”As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.”
(Joh. 8: 3620)
Wat maak jou bevrees?
Iedereen van ons was al bang. Bang vir die onbekende. Bang vir wat voorlê. Bang vir wat in ons land aan die gang is. Bang vir mense, diere of vreemde omstandighede. Bang vir wat die vreemde veranderde toekoms vir ons inhou.
Ons is nie alleen in hierdie bangheid nie. Daar is menige verhaal in die Bybel waar vrees vir eienaardighede, onverstaanbare gedrag genoem word. Dit is bekend dat vrees kan lei tot gesondheids ongesteldheid. Om bevrees te wees kan ons as mens se lewenslus knak. Ons moet so spoedig moontlik dit waarvoor ons bang is, aanspreek. Anders kan dit tot ons ondergang lei.
Vrees kan ook tot mislukking lei. Soos duidelik uit die geval van die Gideon manskappe, wat vol moed aangemeld het, maar toe dit tyd was om die geveg deur te sien, het die Here gesê dat hulle liewer moet wegdraai terug huis toe.
Teksverse:
“En groot vrees het die hele gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval.” (Hand. 5: 1120);
“Die man in wie die bose gees was, het hulle bespring en hulle almal oorweldig en die oorhand oor hulle gekry, sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis gevlug het. Dit het bekend geword onder al die Joodse en Griekse inwoners van Efese, en vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is verheerlik.” (Hand. 19: 16-1720);
“Dit gaan sleg met ‘n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.” (Spr. 15: 1583);
“Kondig dan nou aan ten aanhore van die manskappe, “Wie ook al bang en aan die bewe is, kan omdraai en wegvlug van die berg Gilead.” (Rig. 7: 320)
Hoe kan ons die vrees oorwin?
Die antwoord om vrees te oorwin, lê by die Here! Moses het die volk ingelig, dat daar geen nodigheid vir vrees is nie. God self sal vir hulle veg. Hulle kon dit net aanskou. Verder is daar menige tekste wat ons lei na die vrymaking van vrees. Wanneer ons besef dat ons vrymaking van alle vrees alleen deur geloof in Jesus Christus lê.
Deur die waarheid van die evangelie te ken, kan ons vrygemaak word. Deur die vrymaking van oorgawe aan Jesus Christus se verlossing. Deur die Woord van God te ken, kan ons vryheid van vrees ervaar, want ons krag is in die wapenrusting van God, wat ons soos wildsbokkies op hoë plekke laat loop, omdat ons die beskermende skild van die Woord aan het.
Staan dus gewortel in oorwinnende gesindhede deur die Gees van God. Plaas jou vertroue volkome in die hand van die Here. Want dit is waar dat elkeen van ons nie bang hoef te wees vir enige aardse teenstand nie, want as die Almagtige God vir ons is, wie kan teen ons wees? Daarby moet ons standvastig in ons geloof bly en met danksegging en lofprysing neerbuig voor die Vader wat ons so lief gehad het en uit genade gered het.
Teksverse:
“Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die Here sal self vir julle veg. Julle moet net stil bly.”” (Eks. 14: 13-1420);
“Die Here het die oordele oor jou afgewend, jou vyande uit die weg geruim. Die Koning van Israel, die HERE, is in jou midde; jy sal geen onheil meer vrees nie. Op daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: ”Moenie vrees nie, Sion; Moenie dat jou moed jou begewe nie. Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” (Sef. 3: 15-1720);
“…en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh. 8: 3220);
“God is my sterk toevlug; Hy maak my pad volmaak. Hy maak my voete soos dié van wildsbokke; op hoë plekke laat Hy my vasstaan. Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, sodat my arms ‘n bronsboog kan span.” (2 Sam. 22: 33-3520);
“Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom,…” (Joh. 12: 1520);
“Op God – ek loof sy woord – ja, op God vertrou ek. Ek is nie bang nie, wat kan ‘n mens aan my doen?” (Luk. 1: 73-7620);
“Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die duiwel, kragteloos kon maak en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry.” (Heb. 2: 14-1520);
“Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel , eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3: 14-1520):
“In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.” (1 Joh. 4: 1820)


