SAAMkoms. Een week. 650 dominees. Dankie Here, vir hierdie SAAM-wees!
Ek weet al vir baie lank dat daar iets besonder gebeur in saam-wees. Dink maar aan koffie kuiers om die kombuistafel wanneer jy na n lag ruk weer by familie of vriende gaan kuier. Daar vorm hegte bande sonder dat dit geforseerd is, sonder dat mens te veel moet doen.

Saam-wees
Saam-wees herinner ons aan ons menslikheid, aan ons behoefte om te “connect” – nie net met mekaar nie, maar ook met God.
Ek het die week n sessie bygewoon waar ons gepraat het oor egtheid en dat ons vir mense woorde moet gee, belewenisse kan skep onder die leiding van die Heilige Gees, waar ons eg kan wees, nie hoef voor te gee nie. Die voorbeeld van n skare by ‘n musiekgroep vertoning, waar almal woord-vir-woord saam sing sonder dat daar lirieke op n bord verskyn, is gebruik. Mense het in daardie oomblik n egte belewenis van saam wees. Sommige geleerdes gebruik die woorde: “crowd psychology” en sê dat dit maak dat mense n belewenis saam met ander ervaar.

Hoe dit ookal sy, ek is oorweldig deur die egtheid van hierdie saam-wees. Dit is ongelooflik om te hoor hoe 650 dominees saam “My God is so groot, so sterk en so magtig…” saam sing en die bewegings doen.
Dit is merkwaardig om te beleef dat daar plek vir elkeen is en ons kan mekaar liefhê. So, het ek die liefde van God die week beleef…

Ek is dankbaar om deel van die Kerk te wees. Ek is trots op die NG Kerk. God gee nuwe hoop!
“U laat ons profeteer oor elke dorp, in elke hart en huis.
Wys ons wat kan gebeur, deur U Gees.
Gee nuwe drome Heer!”
Ds. Charné Viljoen
Nog meer: Stemme, stories en beelde vanaf SAAMtrek by Goudini (24-28 Aug)
Nuusbrief vanaf Michele uit Suid-Oekraine: Gebedsbrief Augustus 2026
Liewe vriende en familie
23 September sal dit ’n jaar wees sonder Mari-Alena. 11 Oktober vyf jaar sonder Ockert, en amper vyf jaar van oorlog in Oekraïne. Ja, die tyd vlieg. Ek kan nie dink dat dit al amper ’n jaar sonder haar is nie. My twee beste maats in die Hemel.
Ek wil net al die eer gee aan my Here, my Vertrooster en my Vader. Hy wat stukkende harte heelmaak en genees.
Al wat ek vra, is om staande te bly deur Sy genade en om die wedloop getrou te voltooi. Party dae is dit moeilik en raak die verlange te veel. Sonder Hom is ek niks en kan ek nie leef nie.
“Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer allerhande beproewings oor julle kom, omdat julle weet dat, wanneer julle geloof getoets word, dit volharding voortbring. En die volharding moet end-uit volhou sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom en nie tekortskiet nie.”
— Jakobus 1:2–4
My gedeeltelike knievervanging hier in Stellenbosch het goed gegaan, en die dokter en fisioterapeut is meer as tevrede met my vordering.
Prys die Here daarvoor!
Pappa Hannes, Ockert se pa, is op 17 Augustus na sy ewige woning.
Sy begrafnis was in Santa Rosa, Kalifornië, waar Rynie, Keith en my skoonma, Magda, woon. Hannes-Joshua, Benjamin en Cilliers kon by Oupa se begrafnis wees. Cor, Ockert se broer was ook by die begrafenis. Hy en sy vrou Francis woon nou in Pringlebaai.
Bid asseblief vir mamma Magda, Rynie en Cor vir vertroosting, asook vir die kleinkinders.
In Suid-Oekraine gaan dit goed met die gemeente. Dankie dat julle bid. Elkeen van die bedienings gaan voort.
Ons bid steeds vir voldoende fondse vir die Kleuterskool, Pro-Lewe sentrum, asook vir die bou van die Ark-kindersentrum en skuiling vir kinders in moeilike huislike omstandighede.
Verlede week was daar ‘n doop geleentheid in Suid-Oekraine en dit is so wonderlik om jongmense te sien wat hul lewens vir die Here gee. Bid asseblief vir hierdie nuwe bekeerlinge.
Suid-Oekraine is Donderdagnag weer deur hommeltuie aangeval, en ’n boot in die hawe het groot skade opgedoen.
Ria, een van ons leiers en die direkteur van Pro-Lewe, se seun, is voor hul woonstelblok gevang en in ’n bussie ontvoer, sonder om sy ouers te groet, en gestuur om in die oorlog te gaan veg. Die kanse op oorlewing is baie klein. Net die Here kan ’n mens daar beskerm.
Bid asseblief vir hom en vir die baie ander jongmanne van ons gemeente en van Suid-Oekraine . Omtrent elke week is daar een of twee begrafnisse in Suid-Oekraine van soldate wat in die oorlog gesneuwel het.
Dan het ons ’n dringende gebedsversoek.
Bid asseblief.
Môre (Maandag) moet ons die laaste van drie betalings doen vir die koop van Ons gebou se aandele. Lya en Ghisha se dogter studeer medies in Europa, en hulle moet vir haar studies betaal. Ons het reeds twee dele afbetaal en moet teen môre die laaste deel betaal vir hulle aandele.
Ons het vandag, sover, net 8% van die bedrag wat ons nodig het. Ons vertrou die Here vir ’n wonderwerk.
Wat ’n vreugde sal dit wees wanneer ons 100% van die aandele van die kerkgebou in die kerk se besit kan hê.
Bid asseblief ook steeds vir die ander twee, wat 23 jaar gelede weg is met 30% van Ockert se aandele.
Die Here is altyd goed en getrou. Alles is in Sy hande.
Baie liefde en seën
Michele
Donasies:
https://www.zeffy.com/en-GB/donation-form/donate-to-lovereni
🌿Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
🌿My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 31 Augustus 2026 – God is naby as jy seerkry
Augustus — Psalms
31 Augustus
Liewe Vriend
Aan die einde van hierdie maand wil God jou verseker: Hy is die naaste aan jou wanneer jy die seerste kry. Hier is God se Boodskap net vir jou vir vandag.
Tema: God is naby as jy seerkry
Teks: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.” (Ps. 34:19-20)
- Die Here maak dié gesond wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. (Ps. 147:3)
- Die Here is naby dié wat seergekry het — jou trane stoot Hom nie weg nie, dit trek Hom nader.
- Al tref hoeveel slegte dinge jou, die Here red jou uit almal — Hy maak geen uitsondering nie.
- Wees ook self naby aan iemand wat seergekry het — soms is jou teenwoordigheid God se troos vir hulle.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U naby my is as ek seerkry en dat U my uit alles red — ek stap die nuwe maand saam met U in.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 30 Augustus 2026 – God red jou uit moeilikheid
Augustus — Psalms
30 Augustus
Liewe Vriend
Watter swaarkry ook al vandag oor jou pad kom — dit het nie die laaste sê nie. Hier is God se spesiale Woord net vir jou.
Tema: God red jou uit moeilikheid
Teks: “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.” (Ps. 34:18)
- Roep na die Here as jy swaarkry — Hy antwoord jou en Hy is by jou in moeilike tye. (Ps. 91:15)
- As God se mense om hulp roep, hoor Hy — jou roep bereik die hemel dadelik.
- Redding kom soms anders as wat jy verwag, maar dit kom altyd op God se perfekte tyd.
- Hou aan roep en hou aan vertrou — moedeloosheid is nooit jou eindbestemming nie.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U my hoor en red elke keer as ek na U roep.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Kiekies kyk! Ds. Leon Cronje. Psalm 77. Sondag 30 Augustus 2026 10:00
In Deel 5 van ons reeks ‘n Lewe van Dankbaarheid, kyk ons terug deur ons fotos saam met God!
Prediker: Ds. Leon Cronje
Skriflesing: Psalm 77
Tema: Kiekies kyk!
Datum: 30 Augustus 2026
YouTube
Lees meer “Kiekies kyk! Ds. Leon Cronje. Psalm 77. Sondag 30 Augustus 2026 10:00”Stof tot nadenke: “Aanhouer wen…”
“As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer;….”
(2 Tim. 2: 11-1220)
Wedloop van die lewe
Die lewe is een groot wedloop. Elkeen wat aan hierdie lewe vashou, wil die beste wees. Die beste presteer. Die mooiste, of die grootste, of die sterkste, of die bekendste wees. In hierdie lewe is daar egter slegs een kans op wen. As jy nie eerste by daardie wenstreep verby gegaan het nie, is jou kans op oorwinning so dikwels verby. Dis net die persoon wat aanhou, wat die fisiese eindstreep in hierdie lewe bereik.
Ons is so besig om deur die lewe te hardloop, om daardie oorwinning te behaal, dat ons die eintlike en belangrikste wedloop en doel van die lewe mis! Die wedloop om in geloof in Jesus Christus te volhard. Die wedloop om as kind van God gekenmerk te word. Die wedloop, deur goeie en slegte tye aan te hou hardloop. Hier was Job so ‘n goeie voorbeeld. Hy wat getrou gebly het in sy geloof aan God, die Vader.
Teksverse:
“Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen”(2 Pet. 3: 1820);
“Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.” (1 Joh. 3: 920):
“Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede,…” (Job 2: 320);
“Kyk, ons beskou hulle wat volhard as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (Jak. 5: 1120);
“Hierdie slegte volk, wat weier om na my woorde te luister, wat volhard in die verstoktheid van hulle harte, en agter ander gode aanloop om hulle te dien…” (Jer. 13: 1020)
Entoesiasme
Entoesiasme, daardie sterk gevoel van lewendige belangstelling en opwinding oor iets. Dis daardie vermoë van iemand om ander opgewonde te maak oor ‘n onderwerp. Dis aansteeklik. Wanneer iemand besiel is vir ‘n saak, versprei dit dikwels soos ‘n veldbrand. Dit is wat God van ons vra!
Ons moet entoesiasties wees oor ons geloof in die evangelie van Jesus Christus. Entoesiasme gaan dikwels gepaard met blydskap. Dis iets wat pragtig uitkom in die brief aan die Filipense en ook Kolossense. Die wonderlike blydskap wat Paulus, te midde van ongerief en swaarkry, steeds bly handhaaf het. Die blydskap oor wat God vir ons gedoen het, deur die Verlossing wat Jesus Christus vir ons deurgaan het. Ook die nabyheid van die Heilige Gees, wat dit vir ons moontlik maak om teenslae te oorwin, is ‘n bron van vreugde en blydskap.
Teksverse:
“Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank.” (Kol. 1: 9-1120)
Volhard tot die einde toe
Daar word nie ‘n pad van net maanskyn en rose belowe nie. Jesus self het die dissipels gemaan dat hulle deur mense gehaat gaan word terwille van se Naam. In dieselfde teks moedig Hy hulle aan om te volhard tot die einde, want dan alleen kan die verlossing in vervulling gaan.
Hoe kry ons dit reg? Net soos die eerste gemeentes dit gedoen het. Hulle het bly volhard in die leer van die evangelie, deur samekomste en gebed. Hulle het mekaar ondersteun en gehelp waar nodig.
Ons het ook die belofte dat God ons sal bewaar in beproewing wat hierdie wêreld mag tref. Ons word telkens daarop attent gemaak dat die God van Vrede met ons sal wees, wanneer ons aanhou om goed te doen, en te lewe soos wat God van ons vra.
Willie Jonker stel dit pragtig: ‘Volharding is ‘n gawe van die Heilige Gees. Dit is die hoop op die dinge wat kom, wat die gelowige die krag gee om uit te hou totdat die wedloop voltooi is.”.
Teksverse:
“En julle sal deur almal gehaat word, ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.” (Matt. 10: 2220);
“Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” (Luk. 21: 17-1920);
“Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” (Hand. 2: 4220);
“Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek,…” (Open. 3: 1020);
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.” (Fil. 4: 8-920)
Lief en Leed Week 36 van 2026
Verjaarsdae
Baie geluk aan al ons verjaarsdag maats

Nuusflitse Week 36+ van 2026
Sondag 30 Augustus 2026 : Erediens om 10:00 Kleuterkerk en Kategese 10:00.
Sondag 30 Augustus 2026 : Leefkerk 17:00
Woensdag 2 September 2026 – Geen Kooroefening nie.
Woensdag 2 September 2026 18:00 Blokbyeenkoms: Blok 17, 18, 19 & 20 (Pienaarstrand, Dwarswegstrand, Outeniquastrand & Glentana tot George)
Woensdag 2 September 2026 18:00 Blokbyeenkoms: Blok 25 (Seegenot tot Tergniethoogte) in die kerksaal
Sondag 6 September : Erediens om 9:00 –Kleuterkerk in Lokaal 6 en Kategese
Sondag 6 September 2026 : Leefkerk 17:00 in die kerksaal – Ds Charné Viljoen
Lees die volledige afkondigings hier: Afkondigings 30 Augustus 2026 – 6 September 2026
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 29 Augustus 2026 – God luister na jou
Augustus — Psalms
29 Augustus
Liewe Vriend
Daar is Iemand wat nooit te besig is om na jou te luister nie. Hier is God se Boodskap net vir jou vir vandag.
Tema: God luister na jou
Teks: “Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep.” (Ps. 34:16)
- Jy kan die Here liefhê, want Hy hoor jou gebede en luister elke keer as jy roep. (Ps. 116:1)
- Die Here sorg vir Sy mense — Sy oog is op jou, dus kyk Hy altyd na jou – Hy versorg jou.
- Sy oor is na jou toe gedraai – dus hoor Hy alles wat jy vra en sê.
- Jy hoef nie groot woorde te gebruik nie – God hoor jou selfs as jy net stil sug.
- Luister vandag ook self: gee iemand anders die geskenk van jou volle aandag.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U altyd na my luister — dit maak my hart rustig en dankbaar.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 28 Augustus 2026 – Kies vrede
Augustus — Psalms
28 Augustus
Liewe Vriend
Vrede kom nie vanself nie — jy moet dit soek, kies en najaag. Hier is God se Woord net vir jou vir vandag.
Tema: Kies vrede
Teks: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” (Ps. 34:15)
- As jou lewe die Here bly maak, laat Hy selfs jou vyande vrede maak met jou. (Spr. 16:7)
- Bly weg van die kwaad af — soms is die grootste oorwinning om net weg te stap.
- Doen wat goed is, aktief en doelbewus — goed wees is iets wat jy doen, nie net voel nie.
- Wees vandag ’n vredemaker by die huis, by die skool of by die werk.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U ’n God van vrede is — help my om vandag vrede te kies.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 27 Augustus 2026 – Pasop wat jy sê
Augustus — Psalms
27 Augustus
Liewe Vriend
Jou woorde kan vandag óf lewe gee óf seermaak — kies hulle versigtig. Hier is God se Boodskap net vir jou.
Tema: Pasop wat jy sê
Teks: “As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens…” (Ps. 34:13-14)
- Wie sy woorde beheer, beskerm sy lewe — die Here gee jou wysheid om reg te praat. (Spr. 13:3)
- Moenie sleg praat van ander nie — dit is een van die duidelikste tekens van ’n lewe naby aan God.
- Leuens breek altyd meer as wat hulle regmaak; kies die waarheid, ook as dit moeilik is.
- Gebruik jou woorde vandag om op te bou — een woord van bemoediging kan iemand se hele dag verander.
Gebed:
Liewe Vader, dankie vir die gawe van woorde — help my om hulle vandag reg te gebruik.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 26 Augustus 2026 – Ervaar self Sy goedheid
Augustus — Psalms
26 Augustus
Liewe Vriend
Om van God te hoor is goed, maar om Hom self te ervaar verander jou lewe. Hier is God se Woord net vir jou vir vandag.
Tema: Ervaar self Sy goedheid
Teks: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.” (Ps. 34:8-9)
- Die Here gee water vir die dors en vul die honger hart met goeie dinge — Hy maak elkeen vol wat na Hom toe kom. (Ps. 107:9)
- “Kom ondervind en sien self” — God nooi jou om Sy goedheid nie net te hoor nie, maar self te ervaar.
- Tweedehandse geloof is nie genoeg nie; bou jou eie, daaglikse verhouding met Hom.
- Waag dit vandag om God by iets spesifieks te betrek — en sien self dat Hy goed is.
- Die Here God is Iemand wat in jou alledaagse lewe betrokke is. Daarom dat dit ook met jou goed kan gaan.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat ek self kan ervaar hoe goed U is — U goedheid is elke dag nuut.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 25 Augustus 2026 – Veilig by God
Augustus — Psalms
25 Augustus
Liewe Vriend
Rondom jou is daar vandag ’n beskerming wat jy nie kan sien nie, maar wat nooit slaap nie. Hier is God se Boodskap net vir jou.
Tema: Veilig by God
Teks: “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.” (Ps. 34:8-9)
- Soos die berge rondom Jerusalem staan, so staan die Here rondom jou — nou en vir altyd. (Ps. 125:2)
- Die Here beskerm die mense wat Hom dien; jy is veilig in Sy sorg
- Veiligheid is nie dat daar geen gevaar is nie — dit is dat God by jou is.
- Begin jou dag met selfvertroue – die Here beskerm jou alreeds.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U my aan alle kante beskerm — by U is ek veilig.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 24 Augustus 2026 – God hoor jou roep
Augustus — Psalms
24 Augustus
Liewe Vriend
Geen roep na God raak ooit weg nie — elke een word gehoor. Hier is God se spesiale Woord net vir jou vir vandag.
Tema: God hoor jou roep
Teks: “Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered.” (Ps. 34:7)
- As jy in die moeilikheid is, kan jy na die Here roep — Hy hoor jou gebed. (Ps. 120:1)
- Die Here hoor hoe mense wat swaarkry na Hom roep — jou stem is nooit te sag vir Sy ore nie.
- Hy red jou uit ál jou moeilike tye — nie net uit sommige nie.
- Moenie jou probleme alleen dra nie; roep vandag na Hom en kyk wat Hy doen.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat U my hoor as ek roep en my uit al my moeilikheid red.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Bybels vir dankbare medegelowiges
Op 12 Augustus 2026 is daar Bybels uitgedeel by die 60Plussers van Wolwedans.
Die geleentheid is op gepaste wyse met samesang en gebed geopen. 48 Bybels met groot druk is ontvang vanaf die Bybel genootskap, na die aanvoor werk van beide Aletia Nortje, wat die behoefte geïdentifiseer het, en Ds. Leon Cronje wat die skrywe aan die Bybel genootskap gerig het.
Die Bybels is met dankbaarheid ontvang. Ds. Leon Cronje het ‘n pragtige boodskap gebring oor die waarde daarin om ‘n Bybel te besit, en hoe mens meer van God kan verstaan, en wat Hy vir ons gedoen het.
Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 23 Augustus 2026 – Prys die Here altyd
Augustus — Psalms
23 Augustus
Liewe Vriend
Daar is elke dag iets om voor dankie te sê — soek dit vandag doelbewus. Hier is God se Boodskap net vir jou.
Tema: Prys die Here altyd
Teks: “Ek sal die Here altyd weer prys, Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.” (Ps. 34:2-3)
- Die Here is groot en Hy verdien al die lof — Sy grootheid is te groot om te verstaan. (Ps. 145:3)
- Om die Here “altyd weer” te prys, beteken ook op moeilike dae — lof en erkenning aan God is nie net vir goeie dae nie.
- Jou lof bemoedig ander: dié wat swaarkry, hoor dit en kry weer hoop.
- Laat “dankie-sê” soos jou eerste taal wees — dit skuif jou fokus van jou probleme na die almag en troos van God.
Gebed:
Liewe Vader, dankie dat ek U altyd kan prys — laat U lof altyd op my lippe wees.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.
Stof tot nadenke: Alle eer…
“Daarom, vereer die Here, in die land van die môrelig. Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – ‘n sieraad vir die Regverdige.”
(Jes. 24: 15-1620)
Groot praat?
Ons weet dat mense wat daarvan hou om groot te praat, selde baie geliefd is. Selfs die Bybel noem dat spog verkeerd is, hetsy of dit oor jou eie belangrikheid, jou besittings of jou vele dade is.
Maar interessant genoeg noem Stephan Joubert, dat daar een grootpraat uitsondering op die reël is. Dit is wanneer ons grootpraat oor God. Wanneer ons nie skaam is om vir die hele wêreld te vertel hoe groot en goed God is nie.
Ons deins dikwels terug van so ‘n grootpratery, want netnou sê die wêreld ons is dweepers. Niemand wil tog so genoem word nie. Maar ons mag so oor God praat. Ons moet so oor God praat, want hy is die enigste wat dit waardig is!
Teksverse:
“Eer die Here met jou rykdom...” (Spr. 3: 920);
“Die troue liefde van die Here sal ek vermeld, die lofwaardige dade van die Here in ooreenstemming met alles wat die Here aan ons bewys het -.” (Jes. 63: 720);
“Oor die troue liefde van die Here wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak. Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig; in die hemel hou U u trou in stand” (Ps. 89: 2-320);
“Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat julle liggame begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld.” (1 Joh. 2: 15-1620);
“Maar nou spog julle oor julle hoogmoedigge optrede. Sulke spog is verkeerd.” (Jak. 4: 1620)
Wie is waardig?
Hoe weet ons dat God waardig is? Joh. 1 stel dit wonderlik, “Alles het deur Hom ontstaan”. Daar is nie nog iemand soos Hy nie. Hy is Almagtig en groots. Sy liefde vir ons is groter as wat ons ooit voor begrip kan hê.
Ons word telkens in die Woord vertel van die grootsheid van God. Daar is geen ander vegelykbaar met die Drie-enige God waarin ons glo nie. Ons moet gedurig opsoek wees na God se koninkryk en sy geregtigheid, hier waar ons woon. Ons moet Hom so lief hê, dat Hy ons hele wese vul. Hy maak ons bewus en kweek die begeerte in ons harte. Hy alleen is waardig om alle eer te ontvang. Liedboek 207 beskryf dit so mooi:
“Eer aan die Vader, wat alles gemaak het; eer aan die Seun, ons Verlosser en Vriend; eer aan die Gees wat ons lei in die waarheid – Aan God drie-enig ons lof en ons lied.”
Teksverse:
“Maar soek eers die koningkryk van God en sy geregtigheid,…” (Matt. 6: 3320);
“…vir die Here julle God alleen moet julle ontsag hê. Hy is die Een wqt julle sal red uit die hand van al julle vyande.” (2 Kon. 17: 3920);
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was van die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.” (Joh. 1: 1-320);
“Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus, Hy wat Homself gegee het vir ons sondes, om ons te red uit die huidige bose bedeling, volgens die wil van ons God en Vader, aan wie die heerlikheid behoort vir ewig en ewig!”(Gal. 1: 3-420);
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag.” (Mark. 12: 3020)
Aan wie kom die eer toe?
Daar is geen ander! God, die Vader, die Verlosser, Jesus Christus en die Trooster, die Heilige Gees moet alle eer ontvang! Die liefde wat ons so onverdiend ontvang, kom van ‘n Almagtige en liefdevolle God. Ook die hemel wesens weet dat God heilig is.
Ons kan nie anders as om dissipels van God te wees nie, en ons liedere is ‘n heerlike beaaming van God se Almag. Geen ander wese is so groot en so goed nie. Laat ons in nederige dankbaarheid voor die Skepper God neerbuig en die hele wêreld vertel van sy wonderdade.
.
Teksverse:
“Die Here het vir Moses gesê “So moet jy vir die Israeliete sê, ‘Julle het self gesien dat Ek uit die hemel met julle praat. Julle mag nie gode van silwer en goud maak en naas My vereer nie; julle mag dit nie vir julle maak nie..” (Eks. 20: 22-2320);
“Daarom, vereer die Here, in die land van die môrelig. Vereer in die eilande van die weste die Naam van die Here, die God van Israel. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere – ‘n sieraad vir die Regverdige.” (Jes. 24: 15-1620);
“Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees..” (Matt. 28: 18-1920);
“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,”sê die Here God, die Almagtige .” (Open. 1: 820);
“Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: “Heilig, heillig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Open. 4: 820)
Nuusflitse Week 35+ van 2026
Sondag 23 Augustus 2026 : Erediens om 10:00 Kleuterkerk en Kategese 10:00.
Sondag 23 Augustus 2026 : Leefkerk 17:00
Woensdag 26 Augustus 2026 – Kooroefening 16:45.
Sondag 30 Augustus 2026 :Kategese. Erediens om 10:00 –Kleuterkerk in Lokaal Kategese
Sondag 30 Augustus 2026 : Leefkerk 17:00 in die kerksaal – Ds Leon Cronje
Lees die volledige afkondigings hier: Afkondigings 23 – 30 Augustus 2023
Lief en Leed Week 35 van 2026
Verjaarsdae
Baie geluk aan al ons verjaarsdag maats


