“Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.”
Heb. 10: 1020
Heilig en afgesonder?
Wanneer mens ‘n gelowige Christen is, het jy sekerlik al iewers in jou lewe beleef hoe iemand met nydigheid sê: “O, jy dink jy is so heillig!” Dan krimp mens soms ineen van die seer. Ons wil almal so graag aanvaarbeer wees vir die mense in ons nabyheid. Mense waarmee jy graag vriende wil wees. Aardse mense wat dink dis reg om almal om hulle se foute uit te wys.
Maar eintlik is dit die grootste kompliment wat enigeen vir jou kan gee. Sê dus net Dankie, wanneer jy as heilig uitgekryt word, want om as heilige uitgekryt te word, beteken dat jy jou afgesonderdheid vir God reeds uitleef. Want ons, as gelowiges, is deur Jesus Christus se offer vir eens en vir altyd heilig gemaak.
Hoe verkry ons heiligheid?
Charles Colson stel dit so goed: ‘So vreemd en outyds soos die idee dalk klink, is die taak van die kerk nie om mense gelukkig te maak nie, maar om hulle heilig te maak.’ Die kerk moet ons as gelowiges dus begelei om afgesonderd vir God te wees. Om anders te wees as die wêreld, wat God nie ken nie.
Ook Braam Hanekom se aanhaling ‘Heiligmaking begin veral by ‘n nuwe manier van dink. Hoe meer tyd jy saam met God deurbring, hoe groter word jou gerigtheid op Hom, en stelselmatig word jy meer en meer bewus van Sy teenwoordigheid in jou lewe’.
Teksverse:
“Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef:….” (1 Thes. 4: 320);
“– ter will van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. ” (Rom. 6: 920)
Kan ons dit alleen reg kry?
Defnitief nie! Ons moet besef dat ons nie uit ons eie krag heilig of afgesonder vir God kan leef nie. God het elke gelowige uitgekies en daarom kan ons deur die offer van Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees afgesonderd lewe vir God.
Dit is die Vader self wat dit vir ons moontlik gemaak het om in afsondering vir hom te leef. Dit beteken nie dat ons totaal afgesonder moet leef nie, maar ons moet so leef dat die hele wêreld kan sien wie by ons in beheer is.
Teksverse:
“Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees..” (Joh. 17: 16-1920);
“…maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heillig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel -…” (Kol. 1: 2220);
“En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus Christus kom, Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.” (1 Thes. 5: 23-2420)
Maak die keuse om in geloof afgesonderd vir God te leef!
Laat ons anders wees en elke dag die keuse maak om in ooreenstemming met God se liefde en leiding te leef. Laat die wêreld in ons lewens die wonderlike omwenteling in ons as gelowiges se lewens kan raaksien. Laat hulle verstom staan oor die liefde wat God in ons vestig deur Sy liefde vir ons. Ons wat nie volmaak is nie, maar wat in die skadu van die kruis tog nader en nader heilig kan leef vir God.
Teksverse:
“Ons egter broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, deurdat julle die waarheid glo.” (2 Thes. 2: 1320);
“Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1: 13-1620);
“Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het.” (Fil. 3: 1220)


