“Elke woord van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.”
Spr. 30: 583
God se beloftes
Wanneer God ‘n belofte maak, is Sy ja ja, en Sy nee nee. Dit is die Een wat ons kan vertrou. Beide Dawid en Salomo het hierdie waarheid ervaar en dit is daarom vir ons in die Bybel opgeteken.
Selfs, die twee swanger vrou, Elizabeth en Maria, het geglo dat God se beloftes aan hulle waar sal word, en dit was so. Dit is die een ding waaraan ons as gelowiges kan vashou. Simeon, wat ‘n gelowige man was en die openbaring deur die Heilige Gees ontvang het, dat hy nie sou sterf voordat hy die Geslafde van die Here sou sien nie, het vasgehou aan hierdie belofte.
Teksverse:
“Ek wil in aanbidding buig na u heilige tempel: ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou; Want U het u beloftes bo al u roem laat uitstyg.” (Ps. 138: 220);
“Die vrees vir mense word ‘n valstrik; maar wie op die Here vertrou, word beskerm.” (Spr. 29: 2520);
“En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.” (Luk. 1: 4520);
“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “amen” aan God, tot sy eer.” (2 Kor. 1: 2020);
“Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, ‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien,…” (Luk. 2: 29-3020)
Genadegawe
Hierdie week wat voorlê dink ons weereens aan wat Jesus Christus moes deurmaak vir ons. Dit was vir elkeen van ons die grootste genadegawe. Die intog in Jerusalem op ‘n jong donkie, die vervolging en in hegtenisneming van die onskuldige, en unieke Seun van God, die veroordeling en die kruisdood. Dit het gelei tot die uiteindelike leë graf, opstanding en verheerliking van Christus.
Sonder hierdie liefdesdaad van Jesus Christus, sou daar geen hoop en toekoms vir enigeen van ons wees nie. Ons sou verlate in hierdie wêreld moes voortploeter. Maar Christus se bereidheid om deur hierdie donker ure te gaan, het dit vir ons moontlik gemaak om verlossing te ervaar. Dit is God se genadegawe aan elkeen van ons. Daar is geen groter gawe, as dit nie. Ons word verseker dat die wêreld reeds oorwin is!
Die verlossing gee elkeen van ons vryspraak van ons sondes, wanneer ons Jesus Christus as Verlosser erken en aanvaar.
Teksverse:
“Kyk, daar kom ‘n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.” (Joh. 16: 32-3320);
“Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!”” (Luk. 19: 3820);
“Die volgende dag het die groot skare wat vir die fees gekom het, en wat gehoor het dat Jesus kom, palmtakke gevat en Hom tegemoetgegaan en aanhoudend uitgeroep, “Hosanne! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! En: “Die Koning van Israel!” En Jesus het ‘n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan: “Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk jou Koning kom, Hy sit op ‘n donkievul.” (Joh. 12: 12-1520);
“En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot vryspraak van baie oortredinge gelei.” (Rom. 5: 1620)
Vir elkeen!
Hierdie genadegawe is uit Sy liefde deur God vir ons moontlik gemaak. Daar is niks wat elkeen van ons kan doen om verlos te word nie. Elkeen van ons was vervreemd van God, voordat ons Jesus Christus as Verlosser aanvaar het. Maar ons moet glo! Laat ons groei in kennis van God, want daardeur groei ons in geloof. Dan kan ons mekaar ondersteun in geloof en liefde.
Dit alles is vir ons moontlik omdat die Heilige Gees ons lei en help. Ons is nooit alleen nie. Ons hoef nie die pad alleen aan te durf nie. Elkeen van ons kan net in dankbaarheid voor God, die Vader, in nederigheid leef. Laat ons besef dat die ongeëwenaarde genadegawe vir elkeen van ons daar is!
Teksverse:
“…aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.” (2 Pet. 1: 1-220);
“..sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.” (Joh. 3: 15-1720);
“Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Hom versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly,….” (Kol. 1: 21-2320)


