Stof tot nadenke: Die Drie-Eenheid

Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is. Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur mense hande bedien, asof Hy aan iets beheofte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “’Ons is ook van sy geslag.’

Hand. 17: 24-2820

God die Almagtige Skepper en liefdevolle Vader

In my jong dae is die drie-eenheid dikwels as die drie punte van ‘n driehoek geillustreer. Die misterie rondom die drie-eenheid van God was van die vroegste tye ‘n vraagstuk waarmee gelowiges of soekende mense geworstel het. Nêrens in die Bybel kry ons ‘n direkte verwysing na die Drie-eenheid nie.

Tot vandag toe wonder ons hoe dit werk. Maar is dit belangrik dat ons die drie-eenheid volkome verstaan?

Ons weet verseker dat God, die almagtige Skepper, alles geskape het. Niks kan bestaan sonder dat dit deur iemand ontwerp en uitgevoer is nie. In die Bybel word ons telkemale aan die wonderlike skeppingsdade van God herinner. Ons kan ook die wonder van die skepping elke dag om ons beleef in die natuur.

Teksverse:

Toe U ontsagwekkende dade gedoen het wat ons nie verwag het nie, het U afgedaal; vanweë u teenwoordigheid het die berge gebewe. Van die vroegste tye af het niemand dit gehoor nie, het geen oog ‘n god gesien nie, buiten U, wat optree vir dié wat op Hom wag. U kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op u paaie aan U bly dink…” (Jes. 64: 3-520);

Want die Here is ‘n groot God, ‘n groot Koning bo al die gode, in wie se hand die dieptes van die aarde is, en aan wie die kruine van die berge behoort, aan wie die see behoort. Ja, Hy het dit gemaak, en die droë grond met sy hande gevorm. Gaan in, laat ons in aanbidding buig en kniel, laat ons op ons knieë staan voor die Here, ons Maker. WEant Hy is ons God en ons is die volk wat Hy laat wei, die kleinvee van sy hand.” (Ps. 95: 3-720)

God is ook ‘n onverklaarbare liefdevolle Vader. Wat ons as mens, met al ons dwarstrekkerigheid en afwyk van Sy weë, so lief het dat Hy sy unieke Seun vir ons gegee het, sodat ons verlossing kan ervaar, beleef, en ons eie maak. In die woorde van Johannes Calvyn: ‘God is ‘n fontein van goedheid, van lewe, gawes en geleenthede, van versorging, genesing, bewaring en uitkoms, van vergifnis, genade en geluk, ‘n alleeroorvloedige fontein van ewige, stomende liefde.‘, asook: ‘God se wese is so onbegryplik groot dat ons sintuie sy majesteit nie ten volle kan waarneem nie.

Ook Leo Tolstoi se aanhaling: ‘God is die Een sonder wie niemand kan leef nie.’ verwoord ons behoefte aan die nabyheid van die Skepper, sonder wie ons inderdaag nie kan leef nie.

Jesus Christus die Seun en ewige Verlosser

Dan is daar die Unieke Seun, Jesus Christus, wat vlekkeloos vir ons sondes aan die kruis kom sterf het. Hy was ook van die begin af daar by God en was ‘n vreugde vir God.

Hy moes kom mens word sodat verlossing van die sondes vir ewig ‘n werklikheid kon word vir ons as mens. Alleen deur Sy voorbeeld te volg, kan ons nie verdwaal nie, soos die aanhaling van William H Faunce: ‘Geen mens kan Christus volg en verdwaal nie.’ so mooi stel.

Teksverse:

Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem en in Hom is daar geen sonde nie.” (1 Joh. 3: 520);

Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug” (Matt. 3: 16-1720);

Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, reegverdig te verklaar.” (Rom. 3: 23-2620)

Die Heilige Gees, ons Trooster en Leidsman

Die uitstorting van die Heilige Gees was ‘n ineengeweefde noodsaaklikheid van ons as gelowige mense se oorlewing in hierdie wêreld. Sonder die leiding en bystand, te alle tye, sou ons as mens dit nie alleen kon doen nie. Soos Johannes Calvyn dit so goed stel: ‘Ware onderskeiding tussen reg en verkeerd hang nie af van die skerpheid van ons intelligensie nie, maar van die wysheid van die Gees.’.

Teksverse:

…by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons verlosser.” (Tit. 3: 5-620);

“…wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie.” (1 Thes. 5: 18-1920)

Of ons dus die Drie-eenheid volkome verstaan, of nie; kan ons verseker weet dat die Drie-eenheid dit vir ons moontlik maak om gelowig te wees en ook in dankbaarheid en nederigheid die wedren met sukses te voltooi. Daarom verwys ons Apostoliese Geloofsbeleidenis na ons geloof in die drie-enige God, die Seun en Heilige Gees. As gelowiges is ons dus onlosmaaklik aan hulle verbind.

Aanhaling uit Apostoliese Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde, en in Jesus Christus sy eniggebore Seun, ons Here; Wat ontvang is van die Heilige Gees, … Ek glo in die Heilige Gees…