“Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; want net soos Christus see lyding oorvloedignoor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus.”
2 Kor. 1: 3-520
Aanmoediging en Aansporing
Niemand van ons kan net altyd sterk wees en alle teenslae vol moed aanpak nie. Almal van ons beleef tye van klein en swak voel. Van voel asof ons nie kan voort gaan nie. Dit is dan wanneer ons as mense en medegelowiges mekaar moet aanspoor en aanmoedig. Ons moet mekaar onderskraging bied; in tye van moedeloosheid mekaar kan vertroos, aanspoor en bemoedig.
Volgens ‘n anonieme aanhaling is ‘Aanmoediging soos suurstof vir die siel’. In die 2020 vertaling word aanmoediging vervang met aansporing. Die aanhaling van JH, reken aanmoediging is ‘Soos ‘n reënbui in ‘n tyd van droogte, so is woorde van aanmoediging vir die moedelose’. Dit is ‘n konsep wat ons almal verstaan. Veral in Suid Afrika wat eintlik bekend is as ‘n droë land, en ons wat tans onder waterbeperkings staan. Die reën in so ‘n tyd bring heerlike verlossing van die droogte toestande.
Die aanmoediging van iemand kan egter ook ‘n aanspreking of tugtiging inhou, wat in liefde en besorgdheid geuiter word. Paulus het die Hebreërs aangemoedig en aangespoor om te volhard so dat hulle in eensgesindheid kan leef, en ons verseker dat God ons net tugtig omdat Hy ons liefhet.
Teksverse:
“Julle lewe moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede mt wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?”” (Heb. 13: 5-620);
“En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! Amen” (Heb. 13: 20-2120);
“En julle, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” (Heb. 12: 5-620)
Bemoediging
Bemoediging en aansporing is aksies wat baie nou verband hou met mekaar. As ons dus aansporing gee, lei dit ook tot bemoediging van die wat dit nodig het. Ons word verseker dat ons die gawe van bemoediging, asook die voorbeeld van bemoediging by God, die Vader, Jesus Christus, die Seun, en die Heilige Gees ontvang. Sodat ons hoop kan hê om die lewe te trotseer en staande te bly in geloof.
Laat ons mekaar aanspoor en bemoedig sodat ons ook op hierdie wyse die beeld van Jesus Christus kan uitdra. Sodoende word ook die eer en verheerliking gebring aan God, die Vader en die Heilige Gees, wat dit vir ons moontlik maak om nader aan die beeld van Jesus Christus te kom. Sodat dit wat Jesus in die lydenstyd moes trotseer, nie verniet was nie.
Teksverse:
“…wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen.” (Rom. 12: 820);
“Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang.” (Rom. 15: 420);
“En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader, van ons Here Jesus Chrisstus, die lof sal bring. ” (Rom. 15: 5-620)
“Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus.” (2 Kor. 1: 3-520)


