“…gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.”
(Fil. 1: 1120)
Geloofsvreugde…
Paulus se wens vir die Fillipense, dat hulle geloofsvreugde sal ervaar, is so ‘n pragtige beskrywing van die rede waarom ons die Vader, Seun en Heilige Gees kan loof en prys. Die genade wat ons as nietige mense ontvang het, omdat God ons so lief gehad het, dat Hy ons nie wou laat verlore gaan nie. Dit is genoeg om ons in vreugde te laat groei. Dit gee ons ook ‘n innerlike vrede.
Om uiting hieraan te gee is so oud soos die berge self. Dit Bybel het menige Psalms waarin daar gejubel word deur die digters. Hier word God se grootheid en getrouheid besing. Dit inspireer nog steeds mense wat tot geloof kom in Jesus Christus, wat sodoende ook die nabyheid van God beleef. Daar is nie keer aan die dankbaarheid wat oorgaan in ‘n skeppingsdrang om alle eer aan God te gee nie.
Liedboek 449 se woord van die 4de vers stel dit onomwonde:
‘Ons loof U, Vader, Seun en Gees, Ons wil U, Heer, gehoorsaam wees. Aan U behoort ons lewe. Heer driemaal heilig, hoor die lied, Drie-enig God, wat ons U bied -Sing lof, sing al wat lewe!’
Die ryke verskeidenheid van liedere in menige tale spreek van ‘n diepe aanraking van gelowiges om tot eer van God te sing en Hom te prys.
Teksverse:
“Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde ervaar.” (Fil. 1: 2520);
“…sodat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God wat my van blydskap laat jubel, en sodat ek U, o God, my God, kan prys met ‘n lier.” (Ps. 43: 420);
“Juig tot eer van die Here, o ganse aarde! Dien die Here met blydskap, kom in sy teenwoordigheid met ‘n gejubel.” (Ps. 100: 1-220);
“. ..dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en ‘n gesug sal wegvlug.” (Jes. 35: 1020);
“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Rom. 15: 1320);
“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.” (1 Pet. 1: 8-920)
Dankbaarheid se uiting
Dit is wanneer mens tot die besef kom hoe groot die liefde van God vir ons as mens is, selfs te midde van moelike omstandighede, dat mens nie stil gemaak kan word nie. Paulus is so ‘n goeie voorbeeld. Hy wat te midde van vervolging en swaarkry, sy vertroue bly plaas het in God se hand.
Dit is God self wat die lofsange in ons harte plaas. Ons kan nie anders as om die lied en leiding van die Heilige Gees te volg nie. Hier is Liedboek 450 ‘n wonderlike voorbeeld van hoe liedere wat in opregtheid gesing word, geskep is om God te loof en Hom te prys vir Sy genade, so onverdiend!
Liedboek 450: Vers 2:
‘Woord uit Woord, Lig uit Lig, Kom as mens op aarde. Bo begrip, bo ons verstand is u grootheid, Heer. Eer die Vader, eer die Seun, eer die Gees as God en Heer. Eer ons God as Majesteit; Loof Hom tot in ewigheid.’
Mag niemand ons stil kry, wanneer ons lof en eer aan God gee nie. Die lied en sang is ‘n wonderlike manier om God te loof en prys, maar ook ons lewens moet ‘n lofprysing tot eer van Jesus Christus se Verlossingsdaad wees. Hierin kan ons vertrou op die bystand van die Heilige Gees, wat die liefde van Christus in ons bewerk en die woorde in ons harte plaas.
Teksverse:
“Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!” (1 Pet. 1: 320);
“Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” (1 Pet. 1: 620);
“Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. U wat gebede verhoor – na U moet alle mense kom.” (Joh. 14: 2620);
“Hy het ‘n nuwe lied in my mond gelê, ‘n lofsang vir ons God.” (Ps. 40: 420)


