Stof tot nadenke: Lewe in God se Liefde

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.
1 Joh. 3: 1

Hoe kan ons in die liefde van God leef? Kan ons teen ons sondige natuur in geborge raak in die liefde van God? Is dit selfsugtig van ons om in die liefde van God te leef? Of moet ons liewer vra hoe kan ons nie in God se liefde leef nie? 1 Joh. 3: 1 bevestig weereens die liefde wat God vir ons het, sodat ons Sy kinders genoem kan word. In Joh. 1: 12 hoor ons duidelik “Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.” Ons kan dus elkeen ‘n kind van God wees deur in Jesus Christus te glo. Dit is egter nie gebaseer op ‘n voorgee glo nie. Elkeen van ons sal self weet hoe opreg ons geloof in God die Vader, die kruis-offer van Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heililge Gees is. Dit is dus ‘n persoonlike ervaring en belewing.

Ons staan aan die vooraand van ‘n Nuwe Jaar hier op aarde. Hier waar die wat glo nie deur hierdie wêreld geken word nie (1 Joh. 3:1). Glo ons soos die Psalmdigter (“God se weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil” (Ps. 18:11)). Ons hoef nie bang te wees nie, want ons het sopas weer die koms van Jesus Christus na hierdie aarde gevier soos deur die Engelkoor gesing is (Luk. 2: 10-11). Ons moet egter ook bedag wees op die dwalinge van beginsellose en vals leraars (“Julle dan. Geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet -wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet. 3: 17-18)).

Mag ons dus almal soos Paulus se wens in Kol 2: 2-3 (“Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde saamgebind bemoedig mag word, en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.”) groei in ons begrip van Christus se liefde. Mag ons Sy woorde gehoorsaam, want dan kan die liefde volmaak in ons word. (“…maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat on in Hom is.” (1 Joh. 2: 5)). Dan sal ons kan lewe in die liefde van God, want Christus het belowe “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde…” (Joh. 15: 9). Dit is moontlik om so lief te hê want daar is belowe in Rom. 5: 5 “En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

My Nuwe Jaars wens vir elkeen van julle is dat julle in sekerheid in die liefde van God sal kan lewe, want die onwrikbare liefde van God gee ons die versekering dat “As God vir ons is, wie kan teen ons wees” (Rom. 8: 31). Weet egter dat dit nie noodwendig beteken dat daar nie onsekerhede in en om ons gaan wees nie, maar ons sekerheid lê daarin dat ons die skild van God se liefde het om ons teen die aanslae van die lewe te beskerm. Van Hom alleen kry ons krag deur Sy liefdes-skans (“Soek die Here en sy krag, soek voortdurend Sy teenwoordigheid op” (1 Kron. 16: 11); “God is die Een wat my met krag omgord en my pad gelyk maak” (Ps. 18: 33)). In Sy teenwoordigheid kan ons sing en jubel (“Maar ek, ek sing van U krag, In die môre jubel ek oor U troue liefde, want U was vir my ‘n toevlugsoord, ‘n skuilplek op die dag van my nood.” (Ps. 59: 17))

Stof tot nadenke

Moenie bang wees nie. Kyk ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here
Luk. 2: 10-11

Reeds in Jesaja belowe God aan ons dat ‘n seun aan ons gegee gaan word, vir die uitbreiding van Sy heerskappy (“Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde,…” (Jes. 9: 5-6)). Hierdie belofte word waar in die geboorte van Jesus Christus, soos deur die engel aan Josef verskyn het en hom weereens aan hierdie belofte herinner het. (“Sy sal geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sonde verlos” (Matt. 1: 21)). Johannes verseker ons dat God vlees geword het en onder ons kom woon het (“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” (Joh. 1: 14))

Johannes die Doper wat gestuur is om Jesus met water te doop, het die doop van Jesus met die Heilige Gees beleef, soos deur God belowe. (“ Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.” En ek het gesien en getuig, “Hy is die Seun van God.” (Joh. 1: 33)). Johannes verseker ons ook dat as ons Jesus Christus aanvaar het, kan ons kinders van God word omdat ons in Sy Naam glo. (“Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.” (Joh. 1: 12)). Ook in 1 Joh. 3: 1 vind ons die liefde van God vir ons (“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!”) indien ons sy woorde gehoorsaam. (“ …maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword,…”(1 Joh. 2: 5)). Wanneeer oons Gos se genade gawe aanvaar is dit oorvloedig ook in geloof en liefde wat ons deur Jesus Christus beleef (“Ons Here se genade oor my was oorvloedig, en daarmee saam ook nog die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is.”(1 Tim. 1: 14))

In Christus se eie woorde: “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde…” (Joh. 15: 9). In Paulus se woorde vind ons die belofte dat niks ons sal kan skei van die liefde van God in sy grootste geskenk deur Christus Jesus nie (“Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus ons Here. ” (Rom. 8: 37-39)). Ook beskaam die hoop in die groot liefdesgeskenk wat ons herdenk in hierdie Christus-feestyd nie. (“En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. ” (Rom. 5: 5)). In hierdie klein kindjie wie se geboorte ons tans herdenk is die liefde en genade van God volledig, vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het, vasgevat (“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. ”(Joh. 3: 16-17)). Numeri verseker ons ook van Die Here se troue liefde (“Die Here is geduldig, en oorvloedig in troue liefde…” (Num. 14: 18)). Ons kan dus met oordadige vreugde ook soos die Psalmdigter die Here prys vir Sy troue liefde (“Prys die Here, want Hy is goed; ja ewig duur sy troue liefde” (Ps. 106: 1)). Mag God die Vader, Jesus Christus die Seun, en die gemeenskap van die Heilige Gees by julle almal wees in hierdie feestelike herdenkings-tyd (“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal”(2 Kor. 13: 13)) omdat God Hom oor ons ontferm het (“Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos. (Eff. 2: 4-5)).

Stof tot nadenke: Christus se Vrede

“Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie”
Joh. 14: 27

Jesaja wat reeds die koms van Jesus Christus voorspel het, het onder andere vir Christus die Vredevors genoem. (“Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, heerser oor alle magte, sal dit doen” (Jes. 9: 5-6)). Die vraag ontstaan oor hoe lyk hierdie vrede wat Christus vir ons sou bring? Ons as mens het altyd ons eie menslike perspektiewe en verstaan nie noodwendig presies wat God se bedoeling is met die vrede wat God vir ons wil bewerkstellig nie.

Daar is soveel gevalle van oorlog wat in die Bybel beskryf word, en wat die persepsie van wat vrede behels by ons mense laat posvat het (“As hulle egter nie met jou wil vrede maak nie, maar teen jou wil oorlog voer, dan moet jy die stad beleër “ (Deut. 20: 12); “Sê daarom, ‘Kyk, Ek bied vir hom my verbond van vrede aan” (Num. 25: 12); “Maar die Here së vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie, jy sal nie sterf nie! Gideon het toe daar ‘n altaar vir die Here gebou en dit genoem” Die Here is vrede”” (Rig. 6: 23-24); “Toe al die die konings wat aan Hadad-Eser onderdanig was, sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle met die Israeliete vrede gesluit en was aan hulle onderdanig” (2 Sam. 10: 19 sien ook 1 Kron. 19:19)), dat vrede te doen het met menslike vrede, waar daar geen oorloë meer sal bestaan nie (“Hiskia së toe vir Jesaja: “Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Sal daar dan nie tog maar net vrede en bestendigheid in my tyd wees nie?” (2 Kon. 20: 19)), en waar ons mense op aarde in vrede saam sal woon (“My seun, my onderrig moet jy nie vergeet nie, en my gebooie – jou hart moet daarby hou; want die lengte van jou leeftyd, die lewensjare en vrede sal dan vir jou vermeerder word.” (Spr. 3: 1-2)).

Wanneer ons egter kyk na wat Jesus Christus sê oor die vrede wat Hy bring, kry ons duidelik ‘n ander prentjie. Jesus sê baie duidelik in Matt. 10: 34 (“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard”) Hoe verstaan ons dan hierdie stelling? Wanneer ons na Jesaja se stelling in Jes. 48:22 kyk (“Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê die Here”) kom die vraag by ons op of die vrede van God dalk net vir ‘n sekere groep mense bedoel? Die lied van die Engele vir die skaapwagters, gee ons reeds ‘n aanduiding: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het!” (Luk. 2: 14), en die baie bekende “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3: 16) uit Christus se gesprek met Nikodemus.

Dan begin mens besef dat ons begrip van Christus se vrede totaal verkeerd is. Die vrede wat Christus vir ons nalaat (Joh. 14: 27) is anders as die vrede wat die wêreld vir ons gee. Dan begin ons verstaan dat “ denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Heilige Gees bring lewe en vrede.” (Rom. 8: 6) en “Die koninkryk van God is tog nie ‘n saak van kos en drank nie, maar van geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14: 17). Ons moet besef wat dit is, wat vir ons vrede kan bring (Luk. 19: 41) sodat God nie oor ons hoef te huil, soos Christus oor Jerusalem en sy mense gehuil het nie (Luk. 19: 41-42). Ook is dit die vrug van die Gees “…liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid…” (Gal. 5: 22) waarby ons vrede kan vind, dié ware vrede soos vir ons beloof word in Fil. 4: 7 (“En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak”). Dan sal ons mense in opregtheid kan groet met “Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus” (Luk. 24:36; Rom. 1: 6-7; 1 Kor. 1: 3 & 2 Kor. 1: 2). Christus verseker ons dat Hy reeds die wêreld oorwin het, sodat ons in Hom kan vrede vind (“Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry, maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin” (Joh 16: 33)).

Vrede vir julle!

Stof tot nadenke: Wat gee ons vreugde?

Die koninkryk van God is tog nie ‘n saak van kos en drank nie, maar van geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees
Rom. 14: 17

Wat is dit wat elkeen van ons vreugde verskaf in hierdie aardse lewe van ons? Ons vind ons tydelike vreugdes, wat dikwels nie juis langdurig is nie, in allerhande aardse plesiertjies. Ons hou van fees vier, familie en vriende om ons hê. Baie van ons vind ons vreugde daarin om alles wat ons wil hê te kan koop en te geniet. Maar bring dit regtig ware en blywende vreugde. Die blydskap met hierdie aardse dinge is so dikwels van kortstondige duur. Die oomblik wat die nuutheid van daardie lank begeerde ding oorgewaai het, bly ons agter met nog ‘n hol kol…wat ons so dikwels met ‘n volgende item probeer vul, wat ons dink ons gelukkig sal maak; maar doen dit regtig?

Reeds in Gen. 31: 27 worde ons verseker dat God ons met vreugde sou wou sien gaan, soos Hy so graag vir Adam en Eva wou doen (“Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere.”) In Jes. 35: 10 vind ons die woorde: “dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met juberkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en gesug sal wegvlug.” Ons is so hardkoppig en wil so dikwels nie glo wat deur die profete voor ons neergelê word nie. Dit kan tog nie so maklik wees soos in Miga 7: 18 vir ons vertel dat God ons vergewe nie (“Wie is ‘n God soos U? U is ‘n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde.

Ons word aangespoor om in vreugde te leef oor God wat ons so lief gehad het (Joh. 6: 3) en dat on “…vol vreugde (moet) wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand gewaag het” (Deut. 12: 18). Ons moet dus alles wat ons doen met blydskap en vreugde doen, want dis ‘n gawe van Bo. Ons kan ons toevlug in die Here vind, en hoef nooit neerslagtig te wees nie (“Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug” (Neh. 8: 11)). Net soos Job kan ons ons vreugde vind in die Almagtige Vader, van Hemel en aarde, deurdat ons ons gesig na Hom ophef. (“Ja, dan sal jy vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef.” (Job 22: 26)). Dan sal ons ook soos die Psalmdigter God kan loof omdat Hy ons vreugde in ons harte gee, meer as wat enige aardse plesier ons vreugde kan gee. (“U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense koring en nuwe wyn volop is” (Ps. 4: 8): “U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid, liefikhede in U regterhand, vir altyd” (Ps. 16: 11); “Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer…” (Ps. 37: 4)). Ons kan God vra om ons weer lewend te maak volgens Sy woord (Ps. 119:24-25) en indien God ons aanvaarbaar vind gee Hy ons kennis en vreugde (Pred. 2: 26)

Mag ons in hierdie feestelike tyd waar ons die Seun van God se geboorte herdenk, uitbundige vreugde en blydskap beleef soos wat aan Maria beloof is in Luk. 1: 14 (“Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboortte”); en ook die vreugde wat ervaar is deur die wyse manne (“Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar” (Matt. 2: 10)). Dan sal ons ook soos Paulus kan sê “U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur U teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul” (Hand 2: 28). Mag ons ook soos Petrus sê dat ons Hom liefhet al het ons Hom nie gesien nie, en dat ons sal kan jubel met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. (“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, …” (1 Pet. 8)

My hoop vir elkeen van julle in hierdie feestyd is dat: “…die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom. 15: 13).

Stof tot nadenke: Waarop hoop ons?

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo
Eff. 1: 18-19

In ons jong dae is ons hoop so dikwels op die materiële en aardse dinge ingestel as gevolg van selfsugtige redes. Dinge wat dikwels deur ouers aangewakker word, bewustelik of onbewustelik, omdat dit so moeilik is om die onsienbare dinge aan ‘n kind te verduidelik. Ons hoop om gelukkig te wees; om bekendheid te verwerf; om baie ryk te wees; om beter af te wees as die meeste mense om ons; om slim te wees; om geleerdheid te kry. Wanneer jy in ‘n opregte christelike huis groot word, word jy reeds vroeg in jou lewe blootgestel aan die genadegawe van hoop wat daar is in die geloof. In 1 Kor. 13: 13 (”En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan is die liefde”) word hoop, saam met die geloof en die liefde as die drie belangrikste gawes van ‘n Christen uitgewys deur Paulus. Dis in hierdie wete dat ons ook moet begin besef dat ons as kinders ‘n lewenspad gehad het om te loop wat ons by volwassenheid moet uitbring, soos Paulus so mooi gestel het in 1 Kor 13: 11 (“Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind”). Ons moet ook so groei in die hoop in ons harte.

Hoe ouer ‘n mens word, en deur goeie en traumatiese lewenservaringe, besef mens al hoe meer dat die aardse verganklikheid nie enige behoudende dinge in mens se lewe kan bewerkstellig nie. Paulus waarsku in 1 Tim.6: 17 (“Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet”). Ook in Heb. 6: 19-20 word ons verseker (“Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan.”). Ons word ook gemaan om nie net in hierdie lewe ons hoop op Christus te vestig nie (“As ons net in hierdie lewe ons hoop o Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”). Ons moet sterk staan in geloof en ons nie laat losruk van ons geloof en hoop in die evangelie van Christus nie (Kol. 1: 23 “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie”)

Waarop moet ons hoop? In Rom 15: 13 word ons duidelik daarop gewys en dat ons dit nie uit eie krag kan regkry nie (“ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”) Hoe kry ons hierdie hoop? In Rom. 5: 4-5 word dit vir ons duideliker (“…en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy Liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”). Laat ons dan in volharding hoop (Rom. 8: 25-26; “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by… ”) omdat ons deur die Heilige Gees tot geloof gekom het (Rom. 5: 3; “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God”). Dan sal ons ook kan sê: “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Kla. 3:24) en saam met die Psalmdigter kan sê: “Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here sy God -, Hy wat hemel en aarde gemaak het, die see, en alles wat daarin is, – Hy wat trou bly tot in ewigheid;” (Ps. 146: 5-6).

Stof tot nadenke: Koninkrykstyd en Danksegging

…maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie,…
Gal. 6: 8-9

DIe Kerklike jaar word opgedeel na aanleiding van die genadegawes wat God vir ons gegee het. Tans is ons in die Koninkrykstyd wat net na Pinkster begin en eindig teen die einde van November. Soos die naam van die tyd aandui gaan dit oor die heerskappy van die drie-enige God (Skepper, Verlosser en Trooster). In die tyd voor die Hemelvaart het Christus die evangelie van die koninkryk aan die apsostels verkondig, sodat Hy hulle kon stuur om die evangelie te gaan verkondig. (Matt 24: 14 “Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies”); ook in Mark. 13:10 “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” en in Luk 4: 43 s136 Christus “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is ek gestuur

In Luk. 16:16 noem Lukas dat “Tot en met die tyd van Johannes (die Doper) het die Wet en die profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig…”. Nadat Jesus die apostels die mag gegee het oor siektes en om demone uit te dryf, het Christus hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en om siekes gesond te maak. (Luk. 9: 1-2). Dit alles is moontlik gemaak deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat in en deur mense werk. Ons kan hierdie koninkrykstyd nie in volvoering bring sonder die krag en hulp van die Heilige Gees nie. In Mark. 13: 11 word die belofte gegee dat ons nie op ons eie krag hoef te reken nie, want die Heilige Gees sal deur ons werk en woorde in ons mond lê, waar en wanneer dit mag nodig wees. (“…moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.”

Die koninkrykstyd is nie ‘n tyd wat behoort te eindig teen einde November nie. Dit is ‘n tyd wat gedurig in ons lewe moet posvat, en ‘n lewenstyl moet word. Die kerklike jaar instellings is herinneringe aan die genadegawes wat God, die Vader, Christus die Seun en die Heilige Gees in ons lewens bewerkstellig het. Die Koninkrykstyd is hier, sodat ons God se koninkryk kan help uitbou, getuies vir die genadegawes wat elke dag in ons lewe posvat en oorneem kan wees. Sodoende gee ons totaal oor aan die beheer van die Heilige Gees. Dan sal ons ook soos die apostels “…krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle (ons) kom en julle (ons) moet my getuies wees…” (Hand. 1: 8). Dan sal ons ook soos die Psalm digter en Jesaja God se lof in geloof kan besing (“Verbly julle in die Here, regverdiges, en prys sy heilige Naam” (Ps. 97: 12) en “ Besing die Here, want verhewe dinge het Hy gedoen; dit moet bekend word oor die hele aarde” (Jes. 12: 5). Ons sal dan in dankbaarheid leef en elke dag met danksegging begin.

Stof tot nadenke: Luister en doen

Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.
Jak. 1: 25

Ons wonder dikwels of dit geloof alleen is wat ons red. Is dit voldoende om net volkome te glo dat Jesus Christus my Verlosser is? Dit is duidelik deur die hele boek van Jakobus, waarin hy briewe gestuur het vir die twaalf stamme in Diaspora, dat ook hulle soms met hierdie vraag geworstel het. Jakobus maan hulle egter telke male dat om net te glo nie voldoende is nie. In Jak. 2: 4 vra Jakobus “Wat baat dit broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie?” en in Jak. 2: 20 “Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is?”, in Jak. 2: 24 “Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.”, en in Jak. 2: 26 “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

So dikwels hoor mens egter die aaname dat ons swak en sondig is, en dus nie altyd aan die vereistes van ‘n gelowige lewe kan voldoen nie. Tog skryf Jakobus in Jak. 1: 12 “Gelukkig is die man (of vrou) wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof aan hulle wat Hom liefhet.” Ons hoor ook dikwels hoe mense God verkwalik wanneer daar versoeking oor hulle pad kom, of dat God aangeval word wanneer slegte dinge in hierdie aardse bestaan van ons gebeur. Ook hier gee Jakobus ‘n duidelike antwoord. “Laat niemand wat versoek word , sê “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie , en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.” Jak. 1: 13-15

Die een ding wat Jakobus ons teen waarsku is die tong. In Jak. 1: 26 waarsku hy ons dat “As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself, so ‘n mens se godsdiens is vergeefs.” Hy waarsku ons dat die tong ‘n vuur is en “‘n wêreld van groot ongeregtigheid” (Jak. 3: 6) is en dat dit die hele liggaam kan besoedel. Dit is iets waarteen ons moet waak, want die tong kan nie deur ‘n mens getem word nie. “Dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskape is.” Jak. 3: 8-9.

Daar is egter hoop, want Jakobus noem dat indien ons wys en verstandig is, dat ons dit “deur goeie gedrag (sy/en) dade met sagmoedigheid ons wysheid kan toon.” Jak. 3: 13. In Jak, 4: 11-12 maan hy ons egter om nie van mekaar kwaad te praat nie, want “ wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. Wanneer ons die wet oordeel is ons nie doeners nie maar regters.” Maar “daar is net een wetgewer en regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel” Jak. 4: 11-12.

Laat ons dan in die wet van vryheid inkyk en gelukkig wees in wat ons doen, omdat ons nie hoorders is sonder om te doen nie. Deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees is ons daartoe in staat om versoekings teen te staan en met hul hulp en bystand kan ons die tong onder beheer hou. Nie uit ons eie krag nie maar deur hulp en genade van God.

Stof tot nadenke: Water van die lewe

My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.
Jer. 2: 13

Dikwels in die Ou Testament speel water ‘n belangrike rol (bv. In Eks. 2: 10 “Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want”, het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.””; In Eks. 14: 22-29 waar die Israeliete droogvoets deur die see getrek het en die agtervolgende Egiptenare verdrink het nadat die see se walle weer deur God se beheer terug gevloei het; In Rig. 7: 6 word Gideon se vegters gekies na aanleiding van die manier wat hulle water gedrink het; en so kan ons talle voorbeelde noem). Selfs in hierdie lewe weet ons dat ons nie kan oorleef sonder water nie. Ons liggame bestaan uit meer as 75% water, en dit is dus vir ons onmoontlik om sonder water te lewe.

In Jer. 2: 13, word daar egter verwys na ‘n ander bron van water. In Job. 8: 11-13 noem Job dat riet en vleigras die water van die moeras nodig het om te groei, anders sal dit baie vinnig verdor. “So gaan dit met hulle wat God vergeet.”Jer 17:7-8 noem dat “Dit goed gaan met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droeë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Christus verseker ons dat hy die bron van water is waarna ons nie weer sal dors kry nie. Die bron van lewende water wat ons alleen by God, die Vader, Jesus Christus, die Seun, en die Heilige Gees, wat ons Trooster is, kan kry. Wanneer ons hierdie bron van water ontdek het, sal daar ‘n fontein in ons opborrel en “strome van lewende water sal uit ons binneste vloei en ons die ewige lewe gee. Hiermee het Christus na die Heilige Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” (Joh. 4: 1-14 en Joh. 7: 37-39). Daardie bron waarna elkeen van ons dwarsdeur ons lewe soek, want dit is die enigste bron van lewe wat vrede gee. Dit is die enigste bron wat maak dat ons nooit weer dors word nie. Mag ons nie hierdie bron van lewende water ooit verlaat nie, want dan sal ons ook soos in in Spr. 10: 28 kan sê dat ons verwagting “vreugde” is omdat ons deur die krag van die Heilige Gees ook die stroom lewende water na ander kan bring. Ook dan sal Ps. 23 vir ons ‘n werklikheid word, waar ons elke dag in die nabyheid van die Lewende bron van water kan leef.

Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse

Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. ‘Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer…”
Jak. 5: 2-3

In menige plekke in die Bybel en in die geskiedenis van die aarde, word ons herinner aan die verganklikheid van die hier en nou, die verganklikheid van hierdie wêreld (bv. Jak. 1: 11 “ want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val afen sy skoonheid gaan tot niet”). Met die media se uitsending van die oorloë en gerugte van oorloë besef ons daagliks hoe vernietigende impak die mens self op hierdie aarde het. Waar stede en al die mense daarin in in ‘n oogwink platgevee word met die aarde, soos ook in Sodom gebeur het (“Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.” Kla. 4:6) en tans in die Gasa strook, wat ‘, herhaling is van wat in Sef. 2:4 sou gebeur. (“Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan ‘n woesteny word…”). Dit is soms uit ons menslike oogpunt onverstaanbare gebeure, maar God waarsku dikwels in die ou Testament teen ongehoorsaamheid aan Hom (bv. Deut. 8: 20 “…soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.”).

In Christus se wandel op aarde maan Hy ons gedurig om nie vir ons skatte bymekaar te maak waar mot en roes verniel nie (Luk. 12: 33 “Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie…”) of dat ons nie vir ons voedsel wat vergaan moet bymekaar maak nie, maar die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Daar is net een wat die voedsel vir ons kan gee, naamlik Jesus Christus (”Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Joh. 6: 27)

In 2 Kor. 4: 16 kry ons die bemoediging om nie moed op te gee nie, “…want al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe”. Ons kan dus net soos Petus lof bring aan God die Vader vir die ontferming deur die verlossing deur Jesus Christus, omdat ons ‘n nuwe hoop kan hê op ‘n erfenis wat nie kan vergaan nie, nie besmet kon word of verwelk nie en wat deur God self vir ons in bewaring gehou word (Pet. 1: 3-5 “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besemt of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word virdie verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.”)

Laat ons nie ons toevlug neem in wat ons vernietig nie (Ps. 52: 9), maar laat on vertrou op die Heilige Gees wat vir ons die wapens in die stryd voorsien (“Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar danksy God, kragtig om ons sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God.” 2 Kor. 10: 4-5). Laat ons oog gevestig bly op die onbsigbare dinge, “…want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig” (2 Kor. 4: 18) en “…die blywende het veel groter heerlikheid.” (2 Kor. 3: 11)

Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”
Rom. 12: 21

Die woord kwaad word dikwels in die bybel gebruik, maar in ‘n verskeidenheid van kontekste. Die vers in Romeine 12 verwys nie na die emosie wat ons amal so dikwels aan skuldig is nie, maar aan die boosheid wat ons so maklik kan verswelg. Dit is so maklik om te val; deur die dinge wat ons dink, doen en sê. Ons moet gedurig daarop bedag wees dat die ‘kwaad’ alles in sy vermoë sal doen om ons te oorwin. Joh. 3: 20-21 stel dit duidelik dat almal wat kwaad doen, haat die lig omdat dit sy duister dade aan die kaak kan stel. Wanneer ons in die waarheid handel, kan almal sien dat ons gehoorsaam is aan God, by wie die kwaad geen plek het nie (Ps. 5: 5).

Salomo waarsku ons dat om wysheid te hê is om die kwaad te vermy, deur die Here te dien (Spr. 14: 16, Spr. 16: 6 en Spr. 16:17). Dis wanneer ons wysheid kortkom dat ons roekeloos en selfversekerd in ons eie krag lewe. Petrus vermaan ons om ons ten alle tye goed te gedra onder ongelowiges (1 Pet. 2: 12), ongeag hoe hulle oor ons praat, of watter aantuigings hulle teen ons mag hê; want deur die goeie te doen, sal ons ‘n “einde maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” (1 Pet. 2: 15). Ons moet wegbly van die ‘kwaad’ af en doen wat goed is (1 Pet. 3: 11), maar ons moet dit doen in nederigheid en met eerbied vir God. Sodoende kan ons met ‘n skoon gewete voor enige lasteraars bly staan, sodat hulle sal skaam word oor die kwaad wat hulle praat en doen (1 Pet. 3: 16).

Ten spyte van die kwaad wat ander aan mens doen, soos Josef se broers aan hom gedoen het (Gen. 50: 20-21), en Saul aan Dawid gedoen het (1 Sam. 24: 17-18), moet ons egter besef dat dit wat met ons gebeur in God se raadsplan is. Dit wat soms vir ons moeilik is om te verstaan wanneer dit gebeur, het uiteindelik ‘n toekomstige gevolg wat eers later vir ons duidelik word. Wanneer ons Ps. 15 ons eie maak, sal ons nie wankel nie. Wanneer ons die liefde van Christus in ons harte het sal ons ander geen kwaad aandoen nie (Rom. 13: 10) en wanneer ons ons van die kwaad gereinig het sal ons bruikbaar wees in God sy koningkryk (2 Tim. 2: 21) vir enige diens aan God.

Ons moet egter te alle tye onthou dat ons dit in beskeidenheid moet doen, want niks kom uit ons self nie. Dit is die liefde van God, die Vader, die genadegawe van Christus die Verlosser en die ewige werking van die Heilige Gees in ons lewe, wat ons die krag gee om die kwaad met die goeie te oorwin, sodat ons nie sal wankel nie (Ps. 5).

Stof tot nadenke: Bekommernis

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”
Matt. 13: 22

Dit is so maklik om verstrengel te raak in die alledaagse gebeure, gerugte van oorloë, woede, haat, nyd en leuens rondom ons, dat ons die gevaar loop om sonder vrug te bly. Christus stel dit so mooi in Luk. 12: 25-26 “Trouens wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?” Dit is so deel van ons lewe omdat ons alles om ons wil beheer en beplan. Terwyl God ons telkens herinner daaraan dat Hy in beheer is. Ons kan kyk na die diere en vöels van die veld (matt. 6: 25-27). God het in Sy raadsplan ‘n siklus van seisoene en beskikbare voedsel in die vorm van nuwe saad en nuwe lewe geskep.

Jesaja het die volk van God telkens gewaarsku dat hulle hulle nie deur God laat lei nie (Jes. 9: 12). Dat hulle hulle nie bekeer en nie aan hom die eer, wat Hom toekom, gee nie, met verreikende gevolge; en dat hulle nie oor mekaar bekommerd is nie (Jes. 9: 17-18), wat ‘n aanduiding is van naaste liefde. Christus wys ons daarop dat om ons te bekommer oor allerhande dinge, iets is wat deur die ongelowiges beoefen word (Matt. 6: 32-34). Ons moet ook waak daarteen om bekommernis op ‘n ander te lê, want ons benadeel so ‘n persoon (Spr. 12:25). Dit is beter om ‘n ander met vriendelike woorde op te vrolik.

Ons kan dus al ons bekommernis in die hand van die Vader, die genade van Christus se kruisdood en die leiding van die Heilige Gees, in totale afhanklikheid, oorlaat. Ons hoef ons nie te bekommer oor dinge waaroor ons geen beheer het nie, want God se Plan is vir ons duister. Ons kan wel bedag wees op mense en gebeure wat met valse voorwendsels voorgee om bekommerd te wees oor die mense en die dinge wat rondom ons gebeur (Joh. 12: 4-6). Dit is dikwels deur gierige motiewe wat hulle gedryf word.

Selfs watter woorde ons uiter, moet ons aan die leiding van die Heillige Gees oorlaat. So ons hoef nie op ons eie kragte staat te maak wanneer ons die leiding van die Heilige Gees in ons lewens aanvaar het nie. Want woorde sal deur die Heilige Gees geïnspireerd vir ons gegee word wanneer ons dit nodig mag hê. (Mat. 10: 19-20; Matt. 13: 11; Luk. 12: 11-12). Christus het ons in Joh. 10: 11-13 daaraan herinner dat Hy die goeie Herder is, en Hy alleen sal ons waarlik beskerm, aangesien huurlinge kan weghardloop, sodra gevaar dreig. So plaas jou lewe volkome in die hande van God.

Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode

“Ek is die here julle God. Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God” Lev. 19: 3-4

Ons persepsie van afgode is in die vorm van dooie beelde wat nie aanbid mag word nie, dit wat dikwels in die Ou Testament genoem word (Deut. 30:16; Jes 42: 17). Ons word gereeld gemaan om nie agter afgodsbeelde aan te loop nie. Wêreldwyd sien mens nog dikwels afgodsbeelde waar mense voor neerbuig, asof dié hulle kan hoor bid en hulle sou kon help. In Ps. 115 beskryf Dawid reeds baie raak hoe mens na die beeldende afgode moet kyk. Hulle het sienlose oë, gehoorlose ore, woordelose monde, stil hulpelose hande en voete wat nêrens heen kan gaan nie. Hy maan ook dat mense net soos hierdie dooie beelde sou word, indien hulle diesulkes sou aanbid (Ps. 135: 18) en dat God ons indien ons die afgode sou aanhang, Hy ons dienooreenkomstig sal behandel (Eseg. 14: 3-5; Eseg. 23: 49). So ons het met hierdie duidelike persepsie groot geword in ons tyd, en dit is redelik vanselfsprekend dat mens nie dooie beelde en klatergoud kan aanbid nie. Dit kan jou nie red nie, soos ons gereeld in die bybel gewaarsku word (1 Sam. 12: 20-21; 2 Kon. 17: 15; Jon. 2:8). En tog het mense nog altyd afgedwaal van die ware leer en reddingsbeloftes van God. Die waarskuwing in Jer. 2: 25 stel dit so mooi “Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie! Maar jy sê “Ek sal nie daarmee ophou nie! Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.” Die vraag ontstaan dus of daar ander dinge is in vandag se tyd, wat vergelykbaar is met afgode waar agter ons ons skoene stukkend loop? Is daar dinge in elkeen van ons se lewe wat belangriker as God is? Is daar dinge wat ons doen, mense in ons lewens, gewoontes in ons elke dag se bestaan, benaderinge ten opsigte van ander mense wat ons van God kan laat vervreem; of wat maak dat ons nie hoor wanneer God met ons praat nie? Dit is ‘n vraag wat net elkeen van ons self kan beantwoord.

Ons is God se tempel deurdat die Heilige Gees in ons woon (1 Kor. 3; 16; 1 Kor. 6: 19) en daarom waarsku ook Paulus ons teen die afgode gebruike, want daardeur doen ons skade aan die tempel van God (2 Kor. 6: 16). Ons moet daarom daagliks in oënskou neem en seker maak dat ons nie ander ‘afgode’ in ons lewens toelaat nie, sodat ons die oorwinning kan smaak van Fil 4: 13, wat alleen deur God, die Vader, die gawe van Jesus Christus en die elke dag se leiding van die Heilige Gees in ons lewens ‘n werklikheid kan word; want die drie-enige God is die enigste ware God (Rom 8: 5-8; Jes 43: 10-12). Mag ons ook soos in Jos. 24: 15 sê: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

Stof tot nadenke: Geestelike Groei

“Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.”
2 Pet. 1: 5-7

Ons hoor dikwels dat ons nie uit eie krag die ewigheid kan beërwe nie, want dit is ‘n genaddegawe van God. Dit is absoluut korrek, maar ons kan nou ook nie op ons louere sit en hoop dat ons die ewigheid sal erf nie. In Petrus 2 roep Petrus ons duidelik op om ons te beywer om geestelik te groei. Daar is dus tog ‘n sekere inset wat van ons kant af moet kom. Ons moet nadat ons besluit het om die genadegawe van God te aanvaar, ons beywer om al die deugde wat so mooi gestel word, in ons lewe ‘n werklikheid te maak.

Petrus stel dit duidelik dat indien ons ons beywer om al hierdie eienskappe in ons lewe ‘n werklikheid te maak, dat ons nie nutteloos en sonder vrug sal wees in die kennis en uitlewing van die voorbeeld van Jesus Christus nie. Petrus noem dat ons blind en kortsigtig is, en dat ons nie besef dat God ons vorige sondes vergewe het nie, indien hierdie eienskappe by ons sou kortkom.

Petrus noem selfs dat ons nooit sal struikel, as ons al hierdie dinge doen nie, en dat ons Verlosser Jesus Christus vir ons ryklik sal voorsien (2 Pet. 1:11). Hierdie herinnering daaraan, dat ons ons moet beywer om geestelik in Christus te groei, is belangrik terwyl ons in hierdie aardse woning van ons leef.

In 2 Pet. 1: 17-18 word ons ook weer aan die Waarheid van die Woord herinner. Simeon Petrus wat die voorreg gehad het om saam met Christus te wandel en die wonderdade aanskou het. Hy was by toe God Christus as Sy seun erken het. Dit is ook waarom Petrus dit nodig geag het om hierdie woorde, deur die leiding van die Heilige Gees, in bewaring te laat bly. Sodat ons kan weet dat ons nie hoef te twyfel nie, maar dat ons ons moet beywer om meer en meer soos Jesus te wees, in ons spreke en ons handel.

Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens

“Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen. Ek sê vir jou: as iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koningkryk van God nie binnegaan nie”
Joh. 3: 4-5

Die vraag waarmee baie mense worstel, en tog so eenvoudig deur Christus beantwoord word. Ons moet deur water gebore word, die normale geboorte in die menslike konteks. Dit is egter die tweede geboorte wat so dikwels vir ons ‘n duister saak is. Uit ons menslike perspektief wil ons dinge beheer. Ons wil die vermoë hê om dinge te doen, wat vir ons beheer gee oor die uitkomste. Ons wil nuwe mense wees in Christus, want ons leef met die natuurlike drang, soos God ons geskape het, om nader aan God te kom.

Dit is egter nie uit eie krag wat ons die Heilige Gees in ons lewens kan indwing nie. Ons is deur Christus geroep, en Sy genade gawe, deur vir ons aan die kruis te sterf, het dit vir ons moontlik gemaak om die Heilige Gees in ons lewe te ervaar. Ef. 2:22 stel dit so mooi: “In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees”. Dit was egter deur Christus se vredesboodskap aan almal wat ver was, en diegene wat naby Hom leef, dat ons toegang tot die Vader deur die Heilige Gees verkry het (Ef. 2: 17-18).

In 1 Pet. 1: 23 word ons herinner dat ons “nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende en blywende woord van God” weer gebore word. Maar hoe kan ons seker weet dat ons weergebore is? Wat is die maatstaf vir vrede in ons gemoed? Christus het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat, sodat ons in Sy voetspore kan volg. Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog was nie. Toe Hy uitgeskel is het Hy nie teruggeskel nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het Homself totaal oorgelaat aan die Vader wat regverdig oordeel (1 Pet. 2: 21-23).

Verder gee Petrus menige eienskappe, naamlik om eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie. Ons moet eerder mense wees wat seën oor ander spreek (1 Pet. 3: 8-9). Ons moet ons denke vernuwe en die nuwe mens wees, wat ons word wanneer die Heilige Gees ons as woonplek gebruik. Ons moet “die nuwe mens soos ‘n nuwe kleed aan trek , wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” Daar is ook in Kol. 3-9-11 nog menige maatstawwe, sodat ons kan weet dat ons deel is van Christus wat alles in almal van ons kan wees. Dit is egter nie uit ons eie krag nie, maar alleen deur die genade van God se Liefde vir ons, van Christus se kruisdood en onder leiding van die Heilige Gees, wat ons volwaardige Nuwe mense kan wees.

Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding”

“Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.”
Jak. 1: 2-3

Ons moet bly wees as ons versoek word? Dat ons geloof getoets word? Dit is ‘n baie interessante stelling wat Jakobus hier maak. Is die feit dat ons versoek word ‘n aanduiding dat ons in geloof begin wen? Dat die vyand dit besef en alles in sy vermoë sal doen om ons van die regte pad af te lei. Dit is dan juis in hierdie omstandighede wat ons moet volhard in ons geloof. Is dit vir ons moontlik in ons eie swak nietige menslikheid?

In Rom. 5: 3-4 noem Paulus ook dat “verdrukking bewerkstellig volharding”, en dat hierdie “volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid lei tot hoop”. Ook hierin het Christus ons voorgegaan. In Matt. 4: 1-11, Mark. 1: 12-13 wn Luk. 4: 1-13 wys Christus ons hoe om die versoekings te weerstaan. Onder leiding van die Heilige Gees kon Christus elke aanslag van Satan weerstaan. Onder leiding van die Heilige Gees wat vir Christus elke regte antwoord gegee het om elke liewe aanslag af te weer, het Hy ons gewys hoe volharding lyk.

Ons moet dus die Woord leer ken en leiding van die Heilige Gees vra in aanslae teen ons lewe. Ons moet leer om fyn te luister, want die Satan kom met slinkse en baie mooi praatjis om ons te versoek en te verlei. Ons word in Luk. 4: 8-13 herinner dat ons God alleen moet aanbid en dien en Hom nie onnodig versoek en dinge vra wat nie nodig of belangrik is nie. Ons moet onthou dat die grootste doel van ons as mense is om aan God alle eer te bring.

In Jak. 1: 4 word ons gemaan dat ons volharding tot volledige ontwikkeling moet kom, “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.” Jakobus wys daarop dat ons van God kan vra, maar as dit in twyfel gedoen word sal mens niks ontvang nie, want dit dui op onstandvastigheid in alles wat hy/sy doen.

In Rom. 15: 5-6 word ons ook deur Paulus gerusgestel dat dit God is wat die volharding in ons bewerk, sodat ons eensgesind sal wees, soos Jesus Christus dit gewil het; sodat ons eenparig die lof van God kan besing. Ons kan dus net vra dat God ons harte sal rig op Sy liefde en die volharding van Christus (2 Tes. 3:5). Dan sal ons kan vlug van die versoekings en die goeie stryd kan stry van die geloof (1 Tim. 6 11-12), en mag Christus wanneer Hy weer kom ook van ons sê dat Hy ons dade en liefde en geloof en diens en volharding ken (Open. 2:19).

Stof tot nadenke: Wat gee vrede?

“Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei….Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.”
Sag. 8: 16 & 19

Vrede. Dis iets wat ons almal soek. Die definisie vir vrede is ‘vryheid van steuring; afwesigheid van konflik; stil en rustig’. Maar die konsep van waar ons vrede soek het so baie fasette. Vrede tussen familie, vrede tussen vriende, vrede tussen gemeenskappe, vrede tussen lande. Vrede tussen mense kan slegs bereik word indien daar nagevolg word wat in Sag. 8 genoem word. Alleenlik wanneer mense onder mekaar die waarheid praat en regspraak aanvoor wat waar is, kan daar vertroue tussen mense ontwikkel wat tot vrede kan lei. Is dit egter die vrede waarvan hier gepraat word?

In Sag. 9: 9-10 word Christus se koms voorspel met die woorde: “Hy sal vrede aan die nasies verkondig.” In Joh. 14:27 sê Christus dat Hy vir ons Vrede nalaat, maar dit is nie die vrede wat die wêreld gee nie. Hy stel die dissipels gerus dat hulle nie ontsteld en bang hoef te wees nie. Watter vrede is dit dan wat Christus hier van praat? In Matt. 10:34 word Christus se woorde ook aangehaal waar Hy noem dat Hy “nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard”.

Hoe moet ons hierdie teenstrydighede verstaan? Dit is duidelik dat Christus van ‘n vrede praat wat ons nie in ons aardse konteks heeltemal begryp nie. Christus se gesprekke lei na die feit dat ons Hom moet volg. Dat ons ons kruis moet opneem, met ander woorde moet sterf in ons eie waan en Sy dienskneg-skoene moet aantrek. Christus maan ons om ‘sout in ons te hê en in vrede met mekaar leef’ (Mark. 9:50) en “Heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen” (Rom. 2:10-11), ongeag wie jy is; want God oordeel nie volgens die uiterlike nie!

“Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede” (Rom. 6:8). Kom ons streef dan na “die dinge wat onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder” (Rom. 14:19). In Matt. 10: 38-39 maan Christus ons “Wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe behou sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My (Christus) verloor, sal dit behou.”

Kan ons ooit hierdie vrede beleef indien ons nie die innerlike vrede wat deur Christus vir ons na hierdie aarde gebring is, in ons harte beleef nie? Die vrede wat deur geloof, hoop en liefde uitgeleef kan word (1 Kor. 13). Die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit wat ons kan beleef as ons tot verheerliking van God die Vader, navolging van Christus se voorbeeld (Joh. 14:6; Rom. 5:1-2) en onder die leiding van die Heilige Gees (Rom. 6:8) lewe.

Stof tot nadenke: Afskeid by die graf

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag”
1 Tes. 5: 8

Soos die seisoene in die natuur is daar ook seisoene in ons lewe. Die vreugde van lente by ‘n nuwe geboorte lei die lewe van elkeen van ons as mense in, in hierdie aardse lewe. Dis ‘n siklus wat elke dag herhalend begin en eindig. Die lewe loop soms vir ons onverstaanbare draaie, wat nie altyd van ons menslike perspektief af lekker of aanvaarbaar lyk nie. Tog vra God van ons om te alle tye en in alle omstandighede dankbaar te wees. God het ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het verskillende voorkeure, smake en idees oor wat aanvaarbaar in hierdie lewe is. Dit is egter belangrik vir elkeen van ons om te vra of dit wat ons doen voor God aanvaarbaar is.

So stap ons deur die somer en herfs tye van ons lewe, so dikwels veroordelend oor ‘n ander se manier van lewe. Luister ons dikwels na die leuenagtige skinderpraatjies oor ander mense, sonder om die waarheid te bevraagteken. Maar het ons enige idee watter pad enigiemand anders gestap het? Wat die hartseer en vernietigende ervarings is wat daardie persoon beleef het? Wat hom of haar gelei het tot wat hulle vandag is? Wat was elkeen van ons se aandeel in wat met ander mense gebeur?

Soms is mens bevoorreg om mense in jou lewe te hê waar jy geen twyfel het dat God hulle aangeraak het met ‘n wonderlike lig om aanvaarding en liefde om hulle te versprei nie. Mense wat die vrede versprei (Kol. 3:15). Wanneer jy uiteindelik by die wintersgraf van so ‘n mens moet staan, kan jy dit met niks anders as dankbaarheid doen nie. Daar is verseker die gemis, wat jy weet jou ewig sal bybly, maar daar is ‘n stille dankbaarheid dat so ‘n persoon jou pad gekruis het, en die herinneringe wat om jou talm bring ‘n rustigheid in jou gemoed.

Wanneer ons by ‘n mens se graf staan word ons altyd weer herinner aan die genadegawe wat Christus hier op aarde vir ons kom bring het. Ons weet dat daar lewe is na hierdie aardse dood, want Christus het dit reeds vir ons oorwin (Mark. 15:46; Luk 24:2; Joh. 20.2; Rom. 6:4; Kol. 2:12). In die vaste geloof en vertroue kan ons dus met reg sê: ‘Dood waar is jou angel?”. Dit moet ons ook as mense laat nadink oor wat ons agterlaat by ons eie dood . Want op hierdie aarde is niks so seker soos die afsterwe van ons menslike liggame nie. Sal daar dankbaarheid wees omdat dié wat agterbly weet waar jy jou bevind, of sal dit dankbaarheid wees omdat jy weg is uit hulle lewe? (Dan. 12:2)

Stof tot nadenke: Seisoene in die Bybel

“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit -gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur….God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard…God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”
Gen. 1: 11; 25; 30

Dit is weer lente hier in Suid-Afrika, net soos God dit geskep het. Volgens die aard van elke plant en dier is dit die tyd vir nuwe lewe en nuwe groei. Afhangend van die tye om te saai, is daar ook gewasse wat nou gesaai moet word, en daar is gewasse wat nou ge-oes word. Want God het dit goed gedink om alles volgens hulle eie geaardheid te maak.

Wanneer mens gaan soek na lente (jaarwending) in die 2020 vertaling van die Bybel, is dit die tyd wat daar oorlog onder die mense aangevoor word (2 Sam. 11: 1; 1 Kon. 20: 22; 1 Kon. 20: 26; 1 Kron. 20: 1). Dis die tyd wat die mens dikwels verwoesting aanbring.

Wanneer mens die Bybel deursoek word daar bitter min gesê oor die seisoene, oor al die pragtige perfeksie van die natuur en die hemelruim. Die skepping van God wat Hy as baie goed beskou het (Gen. 1:30). Daardie klein goedjies wat mens so dikwels miskyk. Die voëls wat al meer aktief raak en begin kos soek vir die nuwe klein lewetjies in hul neste. Die omgee van die klein diertjies vir hulle nuwe kleintjies. Die baljaar van die walvis kalfies in die baai. Elke plantjie wat vreugdevol hul blomkoppies oplig om die son te soek.

Elkeen van hierdie dinge wat ons miskyk, spreek van die Grootheid van God. Die Psalmdigter beskryf dit so mooi in Ps. 84:4 “Selfs ‘n mossie vind ‘n tuiste, en ‘n swaeltjie haar nes waarin sy haar kleintjies neerlê, by U altare, Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God”. In die bergpredikasie virseker Christus ons dat as ons na die voëls kyk sal ons sien dat God vir hulle sorg (Matt. 6: 26-27; Luk. 12: 24-25).

Mag ons hierdie lente net die grootsheid van ons Hemelse Vader, die genade van Sy Seun, Jesus Christus en die leiding van die Heilige Gees raaksien en beleef. Dan sal ons elke dag in dankbaarheid kan leef vir die heerlike, wonder van die natuur.

Stof tot nadenke: Vissers van mense

“Hy (Jesus) sê vir hulle; “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak! Hulle het onmiddelik hulle nette gelos en Hom gevolg.”
Matt. 4:19-20

Die opdrag van Jesus Christus aan sy eerste dissipels laat mens verbaas. Wie van ons sal alles waarmee ons besig is net so laat staan en agter Christus aanstap. En tog is dit die opdrag. Los alles agter waarmee jy jou dag vul, en volg my. Mens dink so dikwels dat dit beteken dat elkeen van ons nou ‘n prediker moet word, of ‘n sendeling of aktief die woord moet verkondig. Dit het egter ‘n hele paar jaar vir hierdie dissipels geneem, en dikwels sonder begrip, waarheen Christus met hulle oppad was. Dit was eers by die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) waar hulle duidelik en met oortuiging Christus se lewe begin verkondig en navolg het.

Ons word dikwels daaraan herinner dat elkeen van ons verskillende gawes ontvang het (Rom 12:6). Dit is hierdie gawes wat ons moet gebruik tot eer en verheerliking van God (Rom 11 35-36), want hierdie gawes en roeping van God is onherroeplik (Rom. 11:29). Die gawes wat ons ontvang kom van die Heilige Gees (1 Kor. 12:3) wat ons lei en krag gee om hierdie gawes reg te gebruik.

Wanneer ons ons hart vir die Here gegee het, en die Heilige Gees verblyf in ons harte geneem het, leef ons al meer en meer soos Christus, sodat die wêreld sal weet dat ons Sy kinders is. Ons moet dus soos die eerste dissipels die verkeerde of onbenullighede agter ons laat en voortgaan om Christus se voorbeeld na te volg. Wanneer ons dan by ‘n oop graf staan, sal almal wat agter bly weet dat dié persoon die wedloop voltooi en die oorwinning behaal het.

Elkeen van ons vervul dus ‘n rol in die verkondiging van Jesus Christus. Deur die gawe van prediking, die gawe om te dien, die gawe van tale, die gawe van genesing, die gawe van geloof, maar ons moet nooit vergeet dat Christus vir ons kom wys het hoe om volkome lief te hê. Dit is die grootste gawe van almal. Wanneer ons nie die liefde vir God en medemens nastreef en uitleef nie, het ons niksseggende klinkende metale en luidende simbale geword (1 Kor. 13), wat baie geraas maak, maar geen impak het waar dit saak maak nie.

Laat ons elkeen uitgaan en deur ons lewenswandel aktiewe vissers van mense wees.

Stof tot nadenke: Geloofsekerheid

“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat seur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.”
Heb 6:11-12

So dikwels worstel ons met die vraag of ons volkome sekereheid kan hê van ons geloof in God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Is dit vir ons moontlik on volkome te vertrou, net soos ‘n drenkeling op sy lewensredder moet vertrou. Kan ons onsself so in totale vertroue en oorgawe aan God gee, en kan ons dan ‘n lewe van oorwinning oor die sonde lewe, te midde van hierdie aandag-afleibare wêreld waarin ons leef.

So dikwels is die antwoord dat ons sondige natuur met ons parte speel. Dat ons sondige natuur maak dat ons keer op keer val en die verkeerde dinge doen en sê. Is dit wat die oorhand oor ons kry, of hou ons ‘n agterdeur oop om tog net ‘n goeie verskoning te hê oor waarom ons keer op keer weer val.

Kan ons ‘n lewe van sondeloosheid lewe? Is dit in enigeen van ons om, vandat ons ons hart in volkome afhanklikheid aan God gegee het, ‘sonder sonde’ te wees? Paulus maan ons om ons geloof gedurig te ondersoek (2 Kor 13:5). Ons krag om die sonde te oorwin, kom van die Heilige Gees af, wat ons daagliks maan om op die regte pad te bly, om regte besluite te neem, en om tot eer en verheerliking van God te leef.

Dit is soos wanneer mens leer fiets ry. Aanvanklik val en struikel mens gereeld, maar sodra jy die tegniek onder die knie gekry het, kan jy ry sonder om te veel daaroor te dink. Dit gebeur deur ‘spier-herinnering’. Net so kan ons lewens verander deur meer en meer na die beeld van Christus te wees. DIt is nooit uit ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Dit is moontlik om volkome geloofsekerheid te hê, want Paulus noem in Rom 10:9 dat “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;”. Vir God, wat ons harte ken, kan ons vra dat Hy ons sal vorm om elke dag nader aan die beeld van Christus te wees, sodat die wêreld kan sien dat ons Sy kinders is.