsugtige diens lewer in moeilike plekke en tye en bid dat hulle die nodige krag sal ontvang om hul werk met blymoedigheid te kan doen en ook deur hul optrede U woord verder te versprei. 

30 Junie– Vrydag – Roeping

Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping wat jy van Jesus ontvang het, sal uitleef en ook in die proses ander met jou houding na Jesus sal lei.