VISIO DIVINA #33
Vyfde Sondag in Lydenstyd
Deel 1
Omdat ek vandag meer as een foto wil plaas, is daar drie stukke wat ek aanstuur:
Dit is juis die spieëlbeeld-skildery van Jorge Cocco (#32) wat my aan hierdie spieëlbeeld-ikoon laat dink. Dit word “Jesus Pantokrator” genoem: Jesus, die Heerser oor alles. Die ikoon hang in ‘n klooster in Sinaï en dateer uit 6.n.C. Danksy ‘n argeologiereis in 1938 het dit bekendheid in die Weste verwerf. Vandag sien ‘n mens in vele katedrale – bo teen die plafon – soortgelyke ikone.
Dit is die verstommendste kunswerk – sou jy die ikoon middeldeur sny is dit twee verskillende gesigte, een van ‘n jonger man, en een van ‘n ouer man. Dit beeld die twee nature van Jesus uit: gelyktydig God en gelyktydig mens.
Voordat jy voortgaan, kyk of jy die verskille kan sien.
Deel 2
Hier kan jy sien, die linkerkantste helfte (met die tipiese seën-teken van die handposisie) is van ‘n jonger man. Sy oë kyk tot diep in jou siel. As jy jou hand so hou dat jy net die oë sien, is dit ‘n deernisvolle, direkte kyk: Jesus sien jou raak. Hierdie kant beeld Jesus, die mens, uit – – gebore as verlosser ook van jóú.
Die regterkantste gesig van ‘n ouer man met ‘n boek in sy hand het opgetrekte wenkbroue Wat sou dit kommunikeer? Selfs die oogposisie kyk wyer. Hierdie kant beeld Jesus uit as die regter wat sal kom om te oordeel. Die Een voor wie almal sal buig.
Deel 3
TEKSVERS:
“Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms” (2 Tim 4:8).
Die woord “Pantokrator” word gewoonlik in die Bybel net met God vereenselwig: God, die Almagtige. Tog bring die profeet Jesaja reeds die boodskap: die Seun wat gebore sal word,“…sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. … Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd” (Jes 9:5-6).
Oor Homself het Jesus so getuig: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei … Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,.. (Matt 25:31-34).
Intussen oefen ons om in die koninkryk van God te leef. Daagliks. Ons oefen deur die geringstes te versorg. Ons oefen om barmhartig en genadig te wees. Ons oefen om lief te hê en ons medemens te dien (Matt 25:35-40).
Vandag kan ons uitroep: Die Pantokrator kom!
GEBED:
Almagtige God, Heerser oor die heelal – dankie dat ek U Naam ken; en U my naam ken.
———-
“Oorwinningslied” – Piet Smit saam met die Drakensbergse Seunskoor.
Op Dag 33 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die “Oorwinningslied” soos opgeneem deur Piet Smit saam met die Drakensbergse Seunskoor.

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun


