Bybelstudie RUT – Kruispaaie: God se rigtingwysers – Dr. Gerrie van Deventer

Kruispaaie

‘n Kruispad is daardie plek in ‘n pad waar twee of meer paaie bymekaarkom en kruis. Gewoonlik is daar ‘n verkeerslig of 4-rigting stop, wat ‘n mens die geleentheid gee om stadiger te ry of te stop. Dan kan jy die rigtingwysers en tekens lees en besluit of jy hier regs of links wil draai en of jy reguit aan ry.

Die lewe het vir elkeen van ons ook baie kruispaaie. Dis kruispaaie waar ek moet stilhou, tekens en rigtingwysers lees, besluite neem voor ek verder gaan. Soms is ‘n kruispad by ‘n lewensfase soos na skool, huwelik, kinders uit die huis of pensioen. Soms bring gebeure soos siekte, dood van ‘n geliefde, verlies van werk, ‘n egskeiding of ‘n verplasing ‘n mens by kruispaaie.

Ons gaan die volgende 6 episodes kyk na verskillende karakters by die kruispaaie in die Bybelse verhaal van Rut. ‘n Mens voel soms baie alleen by kruispaaie en jy het raad en hulp nodig. Daarom is een vraag: Waar is God wanneer ek by ‘n kruispad is?

God se rigtingwysers in Rut (Lees Rut 1: 1-5)

Veral Naomi, met haar man, Elimelek (wat beteken ‘God regeer’) kom sommer dadelik by verskillende kruispaaie. Daar is droogte, hulle trek na ‘n vreemde land, en dan sterf Elimelek en dan ook Naomi se twee seuns. En sy bly as weduwee alleen agter in ‘n vreemde land met geen ander familie nie. Dan vra mens saam met Eks. 22: 21-24 (“21’n Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. 22Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. 23As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. 24My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos.”) en (“17’Die HERE is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God wat onpartydig is en geen omkoopgeskenk aanvaar nie, 18wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee. 19Julle moet vreemdelinge liefhê, want julle was self vreemdelinge in Egipteland.”) Deut. 10: 17-19

Hoe sal God by hierdie kruispad sorg en nuwe rigting aanwys?

As mens die verhaal deurlees, sien jy hoe God tog vir Naomi telkens rigting wys en hoe Hy lei en regeer – o.a. op die volgende 5 maniere:

Die leed in Moab

Moab is ‘n buurland van Israel, oos van die dooie see, met hoë reënval, maar dis ‘n heidense land. Miskien wou God vir Naomi by die kruispaaie die rigting terug wys na Israel toe, en ten diepste terug na Hom toe.

“die Here het vir Sy volk uitkoms gegee”

Die tweede teken wat God vir Naomi gee, kry ons in Rut 1: 6 (“6Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee.”), in die tegniese term “die Here het vir sy volk uitkoms gegee”. Dis ‘n term waarmee Goddelike ingrype beskryf is – of om te straf of om te seën. In hierdie geval het God seën in Israel gebring. Nogmaals ‘n wyser terug Israel toe!

Seëngroete

Ons kry nege maal in die verhaal seëngroete op baie strategiese punte. Telkens word iets van die seënende hand van God dan so op kruispunte in die verhaal bely. Dis groenligte van God.

Toevallige verloop van gebeure

Naomi hoor toevallig van die uitkoms in Israel (Rut 1: 6) en Rut land toevallig by Boas se lande om are op te tel (Rut 2: 3) Maar dit word duidelik dat die toeval eintlik Goddelike beskikking is en dat ‘n mens kan sê dat toeval eintlik beteken: ‘Toe val die lig’.

Die slotsom

Daarom is die slotsom van die Rut-verhaal: “Aan die Here kom die lof toe” (“14Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder ‘n losser gelaat nie. Mag dié losser beroemd wees in Israel.” (Rut 4: 14))

Hoe wys God vir ons rigting aan?

Jy mag nou by ‘n kruispad in jou lewe wees, of daar mag in die loop van die nuwe jaar nog verskeie sulke kruispaaie kom. Kyk dan uit vir God daar, en vir Sy rigtingwysers! Ook vir rigtingwysers uit Sy Woord. Die woorde van medegelowiges en veral van Sy Gees. Onthou God is teenwoordig op die kruispad van die lewe!