Stof tot nadenke: Genadegawes

Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

(Gal. 5: 2220)

Genadegawes van die Gees

Naas die genadegawe van die Verlossingsdaad van Jesus Christus, het God die Vader, deur Jesus Christus, ook die gawe van die Trooster vir ons bewillig. Deur hierdie genadegawes, het die Vader dit vir ons moontlik gemaak, om die vrugte van die Gees in ons lewens te ervaar.

Teksverse:

Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2: 3820)

Vrug van die Gees

Die vrugte van die Gees word een vir een vir ons in Galasiërs 5: 22 genoem.

  1. Liefde

Daar is verskillende verwysings en woorde om die liefde te beskryf in die Bybel, nl. Eros, Philia, Storge en Agape. Die eerste drie is beskrywings vir ons menslike liefde vir mekaar en vir familie en vriende. Die Agape liefde is egter slegs eie aan die Christendom.

Dit dui op ‘n “onoorwinlike welwillendheid; dat wat iemand ook al aan ons doen deur belediging, pyniging of vernedering, ons niks anders sal soek as wat in dié persoon se beswil is nie.” Dit beskryf die doelbewuste poging – wat ons alleen deur die genade en hulp van God kan regkry – om nooit iets anders as die beste te soek, selfs vir diegene wat die slegste vir ons soek nie.

Die liefde vra altyd: “Wat is die beste, kosbaarste en edelste wat ek kan gee?”

2. Blydskap

Dis so maklik om vrolik en bly te wees wanneer alles om ons goed gaan, maar wanneer dinge begin swaar gaan, verloor ons so dikwels ons lewensvreugde. Habakuk wys ons egter daarop dat al verloor mens alles, al werk niks uit soos jy verwag het nie, kan ‘n mens juig in God, ons Redder. Die Heilige Gees help ons om die krag van vreugde te ontdek.

Wanneer jou lewe deur die genade van God, die bloed van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees gereinig is, sal die vreugde in jou hart jou verstom. Dan sal ons ook soos die Psalmdigter kan getuig: “U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.” (Ps. 16: 1120)

3. Vrede

Die vrede van Christus is enig in sy soort, en heeltemal anders as die vrede wat die wêreld ons bied. Dis volkome en oorspan ons hele lewe. Dis ‘n vrede wat selfs te midde van swaarkry jou lewe deurspek. Dis konstant en wissel nie na aanleiding van ons emosionele toestand nie.

Bid dat die Heiige Gees jou hart brandend van verlange sal maak om hierdie vrug as deel van jou lewe te hê.

4. Geduld

Geduld word baie mooi deur Solly Ozrovech beskryf: ‘Dit is volharding wat nooit vrede maak met neerlaag of teleurstelling nie.’ Soos God met ons geduld gehad het deur die eeue, moet ons ook geduld met mekaar hê.

Ook hierdie vrug van die Gees kan ons van Hom vra. Geduld is ‘n noodsaaklikheid in hierdie ongeduldige wêreld. Dit help mens om elke situasie in en om jou te hanteer. Dit gee ons ook ‘n sekerheid van oorwinning. As ongeduld in jou lewe inkruip, vra vir die krag van die Gees om dit te bowe te kom.

Groei in geduld sal jou beskerm teen onreg wat jou aangedoen word, en dit laat die wêrerld onmagtig om jou verder te pynig.

5. Vriendelikheid

Dit is ‘n noodsaaklike deel van die lewe. Dis is ‘n doodgewone vrug van die Gees, maar tog ook uitsonderlik! Dit onderskryf die ander vrugte van die Gees. Ons moet Christus se gesindheid in ons dra. Die Afrikaanse gesegde: ‘Vriendelikheid kos niks’ omskryf dit so goed.

‘n Vriendelike woord kan ‘n heerlike verandering in ‘n ander mens se lewe maak!

6. Goedheidhartigheid

Goedhartigheid begin wanneer ons ‘n ander se nood en behoeftes raaksien. Die verhaal van die barmhartige Samaritaan, is die duidelikste voorbeeld hiervan. Hierdie vrug van die Gees is een van die ses vrugte wat verband hou met ons optrede teenoor ons medemense. Hetsy of hulle arm, verwerptes, sondaars of enige ander mens is, wat ons pad mag kruis.

Wees fyn ingestel op die behoeftes van ander, net soos Jesus Christus dit so wonderlik aan ons kom demonstreer het. Hy het ander mense raakgesien, en hulle nood en pyn besef en daarop gereageer met ‘n welwillendheid wat ons as mens soms verstom. Dit help ons om mense deur ander oë te beskou!

7. Getrouheid

God verwag van ons om getrou te bly aan Hom. Hy was getrou tot die dood van Jesus Christus aan die kruis, sodat ons verlos kan word. So verwag Hy dat ons aan Hom getrou sal bly.

Cicero het reeds in die vroegste tye genoem dat ‘Niks is edeler, niks is eerbaarder, as getrouheid nie. Getrouheid en waarheid is die mees geheiligde gawes van die menslike denke’ en Moeder Teresa se woorde: ‘God het ons nie geroep tot sukses nie, maar tot getrouheid’ gee dit perspektief. Maak dus getrouheid die fondament van jou lewe!

8. Sagmoedigheid/Nederigheid

Daar is drie belangrike dinge wat ons aanspoor tot nederigheid: a) Die wete dat ons nietige skepsels is voor die Skepper Vader; b) Ons sondigheid voor die Verlosser en Redder, Jesus Christus; en c) Die besef dat ons as geheiligde voor ons heiligmaker, die Heilige Gees staan. Dis dan wanneer ons verhouding tot ons naaste in opregte nederigheid geleef kan word.

9. Selfbeheersing

Dit is die vermoë om volkome meester van jouself te wees. Alleen kan ons dit nie vermag nie. Dit is die vrug van die Gees wat jou in staat stel om in beheer van jou begeertes en hunkeringe te wees. Dit is ‘n deug waar ‘n mens die meeste van hom of haarself kan maak, in diens van ander.

Wanneer ons Jesus Christus in ons lewe inlaat en beheer oorgee, leer ons om onsself te beheer. Die vrug van die Gees wat ons sterk maak in die gewone gang van die lewe. Dis nie ‘n senuagtige gespanne selfbeheersing nie, maar natuurlik en gemaklik, onder leiding van die Heilige Gees.

Teksverse:

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet is uit uit God gebore en ken God.” (1 Joht. 4: 720);

…nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op hoë plakke laat Hy my loop.” (Hab..3: 18-1920);

Vrede laat Ek vir julle na – my vrede gee Ek julle.” (Joh. 14: 2720);

…deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede.” (Ef. 4: 2-320);

Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op.” (Spr. 12: 2520);

Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Ef. 5: 920);

Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee.” (Open. 2: 1020);

Versorg soos herders die kudde van God in jylle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; n ie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.” (1 Pet. 5: 2-420);

Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.” (1 Kor. 9: 2720)

Mag elkeen van ons biddend die vrugte van die Heilige Gees vra!