“Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.”
Kla. 3: 25 20
Wanneer ons aan goed en goedheid dink, dink ons gewoonlik in menslike terme. Iemand is ‘n goeie mens, met baie goedheid in hom of haar. Ons reflekteer ook dikwels oor mense se goed en goedheid in terme van wat dit in effek vir ons beteken. Baie selfsugtige oorwegings!
“U het self gesê, “Ek sal beslis aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see, wat vanweë die hoeveelheid nie getel an word nie.” (Gen. 23: 12. 3: 9 20);
“Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is Here. Die Here is goed en reg, daarom leer Hy sondaars die pad.”(Ps. 25: 7-8 20)
Dwarsdeur die Bybel is daar menige lofprysing, aanbidding en dankbaarheid wat getuig dat mense wel dikwels tot die besef gekom het dat God goed is. Dat ons by Hom kan skuil. Dat Hy getrou is in Sy liefde en beskerming.
“Al die Israeliete het gesien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here oop die tempel neerdaal. Hulle het met hulle gesigte na die grond gekniel op die plaveisel, en in aanbidding gebuig. Hulle het die Here geprys met: “Want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.”” (2 Kron. 7: 3 20);
“Beproef en ervaar: Die Here is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil.” (Ps. 34: 9 20); “Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed. Ek het my Heer, die Here, my skuilplek gemaak, sodat ek van al u werk kan vertel.” (Ps. 73: 28 20);
“Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te besing, Allerhoogste; om in die môre u troue liefde te verkondig, en u trou in die nagte – met tiensnarige instrumente, met harp en die speel van liere.” (Ps. 92: 2-4 20);
“Halleluja! Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.” (Ps. 106: 1 20);
“Loof die Here, want die Here is goed; besing sy Naam, want dit is lieflik;…” (Ps. 135: 3 20);
“Die Here is goed vir almal, en sy barmhartigheid strek oor al sy werke.” (Ps. 145: 9 20);
“U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos ‘n skild.” (Ps. 5: 13 83);
“U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die HERE so lank as wat ek lewe.” (Ps. 23: 6 83)
Tog hoor ons in die woorde van Jesus Christus dat net Een goed is, naamlik God! Daar is geeneen wat aan God gelykgestel kan word nie! Ook Prediker het tot die slotsom gekom dat ons vir God, die Vader ontsag moet betoon. Hy sal oordeel oor die goed en kwaad wat in verborgenheid gepleeg is. Hy weet wat in ons gedagtes aangaan. Hy ken ons opregtheid of valsheid. Ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Dit is die God wat ons in hierdie lewe plant waar Hy ons nodig het. Hy vind vreugde daarin om goed aan ons te doen! Dit is God wat ons harte omvorm, sodat ons nie van Hom sal wegdraai nie.
“Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is.”” (Matt. 19: 17 20);
“Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God!”” (Mark. 10: 18 20);
“Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.” (Pred. 12: 13-14 20);
“Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit: Ek sal My nooit daarvan weerhou om aan hulle goed te doen nie, en Ek sal ontsag vir My in hulle harte gee, sodat hulle nie van My af sal wegdraai nie. Ek sal My daarin verheug om aan hulle goed te doen. Ek sal hulle in getrouheid, met my hele hart en siel, in hierdie land plant. ” (Jer. 32: 40-41 20)
Paulus maan ons om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Ons moet altyd die wil van God soek in alles wat ons doen, dink, sê en hoe ons optree teenoor ander. Dan word ons ook aan God se goedhied herinner in menige gevalle. God is ryk aan goedheid , verdraagsaamheid en geduld met ons mense. Laat ons nou in die wil van God handel in alle opsigte, en laat ons God met ope arms ontvang sodat Hy ons tot bekering kan lei.
“Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12: 2 20);
“Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is.” (Rom. 12: 17 20);
“God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2: 4 20);
“Let dan op die goedheid en strengheid van God; sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.” (Rom. 11: 22 20)
Ons kan net in ootmoed voor God neerbuig en sing tot Sy eer, en ons kan Sy lof verkondig, in die wonderlike woorde van 1 Kronieke 16: 23-34. Die enigste God wat goed is en Sy goedheid aan ons kom betoon het deur die verlossing van sondes, deur Jesus Christus se kruisdood, en die bystand van die Heilige Gees, wat ons daagliks lei en leer.
“Sing vir die Here, o ganse aarde! Verkondig sy verlossing van dag tot dag! Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en blydskap is in sy heiligdom. Gee erkenning aan die Here familiegroepe van volke! Gee erkenning aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid. Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Ja die wêreld staan vas, dit wankel nie. Laat die hemel bly wees, en die aarde juig. Mense onder die nasies sê: “Die Here regeer!” Die see en alles daarin moet dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel, dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel. Prys die Here, want Hy is goed; ja vir ewig duur sy troue liefde.” (1 Kron. 16: 23-34 20)


