GEBEDSGIDS – JANUARIE 2023
Here, stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my, sodat geen smart my tref nie. (1 Kron. 4 :10)
Sondag 1 Januarie – ‘n Nuwe Jaar
Mag dit deur ons gebede en optrede wees dat mense ervaar ons is van God. Mag die nuwe jaar die begin wees van alle dinge wat nuut is in Christus. Vra dat ons as bidders getrou sal wees om te bid vir die Koninkryk van God en dat Jesus Here van alle mense sal word.
Maandag 2 Januarie – Getuie wees
Ons is soms bang om iemand te na te kom wanneer ons oor Jesus praat. Vra die Here om jou vry te maak om op ‘n positiewe en natuurlike manier met ander oor Hom te praat. Vra dat die Heilige Gees jou sal help om so’n gesprek aan te knoop. Ons verteenwoordig Jesus!
Dinsdag 3 Januarie – Aanbidding
“Here Jesus uit U en deur U en tot U is alle dinge, aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid. Dankie dat ons die vryheid en genade het om U saam te kan loof op hierdie nuwe dag. Laat ons lof en aanbidding tot U eer en tot die verryking van ons liefde, geloof en kennis wees. Laat ons dit ook LEEF in die wêreld daar buite”.
Woensdag 4 Januarie – Ons Kinders
“Here dankie dat ons vir ons kinders mag bid, seën hulle asseblief oorvloediglik, beskerm hulle waar hulle ook al mag wees of gaan, maak hul bewus van hoe groot en wyd U genade is, laat hulle gedurig U teenwoordigheid en vrede ervaar”
Donderdag 5 Januarie – Gemeente Bedieninge
Bid dat al die bedieninge deur die Heilige Gees gelei sal word sodat alle besluite en aksies binne die Here se wil sal wees. Dank die Here vir wat daar in ons gemeente gedoen word en vra waar jy betrokke kan raak.
Vrydag 6 Januarie – Vervolgdes se Getuienis
Dank God vir die getroue getuienis van ons vervolgde familie. Hierdie gelowiges dien Hom ten spyte van vervolging van hul gesinne en mede-gelowiges wêreldwyd. Bid dat ons ook getrou sal wees om hierdie jaar vir vervolgdes te bid. Ons sal elke Vrydag daarop fokus.
Saterdag 7 Januarie – Bejaardes
“Hemelse Vader daar is so baie mense in die aand van hul lewe wat in ons gemeente en gemeenskap woon. U weet van elke sieke, bekommerde, eensame en verlangende oue van dae. Help ons om hulle elkeen raak te sien, te besoek, te bemoedig en met deernis en liefde te omvou.”
Sondag 8 Januarie – Eredienste
Mag lidmate hierdie dag benut om van die gejaagde lewe te ontsnap en rustig in die Here se teenwoordigheid in Sy Huis te verkeer. Mag elkeen ontvanklik wees vir die Gees se inspraak in hulle lewens. Ons bid die Heer se seën af op elke Woordverkondiger.
Maandag 9 Januarie – Geregtigheid Bid dat God deur sy Gees ons harte sal versag en vir ons medelye sal gee vir die nood van ander. Bid dat dit sal lei tot daadwerklike en praktiese optrede om die nood van mense te verlig. Dit is alleen die Gees van God wat ons ander se nood kan laat raaksien en verlig.
Dinsdag 10 Januarie – Uitvoering van die Groot Opdrag
Bid vir sendelinge wêreldwyd, mag hul daagliks krag en wysheid ontvang om Jesus aan ‘n stukkende wêreld voor te stel. Vra dat God elke gesprek, getuienis, preek of lering sal seën en harde harte sal vermurwe. Bid vir gestuurdes se goeie gesondheid, hul dierbares en hul daaglikse behoeftes en nodige lewensmiddele.
Woensdag 11 Januarie – Ons Regering
Bid vir wysheid, integriteit en diensbaarheid op alle vlakke van regering. Bid teen die korrupsie, geweld, onbevoegdheid en magsmisbruik. Mag elke knie in die parlement buig voor ons Koning – die Lewende God – ons Verlosser. Net Hy alleen kan Suid-Afrika genees!
Donderdag 12 Januarie – Maatskaplike Nood
Bid dat die kerk (ons) toenemend betrokke sal raak by maatskaplike probleme: voedingskemas by skole, (sodat kinders minstens een maaltyd per dag kry). Vir hospitaalbesoeke, nasorg vir pasiënte, versorging van swanger tieners ens. ens. (Jak. 1:27)
Vrydag 13 Januarie – Guineë
Dank die Here vir bekeerlinge in die Fulani-veewagtersgemeenskap. Bid dat die getal gelowiges hier sal groei en dat hierdie herders getuies vir Jesus onder hul families sal wees.
Saterdag 14 Januarie – Vrymoedigheid om te Getuig
Bid dat Christene in lughawens, op vliegtuie of waar ook al met vrymoedigheid sal getuig van die liefde van Jesus en van Sy offer aan die Kruis asook die feit dat sy genadegawe aan mense die Ewige lewe is. Dat hy reeds vir ons sondes betaaal het.
Sondag 15 Januarie – God se Woning
Hoe lief het ek u woning, Heer
ek wil u in u tempel eer
Ek smag na u met sterk verlange
met daardie mense gaan dit goed
Wat in u tempel u ontmoet
en u daar prys met lofgesange
Ek sal my lof met jubeling
aan U wat waarlik lewe, bring Ps. 84
Maandag 16 Januarie – Hoe is ons ingesteldheid ?
“Vader, ons bely vandag ons dikwels kritiese en veroordelende ingesteldheid oor toestande in ons land vergewe ons asb. en mag ons eerder praat met harte vol geloof en hoop op God. Amen”.
Dinsdag 17 Januarie – Gelowige polisiemanne en -vroue
Dra ons polisiediens aan die Here op. Bid dat Christene ‘n werklik positiewe bydrae sal lewer om Christelike waardes en beginsels in die diens te laat posvat en dat hulle, deur hul voorbeeld, integriteit en optrede, ander polisielede vir Christus sal wen.
Woensdag 18 Januarie – Skole open
Bid asseblief vir die redding van onderwysers sodat hulle ons land se kinders kan opvoed in die vrese van die Here. Vra dat dissipline en Christelike waardes in elke skool prioriteite sal wees. Bid dat beheerrade en die owerheid wys en billik sal optree.
Donderdag 19 Januarie – Die Skepping
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? Prys, loof en dank God vir sy skepping. Ps. 8
Vrydag 20 Januarie – Colombieë
Bid vir inheemse Colombiane wat weens hul bekering, vervolging in die gesig staar. Bid dat die Heilige Gees hulle geloof sal versterk en en vir wysheid om te volhard met die verspreiding van die Goeie Nuus sodat ander ook tot geloof en bekering kan kom.
Saterdag 21 Januarie – Gevangenis-bediening
Bid vir gelowiges wat in gevangenisse uitreik, mag hulle baie geduld, wysheid, volharding en insig aan die dag lê. Loof die Here vir elke gevangene wat Jesus as redder gevind het, en bid dat hulle weer mede-gevangenes sal beïnvloed en na Jesus sal lei.
Sondag 22 Januarie – Stilword
Here ons bid vandag vir elke lidmaat se “stilword” voor U in voorbereiding en afwagting vir die erediens. Seën asseblief elke leraar wat vandag U woord sal verkondig, laat die waarheid suiwer en verstaanbaar wees. Open ons ore om te hoor wat die Gees vir die gemeente sê.
Maandag 23 Januarie – Gestuurde Gemeente
Here gee ons ‘n Bybelse visie van kerk wees en ons roeping as getuies vir U. Vader gee dat ons ‘n biddende, gestuurde en stuurende gemeente sal wees in lewe en aksie. Dat elke lidmaat Jesus sal liefhê en sal uitreik na afgedwaaldes en mense in nood.
Dinsdag 24 Januarie – Bybelstudie
Bid vir die Bybelstudiegroepe wat vandag bymekaarkom. Vra dat die Bybel in elke lidmaat se lewe ‘n onmisbare rigtingwyser sal wees; dat ons die beloftes, vermanings, lofprysings en ander waarhede sal raaklees en ook sal uitlewe. Bid vir seën by elke groep hierdie jaar.
Woensdag 25 Januarie – Mense van ander gelowe
Kom ons bid dat die Here ons gewillig en gehoorsaam sal maak om as Christene, vriende met aanhangers van ander gelowe, te maak. Om die Evangelie met hulle te deel en ook deur ons leefwyse te demonstreer. Ander moet Jesus se beeld in ons raaksien.
Donderdag 26 Januarie – Bendes
“Here Jesus, ons bid dat U vrede op bendes en hulle leiers sal neerdaal. Laat hulle U liefde ervaar en besef dat geweld nie die antwoord vir probleme is nie, maar wel Jesus, die Een wat gekom het om ons te verlos. Seën hulle wat in bendegeteisterde gebiede werk.”
Vrydag 27 Januarie – Volharding van vervolgde gelowiges
Bid vir talle vervolgde Christene in vele lande wat weens hul geloof en vertroue in Jesus, lyding verduur. Bid vir standvastigheid van geloof en dat God hul sal toerus om terwille van Sy naam te volhard. Dank die Here vir die werk van Geopende Deure onder hulle.
Saterdag 28 Januarie – Omgewingsorg / Aardverwarming
Kom ons weeklaag by die Here oor die mens se ongeërgde houding teenoor die verval van God se handewerk en die misbruik van die aarde se onherwinbare bronne. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping, waaroor ons aangestel is, en laat ons strewe na ‘n eenvoudiger leefstyl en nie om net meer te wil hê nie. Wees dankbaar vir die natuur.
Sondag 29 Januarie – Kategese
“Here ons bid vandag vir kategete en kategese. Gee asb. dat elke kategeet ‘n persoonlike verhouding met U sal hê sodat hulle ook die kinders na U kan lei. Gee asb. vir ons kinders ‘n verlange om na U Huis te kom, U Woord te hoor en eindelik ook ‘n keuse vir U te maak”.
Maandag 30 Januarie – Dié wat agterbly
Bid vir lidmate wat die afgelope tyd lewensmaats of ander geliefdes verloor het. Dink
vandag aan hulle en bid Hab 3 : 19 vir hulle toe: God gee vir my krag en ribbokvoete om my op hoë plekke veilig te laat loop. Dankie vir gelowiges wat na hulle uitreik.
Dinsdag 31 Januarie – Danksegging
“Dankie Vader vir nog ‘n maand van U genade en goedheid. Dat ons in gebed voor U kon buig en vra dat U ons, as U kinders, maar ook ons land en sy mense, sal seën en bystaan”.
“Bid Gedurig” I Tes 5: 17


