1 November – Vrydag – Geliefdes
Bid vandag vir jul geliefdes se welstand en sorg en vra dat Jesus hulle sal omarm waar hulle ook al is.
2 November – Saterdag – Eerlikheid
Spreuke 24:26 sê: iemand wat eerlik antwoord is ‘n ware vriend. Kom ons bid dat mense nie agter maskers wegkruip en medemense bedrieg nie en ‘n eerlike pad sal loop in hul daaglikse omgang met almal.
3 November – Sondag -Geopende deure
Kom ons bid vandag vir die getroue diens wat die mense van geopende deure lewer en so seker maak dat die Woord van die Here versprei word aan “Jood en nie-Jood”.
4 November – Maandag – Moed
Jesus het ons vooraf gewaarsku dat ons in hierdie wêreld sal swaarkry maar dat ons goeie moed moet hou, aangesien Hy klaar die wêreld oorwin het. Bid vandag dat mense nie moed sal opgee nie, maar end-uit sal bly glo en vertrou.
5 November – Dinsdag – Bejaardes
Ons bid vandag vir almal wat afgetree is en dalk nie meer dink dat hulle enige waarde het nie. Ons bid vir die besef dat hulle nou eers ‘n groot invloed is in die samelewing en van groot waarde vir die jonger geslag.
6 November – Woensdag – Beproewings
Die doel met beproewings is om ons geloof te toets. Vra die Vader dat ons ook hierin getrou sal bly en soek die Vader se hulp om ook daardeur te kom (1 Pet. 1:6-7).
7 November – Donderdag – Vriende
Mense is deesdae baie alleen en veral ook mense wat deesdae meer by die huis werk, verval in alleenheid wat weer erge depressie aanvuur. Bid dat mense sal uitreik na mekaar en vir mekaar sal omgee en ophelp in hul omstandighede.
8 November – Vrydag – Sorg
“Here, U het vir u volk in die woestyn gesorg. U het hulle gevoed, beskerm en bemoedig. Dankie vir die genade wat U gegee het aan diegene wat U van slawerny in Egipte bevry het. Dankie ook dat U ons elkeen elke dag van ons eie slawerny bevry”.
9 November – Saterdag – Nooddienste
Jesus, ons bid vandag vir die nooddienste en al die personeel dat hul onvermoeid hul dagtaak sal verrig en dat hul die nodige ondersteuning van hul familie en vriende sal ervaar om U liefde in hul werk uit te leef.
10 November – Sondag – Up with Downs
“Ons vra U vandag, Here, dat U die mense se harte ontvanklik sal maak om mildelik te gee vir hierdie skool vir die diens wat hulle in die samelewing lewer”.
11 November – Maandag – Geloof
God skryf ons lewensverhaal, maar ons sig is beperk. Volgens Heb. 11:1 moet ons glo en vertrou dat Jesus vir ons die beste verhaal sal skryf. Bid vandag dat ons onvoorwaardelik sal glo, al sien ons nie.
12 November – Dinsdag – Alkohol misbruik
Misbruik van alkohol is ‘n groot probleem en omdat dit sosiaal aanvaarbaar is en ook op die media gewys word, word die mens vinnig meegesleur en kort voor lank is hy verslaaf. Bid dat die persone wat hiermee worstel, verlos sal word van hul verslawing.
13 November – Woensdag – Vrede
Ons is in ‘n siek wêreld en somtyds wil dit ons oorweldig. God sê egter, Vrede laat Hy vir ons na (Joh 14:27). Hy wil ook hê dat ons Sy stem hoor en Hom volg. Bid vir mense wat oorweldig voel dat hulle die stem van God sal hoor en hom sal volg en op Sy krag sal staatmaak.
14 November – Donderdag – Nuwe ywer
Bid vir ‘n verdieping in aanbidding van God en dat die gelowiges wat al afgekoel het, weer met nuwe ywer God sal eer en verheerlik en gereeld tyd aan Sy Woord sal spandeer.
15 November – Vrydag – Oorsese kinders
Ons bid vandag saam met al die ouers wie se kinders ver is en in vreemde lande werk, somtyds onder moeilike omstandighede. Bid dat hul ook daar waar hulle is, die liefde van God sal ervaar en Jesus se Naam sal verkondig en dat die ouers ook berusting sal ervaar dat hul kinders veilig is.
16 November – Saterdag – Kanker
Kom ons steek ‘n kers aan en bid vir almal wat gemoeid is met mense wat kanker het. Bid vir die Here se leiding en liefde en ook vir die versorgers dat hul met onvermoeide krag en liefde die pasiënt sal behandel . Gee ook dat die mense mildelik sal bydra by die Spesiale offer môre.
17 November – Sondag – Beskermingsdienste
Kom ons bid vandag vir die Groot Brak polisiemag waar daar nou ‘n hernieude aanslag van inbrake in ons area is. Bid dat hul veilig sal wees en beskerming sal ervaar in hul gevaarlike taak om ons veilig te hou.
18 November – Maandag – Afhanklikheid
Jesus het gesê: Geseӫnd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt 5:3). Bid vandag dat ons ons afhanklikheid van God besef en dat ons in alles vir God sal raadpleeg en so die koninkryk sal beӫrf.
19 November – Dinsdag – Daaglikse behoeftes
Ons bid vandag, soos U ons geleer het, vir ons daaglikse brood en dat ons op U sal vertrou om te voorsien in ons behoeftes sonder dat ons tekort sal hê.
20 November – Woensdag – Leiers van die land
Ons bid vir die leiers van ons land dat hul ‘n verhouding met Christus sal ondervind en ons land met die nodige respek en kundigheid sal bestuur.
21 November – Donderdag – Begeertes en Besorgdheid
Kom ons bid dat God ons besorgdheid wegneem en dat ons met vrymoedigheid ons begeertes aan God kan gee deur ons gebed en met smeking en danksegging. Kom ons loof en eer God vir sy liefde en leiding in ons lewe.
22 November – Vrydag – Laster
In Luk.12:10 sê Jesus dat mense teen hom kan laster en vergewe sal word, maar nie die wat teen die Heilige Gees laster nie. Kom ons bid dat mense weer opnuut na hul woordeskat sal oplet en besef dat die Here se Naam Heilig is.
23 November – Saterdag Radio Feba
More is daar ‘n spesiale offer vir Radio Feba. Bid dat die mense sal sien watse reuse taak hulle aanpak en dat hulle vir die dienste sal bydra sodat hulle weer die onbereiktes kan bedien in die moeilike areas.
24 November – Sondag – Kerssangdiens
“Ons loof en prys U wonderlike Naam oor die hele aarde. Ons dans voor U aangesig in groot ontsag om U Naam te verheerlik.”
25 November – Maandag – God Immanuel met ons
Ons bid dat die genade van God, Immanuel, God met ons, altyd, onverdun sonder ophou, die mens oorskadu en bewaar en mag ons onthou om God daarvoor te bedank.
26 November – Dinsdag – Dankbaarheid te midde van…
Kyk vandag met ander perspektief na jou lewe en sien die goed en die mooi raak wat daar is ten spyte van jou omstandighede. Fokus op die Lig en dank God vir Sy Lig in jou.
27 November – Woensdag – Eer jou Vader en jou Moeder
Die Bybel en Bybelse wette is hieroor baie duidelik en God gee ons ook ‘n belofte. Bid vandag dat kinders hul ouers en ouer mense sal eer en mooi sal oppas.
28 November – Donderdag – Ore
God het vir ons ore gegee om te kan luister. Partykeer is dit al wat ‘n vriend in nood nodig het, dat iemand na hom sal luister. Bid dat ons vandag sal luister as die Heilige gees ons na ons vriend stuur wat ‘n omgee-oor nodig het.
29 November – Vrydag – Sabbatdag
Bid vandag dat die gelowiges weer die Sabbatdag sal heilig en intens met Jesus tyd sal spandeer om nog nader aan Hom te groei. Bid ook vir die mense wat op Sondae moet werk, dat hul ‘n spesiale tyd vir God sal afsonder.
30 November – Saterdag – Christene in Afrika
Duisende Christene in Nigerië en Sub-Sahara-Afrika word elke jaar weens hul geloog doodgemaak. Bid vir hierdie Christene dat hul sal uithou en ook dat mense hul nood sal raaksien en dat hul sal sien hoe om te help en ook dat die owerhede hierdie mense sal beskerm.


