Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 30 Maart 2023

VISIO DIVINA #37

30 Maart – Deel 1

In Istanbul (Turkeye) staan die Kariye Moskee. Sedert die 1500’s word dit as ‘n moskee gebruik, maar die oorspronklike gebou dateer uit die 400 n.C, met die naam “Die Kerkie in die Veld.” (In Engels: “The Chora Church”.) Een van die mosaïek-ikone wat behoue gebly het is die vermeerdering van die 5 broodjies en twee vissies.

Volgens die Johannesevangelie was die paasfees van die Jode naby (Joh 6:8). Twee dissipels word by name genoem: Filippus en Andreas (v7,8). Om hul voete (nie sigbaar in die foto nie) staan die mandjies, tot oorlopens vol van die garsbroodjies wat oorgebly het. Deel Jesus dalk in hierdie uitbeelding nou ook brood aan Filippus en Andreas uit? Hulle was sekerlik ook honger nadat 5000+ mense gevoed is. En Jesus? Het iemand vir hom iets te ete aangebied? Ek wonder sommer.

VISIO DIVINA #37

30 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee?” (Luk 10:11-12).

Dit was die mosaïek-ikoon waar Jesus ook vir Filippus en Andreas brood aangee wat my aan hierdie gelykenis van Jesus (in Luk 10:3-12) laat dink. Die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te leer hoe (en wat) om te bid. Nadat Jesus hulle die “Onse Vader” leer, begin hy toe met hierdie woorde: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie” (v5,5).

Dit is seker gepas om van geestelike blindheid (#36) na geestelike honger te gaan. Want, is dit nie mense met ‘n geestelike hongerte wat smag na God nie? Is dit nie geestelike honger mense wat bid vir die versadiging wat net God kan gee nie? Is dit nie die rede waarom ons ook in Lydenstyd behoort te vas nie – sodat dit ons fisieke honger ons kan herinner waarna ons eintlike behoefte is nie?

Eers leer Jesus die dissipels om te bid vir “vandag se brood” – die gewone, alledaagse waarvan ons moet leef. En direk daarna, asof in een asem, gaan Jesus voort en bid dan vir die vergifnis van ons sondes.

Sonder die een gaan jy dood. Sonder die ander een is jy reeds dood. En God is begaan oor beide! God wil die LEWE in sy voluit aan jou skenk.

GEBED: Onse Vader, maak my smagting na U versadiging net meer en meer.

———

Op Dag 37 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “Hunger” soos uitgevoer deur David & Nicole Binion. Die lirieke verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun