Inleiding
Hierdie kort nuusbrief se doel is om u as ondersteuners op die hoogte te bring van al die verwikkelinge hier by Missie Japan (MJ) asook om terugvoer te gee oor besluite wat geneem is tydens ons afgelope besoek aan Japan.
Die afgelope jaar was ‘n redelike besige tyd vir MJ. In Maart vanjaar was Dr Nico Mostert (Uitvoerende Amptenaar van MJ), Ds Gawie Gouws (Sameroeper van MJ se werwingskomitee) en Dr Daniël De Wet (Uitvoerende Amptenaar van die Wes-Kaap Sinode se Getuienis Aksie) op ‘n amptelike besoek aan Japan. Die doel van die besoek was om die nuwe Mission Partnership Agreement (MPA) te finaliseer en ook om te vergader met die Samewerkende Sending Kommissie van die Ring van Shikoku, oor die huidige sendelinge se werk asook oor hulle vroeëre versoek vir nog sendelinge (verkieslik ‘n sendeling-egpaar) wat hulle moet aansluit by die werk in Japan.
Tydens die Maart-besoek is daar in-diepte gesprek gevoer oor die profiel van voornemende sendeling-kandidate en die behoefte van die kerk in Japan. Daar is ooreengekom dat ‘n gesamentlike werwings-kommissie die proses sal hanteer. Daar is ook ‘n versoek vanaf die Ring van Shikoku ontvang dat Ds Tobie en sy vrou Annelie De Wet se kontrak met nog 3 jaar verleng moet word. Dit sal dan wees vanaf April 2026 vir ‘n verdere 3 jaar.

Proses om ‘n sendeling-egpaar te beroep
Die kommissie onder leiding van Ds Gawie en Ds Ogawa het sedertdien ‘n profiel en advertensie saamgestel wat wyd in Suid Afrika versprei is. Daar was egter tot op hede nog min belangstelling gewees met slegs een egpaar wat die aansoek vorms aangevra het. Hulle het egter hulle aansoek vir eers teruggetrek weens persoonlike gesinsredes. Die pos word tans weer geadverteer.
Verlenging van die De Wets se diens tydperk in Japan
Tobie en Annelie se werk in die klein gemeente van Niihama loop ten einde in Maart 2026. Die Ring van Shikoku het egter besluit dat, sou hulle verder aanbly vir diens binne die Ring, dit nie weer in Niihama sal wees nie. Die gemeente van Tokushima-Wes (Seibu) het aangedui dat hulle graag die De Wets as sendeling-egpaar sou wou beroep. Die Ring van Shikoku het toestemming gegee dat hulle beroep kan word na Tokushima-Wes en die beroep is alreeds uitgebring.
Tydens Missie Japan se tweede besoek in Oktober het ons dit egter duidelik gemaak dat hierdie ‘n nuwe 3 jaar diens periode is en daarom kan Missie Japan net volle finansiële ondersteuning vir De Wets gee vir die eerste jaar van die beplande 3 jaar termyn. Dit sal impliseer dat die gemeente daar ‘n groter finansiële verpligting sal moet opneem vir die laaste twee jaar en hulle het daartoe ingestem. MJ onderneem egter om nog steeds ondersteuning te verleen vir die 3 jaar en sal poog om in jaar 2 en 3, sover ondersteuners hulle weg oopsien om die ondersteuning voort te sit, finansieel by te dra tot die werk. Die besluit om langer in Japan te bly berus egter op die De Wets self – dit bly die keuse wat hulle voor die Here maak en ons sal hulle ondersteun wat ook al die uitkoms van hulle geloofsonderskeidende proses is. Ons vra u voorbidding vir hulle in hierdie proses om die pad vorentoe finaal te oorweeg in gebed.
Indien die De Wets aanbly sal hulle egter eers na Suid-Afrika toe terugkom vir ‘n 2 maande besoek alvorens hulle in Tokushima-Wes begin. Die presiese datums sal nog bepaal word, afhangende van die goedkeuring van werkspermitte ensovoorts.
Mission Partnership Agreement
Daar is oor die afgelope twee jaar baie hard gewerk om ‘n nuwe sending samewerkingsooreenkoms tussen Missie Japan en die Ring van Shikoku op te stel. Dit was ‘n gesamentlike proses tussen MJ en die Sending Samewerkings Kommissie van die Ring van Shikoku. Op Dinsdag 28 Oktober is die nuwe ooreenkoms amptelik onderteken. Dit baan nou die weg vir ons voortgaande werk saam met die Ring van Shikoku.
Die ondertekening is waargeneem deur Ds Kovilan Moodley (ondervoorsitter MJ en RCA Moderator) en Dr Nico Mostert (Uitvoerende Amptenaar MJ). Ds Jan Lubbe (Moderator van die NG Kerk Algemene Sinode) en Dr Nioma Venter (Algemene Sekretaris van die NG Kerk Algemene Sinode) was ook teenwoordig. Beide Ds Lubbe en Ds Moodley het ook groete boodskappe oorgedra aan die Reformed Church in Japan tydens hulle pas afgelope Sinode vergadering in Kobe.
Van der Watt-gesin
Dit gaan goed met hulle as gesin. Die kinders in bedrywig met skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite. Stéphan se lesings en wyer kerklike bedienings is volstoom aan die gang en Carina se bediening met die kinders in hulle plaaslike gemeente, saam met voltydse tuisonderrig, maak haar program ook baie vol. Dit is goed om te sien hoe hulle as gesin funksioneer en ‘n kragtige getuienis van Christelike liefde en gasvryheid beliggaam.
Vergadering met die Oos-Kantō Ring
Ds Taka Ashida en die Sending kommissie van Oos-Kantō Ring het ‘n skrywe gerig aan MJ vir ‘n gesprek tydens ons Oktober-besoek in Japan. Hulle versoek was om te gesels oor nouer samewerking tussen MJ en hulle Ring en die moontlikheid van wedersydse besoeke om blootstelling te bewerkstellig met lede van hulle Ring en gemeentes in SA. ‘n Baie goeie gesprek het plaasgevind op 28 Oktober. Daar is ooreengekom om vroeg in 2026 ‘n opvolg gesprek te hê via Zoom.
Ons staan net verstom oor die Here se voorsiening vir hierdie bediening deur julle as ondersteuners. Ons is diep dankbaar vir julle getroue ondersteuning. Die ekonomie is traag en in Japan word die lewenskostes baie duurder omdat inflasie daar ook sy kloue ingeslaan het.
Hier is ‘n kort opsomming van die belangrikste besluite wat geneem is:
- Tobie en Annelie bly in Japan tot die einde van hulle huidige 3 jaar tydperk waarna hulle na Suid-Afrika sal terugkeer (2 maande) en dan weer (sou hulle so besluit) terugkeer na Japan vir ‘n volgende dienstydperk.
- Missie Japan ondersteun hulle ten volle vir een jaar, waarna die Tokushima-Wes gemeente bydra tot hulle ondersteuning.
- Die werksaamhede van Missie Japan in samewerking met die Ring van Shikoku is vervat in ‘n nuwe samewerkingsooreenkoms wat onderteken is.
- Die werwingsproses van nog sendelinge na Japan gaan voort in samewerking met die Ring van Shikoku.
Ons sê vir elkeen dankie vir:
- Die volgehoue ondersteuning (finansieël, emosioneel en deur gebed)
- Volgehoue meelewing met ons sendelinge in Japan (eposse, whatsapp-boodskappe, oproepe, ens.)
Ons vra vir:
- Volgehoue voorbidding vir die Van der Watt-gesin en die De Wets se werk en bediening.
- Voorbidding vir die De Wets in hulle oorweging van die nuwe diens tydperk asook verdere finansiële ondersteuning van hulle ondersteuners.
- Die proses om nuwe sendelinge te vind en te beroep vir werk in Japan saam met die Ring van Shikoku.
Groete in Christus Jesus
Ds Johann Winterbach Dr Nico Mostert
(Voorsitter Missie Japan) (Sekretaris Missie Japan)
Facebook: https://web.facebook.com/missiejapan/
Copyright (C) 2025 Mission Japan. All rights reserved.
Our mailing address is:
Shobu Ga Oka 3-1-3, Kita Ku, Kobe City, JAPAN, 651-1306









Geskryf deur Elmar
















