VISIO DIVINA #30
Deel 1
Ek moes eers die gedeelte in Lukas 12 gaan lees omdat ek nie dadelik hierdie Grieks-ortodokse ikoon herken het nie. (Daarin is ‘n groot les – ‘n ikoon wil niks anders openbaar as wat die Skrif reeds sê nie, maar hoe kan die Heilige Gees die “oë van jou hart” laat sien, as jou ore nie geluister het nie.)
Hier word die gelykenis uitgebeeld van die ryk man (Lukas noem hom ‘n “ryk dwaas”) met aardse skatte wat nie hul einde ken nie; maar hoe armoedig is jy as jy nie aansit by die rykdom wat by God se tafel gevind word nie. Een oomblik maak jy nog bymekaar, die volgende oomblik besoek die engel van die dood jou.
Is dit nie ‘n ikoon wat ons almal se waarskuwing is nie? Bely jy nie ook soms dat Jesus die “koning” van jou lewe is, terwyl die daaglikse realiteit dalk iets anders demonstreer nie?
Deel 2
TEKSVERS:
“Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. … Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” (Luk 12:29-31).
Dit bly altyd vir my ‘n vraag: wanneer is genoeg genoeg? Dit hang sekerlik af met wie ek myself vergelyk: wil ek opwaarts die leër uitklim, dan is ek bevrees het ek nog glad nie genoeg nie. As ek afkyk, skaam ek my vir myself; want diep binne weet ek, ek leef nie volgens wat Jesus geleer het nie: “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie” (v33).
Hoe lyk ‘n “beurs wat nie leeg raak nie”? Dadelik dink ek aan Psalm 42:2-3 waar Dawid pleitend sug: “Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?” As ek so smagtend leef om vervul te word met die goedheid en kennis van God, dan sal ‘n aardse beurs met note wat kraak nooit my verlange kan stil nie. Een trappie hoër op die leër sal dan sinloos wees.
Hierdie reis is ‘n tyd vir eerlik wees. Ook oor my smagtinge. Dit is ‘n tyd vir belydenis. Ook van my gierigheid. Dit is ‘n tyd van vas en mindermaak. Dit is ‘n tyd van vervuld raak met God se teenwoordigheid.
GEBED:
My Here, mag ek aanskuif aan U tafel, as iemand wat U woorde ernstig geneem het.
Retief Burger – “Alles vir my”
Op Dag 30 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Retief Burger se weergawe van “Alles vir my. Die lirieke verskyn in die video.

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun


