Lydenstyd 2023: “Visio Divina” – 24 Maart 2023

VISIO DIVINA #31

24 Maart – Deel 1

Die Russies-gebore, Alexey Pismenny, het ‘n ikoon in drie panele geskilder van verskillende vyeboom-tonele uit die evangelies. Hierdie paneel is ‘n verwysing na die gelykenis van die onvrugbare vyeboom (Luk 13:6-9). As jy na die ikoon as ‘n geheel kyk, sien jy die gewelddadigheid raak. Behalwe vir die byl wat gereed is in Petrus (langs Jesus) se hande; tuimel die toring van Siloam op mense neer (lees Luk 13:3). Aan die anderkant sit Pilatus op sy troon en kyk toe hoe ‘n laksman gereed staan met ‘n slagtersmes om iemand te onthoof (aldus Luk 13:1).

Duidelik hou die tonele verband met geweld. Maar Jesus hou sy een hand na bo; die simbool van shalom en seën. Sy ander hand wys na die ontkiemende groen blaartjies. Simbole van lewe. Asof Jesus wil sê, gee genade net nog eers ‘n kans.

Moet dit nie dalk ‘n ikoon vir ons tyd genoem word nie?

VISIO DIVINA #31

24 Maart – Deel 1

TEKSVERS: “Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap” (Luk 13:8-9).

Kyk weer lank na die ikoon: moenie die graaf en die waterhouer miskyk nie! Simbole van ‘n tuinier se werk. Jesus vereenselwig hom baie duidelik as die tuinier in die gelykenis. Die een wat vir nog ‘n kans by die boer pleit. Duidelik is Jesus die een wat die “genadejaar” vir die vyeboom bewerk het.

Drie jaar reeds is Jesus met sy preekbediening besig en steeds wil die Jode hom nie as Messias aanvaar nie. (Simbolies: drie jaar lank is daar geen vrug in die vyeboom nie). Nog net een jaar, vra Hy. Wat Hom gegun word – alhoewel dit Hy is wat dan die byl se kap sal moet verduur.

Die sinnetjie, “Meneer, laat hom (die vyeboom) staan” kan vertaal word met, “vergewe hom.” Jesus se kruiswoorde, “Vader, vergewe hulle”, is ‘n pleit: “laat hulle staan … moenie hulle iets aandoen nie.” En dit is presies wat ons bid: Gee ons tog U genadejaar, Heilige God, sodat die Tuinier kan omspit en bemes, sodat ons weer kan vrug dra.

GEBED: Dankie dat die Tuinier ook vir ons by U intree, Ons Vader.

————-

Op Dag 31 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Emmy Rose wat “Tend” (“Be the gardener of my heart”) sing. Die lirieke verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun