Dit is seker ’n cliché om die stelling te maak dat ons in voortdurend veranderende tye leef. Dit is egter empiries waarneembaar dat die tydsgewrig waarin ons tans leef gekenmerk word deur snel opeenvolgende gebeurtenisse met omvangryke impak op gemeenskappe. Hierdie impak voel dikwels aardskuddend met ontwrigtende gevolge vir almal wat daardeur geraak word. Die werklikheid van globale interaktiwiteit en onderlinge verbondenheid het die effek van ’n web wat beweeg wanneer enige van die drade daarvan geraak word. Dit is waarvan ons by CLF ook die afgelope aantal jare bewus geword het met Covid, die oorlog in Oekraïne, plundering in KZN in 2022, jarelange oorloë in Sirië, aardbewings in Turkye en noem maar op.
By CLF is ons diep bewus daarvan dat dit presies die wêreld is waarbinne die Here hierdie
bediening vandag roep om van sy liefde en verlossing te getuig. Te midde van die kontekstuele ontwrigting en uitdagings rondom ons, is daar ’n gees van entoesiasme en roepingsbesef binne die CLF. Personeel, Beheerraadslede en ondersteuners openbaar ’n bewussyn dat God sy kerk en kinders roep om sy koninkryk te laat kom, ook deur die bediening van CLF.
CLF in al sy dele is daarvan ooruig dat die Here ons nou op ’n golf geplaas het wat ons saam
met Hom moet uitry tot eer van sy Naam en tot redding van mense. Daarom is ons besonders opgewonde oor inisiatiewe en besluite ten opsigte van die CLF se bediening en identiteit vir die pad waarop die Here ons nou neem. Gepraat van identiteit, die Beheerraad het besluit om die bekende logo nou te vereenvoudig sodat almal ons organisasie en bediening sal herken aan die letters “CLF”. Ons glo dit kommunikeer lekker en help mense om maklik met ons bediening te identifiseer.
Soos in alle organisasies het daar ook die afgelope tyd verskuiwinge in personeel plaasgevind, omdat mense aftree ouderdom bereik. Dit is nooit lekker om afskeid te neem nie, maar dit is ’n werklikheid. Met die aanstelling van personeel in die vakatures was die klem op jeugdigheid met nuwe soort kundigheid, vaardighede en perspektief op die wêreld. Ons glo hierdie vernuwingskuur is deel van God se voorsiening vir die bediening in ons tyd.
CLF is goed op dreef met die ontwikkeling van ’n netwerk winkels en agentskappe om ons
produk op grondvlak by gebruikers uit te kry. In die proses lewer ons ook diens aan ander
uitgewers en verskaffers wie se produkte ons in die CLF winkels kan verkoop. Met die oog op hierdie ontwikkeling is die vestiging van ’n CLF handelsarm nou ’n prioriteit en word hard
gewerk om dit tegnies en wetlik gevestig te kry.
CLF is opgewonde oor die wye reeks publikasies wat ontwikkel word en die groei in die getal skrywers wat aanmeld om hul werk deur CLF te publiseer en te versprei. Ons is opgewonde oor Dr Mias van Jaarsveld wat as redakteur aangestel is en saam met Dr Gideon van der Watt besig is om nuwe paaie oop te skryf en te publiseer.
U kan die res van die nuusbrief hieronder lees:


