Stof tot nadenke: Diensbaar

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

Spr. 9: 1083

Wat verstaan ons onder diensbaar?

Diensbaar is om gewillig, hulpvaardig en nuttig te wees in die diens van ander. Dit gaan dikwels gepaard met ‘n gesindheid van nederigheid en liefde. Dit beteken om ‘n direkte besluit te neem, om gawes wat jy van God ontvang het, te gebruik om God en medemens te dien. Selfs of juis sonder om erkenning te soek. Dis werklik ‘n moeilike keuse om te maak vir baie van ons. Ons wil almal so graag erkenning hê vir wat ons doen, of dit nou diensbaarheid of enige ander aktiwiteit is waar ons voel dat ons iets beteken.

Moeder Teresa, die rolmodel van diensbaarheid, het dit so goed beskryf: ‘God roep jou nie om ‘n sensasie te word nie, Hy roep jou om ‘n dienskneg te wees.’ Ook die aanhaling van Martin Luther verwoord die konsep van om diensbaar te wees, baie goed. ‘’n Christen is absoluut vry: meester van almal; onderdanig aan niemand. ‘n Christen is ook absoluut gebonde: dienskneg van God en diensbaar aan almal.’

Dit is ‘n opdrag wat ons soms in ons spore laat vassteek. Sal ek dit kan doen? Sal ek iemand anders se behoeftes voor my eie kan stel? God verwag dit egter van ons, en het Sy Seun, Jesus Christus gestuur om die uiterste diensbaarheid vir ons te kom demonstreer.

Teksverse:

Wie opreg lewe, dien die Here; wie krom paaie loop, het nie eerbied vir die Here nie.” (Spr. 14: 283);

Wie die Here dien, het daarin ‘n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling. Wie die Here dien, vind daarin ‘n bron van lewe; en dit laat jou die strikke van die dood ontkom.” (Spr. 14: 26-2783);

Gesindheid

Om diensbaar te wees, moet ons die regte gesindheid kweek. Daar is ‘n anonime aanhaling wat goed verduidelik hoe ons die regte gesindheid kan kry. ‘Die sleutel tot ‘n goeie gesindheid is om God toe te laat om ons gedagtewêreld te beheer, eerder as om ons eie sondige natuur beheer daaroor te gee.’ Ons moet onsself dissiplineer om almeer soos Jesus Christus te word.

Die keuse vir die regte gesindheid, is iets wat ek as mens, elke dag moet kies. Elke uur, elke dag, tussen die dinge wat ek kán doen, wat ek wil doen, en wat ek móét doen. Dis wanneer mens aktief besluit het om jou gesindheid te verander, dat God ons bystaan deur die Heilige Gees. Dan sal ons hierdie gesindheid suksesvol in ons lewens kan kweek.

Dan sal ons al hoe meer soos Jesus Christus kan wees. Dit sal ons help om gewillig, nederig en met liefde, mekaar te dien, sodat die Koninkryk van God uitgebou kan word.

Teksverse:

Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Fil. 2: 5-720)

Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel as moontlik vir Christus te wen.” (1 Kor. 9: 1983);

Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe.” (Rom. 6: 2220);

Maar aangesien ons gesterf het, is ons nou vrygestel van die wet waarin ons vasgevang was, sodat ons diensbaar kan wees in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie.” (Rom. 7: 620);

Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.” (1 Kor. 9: 2720)

Om God te dien

Die belangrikste is egter dat ons al hoe meer diensbaar aan God moet word. Net soos Jesus Christus diensbaar was om vir ons aan die Kruis te kom sterf. God se liefde vir ons is soms vir ons as mense onverstaanbaar, omdat ons so moeilik ander aanvaar en liefhet net soos hulle is. Ons moet egter ons gesindheid verander om meer en meer soos Jesus Christus te word.

Dis eers wanneer ons gesindheid reg is, dat ons volkome aan God en ons medemens diensbaar kan wees. Ons kan ons gesindheid vir ander mense verberg, maar God ken ons harte. Hy is alomteenwoordig en alomsienend. Ons kan nie ons gesindheid vir Hom wegsteek nie.

Om nederig te wees is noodsaaklik om diensbaar te wees. Ons moet gedurig waak, en ook hierin die voorbeeld van Jesus Christus volg. Ons gesindheid, waarmee ons dinge doen, is nie verborge vir God nie. Waak teen geestelike hoogmoed, want dit kan ‘n diensbare mens tot ‘n val bring.

Laat ons uitgaan en diensbaar wees. Allereers diensbaar aan God. In alles wat Hy van ons vra. Daarna sal ons, as gevolg van die verlossende genade van die kruisdood van Christus, en onder leiding van die Heiige Gees, met die regte gesindheid diensbaar kan wees vir ons medemens. Daar waar God ons heen lei.

Teksverse:

Maar, U, Here, U ken my; U sien my en toets of my hart by U is.” (Jer. 12: 320);

Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.” (Matt. 20: 25-2820);

Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan die tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien.” (Luk. 22: 26-2720);

As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.” (Joh. 12: 2620)