“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.”
Mark. 9: 4983
Beproewing
Elkeen van ons gaan deur tye van beproewing. Dae en geberurtenisse wat ons dikwels laat voel dat ons nie weer sal opstaan nie. Tog kan ons, wanneer ons vashou aan God se woord, besef dat wat ons ookal mag deurgaan, ons geloof versterk word in hierdie tye. Ons word gelouter vir die werk van die Here wat vir elkeen van ons voorlê.
Volgens Calvyn se woorde: ‘Jy moet jou aan algehele beproewing onderwerp om volmaakte vreugde te ondek’, kan ons self die volmaakte vreugde ontdek aan die einde van beproewings. Ook die Chinese spreekwoord: ‘Die juweel kan nie gepoleer word sonder wrywing nie; so ook nie die mens sonder beproewing nie’, stel dit baie mooi. Ons moet enige beproewing wat na ons kant toe kom, verduur. Daardeur word ons sterker en beter om werksaam te wees in God se koninkryk.
Teksverse:
“Beskou dit as groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.” (Jak. 1: 2-320);
“My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde.” (Klaag. 3: 31-3220);
“As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. En wat julle betref, het ons ‘n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.” (2 Kor. 1: 6-783)
Berou
Berou is iets wat ons moet toon, en waartoe beproewings ons dikwels dwing. Dis alleen deur berou oor die dinge wat ons verkeerd gedoen het, en deur vergifnis te vra, dat ons die oorwinning kan bereik. Die oorwinning wat ons, uit genade van God ontvang, deur Jesus Christus se lyding en oorwinning.
Daar is egter ook gevalle, soos die bekende geval van Judas Iskariot, waar die berou oor sy daad te laat gekom het. Vir hom was daar nie ‘n terugkeer na die veroordeling van die onskuldige Jesus Christus nie.
Teksverse:
“Want Johannes het na julle gekom met die pad van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie.” (Matt. 21: 3220);
“Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien” Hy het toe die silwerstukke in die tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang.” (Matt. 27: 3-520);
“Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe. ” (Luk. 17: 3-420)
“…is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het.” (2 Kor. 7: 920)
Bestemming
Om die bestemming, waarheen elkeen van ons oppad is, met sukses te bereik, is al die beproewings en die berou, die moeite werd. Ons as mens voel so dikwels verneder voor ander mense, maar onthou: ‘Dis nie belangrik wat mense van ons dink nie!”
Dis wat God van ons dink wat belangriker as enigiets is, wat ons kan deurgaan hier op aarde. Dan sal ons ook soos Daniël kan rus en opstaan vir ons bestemming aan die einde van die dae. Laat ons dus die wedloop met ons oë gerig hou op Christus, wat die eindbestemming vir ons moontlik gemaak het, deur die beproewings wat Hy moes deurmaak.
Teksverse:
“Jy sal kan rus en daarna opstaan vir jou bestemming aan die einde van die dae.” (Dan. 12: 1320)
“Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word,…” (Luk. 2: 3420)


