Week 6 Dag 28 – Soekers wat nooit vind – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Onthou jy nog die trefferliedjie van Koos du Plessis, Kinders van die wind? “Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind… “. Hierdie liedjie met sy diep filosofiese woorde, laat my altyd onwillekeurig aan visie dink. Want, sonder visie is daar weinig sprake van rigting en soek ons na iets onbekends, wat ons nooit sal vind nie. Die Vader se plan met en deur sy kinders is nie ’n geheime plan nie. Dit sou uiters vreemd en in stryd met Bybelse getuienis wees as God iets van ons sou verwag, maar dit geheim hou. Die totale Bybelse rekord getuig van die teendeel – God praat met sy mense in fyn (soms verstommende) detail.

Kom ons tel net gou weer die lyne op. Twee dae gelede het ons gesê God het ’n plan, ’n visie en dit is vir Hom belangrik. Gister het ons daaroor gedink, dat alhoewel daar ’n universele plan is, het God ook ’n besondere, unieke, spesifieke plan vir sy mense. Wanneer ons dit ken, verstaan en in woorde kan uitdruk, is daar visie.

Gebed

Nou is dit eers tyd om die wonderlike voorreg te koester om intieme tyd met die Vader deur te bring. Dis in hierdie tye dat jy Hom kan vertel hoe geniet jy sy skepping en handewerk. Hoe waardeer jy die vermoëns en sintuie wat jy het. Dalk is daar iets wat jy teenoor Hom wil bely. Dalk is daar iets waarmee jy sukkel. Jy kan ook jou bekommernisse met Hom deel, vir raad vra, vir rustigheid vra – en vra dat Hy vandag se Bybelstudie ’n besondere ervaring sal maak.

Skryf / Vul in

Dis een ding om te aanvaar dat visie belangrik is omdat God ’n unieke doel met elke gelowige en gemeente het, maar dis ’n heel ander storie om die inhoud daarvan te weet. Wanneer ons praat van God se universele wil, is dit makliker omdat die Bybel normaalweg duidelik en uitgesproke daaroor is. As dit egter by sy spesifieke wil vir jou en my kom, is dit heelwat moeiliker. Voordat ons verder gaan, wil ek hê jy moet aan Bybelse voorbeelde dink. Kan jy aan enige voorbeeld in die Bybel dink waar God ’n spesifieke plan met iemand gehad het, maar dat Hy dit doelbewus nie aan die persoon bekend wou maak nie? Skryf dit neer.


Kon jy aan ’n voorbeeld dink? Ek twyfel. Die teendeel is eerder waar. God het ’n spesifieke plan met sy mense; Hy wil hê hulle moet dit weet en dit doen! Van sulke voorbeelde is daar oneindig baie in die Bybel. Daar is eintlik nog net een vraag: Is dit vandag nog so? Of is God se hedendaagse bedoelings ’n geheim? Moet ons volstaan met sy universele wil en dat Hy van ons verwag om mee te werk aan die uitvoering van sy plan – maar dat ons nie weet wat Hy van ons spesifiek verwag nie!

Nee, dit kan tog nie! God het ’n spesifieke plan vir en met sy gemeente. Meer nog, Hy wil hê ons moet dit weet en uitvoer. Visie is niks anders as die omsit van God se plan vir die gemeente in mensetaal nie. Wat is die alternatief? As die gemeente nie God se unieke wil en plan ken en dit vertaal in voortstuwende en goedgeformuleerde visie nie, verloor hulle fokus, dringendheid en soms selfs kontak met die rede vir kerkwees. Wanneer God se plan verstaan word, ontwaak hulle tot nuwe lewe, dinamika en vitaliteit.

Skryf / Vul in

Lees Hand 9:15; 16:9-10; 26:15-23; Eks 33:13-17; Spr 18:9; Rom 15:20.

Hand 9:15;

15Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. 

Hand 16:9-10;

9Daardie nag het Paulus ‘n visioen gehad. ‘n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” 10Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig.

Hand 26:15-23;

15‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. 16Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. 17Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, 18om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en ‘n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’

19“Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie, 20maar ek het eers aan die inwoners van Damaskus sowel as Jerusalem, en toe aan die hele landstreek van Judea en aan die heidene, verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle na God moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. 21Hieroor het die Jode my gegryp toe ek in die tempelterrein was, en het hulle my probeer doodmaak. 22Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, 23naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”

Eks 33:13-17;

13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” 17Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken.”

Spr 18:9;

9Ook hy wat sloer in sy dagtaak
is die broer van ‘n opperste
verwoester.

Rom 15:20

20So het ek my dit ten doel gestel om die evangelie te verkondig, nie waar Christus reeds bekend was en ek dus op iemand anders se fondament sou bou nie, 


Wat leer jy uit hierdie gedeeltes? Skryf dit neer:


Byna daagliks kry ek te doen met gemeenteleiers en individuele gelowiges wat ernstig en opreg na die Here se spesifieke wil vir die gemeente, of vir hulle persoonlik, vra. Aan die een kant oortuig die Bybelse getuienis ons daarvan dat God sy spesifieke wil aan ons bekendmaak, omdat ons sy wil tot uitvoer moet bring. Aan die ander kant sou dit naïef wees om te beweer dat dít ’n eenvoudige saak is.

Dit lyk vir my ons moet in dié saak aan ’n paar Bybelse waarhede vashou:

  1. God het ’n spesifieke en unieke plan vir elke gelowige en gemeente
    (Jes 43:1; Jer 1:5; Hand 9:15).
    • Jes 43:1
      1“Maar nou,” so sê die Here,
      jou Skepper, Jakob,
      die Een wat jou gevorm het, Israel,
      “moenie bang wees nie,
      want Ek het jou losgekoop,
      Ek het jou op jou naam geroep –
      aan My behoort jy.
    • Jer 1:5
      5“Nog voordat Ek jou gevorm het
      in die baarmoeder,
      het Ek jou geken;
      nog voordat jy uitgegaan het
      uit die moederskoot,
      het Ek jou geheilig.
      As profeet vir die nasies
      het Ek jou bestem.”
    • Hand 9:15
      15Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. 
  2. Hy wil hê ons moet dit weet (Jes 43:1a; Jer 1:4; Hand 9:4-6,15-20),
    • Jes 43:1a
      1“Maar nou,” so sê die Here,
      jou Skepper, Jakob,
      die Een wat jou gevorm het, Israe
      l
    • Jer 1:4
      4Die woord van die Here het tot my gekom:
    • Hand 9:4-6
      4en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” 5Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. 6Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”
    • Hand 9:15-20
      15Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. 16Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” 17Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” 18En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. 19Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin.
      Hy was ‘n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, 20en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is.
      want:
  3. Hy wil hê ons moet sy wil doen (Matt 7:21-23; Joh 4:34).
    • Matt 7:21-23;
      21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”
    • Joh 4:34
      34En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.
  4. Hy is God en kan dit daarom soos, waar en wanneer Hy goed dink, aan
    ons bekendmaak
    (Jes 49:8-9; 55:8-9; 2 Kor 6:2).
    • Jes 49:8-9;
      8So sê die Here:
      “In ‘n tyd van welwillendheid
      antwoord Ek jou;
      op die dag van verlossing
      help Ek jou.
      Ek sal jou beskerm,
      Ek gee jou as ‘n verbond aan die volk
      om die land op te bou,
      om van verlate erfgrond
      weer ‘n erfdeel te maak,
      9om vir gevangenes te sê,
      ‘Gaan uit!’
      en vir hulle wat in die donker is,
      ‘Kom te voorskyn!’
      Langs die paaie sal hulle wei,
      op al die kaal hoogtes
      sal hulle weiding wees.
    • Jes 55:8-9;
      8“Ja, my planne is nie julle planne nie,
      en julle paaie is nie my paaie nie,”
      is die uitspraak van die Here.
      9“Want soos die hemel hoër is as die aarde,
      so is my paaie hoër as julle paaie,
      en my planne as julle planne
      .
    • 2 Kor 6:2
      2Want Hy sê:
      “Op die regte tyd
      het Ek na jou geluister,
      en op die dag van verlossing
      het Ek jou gehelp.”
      Kyk, nou is die gunstige tyd,
      kyk, nou is die dag van verlossing!
  5. Vir God gaan dit ten diepste oor verhoudings (Deut 6:4-9; Matt 12:30;
    22:36-40).
    • Deut 6:4-9;
      4“Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.
    • Matt 12:30;
      30Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.
    • Matt 22:36-40
      36“Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” 37Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ 38Dit is die belangrikste en die eerste gebod. 39En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete.”

Met hierdie 5 ankers om ons stewig vas te hou, moet ons onvermoeid en met verwagting daarna uitsien dat Hy sy wil (ons visie) aan ons sal openbaar. Net soos wat ’n intieme huweliksverhouding (wat God self as beeld gebruik) die platform skep vir effektiewe kommunikasie, so sal die tyd wat ons intiem in sy teenwoordigheid deurbring daartoe bydra dat ons sy wil sal ken. God het op ’n onuitspreeklik radikale manier gedemonstreer dat Hy ’n Verhoudingswese is. Moet dus nie ont-anker word deur moedeloos te word, ongeduldig te word, resultate te soek, allerhande metodes en tegnieke te probeer of watter selfgeproduseerde oplossing ookal in te span nie. Spandeer tyd in sy teenwoordigheid en Hy sal met jou praat. Praat met Hom en Hy sal met jou praat. Verlustig jou in sy Woord en Hy sal met jou praat.

God se mense is soekers wat vind (1 Kron 28:9; Spr 8:17; Luk 11:9-13)!

1 Kron 28:9;
9En jy, my seun Salomo, erken die God van jou vader, en dien Hom met ‘n onverdeelde hart en ‘n gewillige gees, want die Here ondersoek alle harte, en in elke bedoeling van die gedagtes het Hy insig. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. 

Spr 8:17;
17Wie my liefhet, het ek self ook lief,
en wie my soek, sal my vind.

Luk 11:9-13

9Ek sê vir julle:
“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle
sal oopgemaak word.
10Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.
11“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

Gebed

Spandeer ’n paar minute deur jou in te stel op sy teenwoordigheid. Miskien het jy nou nodig om by Hom hulp te vra vir hierdie aanpassings (koersverandering, bekering?) in jou lewe, of om ’n belydenis te doen Dalk wil jy jou eie bestaansdoel weer in oënskou neem en opnuut na jou fokus en prioriteite kyk, of heroorweeg op watter maniere jy (nog meer) aktief betrokke kan raak as God se medewerker.

Week 6 Dag 28 Dod se plan is nie n geheime plan nie
Week 6 Dag 28 Dod se plan is nie n geheime plan nie
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 107-125
Lees gerus ook Ef 1-3.


Paulus bevestig:

  • God het ’n plan en doel.
  • Sy plan sluit die hele skepping in.
Wenk

WENK: Kyk ’n bietjie vandag rondom jou of jy die verband tussen die doel en aard (karakter of eienskappe) van dinge (en mense) kan raaksien.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za