Stof tot nadenke: Vervulling en Sekerheid

…Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus

(Ef. 5: 18-1920)

Vervulling met die Heilige Gees

Ons het as mense ‘n behoefte om deur die Heilige Gees vervul te word. As gelowige Christene weet ons dat die leiding van die Heilige Gees noodsaaklik is vir ons voortbestaan. Larry Christenson stel dit so goed: ‘Dit is die verskil tussen leef in die Gees en leef in die vlees. In die vlees kan ons sekere dinge aanleer en vaardig word daarin. In die Gees is ons enigste vaardigheid egter die vermoë om die Gees te kan hoor en sy leiding te volg’.

Hoe kry ons dit reg? Duidelik nie uit ons eie krag nie. Ons kan net ons afhanklikheid van God se genadegawe besef en bid dat ons deur die Heilige Gees vervul word. Om tot hierdie besef te kom moet ons leeg word van ons eie ek! Ons moet ons swakhede besef en in nederigheid en opregtheid voor God neerbuig.

Die besef dat ons verlos is deur Jesus Christus help ons op die pad na vervuling deur die Heilige Gees. Dit is juis die Heilige Gees wat ons dring om tot hierdie besef te kom. Hy lei ons na volkome oorgawe.

Teksverse:

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11: 1320);

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1: 820);

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”” (Hand. 2: 3820);

”En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (Hand 4: 29-3120)

Beheer deur die Heilige Gees?

Dit is wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons suiwer. Wanneer ons in gebed vra dat die Heilige Gees al meer en meer beheer van ons lewe oorneem, dis dan dat God ons sal gee waarom ons vra. Dit is soms so moeilik om net oor te gee, maar die genade gawes wat saam met so ‘n oorgawe gaan, is kosbaar. Dis dan dat ons as gelowiges kan voortgaan, soms in baie moeilike omstandighede.

Wanneer ons ons harte volkome oorgee en toelaat dat die Heilige Gees beheer neem, dis wanneer ons nie eers hoef te wonder wanneer en wat om te sê in moeilike omstandighede nie. Die Heilige Gees gee die gedagtes, woorde en dade vir ons. Selfs wanneer ons die Woord nie altyd verstaan nie, lê die Heilige Gees vir ons die Waarheid oop, sodat ons kan verstaan.

Teksverse:

Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” Mark. 13: 1120);

Daarop gee Johannes aan hulle die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.’” (Luk. 3: 1620);

…en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14: 2620);

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” (Rom. 8: 13-1420)

Kan ek sekerheid hê?

Kan ek sekerheid hê dat ek met die Heilige Gees vervul is? Jesus Christus, en geloof in Hom en sy verlossingsdaad, is wat my sekerheid kan gee!

Ons word egter tog gemaan om nugter en verstandelik wakker te wees vir enige aanslae om ons weg te ruk van God af. Ons moet heilig wees; dus afgesonder vir God. Ons moet in alles wat ons doen, dink en sê altyd bedag wees of dit tot verheerliking van God sal lei. Dis soms so moelik vir ons as mens, omdat ons dikwels nadenkend dinge sê en doen.

Ons moet ook bedag daarop wees om nie in geestelike hoogmoed ander wat nog nie geestelik volwasse is, te veroordeel nie. Ons kan eerder in afsondering bid vir enigiemand en van God vra dat so ‘n persoon ook in alle opsigte tot die regte insig sal bring. Ons moet mekaar se verskillende stadiums in geestelike groei, in liefde en begrip aanvaar, en vir mekaar ondersteun waar ons kan, onder die leiding van die Heilige Gees.

Teksverse:

Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15: 520);

Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet. 1: 1320);

Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1: 15-1620);

Broers, ek verbeel my nie dat ek alles het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.” (Fil. 3: 13-1520)

Strome lewende Water

Die strome van lewende water wat reeds in Jesaja beskryf word, kry ons van Jesus Christus. Dis alleen deur tot geloof in God, die Vader en die Seun, Jesus Chrustes, wat vir ons verlossing verseker het, dat ons strome van lewende water uit ons binneste kan laat vloei.

Dit is wat die Heilige Gees in ons lewens inbring as genadegawe van God. Laat elkeen van ons in aanbidding vra vir die bystand van die Heilige Gees. Soos Dwight L. Moody die so mooi stel: ‘As ‘n mens sonder die Heilige Gees ‘n Christelike lewe probeer lei, kan jy net sowel sonder ore probeer hoor of sonder longe probeer asemhaal. Dit is onmoontlik.

Teksverse:

Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uiit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang….” (Joh. 7: 37-3920);

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” (Jes. 58: 1120);