Inleidend
Vandag kom ons by die ontsluiting van die kortverhaal van Rut. Dis die verhaal van ‘n klein familie wat byna in totale uitwissing eindig nadat Naomi se man, Elimelek, en sy twee seuns, Maglon en Kiljon, op die kruispad van die familie sterf! Die probleem van ‘n kinderlose weduwee, die spannende verloop van die verhaal met sy baie afdraaipaaie en doodloopstrate, eindig uiteindelik op God se hoofpad na ‘n vol en blye en ewige toekoms.
Die finale kruispad lei na God se toekoms
Maar hoe het dit gebeur? Kom ons lees Rut 4: 13-17. Wat ‘n “happy ending”?
Hier is die huwelik tussen Boas en Rut en die geboorte van ‘n seuntjie wat alles verander = selfs ook vir ons vandag!! Al die rolspelers se lewens word op die gelukspad geplaas – ‘n pad van vervulling en betekenis.
- Boas trou met Rut en sodoende word sy lewe gevul met liefde. Hy word egter ook die losser wat die hulpelose vroue se vryheid en toekoms waarborg. Sy daad word uiteindelik deur Christus vervul.
- Rut se lojaliteit en troue liefde teenoor Naomi word beloon met ‘n huwelik en Goddelike seën in haar lewe.
- Naomi word van ‘n bitter, bedroefde en hulpelose mens verander na ‘n gelukkige en versorgde ouma.
- Obed is die kind wat nie net die vervulling is van die liefde tussen Boas en Rut nie, maar ook die kind wat ‘n nageslag vir die familie waarborg.
God breek paaie oop!
Die verhaal is ten diepste ‘n loflied op God. Sy planne loop hulle nie te pletter op die kruispaaie en doodloopstrate van ons lewe nie. Nee, Hy wys nuwe rigtings aan en maak nuwe paaie oop, indien nodig! Menslike rampe en planne word in Sy groter plan ingesluit op SY pad na ‘n ewige toekoms.
God gee liefde en lewe!
Kyk bv. By 4: 13 – daar word gesê dat Boas en Rut trou en gemeenskap het, maar dan volg die betekenisvolle woorde:
“Die Here het haar laat swanger word en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring”
Dis eintlik die kern van die verhaal. Dis die enigste plek waar God as die direkte subjek van ‘n werkwoord genoem word. Ja, want dis Hy wat nuwe LEWE skep. EN hierdie Goddelike ingryping sou die lewens van Obed, Rut, Naomi en hulle nageslag beïnvloed, maar ook die gang van die hele mensdom bepaal.
Geslagsregister
Betekenisvol eindig die verhaal met ‘n geslagsregister en word daar gesê:
“Obed was die voorvader van Dawid”
Volgens Matt. 1: 1-17 is dit presies hierdie geslagslyn waaruit die eintlike Losser, Christus Jesus, gebore word. En dit is Hy wat met Sy kruis en opstanding alle kruispaaie en doodloopstrate in ons lewens in hoofpaaie na ‘n ewige toekoms verander.
Daarom kan en moet ons almal, saam met die vroue, sê:
“Aan die Here kom die lof toe…”

