Stof tot nadenke: Die HERE se Seën

God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.

(Hand. 3: 2620)

Wat verstaan ons onder seën?

Ons het almal ‘n eie idee van wat die seën van die Here beteken. Vir sommige is dit om ‘n finansieël gevulde lewe sonder bekommernisse te hê. Vir ‘n ander is dit om ‘n vol en vervullende lewe met aansien te hê. Vir ‘n ander is dit om mateloos gelukkig te kan wees. Vir sommige is dit net om genoeg te hê om van te lewe, sonder oormaat. ‘n Ander vind dit in wat hulle sien in die natuur en die ander skeppingsmagte van God. So kan ons aangaan met wat ons persepsie van die Here se seën is.

‘n Aanhaling van Duke Ellington verwoord die persepsie van seën baie goed: ‘My ma het my vertel dat ek geseën is, en ek het haar altyd geglo. Om in ‘n vorstehuis gebore te wees kan nie vergelyk word met geseën wees nie. Vorstelikheid word geërf van ‘n ander mens; seën kom van God af’.

Ons het hierdie week weer die oorvloed van God se seën beleef! Dit laat ons soms sidder en beangs wees, as ons sien hoe God se beantwoording van gebede in so ‘n oormaat gebeur. Tog is dit so ‘n groot seën, ten spyte van al die skade aan mensgemaakte strukture. Ons damme is weer tot oorlopens toe vol. Die seemere in die omgewing is weer goed oopgespoel. Die lug is weer skoongewas van alle onsuiwerhede! En die aarde sê dankie vir elke druppel!

Teksverse:

Die seën van die Here – dit is wt ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie.” (Spr . 10: 2220);

Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en ‘n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën.” (Heb. 6: 720)

Wie het God geseën?

Ons lees dikwels van seëninge en aan wie dit toevertrou word. In die Ou Testament vind ons dikwels waar God vir Abram en sy nageslag seën. Ook waar God seën wegneem wanneer daar weggedwaal word van Hom af.

Dit klink so maklik, maar dikwels is ons ondankbaar of hoogmoedig. Daar word dikwels gedink dat die mens God nie nodig het nie. Dit is so hartverskeurend om sulke uitsprake te hoor. God is groot en goed. Daar is niemand soos Hy nie. Die Here is mildelik met sy seën as die mens regverdig is en soos ‘n kind glo.

Teksverse:

Ek sal jou ‘n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak, sodat jy ‘n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën,…” (Gen. 12: 2-320);

Die Here se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy.” (Spr. 3: 3320);

Seëninge is bedoel vir die kop van ‘n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld.” (Spr. 10: 620);

Hulle het die kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon aanraak, maar die dissipels het hulle berispe. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê : “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nnie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.: Hy neem hulle toe in sy arms en seën hulle terwyl Hy sy hande op hulle lê.” (Mark. 10: 13-1620)

Hoe hanteer ons God se seën?

Gebruik ons die seën wat ons van God ontvang om tot seën van ander te wees? Oswald Chambers het dit mooi verwoord: ‘As jy in Jesus glo, sal jy agterkom dat God deur jou magtige strome van seëninge vir ander gee.’ Ook Nina Smit stel dit baie goed: ‘Om bewus te wees van God se seën is een van die geheime van ‘n gelukkige lewe. Maar hierdie seën mag nie vir jouself gehou word nie. Jy moet dit ook deurgee na die mense om jou. Jy moet bereid wees om jou vreugdedae en vreugde uitsprake met jou vriende te deel’.

Hoe gereeld stuur jy jou vriende met ‘n seënwens weg? Die baie bekende Ierse seënwens is ‘n wonderlike voorbeeld hoe jy enigiemand wat jou pad kruis kan seën: ‘Mag die pad voor jou altyd reguit wees. Mag jy die wind altyd van agter kry. Mag die son jou gesig streel en die reën sag op jou lande uitsak. En – totdat ons weer ontmoet – mag God jou in die palm van sy hand vashou’.

Laat ons mekaar altyd net die beste toewens!

Teksverse:

Hy sal hulle wat vir die Here ontsag het, seën – die kleintjies saam met die grotes. Mag die Here julle meer maak, julle en julle kinders. Mag julle geseên word deur die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Ps. 115: 13-1520);

Mag die Here jou seën en jou beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.” (Num. 6: 24-2620)

Jesus Christus, die seën van die Here

Die aanhaling van Johannes Calvyn beskryf God se seën baie mooi: ‘God het die aardse seëninge tot ons voordeel gemaak en nie tot ons nadeel nie. Hy het al hierdie dinge aan die mensdom gegee sodat hulle sy goedheid sal prys’.

God het ook elke mens geseën met sy liefde, deur ons genadig te wees en Jesus Christus in ons plek te laat sterf, sodat ons verlossing kan kry van ons sondeskuld. Die genade is so groot dat ons dit dikwels moeilik vind om te glo. Kan dit so maklik wees? Ja, dit kan.

God het die behoefte in ons harte geplaas om gedurig na Hom op soek te wees. Elkeen van ons moet net ons hande ophef na Hom en Sy seëninge ontvang in die vorm van genade en vrede!

Ons vier weer hierdie week die herinnering van die Hemelvaart, wat deur die mense wat dit beleef het vir ons nagelaat is. Ons kan dus seker wees dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood, en ook opgevaar het na die hemel, waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader. Daarmee saam is ook die Heilige Gees vir ons bewillig om ons by te staan totdat Hy weer kom.

Groter seën as hierdie is daar nie!

Teksverse:

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3: 1620);

En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewiger verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig, en ewig! Amen!” (Heb. 13: 20-2120);

Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt. 28: 19-2020):